Vinnige feite

  • Coetzee se boeke is in talle ander tale vertaal, onder meer Nederlands, Spaans, Duits, Frans, Afrikaans en Serwies. 11
  • Hul huistaal was Engels omdat sy ma se ma in die VSA gebore is en net Engels en Duits gepraat het toe sy as 11-jarige dogter na Suid-Afrika gekom het. Hoewel sy met ’n Afrikaanssprekende man getroud is, het sy haar ses kinders in Engels grootgemaak. Daarom het haar dogter – Coetzee se ma – ook haar twee kinders in Engels grootgemaak. 12
  • J.M. Coetzee se boek El Polaco het in Spaans verskyn voor dit as The Pole in Engels verskyn het. 13
  • Hy ontvang in 2006 burgerskap in Australië. 14
  • Tussen 1901 en 1922 was 60 van die 989 persone wat ’n Nobelprys ontvang het, vroue gewees. 6
Foto: iStock

Hy was ’n klein Engelse seuntjie in Suid-Afrika wat vir sy eerste vyf jaar sonder sy pa moes grootword, wat die Kinderensiklopedie gelees het en homself in daardie boekewêreld verloor het. Daarom is dit seker nie vreemd dat hy een van die bekendste skrywers in die wêreld geword het nie.

Sy jeugjare

John Maxwell Coetzee is op 9 Februarie 1940 as die oudste van twee kinders in Kaapstad gebore.

Sy ma was ’n laerskoolonderwyseres. Sy pa was ’n prokureur, maar hy het nie heeltyds in die regte gepraktiseer (gewerk) nie omdat hy vanaf 1941 tot 1945 in die Tweede Wêreldoorlog saam met die Suid-Afrikaanse weermag in Noord-Afrika en Italië gaan veg het. Hoewel die gesin nie van Britse afkoms was nie, was hul huistaal Engels.

John het sy primêre skoolloopbaan in Kaapstad en in Worcester voltooi. Hy is daarna na ’n hoërskool in Kaapstad en het in 1956 graad 12 voltooi. 1

Universiteitsjare, lewe en loopbaan

In 1957 het hy aan die Universiteit van Kaapstad begin studeer, waar hy in 1960 en 1961 honneursgrade in onderskeidelik Engels en wiskunde behaal het. Vanaf 1962 tot 1965 het hy in Engeland as ’n rekenaarprogrammeerder gewerk terwyl hy navorsing gedoen het vir sy proefskrif oor die Engelse skrywer Ford Madox Ford.

In 1963 is hy getroud met Philippa Jubber en hulle het twee kinders gehad – Nicolas wat in 1989 oorlede is en ’n dogter, Gisela. Philippa is in 1991 oorlede.

In 1965 het hy by die Universiteit van Texas in Austin, Verenigde State van Amerika (VSA) ingeskryf en in 1968 sy PhD (doktorsgraad) in Engels, linguistiek en Germaanse tale behaal. Die tema van sy tesis was die fiksie wat die skrywer Samuel Beckett in die vroeë deel van sy loopbaan geskryf het. Vanaf 1968 tot 1971 was hy assistent-professor in Engels by die Staatsuniversiteit van New York in Buffalo, ook in die VSA. Hy het aansoek gedoen vir permanente verblyfreg in die VSA en toe dit nie goedgekeur is nie, het hy teruggekeer na Suid-Afrika.

Universiteit van Texas, Austin

Tussen 1972 en 2000 het hy verskillende poste aan die Universiteit van Kaapstad (UK) beklee. In ongeveer dieselfde tyd – tussen 1984 en 2003 – het hy dikwels by verskillende bekende en gerekende universiteite in die VSA gaan klasgee. Van hierdie universiteite is onder meer Johns Hopkins-universiteit, Harvard-universiteit, Stanford-universiteit, Staatsuniversiteit van New York en Universiteit van Chicago. 1

Coetzee doen ook vertaalwerk van Nederlandse en Afrikaanse werk.

In 2002 het hy na Australië geëmigreer waar hy tans saam met sy lewensmaat, Dorothy Driver, woon. 1

Sedert 2011 is hy professor in Literatuur by die Universiteit van Adelaide. 2

Universiteit van Adelaide

Hy keer ook gereeld terug na die Universiteit van Kaapstad vir lesings en ander geleenthede. In 2006 het die Departement Engels by die universiteit ’n besprekingsgroep met die naam Coetzee Collective begin. Hierdie groep se doel is om debat oor letterkundige onderwerpe onder studente en akademici te bevorder. 2

Universiteit van Kaapstad

Belangrikste boeke

Coetzee het in 1969 begin om fiksie te skryf en as mens die lys so deurkyk, is dit duidelik dat hy ’n baie produktiewe skrywer is.

