Vinnige feite

  • Johann Tetzel se bekende sêding was: “When the gold in the coffer rings, the rescued soul towards heaven springs.” Dit beteken basies dat as jy betaal, gaan jou siel hemel toe. 3
  • Daar is vandag debat oor of Luther werklik die 95 stellinge aan die deur vasgespyker het. Sommige historici sê hy het dit bloot vir sy biskop gestuur. 3
  • Die woord “protestant” kom van die woord “protes’” af, en die woord “hervorming” kom van die woord “hervorm’” af. Met ander woorde die Kerkhervorming was (ten minste aan die begin) ’n poging om teen die Katolieke Kerk te protesteer en om die kerk te hervorm. 1
  • Toe Luther voor die Ryksdag van Worms was, het hy op ’n stadium uitgeroep: “Hier staan ek, ek kan nie anders nie. Mag God my help. Amen.” 8
  • Daar was ’n hele paar vroulike kerkhervormers, soos Marie Dentière van België en Argula von Grumbach van Duitsland. 3
  • Die Anabaptiste was ’n groep protestante wat aangedring dat mens nie gedoop moet word as baba nie, maar as grootmens. Hulle is verskriklik vervolg (wreed en onregverdig behandel), maar bestaan vandag nog. 3

Het jy al ooit gewonder hoekom daar so baie kerke is? Of wat dit beteken om in die Hervormde Kerk of Gereformeerde Kerk of NG Kerk te wees? Om die antwoord te kry, moet mens terugkeer na die 16e eeu, na een van die belangrikste gebeurtenisse in die geskiedenis van die Westerse wêreld, naamlik die Kerkhervorming. 1

Agtergrond

Gewone mense wat in Europa in die 16de eeu geleef het, se lewe was ellendig (glad nie lekker nie). Hulle was arm, hul lewensverwagting uiters kort en siektes en oorloë was alledaags. Daar was egter een ding wat vir hulle hoop gegee het: omtrent almal was Christene, en daarom het hulle geglo daar kom ’n beter lewe ná die dood. 2

Aan die begin van die 16de eeu was daar net een kerk in Europa: die Rooms-Katolieke Kerk, gewoonlik net die Kerk genoem omdat daar net een was. Die Kerk is gelei deur die pous wat in Rome gewoon het. Die Bybel was slegs in die Latynse taal beskikbaar. Met kerkdienste is die mis (nagmaal) en gebede, soos die “Onse Vader”, in Latyns opgesê. Omtrent niemand, buiten kerkleiers soos biskoppe, priesters en kardinale, kon lees nie. En dié wat kon lees, kon nie Latyns praat nie! 3

Omdat hulle nie self die Bybel kon lees nie, was gewone Christene dus heeltemal van iemand in die Kerk afhanklik om vir hulle te vertel wat in die Bybel staan, veral oor die lewe ná die dood! Dít het vir die Kerk natuurlik baie mag oor mense se lewe gegee. 3

Daar was ook ’n ander probleem in die Kerk. Met die eeue het die pouse al hoe meer in politieke sake betrokke geraak. Pouse het soos konings oor dele van Italië, genaamd die Pouslike State, geregeer. Hulle het wette gemaak, politieke alliansies (ooreenkomste tussen state om mekaar te steun) met ander lande gesluit en selfs oorloë begin. Omdat die pouse egter soveel tyd aan wêreldsake spandeer het, het hulle geloofsake verwaarloos. 2

Boonop was die Katolieke Kerk deurtrek van korrupsie (oneerlike optrede deur iemand met mag).

Korrupsie het die volgende ingesluit:

  • Die verkoop van aflate. Dit beteken dat ’n priester jou kwytskeld van strawwe wat jy veronderstel was om nog te kry ná jou sondes vergewe is;
  • nepotisme – om jou familie en vriende te bevoordeel; en
  • simonie – om geld te maak deur byvoorbeeld ampte (openbare poste) in die kerk te verkoop. Hierdie optrede in die Kerk was alledaags. Dit het die Katolieke Kerk self, maar ook die pous en biskoppe, skatryk gemaak. 1

Die kombinasie van gesag oor die Bybel, wêreldse politieke mag en verstommende rykdom het die Katolieke Kerk die magtigste liggaam in Europa gemaak.

