Vinnige feite

  • Warmer voorwerpe stuur korter golflengtes met hoër frekwensies uit.
  • Blink oppervlakke soos silwer is goeie weerkaatsers van hitte terwyl donker oppervlakke soos swart goeie absorbeerders vir hitte-energie is.
  • Straling verhit donker oppervlakke vinniger omdat dit die hitte beter absorbeer as ’n blink oppervlak wat hitte reflekteer.
  • Wanneer stralingsenergie ’n voorwerp bereik, word dit geabsorbeer, weerkaats of deurgelaat.
Foto: iStock

Straling is die uitsending van energie deur middel van elektromagnetiese golwe of elementêre deeltjies. 1 Dit word ook radiasie genoem, afkomstig van die Griekse woord radius wat ligstraal beteken.

Verhitting as oordrag van energie

Hitte (warmte) is die oordrag van termiese energie vanaf ‘n stelsel (sentrale bron) na die omgewing, of vanaf een voorwerp na ‘n ander weens ’n temperatuurverskil. Hierdie oordrag van energie vind plaas vanaf die voorwerp wat ‘n hoër temperatuur het, na die voorwerp met ‘n laer temperatuur. Dit beteken dat die warmer voorwerp afkoel, terwyl die koeler voorwerp warmer word. Die oordrag van energie sal aanhou totdat albei voorwerpe dieselfde temperatuur het.

Hitte kan op drie maniere oorgedra word:

Geleiding (vir vaste stowwe)

  • Geleiding is die oordrag van hitte tussen soliede voorwerpe in direkte fisieke kontak met mekaar.
  • Hitte beweeg van die bron deur die voorwerp of van een voorwerp na ’n ander deur geleiding.
  • Metale is geleiers van hitte. Sommige metale gelei hitte beter as ander.
  • Goeie geleiers word gebruik vir die maak van, byvoorbeeld, kastrolle en ander kombuistoerusting wat vir die gaarmaak van kos gebruik word.
  • Ander materiaal voorkom of vertraag geleiding van hitte en word isoleerders genoem, byvoorbeeld hout en plastiek wat oor die algemeen swak geleiers van hitte is. Hulle kan wél hitte absorbeer, maar nie gelei nie.

Vastestofdeeltjies word te styf bymekaargehou om te beweeg wanneer hulle warm gemaak word. Vastestofdeeltjies vibreer net vinniger wanneer hulle warm gemaak word, maar sal nie uit hul posisies beweeg nie. 2

Konveksie (vir vloeistowwe en gasse)

  • Dit is die oordrag van hitte van een plek na ’n ander deur die beweging van vloeistof– of gasdeeltjies.
  • Lug en water sit uit wanneer dit verhit word en die deeltjies beweeg opwaarts. Wanneer dit afkoel, beweeg hulle weer af. Dit staan bekend as
  • Konveksiestrome kan slegs in vloeistowwe en gasse ontstaan omdat hul deeltjies vry is om rond te beweeg. Hulle word nie in vaste posisies vasgehou soos in ‘n vaste stof nie.
  • Die groot druppels in die lavalamp beweeg op en af, en wys ons die konveksiestrome wat ontstaan omdat die lamp ‘n hittebron op die bodem het. 2

Straling

  • Straling is die oordag van hitte en vereis nie fisieke kontak of beweging van deeltjies nie. Anders as geleiding en konveksie, het straling dus nie beweging van deeltjies of voorwerpe wat aan mekaar raak, nodig nie.
  • Hoe warmer die bron is waarvandaan die straling plaasvind, hoe meer is die straling. Die son straal dus meer energie uit as byvoorbeeld die hitte van ’n beker met warm koffie daarin.
  • Die temperatuur affekteer die golflengte en frekwensie van die stralingsgolwe. Voorwerpe by kamertemperatuur straal energie uit as infrarooi golwe. Hierdie golwe is onsigbaar vir die menslike oog, terwyl ’n infrarooikamera hierdie soort straling kan afneem.
  • Warmer voorwerpe stuur korter golflengtes met hoër frekwensies uit. 4
  • Blink oppervlakke soos silwer is goeie weerkaatsers van hitte terwyl donker oppervlakke soos swart goeie absorbeerders vir hitte-energie is.
  • Straling verhit donker oppervlakke vinniger omdat dit die hitte beter absorbeer as ’n blink oppervlak wat hitte reflekteer.
  • Wanneer stralingsenergie ’n voorwerp bereik, word dit geabsorbeer, weerkaats of deurgelaat. Het jou voete al op die warm sand gebrand as jy by die see is?  Of dalk het jy al in die winter op jou bed gelê as die son lekker warm deur die kamervenster tot op jou bed skyn. Hierdie is voorbeelde van stralingsenergie wat geabsorbeer en deurgelaat word.