Kom ons kyk na enkele van sy werke:

  • Sy eerste boek was Dusklands en dit is in 1974 in Suid-Afrika gepubliseer. Hierin verskyn twee stories wat albei kyk na die uitwerking van kolonisasie op lande en hul mense. The Vietnam Project speel af in die VSA in die 20ste eeu en The Narrative of Jacobus Coetzee speel af in die 18de eeu in Suid-Afrika. 3
  • In 1977 word In the Heart of the Country gepubliseer. Dit wen die CNA-prys en word ook in Engeland en die VSA uitgegee. Hierdie boek is in 1986 met die titel Dust verfilm.
  • In 1980 volg Waiting for the Barbarians wat ook in die buiteland erkenning geniet het.
  • The Life and Times of Michael K (1983) wen die Bookerprys.
  • Hierna volg Foe (1986) en White Writing (1988). Laasgenoemde is ’n versameling opstelle oor Suid-Afrikaanse literatuur en kultuur.
  • In 1990 word Age of Iron Doubling the Point (1992) is opstelle en onderhoude met David Attwell.
  • The Master of Petersburg (1994) volg daarna.
  • Giving Offense (1996) is ’n studie van literêre
  • En toe, in 1999 weer een van die grotes – Disgrace, waarmee hy weer die Bookerprys gewen het.
  • In Stranger Shores (2001) is sy latere literêre opstelle saam opgeneem. 1
  • Daarna volg Elizabeth Costello in 2003.
  • In 2013 verskyn Here and Now: Letters 2008-2011 wat ’n versameling briewe bevat tussen die skrywer en die Amerikaanse skrywer Paul Auster.
  • In 2015 word The Good Story: Exchanges on Truth, Fiction, and Psychotherapy wat hy saam met Arabella Kurtz geskryf het, gepubliseer. 3
  • Tussen 2013 en 2020 het hy ’n trilogie geskryf, The Childhood of Jesus (2013), The Schooldays of Jesus (2016) and The Death of Jesus (2020). Die eerste boek in die trilogie vertel van ’n seun wat na sy ma soek in ’n  wêreld waarin daar nie vreugde en begeerte bestaan nie. 3
  • Hy het nog ’n trilogie geskryf wat outobiografies is: Boyhood: Scenes from Provincial Life(1997), Youth: Scenes from Provincial Life II (2002) en Summertime (2009).
  • In Augustus 2022 is Coetzee se nuutste boek gepubliseer. Die titel daarvan is El Polaco (The Pole/die Pool, iemand wat van die land Pole af kom) en dit speel af in Barcelona, Spanje. 4

Enkele pryse en prestasies

Coetzee het in sy loopbaan reeds die belangrikste pryse in die letterkundige wêreld ontvang, beide in Suid-Afrika en in die buiteland. Sommige daarvan het hy sommer meer as een keer ontvang.

Hy het die Suid-Afrikaanse CNA-prys drie keer ontvang – in 1977, 1980 en 1984. Hy het ook die Bookerprys twee keer ontvang, in 1983 en in 1999. In 2000 het hy die Commonwealth Writers Award ontvang en in 2003 die Nobelprys. 2

Hy het ook op akademiese gebied erkenning ontvang. Hy het onder andere in 2015 ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Londen ontvang. 5

J.C. Kannemeyer het ’n biografie oor Coetzee geskryf: JM Coetzee: A Life in Writing. 2

Nobelprys

Die Nobelprys word sedert 1901 in verskillende kategorieë toegeken aan mense wat uitsonderlike prestasies behaal het in dinge wat hulle tot voordeel van die mensdom gedoen het. Dit is ingestel deur Alfred Nobel, ’n Sweedse ontwerper en entrepreneur. Ontvangers van die Nobelprys word in Engels ’n Nobel Prize laureate genoem. Die woord “laureate” verwys na die woord “lourierkrans”. Die gedagte van ’n lourierkrans kom weer van die gebruik in die antieke Griekse tyd toe mense wat wenners in kompetisies was, met ’n lourierkrans bekroon is om hulle te vereer.

Tussen 1901 en 1922 is hierdie prys reeds aan 989 persone en 27 organisasies toegeken waarvan die jongste persoon 17 was en die oudste persoon 97! 6

Daar is ses kategorieë waarin pryse toegeken word: fisika, vrede, letterkunde, chemie, ekonomiese wetenskappe en sielkunde/medisyne. 7

Bookerprys

Die Bookerprys is die bekendste en mees gesogte (iets wat mense baie graag wil kry) literêre prys in die wêreld van Engelse letterkunde. Hierdie prys bestaan reeds vir langer as vyf dekades en het in die wêreld van uitstaande fiksie baie gedoen om erkenning te gee aan skrywers en ook om ’n wye leserspubliek te skep.

Die prys word toegeken aan die beste Engelse novelle (roman) van die jaar wat in Ierland en die Verenigde Koninkryk gepubliseer is.

Vorige wenners is onder andere Margaret Atwood (The Testaments), Salman Rushdie (Midnight’s Children), Damon Galgut (The Promise) en Yann Martel (Life of Pi). 8

Jy kan gerus gaan loer of jy iets oor hierdie ander skrywers en hul bekende boeke te lees kry.