Daar was deur die eeue mense wat probeer het om die korrupsie in die Kerk aan die lig te bring, soos John Wycliffe en Jan Hus. Laasgenoemde is op die brandstapel tereggestel (doodgemaak) as gevolg van sy kritiek teen die kerk! Maar hul idees het nooit ver genoeg versprei om groot verandering te bring nie. 3

Martin Luther en die 95 stellinge

Martin Luther was ’n professor in Teologie aan die Universiteit van Wittenberg. In 1517 het ’n ander priester, Johann Tetzel, naby Wittenberg begin om aflate te verkoop. Luther was alreeds krities oor die Kerk en die aflaathandel (die koop en verkoop van aflate), maar Tetzel se verskyning was vir hom die keerpunt (gebeurtenis wat ’n beslissende verandering bring). 3

Op 31 Oktober 1517 het Luther 95 stellinge (standpunte of menings) op die deur van ’n kerk in Wittenberg vasgesit. Die stellinge het Luther se kritiek op die Katolieke Kerk uiteengesit, 4 en die Kerk tot ’n debat (openbare bespreking) uitgenooi. 5

Martin Luther

Die essensie van die Protestantse uitgangspunte, wat in Luther se stellinge beskryf word, word in die volgende vyf basiese punte saamgevat:

  • Sola Scriptura – Die Bybel is die riglyn vir die lewe.
  • Sola Fide – ‘n Mens word nie gered op grond van jou goeie dade nie, maar op grond van jou geloof in God.
  • Sola Gratia – God se genade is die maatstaf vir mense se verlossing.
  • Soli Deo Gloria – Ons leef tot eer van God en verheerlik Hom.

Al vyf beginsels word dan saamgevat in die begrip “Semper Reformanda”, wat uitdrukking gee aan die voortdurende strewe om te bly reformeer (om voortdurend te verander).

Wat was Luther se kritiek?

Die Katolieke Kerk het gepreek dat mense wat sondige lewens lei, ná hul dood hel toe gaan. Dit was egter moontlik om jou te bekeer en berou te toon oor jou sondes. Dít kon jy doen deur jou sondes aan ’n priester te beken en te bieg (om te erken dat jy sonde gedoen het). Die priester het dan vir jou take gegee om te doen om God se vergifnis te kry. Indien jy egter sterf voor jy opgemaak het vir jou sondes, moes jou siel ná jou dood eers tyd in die vaevuur (’n plek van lyding waar gelowiges se siele ná hul dood eers gesuiwer moes word) spandeer. Wanneer jou siel lank genoeg daar was om op te maak vir al jou sondes, is jy toegelaat om in die hemel in te gaan. 6

Die pous of biskoppe kon egter aan jou ’n aflaat gee, wat jou sondeskuld vergewe en die tyd wat jy in die vaevuur sou moes spandeer, verkort. Aflate kon verkry word uit goeie werke, of kon gekoop word deur geld vir Kerk te gee. 7

Luther was uiters krities oor die aflaathandel, vir drie redes:

  • Dit het gelei tot korrupsie, omdat sommige kerkleiers die geld gebruik het om hulself te verryk.
  • Hy het nie geglo dat mens vergifnis kon koop nie. Hy het uit die Bybel verstaan dat vergifnis ’n geskenk van God is vir die mense wat in Hom glo. 6
  • As God die vaevuur geskep het, kon slegs God die tyd wat jy daar moes spandeer, verkort. En indien die pous dit wel kon doen, hoekom het hy dit nie vir almal gedoen nie – nie vir betaling nie, maar bloot uit liefde? 3

Ander kwessies wat hy aangeval het, was:

  • Die onfeilbaarheid van die pous, met ander woorde die idee dat die pous nie foute kon begaan nie.
  • Die verering van Moeder Maria en die ander heiliges (mense wat deur die kerk heilig verklaar is).
  • Die transsubstansiasieleer, oftewel die geloof dat die brood en wyn werklik die liggaam van Christus word gedurende die nagmaal, en dat Jesus dus by elke Katolieke mis weer geoffer word. Dit is een van die “wonderwerke” van die Katolieke Kerk. 5

Luther se argumente was alles gebaseer op een idee, naamlik dat niks van bogenoemde in die Bybel gevind kon word nie. Hy het gevoel dat die Bybel alleen die bron van alle gesag was. Mense word gered as gevolg van hul geloof en God se genade, en nie as gevolg van hul goeie werke of die hulp van ’n tussenganger soos ’n priester nie. 2

Reaksie op Luther se idees

Die reaksie op Luther se stellinge was aanvanklik gematig (redelik flou). Daar was wel kritiek, maar die Kerk het nie eintlik gereageer nie. Sy idees het egter al hoe vinniger versprei, sodat die Kerk eenvoudig móés reageer.

