Vinnige feite

Britse oorwinning in Saldanhabaai, 1796
  • 1795 – eerste besetting van die Kaap deur Brittanje.
  • 1806 – tweede besetting van die Kaap deur Brittanje.
  • Graaff-Reinet is die oudste dorp in die Oos-Kaap.
Foto: iStock

Die oorloë wat aan die einde van die 18de eeu deur die Franse Revolusie in Europa begin is en aan die begin van die 19de eeu deur Napoleon voortgesit is, het duidelik gewys dat die Kaap strategiese waarde as ʼn koloniale besitting het. 1

Aankoms Britse Setlaars, 1820

Die twee grootste teenstanders in hierdie oorloë was Brittanje en Frankryk. Hulle was ook op koloniale gebied aartsvyande. Omdat Brittanje gevrees het dat die Kaap deur die Franse oorgeneem sou word, het hulle die Kaap in 1795 beset. In 1806 het Brittanje die Kaap ʼn tweede keer beset. Die redes was dieselfde as dié van 1795, maar hierdie keer sou die besetting permanent wees. 1

Waarom was die Kaap vir Brittanje belangrik?

Die Kaap het ekonomies nie voordele  vir Brittanje gehad nie omdat daar geen uitvoerprodukte was nie. Volgens Brittanje se handelsbeleid is kolonies slegs gestig om Brittanje self te bevoordeel. Die Kaap was dus vir Brittanje waardeloos op handelsgebied. Die enigste rede vir die anneksasie was omdat Brittanje in die hawens belang gestel het. Brittanje wou beheer oor die hawens van Tafelbaai en Simonsbaai kry. By Simonstad het die Britte ʼn vlootbasis opgerig met die doel om die handelsroetes te beskerm. So sou hulle kon keer dat ander lande toegang kon kry tot geriewe in die binneland van die Kaap. Brittanje het die Kaap as ʼn poort op die pad na Indië beskou. 1

Paarl, ongeveer 1800

Eerste Britse besetting (1795 tot 1803)

Agtergrond

Aan die einde van die 18de eeu is die Kaap by die revolusionêre oorloë wat in Europa gewoed het, betrek. Die oorloë was ʼn gevolg van die suksesse van die Franse Revolusie, wat in 1789 uitgebreek het. Die nasionale leërs van die nuwe Franse Republiek het die idees van die revolusie met geweld na buurlande versprei.

Portret van Willem V, prins van Oranje

Oral waar hulle oorwinnings behaal het, is die ou orde afgeskaf en is nuwe demokratiese state volgens die Franse model gestig. In 1795 is die Republiek van die Verenigde Nederlande deur Frankryk oorrompel en deur die Bataafse Republiek vervang. Prins Willem V het uit Nederland na Brittanje gevlug en gevra dat Brittanje die Nederlandse kolonies – waaronder die Kaap – teen Frankryk beskerm.

Brittanje was die enigste moondheid in Europa wat sterk genoeg was om teenstand teen Frankryk te bied. Die rede hiervoor was hoofsaaklik as gevolg daarvan dat Brittanje die sterkste mag op see was. Brittanje was teen die verspreiding van revolusionêre idees gekant. Brittanje het ook nog nooit Frankryk as mededinger op koloniale gebied vertrou nie. 1

Mosselbaai, ongeveer 1800

Die besetting

In Junie 1795 is ʼn sterk Britse vloot onder bevel van admiraal G. Elphinstone gestuur om die Kaap te beset. Die besetting sou net duur totdat die oorlog met Frankryk beëindig was. Elphinstone het ʼn brief van prins Willem met hom saamgeneem waarin kommissaris-generaal J.A. Sluysken – wat toe as goewerneur waargeneem het – versoek is om die Britte as vriende te ontvang. 1 2

Sluysken en die Politieke Raad se standpunt was dat prins Willem nie meer die wettige regeringshoof van Nederland was nie. Hulle wou dus nie na sy versoek luister nie, en hulle het besluit om die Kaap te verdedig. Onder bevel van generaal Craig het 1 600 Britse soldate by Simonstad aan wal gegaan. Onder aanvoering van luitenant-kolonel Carel de Lille het ʼn baie kleiner groep Kaapse soldate die Britte by Muizenberg probeer stuit, maar hulle moes na Wynberg terugval. 1 2

Die burgers wat as soldate opgeroep is, was nie tevrede met die optrede en gevegsmetodes van die bevelvoerders nie en hulle het besluit om huis toe te gaan.

