Vinnige feite

  • The Cape Argus-koerant is in 1857 deur Saul Solomon begin. Dit is nie die oudste Engelse koerant in Suid-Afrika nie, maar dit is die eerste koerant in Suid-Afrika wat die telegraaf gebruik het om nuus mee in te samel. 12
  • Die Kaapstad-fietstoer is in 2023 vir die 45ste keer aangebied. 11
  • Die 46ste fietstoer vind op Sondag 10 Maart 2024 plaas. 13
  • Die Kaapstad-fietstoer is die grootste fietstoer in die wêreld waartydens ryers se tye individueel gemeet word. 10
  • Fietsryers klim (styg) tot op ’n hoogte van 1 615 meter bo seespieël na die hoogste punt van die roete. 7
  • Tafelberg is in 2011 aangewys as een van die sewe nuwe wonders van die wêreld. Die ander ses is: die Amasone-reënwoud in Suid-Amerika, Halongbaai in Viëtnam, die Iguazú-waterval in Argentinië en Brasilië, Jeju-eiland in Suid-Korea, Komodo in Indonesië en die Puerto Princesa ondergrondse rivier in die Filippyne. 14

Die organiseerders van die Kaapstad-fietstoer sou sekerlik nooit kon dink hoe groot hierdie geleentheid sou word toe hulle die eerste een beplan het nie. Ook die eerste deelnemers sou nie gedink het dat hulle deelneem aan ’n fietstoer wat internasionaal bekend sou word en uiteindelik duisende deelnemers van oor die hele Suid-Afrika en ook uit die buiteland sou lok nie.

Die begin van die Kaapstad-fietstoer

Die gedagte aan so ’n fietstoer is een oggend in 1977 oor ontbyt gebore, toe Bill Mylrea en John Stegmann gedink het aan ’n plan om die strate van die stad veiliger te maak vir fietsryers. 1

In 1978 is die eerste fietstoer aangepak en is toe die Argus-fietstoer genoem. Die toer is ondersteun deur The Argus-koerant, wat in daardie stadium die bekendste middagkoerant in die Kaap was, asook die Rotariërs se Claremont-tak.

John Stegmann, Bill Mylrea en Lawrence Whittaker het die Cape Town Pedal Power Association gestig met die oog op die fietstoer. Dié organisasie, wat die byeenkoms gereël het, se doel was om hom te beywer vir beter geriewe vir fietsryers. 2

Sommer ’n paar verskillende name

Vandag praat ons van die Kaapstad-fietstoer, maar hierdie fietswedren het reeds ’n hele paar verskillende name gehad.

Name van belangrike geleenthede word dikwels gekoppel aan ’n maatskappy of ’n koerant wat gewoonlik ook as borg optree (geld verskaf om die geleentheid te laat plaasvind).

Die wedren het begin as die Argus en is ook die Cape Argus genoem. Hierdie eerste naam is gekry vanaf die koerant met dieselfde naam. Die koerant se volle naam is The Cape Argus, maar daar word dikwels daarna verwys as slegs The Argus.

Op ’n stadium is die naam van M-Net ook aan die fietstoer gekoppel en toe was die naam The Argus/M-Net-fietstoer. 3

Daar was ook ’n tyd toe die naam daarvan die Cape Argus Pick n Pay-fietstoer was. Pick n Pay is tans ook betrokke as een van die borge. 4 Die naam was ook eens op  ’n tyd Cape Argus Pick n Pay Momentum Cycle Tour.

Sedert 2014 is die naam Kaapstad-fietstoer. 5

Lengte, afstand en roete

Toe die toer die eerste keer plaasgevind het, was die afstand wat die ryers gery het, 105 km. Die beginpunt was by die Kaapstad Burgersentrum en die eindpunt was by Kampsbaai. 2

Die lengte van die rit is later aangepas na 109 km.

