Vinnige feite

  • Aloe vera is baie gewild in die skoonheidsbedryf en word gebruik in die vervaardiging van sjampoe, seep, room en ander kosmetiese produkte. 10
  • Jy kan die gel op jou hele kopvel en hare aanwend om haarverlies te behandel, aangesien dit ’n ensiem bevat wat haargroei bevorder. Dit help glo ook om skilfers en olierige hare hok te slaan. 11
  • Hoewel die aalwyn as veilig beskou word, word baie navorsing oor sy gebruike nog gedoen. Jy moet altyd eers jou dokter raadpleeg voordat jy dit gebruik omdat mense se liggame verskillend op verskillende dinge reageer. 12
Foto: iStock

Sedert antieke tye is aalwyne in Egiptiese hiërogliewe en in die San en Khoi se rotstekeninge opgeteken. Dié groen vetplant met die sagte, deurskynende gel (taai vloeistof) in sy blare, is nie net mooi in jou tuin of in ’n pot in die huis nie, maar het ook ’n lang geskiedenis van medisinale gebruike in tradisionele kulture.

Afrika het meer as 360 spesies van die genus Aloe Linnaeus, waarvan die bitteraalwyn die meeste gebruik en kommersieel in Suid-Afrika verbou word. Die plant groei wild in ’n wye verskeidenheid habitatte, van die Karoo en die Kaap tot die KwaZulu-Natalse Middelland. Die bitteraalwyn word naby die Suid-Kaapse dorp Albertinia wild en van aangeplante aalwyne geoes. Ongeveer 50 hektaar aloe vera (Aloe Barbadensis) word op ’n plaas in die Limpopo-provinsie geplant, terwyl die bitteraalwyn hoofsaaklik wild deur boere in die suidelike en oostelike dele van die Kaap geoes word. 1

Die Britte het glo tydens die Anglo-Boereoorlog gedink die bitteraalwyn, met sy helderrooi blomme, is Xhosa-soldate in hul rooi komberse toegewikkel. 2 Die aalwyn se kleur wissel van geel tot oranje en rooi.

Plante as tradisionele medisyne

Daar is miljoene mense en honderde tradisionele genesers in Suid-Afrika wat inheemse plante as medisyne gebruik.

Plante is in groot aanvraag as alternatief vir duurder Westerse medisyne. Al die medisinale plante word in die natuur geoes, en hierdie praktyk plaas ’n swaar las op die inheemse plantegroei. Talle plantspesies het as gevolg hiervan bedreigde spesies geword. 3

Deur die geskiedenis

Baie vroeë beskawings was vertroud met die genesende eienskappe van aalwyne. Die vroegste bekende verwysing na die medisinale gebruik van aalwyne kom van die Egiptenare. Hulle het die sap van dié plant se blare gebruik vir die behandeling van brandwonde en velirritasies. Selfs Cleopatra het dit glo aan haar vel gesmeer. 4

Talle ander kulture het aalwynprodukte vir soortgelyke doeleindes gebruik en sedert die 1930’s was die gebruik van aalwyne vir die behandeling van ligte velkwale en brandwonde redelik algemene kennis. Aalwyne het dus ’n baie lang geskiedenis van medisinale, kosmetiese en kulturele gebruike.

Verskeie Nguni-kulture het aalwynsap gebruik vir die genesing van talle kwale. In die Xhosa-kultuur is aalwynsap gebruik as geneesmiddel vir omlope, lintwurms, brandwonde en septiese wonde. Aalwynsap is ook gebruik vir die behandeling van dermontsteking by kalwers en pluimvee. Die Zoeloes het aalwynsap as behandeling teen rondewurm gebruik, terwyl die Pondos ’n mengsel van aalwynsap en water gebruik het om die liggaam te verfris en teen dehidrasie (ontwatering) te beskerm.

Sommige aalwyne is deel van kulturele bygelowe, soos die Aloe variegata (kanniedood-aalwyn) wat op ’n graf geplant word om “die ewige lewe te verseker”. In landelike gebiede word aalwyne dikwels geplant om as natuurlike heinings vir kampe te dien in plaas van grensdrade. Aalwyne kan ook geplant word om gronderosie te voorkom.

Genesende eienskappe

Die nederige aalwyn is nie net mooi nie, dit help om die lug in ’n huis te suiwer en het vele genesende eienskappe. 5

Hier is sommige van die dinge waarvoor die aalwyn aangewend word:

Strelend vir die vel

Aloe kan help om brandwonde te behandel. Buiten sonbrand kan die aalwyn ’n kragtige uitwerking hê op ligte velbeserings, snyplekke en ’n veluitslag. Sommige studies het bevind dat dit selfs kan help met aknee en spierpynverligting danksy die antibakteriese en anti-inflammatoriese eienskappe wat in dié plant voorkom. 6

Een studie het bevind dat die aalwyn kan help met die verligting van dermatitis (velontsteking of -irritasie) wat deur bestraling veroorsaak word. Aloe vera is ’n ryk bron van antioksidante en vitamiene wat jou vel kan beskerm. Dit werk goed as vogroom en selfs naskeermiddel omdat dit porieë oopmaak en ’n droë vel sag maak. 7

Verlig hardlywigheid

Voel jy ’n bietjie verstop en sukkel jy om toilet toe te gaan (werk jou maag min)? Dan is jy waarskynlik hardlywig. Die aalwyn kan jou hiermee help! Daar is ’n bestanddeel in aloe vera wat algemeen gebruik word om hardlywigheid te behandel. ’n Studie in die Journal of Research in Medical Sciences het bevind dat aloe vera ook pyn en ongemak kan verminder by pasiënte met prikkelbare dermsindroom (IBS). Die aalwyn help ook om die gesonde bakterieë in jou ingewande ’n hupstoot te gee. 8

Beheer bloedsuiker

Die aalwyn word in baie wêrelddele gebruik om die simptome van diabetes te behandel. Studies het getoon dat dit bloedsuikervlakke verlaag en cholesterol in toom hou. Dit bevat belangrike vitamiene soos vitamien B, C en E, minerale soos kalsium, yster en magnesium, asook foliensuur. Dit is een van die enigste plante wat vitamien B12 bevat. Aloe se vermoë om te ontgif (detox), help om die immuunstelsel gesond te hou. Die liggaam het ’n baie beter kans om siektes en infeksies te beveg as soveel moontlik goeie voedingstowwe in ’n mens se bloedstroom beland. 9

Woordbank

dehidrasie As die liggaam te min vloeistof het; ontwatering.
inheemse Wat in ‘n land/gebied tuishoort; wat van nature daarin voorkom of daartoe beperk is.
kommersieel Wat betref die koop/verkoop van goedere en dienste; wat handel dryf betref.
medisinale Geneeskragtig; geneeskundig.
simptome Verskynsel van ‘n siekte; verskynsel waaraan iets herken kan word.

Lees meer oor die wonderlike aalwyn

Kyk hierdie om meer oor die aalwyn te leer

Kyk hoe 1,5 miljoen aalwynblare per week geoes en verwerk word

Maak jou eie gel by die huis

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 7 Desember 2021 | Bygewerk op 20 Februarie 2024