Luther is beveel om voor die Ryksdag (parlement) van Worms te verskyn. Die Ryksdag het hom beveel om sy idees terug te trek. Luther het geantwoord dat hy dit alleenlik sou doen indien daar bewyse in die Bybel was wat sy idees weerspreek het. 4

Die Kerk se reaksie was om hom as ketter (iemand wat die waarhede van die Christelike geloof verwerp) uit te kryt en voëlvry (om nie deur die wet beskerm te word nie, sodat enige iemand jou kan vervolg) te verklaar. Hy is in 1521 uit die Kerk geban, wat beteken dat hy volgens die Kerk nie meer God se genade kon ontvang nie en deur ander gelowiges verwerp is. 3

Luther se reaksie hierop was om op 10 Desember 1520 Katolieke gelowige boeke, asook die pouslike bul – die dokument deur die pous onderteken wat verklaar het dat hy geban is – in die openbaar te verbrand. 8

Daarna het hy by Friedrich, die keurvors (belangrike Duitse edelman) van Sakse in Wartburg gaan skuil. 9 Hier het hy die Bybel in Hoogduits vertaal. Die gevolg was dat sy idees nóg vinniger versprei het, want mense kon nou leer om self die Bybel te lees, selfs al kon hulle nie Latyns praat nie. 5

Die Hervorming in Switserland

In dieselfde tyd as was Luther geleef het, was daar ook in Switserland ’n opstand teen die Kerk.  Dit is begin deur Huldrych Zwingli wat, apart van Luther, met sy eie idees na vore gekom het. Hy het in 1541 ’n ander Hervormer, die Fransman Johannes Calvyn, wat wél deur Luther beïnvloed is, genooi om in Genève in Switserland te kom woon en daar sy idees te versprei. 3

Onder leiding van Zwingli, maar veral Calvyn, het Genève ’n bymekaarkomplek geword vir Protestantse ballinge (mense wat uit hul land geban is) van oor die hele Europa heen. 9

Calvyn was ’n vlytige (hardwerkende en flukse) skrywer. Die bekendste van sy werke was die Institusie van die Christelike godsdiens. Hy het kommentaar oor omtrent al die Bybelboeke geskryf, asook derduisende briewe aan konings en ander hooggeplaastes oor die wêreld heen. 10

Calvyn het gesê die Katolieke Kerk was onbybels en, soos Luther, wou hy gehad het dat mense die Bybel, eerder as die Kerk, moes sien as die hoogste gesag. Calvyn was ook geïnteresseerd in die rol van geloof in politiek en het geglo dat lande volgens Christelike idees regeer moes word. 5

Al het Luther vir Calvyn geïnspireer, het hul idees genoeg verskil dat hulle verskillende strome van Protestantisme gestig het. So word daar na Lutheranisme of Calvinisme verwys. 4

Johannes Calvyn

Verspreiding van die Kerkhervorming

Toe Luther in 1546 sterf, was die Kerkhervorming in volle swang (behoorlik aan die gang), en dit is definitief ʼn feit dat sy idees die ontstaan van die Kerkhervorming was. Maar sy idees was nie nuut nie, en daar was baie mense voor hom wat ook die Kerk gekritiseer het. 3 So wat was anders?

Luther se volgelinge – Protestante genoem, omdat hulle teen die Kerk geprotesteer het – kon hul idees vinnig en effektief versprei as gevolg van die invloed van die drukpers (masjien wat gebruik is om afdrukke te maak). (Lees meer hier oor Johannes Gutenberg wat die drukpers uitgevind het.) 9

Ou drukpers

Voorheen moes alles met die hand geskryf word. Die drukpers het beteken mens kon baie goedkoper as tevore duisende kopieë van iets maak en dit vinnig en wyd versprei. Binne ’n jaar was Luther se idees, gedruk op pamflette of in briewe, oor die hele Duitsland, asook in Frankryk en Engeland. 3

Die drukpers het boonop boeke só goedkoop gemaak dat gewone mense dit kon bekostig. Die vertaling van die Bybel in alledaagse tale – eers in Duits deur Luther en kort daarna in Frans, Italiaans en Engels – het beteken dat mense nou die Bybel self kon lees. Hulle kon nou ’n direkte verhouding met God hê, sonder die Katolieke Kerk as tussenganger. 1

Die Kerkhervorming het versprei na die noorde van Duitsland, Frankryk, Switserland, Skotland, Engeland, Nederland en die Skandinawiese lande. 5 In lande wat meer suid was, soos Oostenryk, Spanje en Italië, het dit egter nooit groot ondersteuning gekry nie.