Daar is natuurlik ander fietswedrenne en fietstoere in die wêreld wat in baie mooi natuurskoon plaasvind, maar mens kan seker wees dat die Kaapstad-fietstoer baie naby aan die mooiste van hierdie roetes genoem kan word, indien nie die heel mooiste nie!

Kyk hier na die kaart van die roete.

Die roete strek rondom die pragtige Kaapse Skiereiland – dit begin en eindig in die skadu van Tafelberg, een van die sewe natuurwonders van die wêreld. Die ryers begin by die Kasteel en op die roete ry hulle by pragtige plekke verby, soos onder meer die Universiteit van Kaapstad, Tafelberg Nasionale Park, Scarborough, Vishoek, Chapmanspiek, Kampsbaai, Clifton en Seepunt. Dink net aan die pragtige uitsig op die see op ’n groot deel van die roete! 5

Solank as wat die fietsryers deelneem, word al die strate waarin hulle ry, toegemaak vir verkeer.

Aantal deelnemers

Met die eerste Kaapstad-fietstoer in 1978 het 550 fietsryers deelgeneem. In 1988 was daar reeds 12 000 en in 1990 ’n volle 14 000 deelnemers. 2

Die gewildheid van die toer het deur die jare steeds toegeneem en in 2023 was daar meer as 35 000 deelnemers. Buitelanders neem ook in groot getalle deel en in 2023 se wedren was daar, soos gewoonlik, weer baie buitelanders wat na Suid-Afrika gekom het om deel te neem. 6

Wie is die deelnemers?

Nie net professionele fietsryers neem deel nie, dit is ook ’n pretwedren vir amateurs en mense wat nie noodwendig fietsry as ernstige sport beoefen nie, maar dit as ’n heerlike uitstappie beskou. Die vermoede is dat die insluit van ’n korter roete nog meer informele fietsryers na dié dag gaan lok. 7

Die professionele fietsryers kry die geleentheid om eerste weg te spring sodat hulle onder die ander ryers kan uitry en nie vasgevang word tussen die massa fietse nie.

Die eerste groep begin om 06:15 ry en daarna spring die ander ryers elke twee minute in groepe weg. Omdat elke ryer se tyd afsonderlik gemeet word, maak dit nie saak hoe laat jy wegspring nie, jy kompeteer steeds teen elke ander ryer – en natuurlik teen jouself indien jy jou tyd in vorige wedrenne wil verbeter. 8

Mense ry nie slegs op gewone fietse nie, hulle bou soms sommer hul eie fietse vir die pret. Sommige deelnemers ry met snaakse kostuums aan en sommiges neem in groepe deel. Kyk gerus na die video’s onderaan om te sien hoeveel pret daar soms is en watter feestelike atmosfeer daar op dié dag heers.

Pedal Power Association (PPA)

Die Pedal Power Association is nou gekoppel aan die Kaapstad-fietstoer. Die organisasie, met sy hoofkantoor in Kenilworth, Kaapstad, is in 1976 gestig juis om die heel eerste Kaapstad-fietstoer te reël. Die organisasie is die grootste fietsry-organisasie vir fietsry vir ontspanning in Suid-Afrika en het tans 16 000 betaalde lede.

Die PPA gee baie aandag daaraan om fietsry as sport in arm en onderontwikkelde gebiede (plekke waar daar nie baie geriewe is nie) te bevorder. Hulle steun om dié rede baie klubs en fietsryprojekte in hierdie gebiede.

In 2011 het die PPA op nasionale vlak ernstig begin organiseer vir die veiligheid van fietsryers. Hulle het veral aandag gegee aan die kwesbaarheid van fietsryers op die pad deur motorryers daarvan bewus te maak. Hulle het onder meer die “Stay Wider of the Rider”-veldtog van stapel gestuur, waarvolgens motoriste aangemoedig word om ten minste een meter tussen hul motors en fietsryers toe te laat. Kyk bietjie wanneer jy saam met iemand in ’n motor ry of jy dalk plakkers met dié leuse agter op ’n motor sien.

