Vinnige feite

  • Die San het geen formele nedersetting gevestig nie. Die tydelike woning het as ʼn windskerm bekendgestaan. Soms is hutte opgerig vir tye wanneer hulle langer op een plek sou bly. Dit was stewiger en was halfmaanvormig.
  • Indien die Khoi-groep geweet het dat hulle weer later na dieselfde plek sou terugkeer, het hulle die raamstrukture van die matjieshuise daar gelos om later weer te gebruik.
  • Die Xhosa-leefwyse was anders as dié van die Khoi en San. Hulle het bestaansboerdery bedryf. Dit het veroorsaak dat hulle langer op een plek gebly het en daarom het hulle meer permanente strukture vir wonings gebruik.
  • Tradisioneel was die Zoeloe-volk baie familievas en dit het die basis van hulle leefstyl gevorm.
  • Die tradisionele Pedi-wonings is ronde hutte wat as rondawels bekendstaan.
  • Die Tswana-volk was afhanklik van beeste en gewasse wat hulle geplant het vir voedsel, daarom het ʼn gemeenskap se bedrywighede rondom die boerdery gedraai en die huise was gegroepeer volgens familieverband.
  • Die Suid-Sotho se wonings was langwerpig en die mure is gebou uit grondsooie (amper soos groot bakstene) wat daarna met ʼn mengsel van klei of grond en beesmis gesmeer is.
  • ʼn Venda-man kon meer as een vrou hê en hy het in sy eie hut gewoon.
  • Die tradisionele styl vir Swazi-wonings was die kenmerkende byekorfhut.
  • Die Ndebele is bekend vir die kleurryke patrone wat deur vroue aan die buitekant van die huise geverf word.
  • ʼn Tradisionele Tsonga-woning se vrou/ma het haar eie hut gehad waar sy gewoon en kos gekook het.
  • Verder weg uit Kaapstad het die boere eenvoudiger wonings gehad, naamlik hartbeeshuise.
Foto: iStock

Oor die eeue heen het die verskillende soorte wonings in Suid-Afrika aangepas by die verskillende tydvakke. Elke kultuurgroep het sy eie soort woning gehad wat by elke groep se leefstyl gepas het en ook afgehang het van die soort boumateriaal wat beskikbaar was.

Die San 

Omdat hierdie groep mense hulself nooit permanent op een plek gevestig het nie, moes hulle wonings ook daarby aanpas. Hulle het ʼn nomadiese leefstyl gevolg wat beteken het dat hulle agter weiding en kos aangetrek het vir oorlewing. Snags het hulle in grotte of onder skuilings geslaap wat met blare en takke gebou is.

Die San het dus geen formele nedersetting of blyplek gevestig nie. Die tydelike woning het as ʼn windskerm bekendgestaan. Soms is hutte opgerig vir tye wanneer hulle langer op een plek sou bly. Dit was stewiger en was halfmaanvormig. 1

Om hulself teen moontlike nagtelike aanvalle van roofdiere soos leeus te beskerm, het die San ʼn mengsel van water en poeier naby hul woonplekke gesprinkel. Hierdie poeier is van ʼn spoordraende plant of swam verkry en die reuk daarvan het leeus afgeskrik.

Grashoek, Namibië. Die San-mense demonstreer hul leefwyse aan toeriste om sodoende hul kultuur en tradisies te bewaar.

Die Khoi

Indien die groep geweet het dat hulle weer later na dieselfde plek sou terugkeer, het hulle die raamstrukture van die matjieshuise daar gelos om later weer te gebruik. In die warm maande was die hutte koel binne omdat die struktuur warm lug maklik kon uitlaat en in die kouer maande is die binnekante uitgevoer met diervelle vir ekstra isolasie. Anders as die San het die Khoi in groter groepe gewoon met meer huise in een gemeenskap. 2

Xhosa-wonings

Die Xhosa-leefwyse was anders as dié van die Khoi en San. Hulle het bestaansboerdery bedryf. Dit het veroorsaak dat hulle langer op een plek gebly het en daarom het hulle meer permanente strukture vir wonings gebruik.

Van die vroegste Xhosa-wonings is gemaak van jong bome wat binnetoe gebuig is om ʼn byekorfvormige struktuur te skep. Vanaf die bopunt tot teenaan die grond is die struktuur dan met gras bedek. Vanaf die 1820’s het die konstruksiemetodes geleidelik begin verander en het hulle begin om sirkelvormige hutte te bou wat aan die buitekant met takke bedek is. Die bokant van die hut het dan ʼn keël gevorm waar die vlegwerk van die mure bymekaar gekom het. Die hutte is gewoonlik in ʼn halfmaan rondom die beeskraal gebou. 3

Mielies is in putte onder die grond in die beeskraal gestoor. Hierdie putte is met klip uitgevoer om te verhoed dat die mielies bederf. Hierdie voorraad voedsel het gedien as aanvulling wanneer ander kossoorte skaars was. Die plek waar die kos gekook is, was aan die buitekant van die huise. Dit was afgeskerm en daar was ook ʼn klei-oond waarin mieliebrood gebak is. Elke huis het op sy eie gefunksioneer met sy eie kraal. Die huise was redelik naby aanmekaar aangesien die Xhosa-mense baie sosiaal verkeer het en hegte familiebande gehad het.