Laasgenoemde twee lande – Spanje en Italië – het die middelpunt van die Teenhervorming geword. 2

Die Teenhervorming

Die Katolieke Kerk het aanvanklik stadig teen die Kerkhervorming gereageer. Binne die Kerk het daar hier en daar iets verander, soos dat aflate effens beperk is. Maar die Kerk het geen groot veranderings gemaak nie. 9

Toe daar uiteindelik reaksie was, was dit bloedig. Daar was inkwisisies (strawwe ondervragings om kettery op te spoor en te straf) in onder meer Spanje en Nederland. Familielede het teen mekaar geveg. Daar was vernietigende oorloë oor geloof – die mees bekende is die Tagtigerjare Oorlog tussen Spanje en die provinsies van Nederland. Omdat mense geveg het vir hul geloof, wou niemand erken dat hulle aan die verloorkant was nie. 1

In die geweld en oorloë is miljoene mense gedood, en kerke en godsdienstige werke is vernietig. In Skotland, byvoorbeeld, het die kerkhervormer John Knox die vernietiging van kloosters (godsdienstige geboue waar monnike woon) en kerke só aangemoedig dat daar in groot dele van Skotland geen oorblyfsels van die Katolieke Kerk was nie. 3

John Knox

Oorlog en die einde van die Kerkhervorming

Die Kerkhervorming het nie ’n amptelike einde gehad nie, maar die konflik het naderhand afgeneem.

Polities gesproke het die konflik oor die Kerkhervorming geëindig met die Vrede van Augsburg in 1555. Hier is besluit dat Europese monarge (konings en koninginne) kon kies of hulle Rooms-Katoliek of Protestants wou wees. Dit sou dan die amptelike geloof van hulle land wees. 3

Die Teenhervorming wat tussen 1545 en 1700 gewoed het, het ten spyte van die Vrede van Augsburg voortgegaan en die konflik verleng.

Die Kerkhervorming was die belangrikste oorsaak van die Dertigjarige Oorlog (1618-1648), wat omtrent 8 miljoen mense se dood veroorsaak het en die Heilige Romeinse Ryk vernietig het. Die Vrede van Wesfale het geloofsvryheid uitgebrei, sodat mense onbeskaamd hul eie geloof kon uitleef, al was dit anders as die geloof van hulle land. Dit word meestal gesien as die einde van die Kerkhervorming, al was daar daarna nog uitbarstings van geweld. 3

Die Kerkhervorming se impak in Suid-Afrika

Die eerste Europeërs wat na Suid-Afrika gekom het, was die Nederlanders in 1652, toe die Franse Hugenote in 1688 (mense wat letterlik uit Frankryk gevlug het omdat hulle Protestante was en daarom vervolg is), Duitsers en Britte. Hierdie was hoofsaaklik Protestantse lande, en daarom is die invloedrykste kerke in Suid-Afrika Protestants. 4

Aankoms van die Franse Hugenote

In Nederland het Calvyn se idees die sterkste inslag gekry het. Die belydenisskrifte, soos die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls is almal opgestel deur volgelinge van Calvyn. Hierdie belydenisskrifte is die grondslag van die Gereformeerde geloofstradisie (daardie gebruike en idees wat van geslag tot geslag oorgedra word). Dit is hierdie tradisie wat saam met Jan van Riebeeck na Suid-Afrika gekom het. Afrikaners, maar ook die oorgrootte meerderheid ander Suid-Afrikaners, se optrede en geloofslewe is dus sterk Gereformeerd. 4

Jan van Riebeeck

Die Kerkhervorming se impak en nalatenskap

Die Kerkhervorming het veranderinge gebring – godsdienstig, kultureel en sosiaal – wat vandag nog ons lewens beïnvloed.

Op die kort termyn het dit Europa laat versplinter (grootliks verdeel). Daar was dekades van bloedvergieting, oorloë en moord. Die Dertigjarige Oorlog het na raming so veel as 40% van Duitsland se bevolking uitgewis of vervolg. 9

Op ’n meer positiewe noot was daar aan die Katolieke én die Protestantse kant van die skeur (verdeeldheid) kulturele oplewings. Universiteite is gebou en nuwe musiek is geskryf deur mense soos Johan Sebastiaan Bach. Calvyn se idees het Hollandse handelaars geïnspireer, wat gelei het tot die skepping van organisasies soos die Verenigde Oost-Indische Compagnie (VOC). 9 Saam met handel was daar ook ontdekkingsreisigers wat nuwe lande en mense wou “wen” vir hul geloof. 3

