Vinnige feite

  • Die Kerkhervorming is een van die belangrikste gebeurtenisse in die geskiedenis van die Westerse wêreld.
  • Guido de Brès, opsteller van die Nederlandse Geloofsbelydenis, is in 1567 weens sy geloofsoortuigings tereggestel. 19
  • Die Nederlandse Geloofsbelydenis is eers in België in die Franse taal opgestel, en daarom word dit in Engels die Belgiese Belydenis genoem. Dit word egter die Nederlandse Geloofsbelydenis elders genoem, omdat Nederlandse sinodes dit eerste aanvaar het. 5

Wat glo jy? ’n Christen se antwoord op hierdie vraag is sy of haar belydenis. ’n Belydenis is ’n openlike verklaring. Dit kan ’n openlike verklaring van geloof (’n geloofsbelydenis) of van skuld (skuldbelydenis) wees. Hier gaan dit oor geloofsbelydenis.

’n Mens kan jou geloof in jou eie woorde bely, maar daar het deur die loop van die kerkgeskiedenis ook verskeie dokumente verskyn waarin groepe gelowiges saam hul geloof bely. Dit word belydenisse of belydenisskrifte genoem.

Reeds in die Ou Testament sien ’n mens hoe die antieke Israeliete hul geloof bely het. ’n Bekende voorbeeld daarvan vind ons Deuteronomium 6:4: “Luister Israel, die Here is ons God, die Here alleen.” In Markus 12:29 haal Jesus dit soos volg aan: “Luister Israel, die Here ons God is die enigste Here.”

In die tyd nadat Jesus op aarde was, het vroeë Christene dikwels hul geloof bely met die woorde: “Jesus is die Here”.

’n Mens sien hierdie belydenis, soms in bietjie ander woorde, reeds in die Nuwe Testament, in byvoorbeeld 1 Korinthiërs 12:3: “… niemand kan sê ‘Jesus is die Here!’ behalwe deur die Heilige Gees nie.” En Filippense 2:11: “… elke tong sal bely, ‘Jesus Christus is die Here!’ tot eer van God die Vader.” Hierdie belydenis het risiko’s vir die vroeë Christene ingehou, aangesien daar van hulle verwag is om die keiser as here te erken. Met dié belydenis het Christene egter duidelik verklaar dat hul hoogste lojaliteit nie by die keiser lê nie, maar by Jesus Christus. 1

Die oorsprong van belydenisskrifte

Belydenisskrifte ontstaan gewoonlik in ’n tyd van krisis of meningsverskil, wanneer dit belangrik word om duidelikheid te bring oor wat die kerk oor ’n spesifieke saak glo.

So was daar teen die vierde eeu vrae oor Jesus en oor God. Oor Jesus was daar vrae oor sy menslikheid en sy Goddelikheid en die verband tussen die twee. Uiteindelik het die kerk besluit Jesus was waarlik God én waarlik mens. Oor die siening van God was daar spanning tussen die belydenis uit die Ou Testament dat daar net een God is en Christene se aanbidding van God die Vader, die Seun én die Heilige Gees. Hieroor het die kerk gesê dat daar een God is wat in drie Persone na vore kom. Die drie ekumeniese (wat die hele Christelike kerk verteenwoordig) geloofsbelydenisse – die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Atanasius – het na aanleiding hiervan onstaan. 2

Nog ’n vrugbare tyd vir die totstandkoming van belydenisskrifte was die Kerkhervorming van die 16de eeu. Dit was die tyd toe Protestante weggebreek het van die Rooms-Katolieke Kerk omdat hulle gemeen het die Katolieke het op ’n dwaalspoor beland. Die Protestantse kerke wat uit die Kerkhervorming ontstaan het, wou duidelik maak presies wat hulle glo en waarom hulle standpunt teenoor die Katolieke Kerk ingeneem het. Dit het gelei tot verskillende belydenisskrifte in verskillende Protestantse tradisies. Dit is in die algemeen ook langer dokumente as die kort ekumeniese belydenisskrifte wat vroeër ontstaan het.