Voorbeelde van straling:

  • Hitte van die son beweeg hoofsaaklik deur straling deur die leë ruimte na die aarde.
  • Wanneer mens op ’n koue aand langs ’n groot vuur staan, voel jy die hitte van die vlamme omdat die energie oorgedra word deur straling deur die spasies tussen die lugdeeltjies.
  • Die vlam van ’n kers straal hitte-energie uit. 2
  • Die menslike liggaam straal ook hitte uit.

Verskil tussen hitte- en temperatuurmeting

Hitte word in joule (J) gemeet terwyl temperatuur in grade Celsius (°C) gemeet word. Temperatuur is die gemiddelde kinetiese energie van ’n voorwerp en word met ’n termometer gemeet. Hitte is die oordrag van energie wat gemeet word met joule. 2

Gebruike van isolasiemateriaal

  • Hitte kan deur geleiding, konveksie en straling van ons liggame en voorwerpe (soos elektriese geysers) “verlore” gaan.
  • Hitte kan ook verkry word deur uitstraling, geleiding en konveksie, byvoorbeeld in sonkraggeisers.
  • Mense gebruik isolasiemateriaal om hitteverlies in die winter te verminder of die vermeerdering van hitte (hittewins) in die somer te verminder.
  • Isolasiemateriaal verlaag hitte-oordrag deur geleiding, konveksie en straling (hitteverlies of -wins). Isolators word gebruik:
    • vir die maak van voorwerpe soos koelhouers;
    • in die plafonne van geboue; of
    • vir klere (soos jasse, truie, wollerige hoede) en komberse.
  • Behoud van hitte-energie in huise en geboue kan verbeter word deur die vermindering van hitteverlies in die winter en hittewins in die somer.
  • Baie inheemse, tradisionele huise en tegnologie in Suid-Afrika is ontwerp vir ons klimaat en om energiedoeltreffend te wees. 3

Wees sonslim

Die ultravioletlig (UV-lig) wat deur die son uitgestraal word, ontwrig die selle van ’n mens se vel. Dit veroorsaak sonbrand en kan tot velkanker lei, mits ’n mens nie die nodige voorsorg en beskerming teen UV-strale tref nie. Kansa (Kankervereniging van Suid-Afrika), gee die volgende wenke om ons vel teen die gevaarlike UV-strale te beskerm: 5

  • Vermy sonlig tussen 10:00 en 15:00. Bly in die koelte of, indien moontlik, onder ’n UV-beskermende sambreel.
  • Dra beskermende klere: dig geweefde wyerandhoede en UV-beskermende klere en vollyf- swemklere vir peuters.
  • Dra ’n sonbril met UV-beskerming van UV400.
  • Wend sonskerm gereeld aan volgens veltipe (SPF 20-50).

Ten minste 80% van velskade wat deur die son veroorsaak word, vind plaas voor die ouderdom van 18 en manifesteer eers later in die lewe. Die goeie nuus is dat die risiko van velkanker verminder kan word deur die son te respekteer en goeie beskerming toe te pas.

Wees op die uitkyk vir die volgende op produkte

  • SBF (SPF in Engels) is die sonbeskermingsfaktor wat gewoonlik buite op die verpakking van sonskermrome gevind word. Dit dien as maatstaf van hoe goed dit jou vel teen UV-strale sal beskerm en dui ook aan hoe lank jy in die son kan bly voordat sonbrand plaasvind – in teenstelling met wanneer jy geen sonroom aan het nie. Kansa moedig die gebruik van SPF 20-50 aan.
  • UBF is soortgelyk aan die SBF-aanduiding van sonskermroom, maar UBF word gewoonlik op klere aangedui. Dit dui op die ultravioletbeskermingsfaktor van klere, sonbrille en hoede om jou teen die UV-strale van die son te beskerm.
  • KSVE is die Kansa Seël van Erkenning (CANSA Seal of Recognition [CSOR]), wat verskyn op alle goedgekeurde sonskermprodukte. Dit waarborg dat die vervaardigers van hierdie UV-beskermende produkte aan streng kriteria soos deur Kansa bepaal, voldoen.

Woordbank

termiese Wat betrekking het op warmte; wat warmte/hitte binne-/buite hou. 1

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Verduideliking van straling

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 Januarie 2022 | Bygewerk op 15 Maart 2024