Die Kerkhervorming het ’n groot invloed gehad op die beoefening van wetenskap, wat uiteindelik tot die Wetenskaplike Revolusie van die 16de en 17de gelei het. Dit was nou aanvaarbaar om die Kerk te kritiseer en dus om wyer as die Bybel te soek vir kennis. 1

Geletterdheid het gestyg omdat Protestante die Bybel nou self kon lees. Saam met die drukpers en massavervaardiging van boeke was daar ’n ontploffing van inligting. Mense kon nou hul eie kennis verbreed en hul eie mening oor wêreldsake lug. Op die lang termyn sou hierdie lei tot die uitbreiding van demokrasie waar regerings gewone mense, en nie slegs die godsdienstige leiers nie, in ag neem. 3

Woordbank

aflate Wanneer ’n priester jou kwytskeld van strawwe wat jy nog moes ondergaan na jou sondes vergewe is. 11
alliansie Politieke verdrag deur twee of meer state aangegaan om mekaar te steun. 7
ampte Openbare werk wat iemand doen.
ballinge Iemand wat uit sy/haar land geban (weggestuur) is.
geban Uitsluiting uit ’n kerklike gemeenskap.
bieg Erken dat jy sonde gedoen het, veral voor ’n priester as jy Rooms-Katoliek is.
bul Dokument waarin amptelike bepalings uiteengesit word. 7
debat ’n Openbare bespreking van verskillende standpunte oor ’n onderwerp.
drukpers Masjien wat gebruik is om afdrukke te maak, soos koerant.
heilige Iemand wat deur die kerk op grond van sy/haar lewe/wondere heilig verklaar is.
in volle swang Behoorlik aan die gang wees. 11
inkwisisies Meedoënlose ondersoek of ondervraging, ten einde kettery op te spoor en te straf. 7
kardinale Hoogwaardigheidsbekleër in die Rooms-Katolieke Kerk.
keerpunt Gebeurtenis waarmee ’n beslissende verandering plaasvind.
ketter Iemand wat, volgens sommige ander Christene, een of meer waarhede van die Christelike geloof verwerp; veral iemand wat, deur ander Rooms-Katolieke, beskou word as ’n afvallige van die Rooms-Katolieke geloof.
keurvors Titel wat behoort het aan die vorste en aartsbiskoppe van die ou Duitse Keiserryk, wat die reg gehad het om die keiser te kies.
kloosters ’n Gebou waarin vroue (nonne) of mans (monnike) woon wat behoort tot ‘n godsdienstige groep wat op hul eie, weg van ander mense, leef.
korrupsie Oneerlike optrede, veral deur iemand met mag.
kritiek Beoordeling van die waarde van iets/iemand, veral deur te sê wat jy dink minder goed is.
liggaam Vereniging van persone; vennootskap; instelling.
gematig Nie baie groot of klein, baie warm of koud, baie vinnig of stadig, nie; nie oordrewe nie.
mis Die nagmaaldiens in die Rooms-Katolieke Kerk.
monarg Ook genoem ’n vors. ’n Regeerder wat nie verkies is nie, maar die troon geërf het.
nepotisme Begunstiging van familie en vriende.
onfeilbaarheid Wat vry is van dwaling/vergissing; wat nooit ’n fout begaan nie.
ontstaan Begin.
Ryksdag Sekere lande se parlement.
simonie Praktyk van wins te maak uit die koop en verkoop van geestelike voordele ‘n amp, aflaat, relikwie of bevordering.
stellinge ’n Standpunt wat iemand inneem of ‘n mening wat hy/sy wil verdedig.
tereggestel Met die dood te straf.
tradisie Sekere gebruike, opvattings en gevoelens wat van geslag tot geslag oorgedra en in stand gehou word.
vaevuur Plek van lyding, waar gelowiges ná hulle dood ’n verdere suiwering ondergaan.
versplinter Om iets in stukke te laat breek.
vervolg Iemand of ‘n groep wreed/onregverdig behandel, veral as gevolg van sy/haar/hulle godsdienstige of politieke oortuigings.
vlytige Hardwerkend; fluks.
voëlvry Om nie meer deur die wet beskerm te word nie; en kan deur enigiemand vervolg word.
Westerse Afstammelinge van Europese lande. 11

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die Kerkhervorming

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Kerkhervorming

Die Kerkhervorming en die man wat alles begin het

Die Geskiedenis van die Kerkhervorming

Die Tagtigjarige Oorlog

Hoekom was daar ’n Kerkhervorming?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: Shutterstock
Gepubliseer op: 18 Mei 2023 | Bygewerk op 23 Februarie 2024