Zoeloe-wonings

Tradisioneel was die Zoeloe-volk baie familievas en dit het die basis van hulle leefstyl gevorm. Die woord Umuzi (uitgebreide huishouding) verwys na die hoofman (umnumzane) met sy vrouens, kinders, jonger broers en susters, en hul families. Met die koms van verstedeliking en sosiale strukture wat verander het, het die Umuzi-gemeenskappe baie verklein.

Tradisioneel was elke Umuzi selfonderhoudend met sy eie beeste (vir vleis en melk) en landerye waar mielies en ander groente gekweek kon word om vir die inwoners kos te verskaf. Die Umuzi-hoofwoning is teen ʼn skuins helling gebou sodat die hoofwoning op die res van die Umuzi kon uitkyk. Die woning was gewoonlik rond en in die middel van die groep huise was die kraal. Snags is die beeste na die kraal gejaag. Ook die Zoeloe het hul graan in ondergrondse putte in die beeskraal gestoor. 4

Die kraal is gebou van skerp gepunte stokke wat in die grond geplant is. Indien daar geen bome in die omgewing was nie, is klippe gebruik om ‘n kraal van klipmure te bou. Die veekraal was ook ʼn heilige gebied waar voorvadergeeste opgeroep is en dankoffers gebring is. In die verlede is vrouens nie in die kraal toegelaat nie, behalwe op spesiale geleenthede. Die hoofvrou het gewoonlik in die hoofwoning gebly (indlunkulu) aan die bopunt van die opstal, haar oudste seun was ook die hoof erfgenaam en opvolger van sy vader. Aan die linker- en regterkant van die hoofwoning het die regterhandse (iqadi) en linkerhandse vrou (ikhohlo) gewoon.

Hierdie wonings was koepelvormig en soos by die Xhosa is jong boompies na binne gebuig om die gebou se mure te vorm. Dié huise het grasdakke gehad.

‘n Tradisionele Zoeloe-hut.
Lesedi, Suid-Afrika. Zoeloe-mans met tradisionele gevegsklere van diervel voor ‘n strooihut.

Pedi-wonings (Noord-Sotho)

Die tradisionele Pedi-wonings is ronde hutte wat as rondawels bekendstaan. Hierdie rondawels is gemaak van ʼn klei gemeng met beesmis (boloko) om die struktuur te versterk. Die dakke is bedek met ʼn grassoort genaamd loala wat lank gehou het. Die gras is in bondels gemaak en op die dakke vasgemaak.

Pedi-stamme het dikwels lae ingange (deure) in hulle wonings gebou. Dit het beteken dat mense dikwels hande viervoet in die huis moes inkom. Dit het dit moeilik gemaak vir wilde diere of aanvallers om in die huise in te kom. 5

Die Pedi’s is ʼn kreatiewe volk wat van kleurvolle kleredrag en kralewerk hou. Hulle rondawels is ook bekend vir die mooi patrone wat op die buitemure geverf is. Die verskillende kleure het ook ʼn betekenis gehad. Dit het iets oor die inwoners vertel, soos byvoorbeeld of hulle getroud is of nie.

Die rondawels is in ʼn groep gebou sodat almal wat familie van die vader was, in ʼn groep (kgoro) bymekaar gewoon het. In sommige gevalle het stamlede wat nie familie was nie, ook in die kgoro gewoon. Elke vrou van die man het in haar eie rondawel gewoon en die kinders in afsonderlike rondawels. Die gemeenskaplike area was sentraal en het bestaan uit ʼn plek van ontmoeting, die kraal, begraafplaas en ʼn plek van aanbidding. 6

‘n Sotho-paartjie met tradisionele drag.

Tswana-wonings (Wes-Sotho)

Die Tswana-volk was afhanklik van beeste en die gewasse wat hulle geplant het vir voedsel, daarom het ʼn gemeenskap se bedrywighede rondom die boerdery gedraai. Die huise was gegroepeer volgens familieverband en het ʼn binnehof gehad waar aktiwiteite plaasgevind het.

Meeste mense het drie huise gehad. Een was in die plek waar die hele gemeenskap gewoon het en dit was gebou uit modder, houtpale en gras.  ʼn Tweede tydelike huis was in die veld en is gebruik wanneer die weersomstandighede dit moeilik gemaak het om na die dorp toe terug te keer. ʼn Derde huis of skuiling is gebruik vir herders wat die beeste in die veld moes oppas. Ná ʼn oestyd is daar meer tyd by die permanente huis deurgebring. In hierdie tyd kon daar weer aandag gegee word om die huise op te knap, soos onder meer die pleisterwerk. 7

Basotho-wonings (Suid-Sotho)

Die Suid-Sotho se wonings was langwerpig en die mure is gebou uit grondsooie (amper soos groot bakstene) wat daarna met ʼn mengsel van klei of grond en beesmis gesmeer is. Die dak is gedek met ʼn raamwerk van pale of stokke wat dan met gras bedek is om dit dig te maak. Die mure is dikwels versier met patrone in aardse kleure van bruin, wit en swart. Die Suid-Sotho het met droë beesmis vuurgemaak. Vroue het nat beesmis in die veld opgetel, dit ovaalvormig gevorm en laat droog word. Hierdie beesmiskoeke is langs die woning opgestapel om as vuurmaakgoed te gebruik. 8

Ramabanta, Lesotho. ‘n Basoetho-vrou in tradisionele drag voor ‘n kleirondawel met ‘n grasdak.