In die Gereformeerde tradisie (wat veral uit die Nederlandssprekende wêreld kom) is daar drie belydenisskrifte aanvaar: die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls. In die Lutherse tradisie is die Augsburgse belydenis opgestel 3 en die Westministerbelydenis 4 is vir die Presbiteriaanse Kerke opgestel. Daar is ook ander soos die eerste en tweede Switserse of Helvetiese belydenisse wat in die Switserse Gereformeerde Kerk opgestel is. 5

Moderne belydenisskrifte is skaars, maar dit gebeur soms wel. Een voorbeeld is die Belydenis van Belhar wat in 1982 deur die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk opgestel en in 1986 deur die kerk se volgende Algemene Sinode aanvaar is. Die NG Sendingkerk was destyds die kerk vir bruin mense in die NG Kerkfamilie.

Die Belydenis van Belhar is opgestel nadat die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke (destyds die grootste organisasie van gereformeerde kerke ter wêreld) verklaar het dat dit kettery of dwaalleer is om apartheid op grond van die Bybel te regverdig. Teenoor hierdie dwaalleer wou die NG Sendingkerk die korrekte Bybelse leer bely. Die Belydenis van Belhar fokus daarom veral op drie Bybelse begrippe, naamlik eenheid, versoening en geregtigheid. Daar was pogings in die NG kerk om Belhar as ’n belydenisskrif te aanvaar, maar dit het misluk. 6 ’n Aantal ander kerke het dit wel as belydenis aanvaar.

Die gebruik van belydenisskrifte

Belydenisse het verskillende gebruike binne kerke:

  • Kort belydenisse soos die Apostoliese Geloofsbelydenis word soms in eredienste gebruik wanneer óf ’n voorleser óf al die kerkgangers in ’n koor, dit hardop lees.
  • Die langer gereformeerde belydenisskrifte word soms gebruik om mense te leer wat die kerk glo, onder meer met die oog op hul lidmaatskap van die kerk.
  • Belydenisskrifte het ook ’n saambindende funksie. So word die drie gereformeerde belydenisskrifte die Drie Formuliere van Eenheid genoem omdat dit simbolies is van die eenheid in geloof van gereformeerde gelowiges.
  • Daarby word belydenisskrifte as maatstaf gebruik om seker te maak dat predikante en lidmate by die korrekte leer van die kerk bly.

Die belydenisskrifte in Suid-Afrika

Die ses belydenisskrifte wat die wydste in Suid-Afrika gebruik word – die drie ekumeniese belydenisskrifte en die Drie Formuliere van Eenheid – word hier bespreek. Die volledige tekste van die belydenisskrifte is dikwels op kerke se webwerwe beskikbaar, byvoorbeeld by https://ngkerk.net/belydenis/

Apostoliese Geloofsbelydenis

Die Apostoliese Geloofsbelydenis word deur al die kerke in die Westerse wêreld, beide Katoliek en Protestants, gebruik. Dit word soms die Twaalf Artikels genoem. 7

Die vroegste weergawe is waarskynlik in die derde eeu geskryf. Dit het deur die eeue verander en teen die sesde of begin sewende eeu het dit begin lyk soos ons dit vandag ken.

Die Apostoliese Geloofsbelydenis is geformuleer om die Drie-eenheid te beklemtoon. 8 Die deel oor Jesus is egter meer uitgebreid as oor God of die Heilige Gees.

Die frase “ter helle neergedaal” het al tot verskeie debatte in kerke gelei oor die presiese betekenis daarvan, en wat kerke eintlik daarmee wil sê. Daar was daarom ook verskillende pogings om dit anders in Afrikaans te vertaal. Een voorbeeld is die bewoording wat die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika gebruik: “Hy het die lyding van die hel ondergaan.” 9

Geloofsbelydenis van Nicea

Die Geloofsbelydenis van Nicea is waarskynlik die geloofsbelydenis wat die wydste in kerke dwarsoor die wêreld aanvaar word. 7

Hierdie geloofsbelydenis het onstaan gedurende die stryd tussen Arius, ’n ouderling, en Aleksander, die biskop, van Aleksandrië. Arius het die Triniteit misken en voorgehou dat Jesus Christus nie die Seun van God was nie. Aleksander het geglo dat Jesus en God een was en Jesus dus goddelik.

