Vinnige feite

  • Hofmeyr se bynaam was “Onze Jan”. 1
  • Hofmeyr help in 1892 om ʼn koerant met die naam Ons Land te stig. 1
  • Die Universiteit van die Witwatersrand is eers die South African School of Mines genoem. 6
  • Hofmeyr is in 1882 gevra om die president van Transvaal te word, maar hy het dit nie aanvaar nie. 1
Foto: iStock

Ken jy iemand wat al op net 17-jarige ouderdom redakteur van ʼn koerant was? Wel, Jan Hendrik Hofmeyr, ook bekend as “Onze Jan”, was slegs 17 toe hy in 1926 redakteur van De Volksvriend word. Hy was ook ʼn prominente figuur in die politiek en die ontwikkeling van die Afrikaanse taal. Kom ons kyk wat hy alles in Suid-Afrika gedoen het.

Sy jonger jare en sy gesin

Jan Hendrik Hofmeyr is op 4 Julie 1845 op die plaas Welgemeend by Tafelberg gebore. Hy was die oudste van 12 kinders van sy pa, Jan Hendrik Hofmeyr, en sy ma, Hester Rykie Roos. Sy oupa Johann Heinrich Hofmeyr het uit Duitsland na die Kaap gekom.

Omdat die jong Hofmeyr ’n sieklike kind was, het hy by sy oupa en ouma in Kaapstad grootgeword.  Ons weet nie wat hom as kind makeer het nie. In sy latere jare het sy gesondheid ook probleme gegee toe hy blykbaar met sy bloedsomloop, senuwees en jig gesukkel het. In 1900 het hy byvoorbeeld verskeie gesondheidsoorde in Europa besoek. Hy het ʼn skool bygewoon waar hy in Nederlands skoolgegaan het.

Hofmeyr was twee keer getroud: Hy is eers in 1880 met Alida Brink Hendriksz getroud, maar sy is reeds in 1883 dood, en hy is toe met haar suster, Johanna, getroud. Hy het geen kinders gehad nie. 1

ʼn Baie goeie joernalis

Hofmeyr was net 17 jaar oud toe hy gevra is om redakteur te word van ʼn nuwe koerant, De Volksvriend. Hy het hierdie werk so goed gedoen dat die koerant teen 1869 ʼn baie bekende koerant was. Die nuwe koerant het so goed gevaar dat dit later De Zuid-Afrikaan, wat al baie lank bestaan het, oorgeneem het. Die nuwe koerant het ook die naam van De Zuid-Afrikaan oorgeneem. Sy goeie werk by die koerant het ook vir hom bekendheid aan die Kaap verwerf. 1 Hy was tot in 1883 redakteur van De Zuid-Afrikaan. 2

Hofmeyr se loopbaan in die politiek

Hofmeyr het in 1878 die Zuid-Afrikaansche Boeren-Beschermingsvereniging (BBV) gestig. Hierdie organisasie het vir die Boere se belange gesorg (oftewel gesorg dat dit goed gaan met die Boere). In 1883 het hy dit reggekry dat die Afrikanerbond van S.J. du Toit met die BBV saamsmelt (‘een organisasie word’). Die naam van die nuwe organisasie was die Afrikanerbond. 3

Hy was in hierdie tyd ook Stellenbosch in die Kaapkolonie se parlementverteenwoordiger. Hy was vir 16 jaar ʼn lid van die parlement. 4 Hofmeyr het in hierdie tyd baie invloed gehad in die ministers wat in die kabinet aangestel is. Daarom het mense hom ook die “kabinetmaker” genoem. 5

Hofmeyr en die Afrikanerleiers het nie altyd saamgestem oor sake nie. Paul Kruger het hom in 1890 onder meer beskuldig dat hy “die Afrikanersaak verraai”. Dit was nadat daar ʼn verskil tussen hulle was oor die verlenging van ʼn spoorlyn deur Transvaal.

President Paul Kruger

Vir Hofmeyr was dit goed om saam met Brittanje te werk, maar hy het nie saamgestem met hulle planne om hul invloed in Suid-Afrika uit te brei nie, en hy het probeer om die Anglo-Boereoorlog te keer. Hy het ook vir J.C. Smuts – wat toe ʼn jong staatsprokureur in Transvaal was – gesê dat die twee republieke nie baie hulp uit die Kaapkolonie sou kry as daar oorlog sou kom nie.

Toe die oorlog in 1899 uitbreek, het hy gehelp om ʼn fonds te stig wat Boereweduwees en Boereweeskinders sou kon help. Hy het in September 1900 na Europa vertrek, waar hy mediese behandeling vir swak gesondheid gekry het.