Venda-wonings

ʼn Paar grasdakhutte is gewoonlik saamgegroepeer. In die middel was ʼn binnehof en vuurmaakplek waar die familie bymekaar gekom het. ʼn Venda-man kon meer as een vrou hê en hy het in sy eie hut gewoon.

Swazi-wonings

Die tradisionele styl vir Swazi-wonings was die kenmerkende byekorfhut. Dit is gemaak van pale met geweefde gras tussendeur. Die pale is dan vasgemaak met gevlegte toue om ʼn stewige struktuur te vorm. Die huise was rondom die beeskraal gegroepeer. 9

Tradisionele byekorfhutte in Swaziland.

Ndebele-wonings

Die Ndebele is bekend vir die kleurryke patrone wat deur vroue aan die buitekant van die huise geverf word. ʼn Mooi geverfde huis is volgens Ndebele-tradisie die toonbeeld van ʼn goeie huisvrou en ma. Van die vroegste patrone is slegs met natuurlike kleurmiddels met die vingers op die mure geverf. Die patrone dra die simboliek van geloof, gebede, waardes, emosies en die huwelik.

Daar was gewoonlik een familie wat in ʼn rondawel gewoon het. Daar was sekere gebiede vir koskook en ander aktiwiteite. Daar was ook spesifieke reëls vir wanneer ʼn rondawel binnegegaan word en spesifieke areas vir mans en vrouens. Tradisioneel was vrouens links en mans aan die regterkant. Die trapmuurtjie binne die rondawel was slegs vir mans as sitplek bedoel en vroue is nie toegelaat om daarop te sit nie. 10

Die mure is gebou uit latte wat bedek is met modder en beesmis en die vloere was ook met beesmis bewerk. Slegs direkte familie van die gesin kon dieper in die huis ingaan. Elke gesin het sy eie kraal met vee gehad. 11

Tradisionele Ndebele-hut in Botshabelo, Mpumalanga.
Ndebele-vrouens met tradisionele, handgemaakte drag verkoop tradisionele poppies. Lesedi African Lodge and Cultural Village is in 1993 gestig. Die idee was om ‘n tentoonstelling te hê van Afrika se tradisies en verskillende kultuurgroepe.

Tsonga-wonings

ʼn Tradisionele Tsonga-woning se vrou of ma het haar eie hut gehad waar sy gewoon en kos gekook het. ʼn Man kon verskeie vroue hê, wat veroorsaak het dat ʼn paar hutte van die verskillende gesinne naby mekaar gestaan het. ʼn Leefarea was gewoonlik sirkelvormig met verskeie areas waarin kos gekook kon word. Die mure is met hout gebou en die groot grasdakke was ʼn tipiese kenmerk van hierdie wonings. 12

Eerste wonings van die vroeë Europese setlaars           

Aanvanklik het die Fort die Goeie Hoop in die Kaap behuising aan al die setlaars gebied. Hierdie gebou was van klei en klip gebou en die setlaars het binne die fort in skuilings gewoon.

Verder weg uit Kaapstad het die boere eenvoudiger wonings gehad, naamlik hartbeeshuise. Die naam hartbeeshuis is afgelei van “harde biesies”.  ʼn Hartbeeshuis was ʼn raamwerk van pale en jong boomstamme en takke wat tussendeur gevleg is. Indien die struktuur stewig genoeg was, is dit met dik lae modder of klei bedek. Die dakke was met riet bedek. Hierdie huise kon vinnig opgerig word, maar was ook blootgestel aan swaar reën en insekte.

Toe oorlog al hoe meer in Europa begin dreig het, was daar ʼn groot toename in setlaars in Kaapstad. Dit het die ekonomie laat groei. Dit het ook tot gevolg gehad dat die voorkoms van die geboue verander het, aangesien daar toe geld was om argitekte te betaal om geboue te ontwerp. 13

Woordbank

fort Versterkte militêre bouwerk/vesting; skans.
nedersetting Onbewerkte plek waar ‘n groep mense hulle gaan vestig.
nomadiese Rondswerwende herdersvolke; iemand wat rondtrek agter byvoorbeeld kos en weiding aan.
rondawel
Ronde eenkamerhut, gewoonlik met ‘n grasdak, wat as woon- of pakplek gebruik word.
setlaars Iemand wat hom/haar in ‘n nuwe land/kolonie gaan vestig; immigrant.

Lees hierdie artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te leer

Tradisionele wonings in Suid-Afrika

Tradisionele Afrika-wonings

Afrika se briljante bouers

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 28 Julie 2022 | Bygewerk op 18 Oktober 2023