Die stryd het begin by die Sinode van Nicea in 325 en geëindig toe die Sinode van Konstantinopel in 381 Arius se idees verwerp het en die idee aanvaar het dat Jesus en God een in wese met mekaar was. 10 Die belydenis is vernoem na Nicea, die plek waar die stryd begin het. 11

Die Drie-eenheid is die grondslag van die Christelike geloof. Daarom is die Godheid van Christus die spesifieke fokus van die Geloofsbelydenis van Nicea.

Een formulering in die Geloofsbelydenis van Nicea het in die jaar 1054 tot ’n skeuring in die Christendom gelei. Die Westerse kerke het gesê die Heilige Gees “gaan van die Vader en die Seun uit” terwyl die Oosterse kerke gesê het die Heilige Gees “gaan van die Vader uit”. Die frase waaroor die verskil gegaan het – “en die seun” – word in Latyn met een woord vertaal: filioque. Daarom word die meningsverskil wat die skeuring veroorsaak het, die filioque-kwessie genoem. 12

Geloofsbelydenis van Atanasius

Die oorsprong van die Geloofsbelydenis van Atanasius is onbekend, maar dit is vernoem na Atanasius, die deken en later biskop van Aleksandrië, al het hy dit nie opgestel nie. Dit is waarskynlik in die vierde eeu opgestel, maar nie later as die sesde eeu nie.

Die belydenis bevat 44 artikels wat die belangrikste aspekte van geloof uitspel. Die eerste gedeelte, tot Artikel 26, fokus op die Drie-eenheid en die tweede deel op die verhouding tussen die goddelike en menslike natuur van Jesus Christus. 13

Heidelbergse Kategismus

Die Heidelbergse Kategismus is die invloedrykste en mees algemeen aanvaarde kategismus (leerboek waarin vrae en antwoorde oor ’n godsdiens vervat is) uit die Kerkhervorming. 14 Dit is een van die Drie Formuliere van Eenheid.

Dit is tussen 1559 en 1576 geskryf in opdrag van ’n Duitse kroonprins, Frederik III. In daardie stadium was daar baie verwarring oor wat die jong mense in die kerk moet leer. Hy het ’n jong professor, Sagarias Ursinus, versoek om ’n kategismus op te stel. Daarna het ’n kerklike kommissie daaraan gewerk, en dit is in 1563 goedgekeur. 15 Dit is eers in Duits geskryf, maar is gou in Latyn en Nederlands vertaal.

Dit tel onder die kategorie belydenisskrif, maar dit is meer soos ’n Christelike leerboek as ’n belydenis.  Die doel daarvan is om leiding aan predikers en onderwysers te gee en om die jeug te onderrig.  Die kategismus is in die vorm van vrae en antwoorde wat die belangrikste kwessies van Christenskap bespreek. Daar is 129 vrae in 52 Sondag-afdelings.

Die Heidelbergse Kategismus word in drie dele verdeel. Die eerste deel handel oor hoe groot Christene se sonde en ellende voor God is, en die tweede deel hoe hulle in God daarvan verlos kan word. Die derde deel sluit in die Tien Gebooie, dele van die Apostoliese Geloofsbelydenis, die sakramente (doop en nagmaal), kerklike tug (die toepassing van straf op iemand), asook die Onse Vader.