Hy keer ná die oorlog terug na Suid-Afrika, waar hy weer aktief in landsake betrokke is totdat hy op 16 Oktober 1909 in Londen oorlede is. Sy liggaam is na Suid-Afrika teruggebring en by die ou NG kerk in Somerset-Wes begrawe. 1

Hofmeyr as ʼn taalleier

Hofmeyr het die belange van Nederlands probeer beskerm, en hy was een van die leiers van die Nederlandse Taalbeweging in Suid-Afrika. Hy het dit reggekry dat Nederlands op 9 Junie 1882 deur die Kaapse parlement as amptelike taal erken is. In 1890 is daar ook in Kaapstad die Zuid-Afrikaansche Taalbond onder sy leiding gestig. Hierdie organisasie was eintlik ʼn teenvoeter vir die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) wat in 1875 gestig is om Afrikaans te bevorder.

Hofmeyr het ook ʼn belangrike rol gespeel in die oprigting van die Eerste Taalmonument, wat in 1893 ter ere van die Nederlandse taal in Burgersdorp opgerig is. 5

Eerste Taalmonument, Burgersdorp

In Julie 1903 help hy die nuwe tydskrif De Goede Hoop wat mense aanmoedig om Nederlands te lees. Hy gee onder meer finansiële en redaksionele steun aan die tydskrif. 1

Op 6 Maart 1905 het hy ʼn toespraak gelewer met die titel “Is ’t ons ernst?” (Is ons ernstig daaroor?). In hierdie toespraak het hy ernstig gevra dat Nederlands se belange in onderwys, die staatsdiens en ook in die res van die openbare lewe beskerm moet word.

Gustav Preller het in die koerant De Volkstem hierop gereageer en gepleit vir die belange van Afrikaans. In sy reaksie teen Nederlands het hy hierdie leuse gebruik: ”Afrikaans schrijven en spreken, Hollands leren, albei lezen” (Afrikaans skryf en praat, Hollands leer, albei lees). 5

Die Hofmeyrs trap diep spore

Daar was meer as een Jan Hendrik Hofmeyr wat bekend was in Suid-Afrika.

Die oudste van hulle was “Onze Jan” (1845-1909) – die kulturele leier, joernalis en politikus waaroor tot dusver gepraat is. Dit is nie duidelik waar hy die bynaam “Onze Jan” gekry het nie, maar hy is waarskynlik so genoem omdat hy so bekend was in die gemeenskap en op soveel verskillende terreine, soos die politiek, kultuur en taal, ʼn bydrae gelewer het.

“Onze Jan” se neef se kind was ook Jan Hendrik Hofmeyr (1894-1948), en sy bynaam was “Slim Jannie”. Hy het hierdie bynaam gekry omdat hy in 1902, op 12-jarige ouderdom, sy graad 12 voltooi het. Hy het ʼn honneursgraad gekry toe hy net 15 was en ʼn meestersgraad toe hy 17 was. Hy het aan die Universiteit van Oxford gaan studeer, en nadat hy teruggekeer het na Suid-Afrika, het hy klas gegee aan die South African College in die Kaap en later ook aan die universiteit wat vandag die Universiteit van die Witwatersrand is. 6

Dertienjarige Jan Hofmeyr, reeds op universiteit

Slim Jannie het ʼn groot bewondering vir sy oom gehad, en toe hy 18 jaar oud was, so oor hom geskryf:
“Hy was deur sy hele lewe ʼn idealis. Hy het sterk gevoel oor sekere dinge en probeer om dit altyd na te streef.” 7

Nog ʼn bekende Hofmeyr – Jan-Hendrik Servaas Hofmeyr – is bekend as Jannie Hofmeyr. Hy is in 1953 gebore en is ʼn akademikus, musikant, komponis en toneelspeler. 8

Dan is daar natuurlik ook ʼn paar kunstenaars met die van Hofmeyr wat baie bekend is in Suid-Afrika: Steve Hofmeyr (sanger), Zanta Hofmeyr (violis) en Malané Hofmeyr-Burger (fluitspeler).

Woordbank

belange Dit wat ʼn persoon of ʼn saak raak, of tot voordeel van ʼn persoon of ʼn saak is.
diep spore trap Om belangrike dinge te doen en bekend te wees onder mense.
joernalis Iemand wat vir ʼn koerant of tydskrif skryf.
leuse Die ideale of doelstellings van ʼn politieke party of kulturele organisasie.
parlement ʼn Liggaam waarvan die lede deur die mense van die land verkies word om hulle in landsake te verteenwoordig.
redakteur Die persoon wat toesig hou oor die beleid van ʼn publikasie, soos ʼn koerant, en wat besluit watter berigte daarin geplaas word.
teenvoeter Iemand wat iemand anders probeer teëgaan, die teenoorgestelde probeer doen.

Lees en kyk hier om nog meer te leer oor Jan Hendrik Hofmeyr

 

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 15 November 2022 | Bygewerk op 27 Februarie 2024