Buiten vir fondse wat deur lidmaatskapsgeld gekry word, kry die PPA ook geld van die Kaapstad-fietstoer om hul projekte te finansier (geld daarvoor te gee).

In 2015 het die PPA ook ’n tak in Bloemfontein gestig. 8

Nuwe afstand word bygevoeg

Soms neem dit ’n ramp om nuwe idees te laat ontstaan.

In 2015 is die fietstoer so byna gekanselleer as gevolg van vernietigende veldbrande wat in die suidelike skiereiland gewoed het en ook groot dele van die roete waarlangs die fietse moet ry, afgebrand het. Die grootse deel van die brand was geblus kort voor die wedren moes begin, maar die omgewing was swart gebrand, die lug was vol as en hier en daar het vure nog opgevlam. Die organiseerders en die stadsraad moes blitsvinnig planne beraam om te sorg dat daar iets aangebied word vir al die duisende fietryers uit Suid-Afrika en ook uit die res van die wêreld wat op die Moederstad (Kaapstad) toegesak het.

Daar is toe besluit om die afstand baie korter te maak en dit is hoe daar besluit is op ’n fietsren van slegs 42 km. Kinders bo 11 jaar kon ook hieraan deelneem. 9

Hierdie korter roete was baie gewild onder baie fietsryers. Nadat deelnemers aan die Kaapstad-fietstoer tot in 2022 net die een,  lang afstand gehad het waaraan hulle kon deelneem, is daar in 2023 vir die eerste keer ’n korter afstand van 42 km by die toer bygevoeg.

Hierdie roete het dieselfde wegspringplek gebruik as die ryers wat aan die 109 km deelgeneem het, maar hulle het eers weggespring nadat die eerste groep ryers almal reeds vertrek het. Met die korter wedren wou die organiseerders die roete ook toeganklik maak vir jonger fietsryers en beginnerfietsryers om deel te neem.

Die ryers het in Kasteelstraat naby die Kasteel weggespring en met Nelson Mandela-rylaan tot by Steenbergstraat gery voor hulle teruggedraai het om in Newmarketstraat in die middestad van Kaapstad te eindig. 10

Tegnologie word ingespan

Elke fietsryer kry ’n elektroniese skyfie wat meeste mense aan hul enkels of aan die fiets se voorste as vasmaak. Hierdie skyfies word gebruik om elke ryer se tyd elektronies te meet. Dit word moontlik gemaak omdat die ryers op verskillende plekke op die roete oor elektroniese matte ry wat dan die skyfies “lees” soos die ryers daaroor ry. 11

Woordbank

as  Die staaf/stang waarom ’n wiel draai.
elektroniese Elektrisiteit word gebruik om ’n sein deur middel van onder meer ’n skyfie te stuur.
kwesbaarheid Iemand of iets is kwesbaar wanneer dit maklik seergemaak of beskadig kan word. Jong plantjies is byvoorbeeld kwesbaar teen hael en bejaarde mense wat op plase woon, is kwesbaar teen misdaad en aanvalle.
natuurskoon Wat mooi is in die natuur.
professionele Wat verband hou met ’n beroep, in hierdie geval is “fietsry” die beroep van sommige deelnemers.
ramp Ernstige ongeluk wat ’n groot invloed op mense en die omgewing het, soos byvoorbeeld ’n brand, oorstromings of ’n aardbewing.
skiereiland Stuk land wat byna heeltemal deur water omring is en net deur ’n smal strook land aan ’n vasteland verbind is.
telegraaf Elektriese seintoestel waarmee seine of boodskappe oor ’n groot afstand oorgedra kan word. 15

Kyk hier

Loer gerus vir die interessantheid hoe die 2023-toer verloop het

Hier kan jy sommer saam met een van die deelnemers ry!

Video’s waarin inligting aan deelnemers verskaf word

Nog inligting word aan deelnemers gegee

 

 

Gepubliseer op: 5 Junie 2023 | Bygewerk op 24 November 2023