Die Heidelbergse Kategismus begin soos volg:

Sondag 1

Vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ‘n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

Nederlandse Geloofsbelydenis

Die Nederlandse Geloofsbelydenis is in 1561 deur Guido de Brès, ’n Belgiese kerkhervormer en student van die beroemde kerkhervormer Johannes Calvyn, opgestel. Die belydenis is oorspronklik in Frans opgestel. In ’n tyd van groot vervolging van lidmate van die Protestantse Kerke, het hy dit opgestel as verduideliking van hoe die Protestantse geloof van die Katolieke en ander gelowe verskil. 16 Dit is in 1618-1619 deur die Sinode van Dordrecht, die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke van die Verenigde Nederlande, as een van die belydenisskrifte van die Gereformeerde Kerke aanvaar.

Dit is een van die gereformeerde kerke se Drie Formuliere van Eenheid, en bevat die grondslag van die Gereformeerde oortuiging oor God, sy Woord en die geloofslewe.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis bestaan uit 37 artikels. Dit begin met ’n breë uiteensetting van die maniere waarop God Hom openbaar, met beklemtoning van die oorsprong, gesag, duidelikheid en genoegsaamheid van die Heilige Skrif (soos daar na die Bybel verwys word). Daar is artikels oor die Godheid van Jesus en die Heilige Gees, die Skepping, asook die rol van die kerk in regeringsake.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis begin soos volg:

Artikel 1: Die enige God

Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar ’n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem. Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed, en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.

Dordtse Leerreëls

Die Dordtse Leerreëls is in 1618-1619 tydens die Sinode van Dordrecht opgestel en goedgekeur. 17 Daar was ’n stryd in die kerk oor die vryheid van die mens as dit kom by die aanvaarding van God se genade. Die Dordtse Leerreëls is opgestel om duidelikheid te gee oor die saak en só die spanning in die kerk te verminder. 18 Dit is een van die Drie Formuliere van Eenheid.

Die Dordtse Leerreëls bestaan uit 5 hoofstukke. Die hoofstukke handel oor:

1 Goddelike uitverkiesing en verwerping

2 Die dood van Christus en die verlossing van die mense deur sy dood

3 en 4 Die verdorwenheid van die mens, sy bekering tot God en die wyse waarop dit plaasvind

5 Die volharding van die heiliges (gelowiges). 17

Die Dordtse Leerreëls begin soos volg:

Hoofstuk 1: Goddelike uitverkiesing en verwerping

  1. Alle mense het in Adam gesondig en hulle skuldig gemaak aan die vloek en die ewige dood. Daarom sou God niemand verontreg het as dit sy wil was om die hele menslike geslag in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie. Daarom leer die apostel: “die hele wêreld is voor God doemwaardig (Rom. 3:19). Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom. 3:23) en: Die loon van die sonde is die dood” (Rom. 6:23).
  2. Die liefde van God is egter hierin geopenbaar dat Hy sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (1 Joh. 4:9; Joh. 3:16).
  3. Om mense tot geloof te bring, stuur God uit louter goedheid verkondigers van hierdie vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Deur hulle diens word die mense geroep tot bekering en geloof in Christus, die gekruisigde, want: “Hoe kan hulle in Hom glo van Wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie”? (Rom. 10:14-15). 17