Wat skryf vir hom beteken

In ’n onderhoud het Coetzee onder meer die volgende gesê oor skryfwerk:

“Skryf is in die eerste plek wérk en dit gaan om produktiwiteit. Skoonheid hoort nie by die skryfwerk self nie, maar by die uiteindelike resultaat.

“Deur te skryf, is die skrywer nie besig om die wêreld te omskep in hoe dit veronderstel is om te wees nie. Die skrywer streef wel daarna om die wêreld te verstaan soos dit is, om die chaos en wanorde in die wêreld ‘mak te maak’.”

Volgens hom het moeilike tye uit sy jeug vir hom gedien as bron waaruit hy kon skryf en daarom is ’n boek vir hom ’n manier om aan jou eie ervaring lewe te gee. 9

Persoonlikheid

Coetzee het ’n baie ernstige persoonlikheid en mense dink selfs dat hy nie vriendelik is nie. Iemand wat meer as 10 jaar lank vir Coetzee gewerk het, het blykbaar gesê dat sy hom in daardie hele tyd net een keer sien lag het! 9

Uit sy reaksie op die ontvangs van die Bookerprys kry mens die indruk dat hy beskeie en selfs teruggetrokke (skaam) is. Hy het verwys na ’n skrywer se twyfel in sy eie vermoëns wanneer hy met ’n volgende boek begin en dat ’n skrywer ná die ontvangs van ’n prys wonder of hy ooit weer dieselfde sal kan vermag (regkry) as met die boek waarmee die prys gewen is. In sy gedagtes kan die skrywer homself selfs as ’n bedrieër of as vals beskou.

Hy het ’n groot waardering vir sy ouers en veral vir sy ma gehad. In sy toespraak toe hy die Nobelprys ontvang het, het hy die volgende oor sy ouers en sy ma gesê:

“For whom do we do the things that lead to Nobel Prizes if not for our mothers?… My heartfelt gratitude to my parents, how sorry I am that you cannot be here.” 10

Luister gerus na sy voorlesings en gesprekke in die video’s hier onder – daaruit kan mens nogal baie aflei oor die skrywer se persoonlikheid.

Woordbank

biografie Wanneer iemand oor iemand anders se lewe skryf.
debat Openbare bespreking waar twee of meer groepe of persone volgens sekere reëls hulle gedagtes en menings met mekaar deel. In jou skool word daar sekerlik ook dikwels debatte vir die leerders aangebied.
geëmigreer Wanneer mens uit jou eie land na ’n ander land verhuis om daar te gaan woon.
eredoktorsgraad Mens ontvang ’n eregraad wanneer jy uitsonderlik goed gepresteer het, maar sonder dat jy die eksamen afgelê vir daardie graad.
fiksie Wanneer ’n skrywer stories skryf waarin denkbeeldige (dit wat nie werklik bestaan nie, wat verbeelding is) mense en gebeure deel van die storie vorm.
gerekende: Iets wat aansien geniet, waarvan mense baie dink en wat belangrik is.
gesogte Gewild; populêr; baie in aanvraag.
kolonisasie Wanneer een land beheer neem van ’n ander land en die inwoners van daardie ander land en hulle regeer.
kriteria Vereistes op grond waarvan dit toegeken word.
linguistiek Taalwetenskap, om tale te bestudeer.
novelle Roman.
outobiografies Dit wat oor ’n mens se eie lewe handel, dus ook wanneer iemand ’n boek oor sy of haar eie lewe skryf.
gepraktiseer Jou beroep beoefen; werk.
produktiewe Wanneer mens baie hard werk en iets doen wat die moeite werd is, wat iets beteken.
proefskrif Wetenskaplike verhandeling (dokument/boek) wat mens indien om jou doktorale graad te verwerf (te kry).
sensuur Wanneer boeke of rolprente gekeur word met die doel om sedes (mense se goeie gedrag) en landsveiligheid te beskerm.
trilogie Drie romans of films wat een geheel vorm. Die een volg dan op die ander.
vals Iemand wat voorgee om te wees wat hy nie werklik is nie.
verblyfreg Om wettig in ’n land te kan bly wanneer jy nie ’n burger van daardie land is nie. 15

Lees meer

Kyk hier

Wenner van die Bookerprys  (1983) 2:23 min

Lesing oor die boek Boyhood (2001) 5:52 min

Toespraak by ontvangs van die Nobelprys (2003) 3:12 min

Luister hoe die skrywer sy eie werk voorlees (2012) 48:48 min

J.M. Coetzee en Paul Auster gesels by die New York Skrywersinstituut (2012) 17:44 min

Professor J.M. Coetzee ontvang ’n eredoktorsgraad by die Universiteit van Londen. (2015) 8:22 min

Die skrywer oor wat ‘skryf’ vir hom beteken (2016) 5:09 min

Lesing by die Universiteit van Chicago (2018) 1:19:03

Grepe uit Life & Times of Michael K (2019) 3:24 min

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 25 Mei 2023 | Bygewerk op 12 Februarie 2024