Vinnige feite

  • Opeenvolgende tydperke: Steentydperk, Bronstydperk, Ystertydperk.
  • Van die oudste ystervoorwerpe is in Mesopotamië gevind en dateer uit ongeveer 3000 v.C.
  • In Suid-Afrika was die mense van Mapungubwe ’n gemeenskap wat in die Ystertydperk geleef het.
Foto: iStock

Die Ystertydperk was die laaste stadium in hierdie opeenvolgende tydperke: Steentydperk, Bronstydperk en Ystertydperk.

Datums vir die begin van die Ystertydperk verskil in verskillende dele van die wêreld.

Verloop oor die wêreld

Afrika

Van die oudste ystervoorwerpe is in Mesopotamië (uit ongeveer 3000 v.C.) en in Egipte (uit ongeveer 2600 v.C.) gevind. Mesopotamië is geleë tussen die Tigres- en die Eufraatriviere. Die gebied is die moderne Irak, Koeweit, Turkye en Sirië.

Asië en Europa

Die eerste ystertegnologie is teen ongeveer 1700 v.C. deur die Hetiete in Klein-Asië ontwikkel. Teen 1000 v.C. was yster byna in die hele Klein-Asië en Griekeland bekend. Die noorde en weste van Europa het later (500–300 v.C.) met yster kennis gemaak.

Suid-Afrika

Gemeenskappe wat metaal bewerk het, het reeds ongeveer 2000 jaar gelede in Noord-Afrika, die Soedangebied, Kameroen en in Oos-Afrika voorgekom. 1 In Suid-Afrika is Mapungubwe die beste voorbeeld van ’n gemeenskap wat in die Ystertydperk geleef het. Mapungubwe was die hoofstad van ’n vroeë klein staat in die Limpoporiviervallei. Hierdie gemeenskap het tussen 1000 en 1300 n.C. geleef. Mapungubwe is vandag deel van ’n nasionale park en dit is ook ’n wêrelderfenisgebied. 2

Ooste

In die Ooste is yster ook benut, in Indië rondom 800 v.C. en in China in 500 v.C.

Gevolge van die gebruik van yster

Hoewel yster reeds teen ongeveer 3000 v.C. bekend was, lyk dit nie asof mense toe reeds besef het hoeveel beter dit kon wees om yster eerder as brons te gebruik nie.

Tussen 1200 en 1000 v.C. het ystervoorwerpe en die kennis van ystermetallurgie (die verwerking daarvan) vinniger begin versprei. 3

Die vervaardiging van groter hoeveelhede ystervoorwerpe vir algemene gebruik het gelei tot nuwe patrone in mense se permanente vestiging op een plek.

Nog ’n gevolg was die gebruik van yster om wapens mee te maak. Groot hoeveelhede sterker wapens het veroorsaak dat daar baie hervestiging van mense gebeur het. Hierdie beweging van groot groepe mense het vir die volgende 2000 jaar aangehou. Dit het ook veroorsaak dat groot verandering in Europa en Asië plaasgevind het. 4

Archimedes en ander uitvinders

Die Griek Archimedes (287–212 v.C.) was een van die grootste uitvinders in die wêreld. Hy het wapens ontwerp om sy tuisland, Syracuse – aan die ooskus van Sicilië – teen Romeinse invalle te beskerm. Hy was ook die eerste persoon wat gebruiksvoorwerpe soos ’n skroef, ’n katrol en ’n hefboom ontwerp het.

Ander ontwerpers van sy tyd het verskeie meganiese voorwerpe soos pompe, masjiene wat met saamgeperste lug werk, en masjiene wat skroewe kon sny, uitgevind. Hierdie uitvindings was die begin van latere ingewikkelde meganiese voorwerpe. 5

Archimedes

Die ontwikkeling van yster as bruikbare metaal

Dit het baie lank geneem voordat mense daarin kon slaag om yster te ontwikkel in die harde metaal wat ons vandag ken.

Verharde yster (staal) is eers teen ongeveer 1200 v.C. gemaak. Dit is gedoen deur die metaal met houtskool te omring en dit in ʼn kleiomhulsel te verhit. Die koolstof uit die houtskool word deur middel van diffusie in die yster opgeneem. Hierdie tegniek word karbonisering genoem en dit word vandag steeds toegepas. Die staal word daarna verhard deur dit vinnig in water af te koel. Die koper wat met hierdie proses uit die ystererts verkry is, is ook gebruik, byvoorbeeld vir wapens, gereedskap en gietwerk. Hierdie tydperk word beskou as die Bronsystertydperk.

Verdere ontwikkeling in ysterproduksie

Aanvanklik is min yster geproduseer. Eers in die 14de eeu het groot vooruitgang plaasgevind toe begin is om blaasbalke by die stook van vure te gebruik.

Daarna is groot skagoonde gebou waarin hoë temperature bereik kon word en dit was die voorlopers van die moderne hoogoonde.

Ystertyd-smeltoond

Teen die einde van die 14de eeu is ystererts in skagoonde in Swede, België, Italië (Toskane) en Duitsland (Siegerland) suksesvol tot yster omskep.

Ystertyd-mynskag
Met die koms van die skagoond het dit ook moontlik geword om yster te giet (om vloeibare yster in vorms te giet). Die eerste gegote ysterkanon dateer uit 1509. In die 18de eeu is die tegniek so ver ontwikkel dat suiers, tandratte en die silinders van die eerste stoomenjins gegiet kon word.

Teen die einde van die 17de eeu het die produksie van yster en staal in Engeland toegeneem en dit het bygedra tot die Industriële Revolusie. Onder meer plate, pype, en konstruksiebalke is in groot yster- en staalfabrieke vervaardig.

Toename in ysterproduksie in Engeland:

In 1700 was die produksiesyfer 12 000 ton per jaar.

Teen 1850 het dit gestyg tot meer as 2 miljoen ton per jaar. 6

Teen die einde van die 19de eeu het yster- en staalproduksie ook in ander Westerse lande toegeneem.

Die tydperk ná die nywerheidsomwenteling word ook die Tweede Ystertydperk genoem as gevolg van die oorheersende rol wat yster in die ontwikkeling van tegnologie begin speel het.

Die rol van yster in landbou

Die tegnologie van die Ystertydperk het gesorg dat boere kon begin om ysterploegskare in boerdery te gebruik. Met hierdie ploegskare kon boere die grond dieper omploeg en hulle kon ook harder grond bewerk.

In droër gebiede soos Noord-Afrika en Spanje, het die Romeine besproeiingstelsels begin gebruik. Hiervoor het hulle onder meer die skroef gebruik wat deur Archimedes ontwerp is! 7

Woordbank

diffusie Die beweging van ’n vloeistof vanaf ’n gebied van hoër konsentrasie na ’n gebied van laer konsentrasie. Diffusie is ’n gevolg van die kinetiese (beweging) eienskappe van materiedeeltjies. Die deeltjies sal meng totdat hulle eweredig versprei is. Die term diffusie kom van die Latynse woord diffundere, wat beteken “om uit te brei”. 8
hoogoonde ’n Hoë, loodregte oond waarin sekere metale, veral yster, deur die smelting van die erts uit die erts onttrek word.
ystermetallurgie Wetenskap wat te make het met die skeiding van metale.

Lees hierdie artikel om nog meer te leer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 12 Januarie 2022 | Bygewerk op 3 April 2024