Woordbank

Algemene Sinode Hoogste gesaghebbende kerkvergadering van die Gereformeerde Kerke waarin sake van algemene belang behandel word.
alleroorvloedigste Meer as genoeg, oordadig, rojaal.
antieke Uit die ou Griekse of Romeinse tyd.
apartheid Amptelike, rassistiese beleid van die Nasionale Party-regering (1948-1994) waarvolgens Suid-Afrikaners in rassegroepe geskei is.
apostel Een van die leerlinge van Christus en eerste verkondigers van die evangelie; godsman.
artikels Onderdele/bepalings/klousules van ʼn wet.
belydenis Openlike verklaring van geloof; erkenning van skuld, liefde, ens.
biskop Priester van die hoogste rang.
debatte Besprekings op ’n vergadering van die voor- of nadele van ’n saak; gedagtewisselings of redes, bv. in ’n parlement.
deken ’n Amptenaar, hetsy manlik of vroulik, met ʼn laer rang as dié van ’n priester.
doemwaardig Verdien om veroordeel en/of gestraf te word.
dwaalleer Opvatting wat afwyk van die erkende godsdienstige leer.
dwaalspoor Om iemand op die verkeerde pad te bring/lei; om iemand te mislei.
formuliere Voorgeskrewe, plegtige verklarings om te lees by seremoniële verrigting; doop-, huweliks-, nagmaalsformulier.
ekumenies Wat die hele Christelike Kerk verteenwoordig.
genoegsaamheid Genoeg, voldoende hoeveelheid.
Gereformeerde Hervorm volgens die beginsels van die Kerkhervorming van die 16de eeu; Protestants volgens die Calvinistiese beginsels.
grondslag Dit waarop iets steun/berus.
kategismus Kort begrip in die vorm van vrae en antwoorde van die vernaamste leerstellinge van ’n godsdiens, veral ’n leerboek waarin sulke vrae en antwoorde vervat is.
kategorie Afdeling.
keiser ’n Man (hoër as ’n koning) wat oor ’n hele groep lande regeer.
Kerkhervorming Beweging in die kerk uitgaande van Luther, Calvyn e.a. hervormers (16e eeu) om die kerk van alle dwaalleringe te suiwer; Reformasie.
kettery Dit is waarvan mense aangekla is as hulle afgewyk het van dit wat die Rooms-Katolieke Kerk geglo het.
kommissie ʼn Groep mense wat ʼn bepaalde taak het, gewoonlik van meer permanente aard as dié van ʼn komitee.
kontroversie Getwis, geskil.
kroonprins Troonopvolger van ʼn koning.
lojaliteit Getrouheid aan iemand/’n beginsel/’n belofte/’n regering of volk; opreg.
loon “Betaling”.
maatstaf Dit waarvolgens iets beoordeel word.
nagmaal Wanneer brood en wyn ter herdenking van die kruisdood van Christus geëet en gedrink word.
Onse Vader Die gebed wat Jesus aan sy dissipels gegee het en wat ons tot vandag toe voorhou as die perfekte gebed.
ouderling Lid van ’n kerkraad wat saam met die predikant toesig hou oor ’n gemeente en onder meer moet waak oor die suiwerheid van die leer.
Presbiteriaanse Kerke ’n Protestantse denominasie gebaseer op die leerstellings van Johannes Calvyn en deur ouderlinge regeer.
Protestante Christene wat tot die tak van die Christelike Kerk behoort wat in die 16de eeu van die Rooms-Katolieke Kerk geskei het.
risiko’s Waagkanse sonder om te weet of dit suksesvol sal wees.
Rooms-Katolieke Kerk Die Christelike Kerk waar die pous die hoof is, met sy administratiewe hoofkwartier in die Vatikaan.
sakramente Heilige, sigbare tekens en seël wat Christengelowiges glo deur God ingestel is ten einde aan die mens sy belofte van vergewing van sondes te waarborg.
simbolies Iets wat ʼn bepaalde idee verteenwoordig/uitbeeld.
skeuring Skeiding.
tereggestel Met die dood gestraf.
Tien Gebooie Lys van godsdienstige voorskrifte wat op die berg Sinai goddelik aan Moses geopenbaar is en op twee kliptafels gegraveer is.
tradisie Oorgelewerde sedes, gewoontes, kultuurwaardes van ’n volk.
tug Die toepassing van straf op iemand.
vervloeking Verdoemenis, veroordeling; iemand na die hel wens.
vervolging Iemand of ’n groep wreed/onregverdig behandel, veral as gevolg van sy/haar/hulle godsdienstige of politieke oortuigings.
verwarring Verwarde handelinge of optrede; deurmekaarspul.

Lees hierdie artikels om die belydenisskrifte beter te verstaan

Kyk hierdie video’s vir nog meer kennis

Die Geskiedenis van die Kerkhervorming en die man wat alles begin het (animasie)

Hier is ʼn ander weergawe van Martin Luther (animasie)

Die Sinode van Nicea

Die Ariese kontroversie in ʼn neutedop

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 23 Februarie 2024 | Bygewerk op 27 Februarie 2024