Setlaarstent

Op 16 September 1795 het Sluysken die Kaap amptelik aan Brittanje oorgedra. Dit is gedoen volgens ’n verdrag wat op die plaas Rustenburg onderteken is. Brittanje het onderneem om niks aan die gebruike en regte van die Kaapse burgers te verander nie en geen nuwe belastings te hef nie. 1 2

Die Verdrag van Rustenburg het ʼn einde gemaak aan die VOC (Verenigde Oos-Indiese Kompanjie) se bewind, wat 150 jaar geduur het. 1

Militêre bestuur onder generaal Craig is in Mei 1797 met kroonkoloniebestuur onder goewerneur lord George Macartney vervang. Kroonkoloniebestuur het beteken dat die goewerneur die alleenheerser was. Hy is in November 1798 opgevolg deur generaal Francis Dundas, wat vir byna die res van die Britse besetting as goewerneur waargeneem het. Omdat die besetting slegs tydelik sou wees, en om uitgawes vir Brittanje laag te hou, is besluit om nie te veel dinge in die Kaap te verander of te veel ontwikkeling te doen nie. 1

George Macartney

Graaff-Reinet

Graaff-Reinet is die oudste dorp in die Oos-Kaap en die vierde oudste dorp in Suid-Afrika. Die dorp is gestig deur goewerneur Cornelius Jacob van de Graaff. Sy vrou se naam was Cornelia Reinet. 3

Omdat die Britse owerheid se besetting van die Kaap slegs tydelik sou wees, het hulle niks gedoen om die probleme aan die Oosgrens op te los nie. Hulle het met die VOC se beleid van gebiedskeiding voortgegaan met die Visrivier as grens. Hulle standpunt was dat die Xhosas met geskenke en beloftes omgekoop moes word om die grensreëlings te erken en daarby te hou. Hierdie beleid is deur die Xhosas as swakheid beskou. 1

Hester Cornelia Reynet
Cornelis de Graaff

Die mense van Graaff-Reinet was so ontevrede met Brittanje se beleid op die Oosgrens, dat hulle in Januarie 1795 in opstand gekom het. Hulle was veral ontevrede met die optrede van die Britse landdros, H.C.D Maynier. Hy het nie teen oortredings van Xhosas opgetree nie en nie op klagtes van die grensboere gereageer nie. 1

Die burgers van Graaff-Reinet het ʼn onderlinge ooreenkoms onderteken en vir Maynier opdrag gegee om die dorp te verlaat. Hulle het hulle eie amptenare aangestel en gesê dat hulle nie langer die gesag van die VOC aanvaar nie. In Junie 1795 het Swellendam dieselfde gedoen. Dié twee dorpe het ʼn Nasionale Konvensie as hulle bestuursliggaam aangestel. Daardeur het hulle die gesag van die VOC ontken en hulself direk onder die gesag van Nederland geplaas. 1

Ná talle onderhandelinge het die Graaff-Reinetters die Britse gesag aanvaar. Hulle voorwaarde was dat hulle eie amptenare erken moes word en dat hulle ammunisie moes kry om hulle eiendom teen die Xhosas te beskerm. 1

Frans Bresler is toe as landdros aangestel. Hy was eers ʼn amptenaar van die VOC, maar het toe vir die Britse owerheid begin werk, en daarom was hy glad nie gewild onder die inwoners van Graaff-Reinet nie. Toe hy op 22 Februarie 1796 die Britse vlag voor die drosdy (regeringsgebou) hys, het die burgers die vlag gestryk, geweier om die eed van getrouheid aan Brittanje af te lê en verklaar dat hulle aan die Bataafse Republiek getrou sou bly. Bresler was verplig om die distrik te verlaat.

In November 1796 is Graaff-Reinet gedwing om aan die Britse gesag oor te gee.

Vroeg in 1799 het daar weer ʼn rebellie in Graaff-Reinet uitgebreek toe Adriaan van Jaarsveld – ʼn vooraanstaande burger en een van die leiers van die vorige opstand – in hegtenis geneem is. Die klag teen hom was dat hy ʼn kwitansie vervals het. Alhoewel die klag teen Van Jaarsveld waar was, het die burgers geglo dat die owerheid teen hom optree omdat hy by die vorige rebellie betrokke was. Hulle was ook bang dat hy sonder ʼn verhoor verban sou word.

Die burgers het Van Jaarsveld met geweld bevry en die drosdy beleër. Al die Graaff-Reinetters het nie die rebellie ondersteun nie en toe generaal Vandeleur in Maart 1799 opdaag om die rebellie te onderdruk, het die mense wat in opstand gekom het, hulleself oorgegee. 1

Kaap aan Nederland teruggegee

Omdat die VOC reeds in 1798 ontbind het, het die Nederlandse regering direkte beheer oor die Kaap aanvaar. Die Kaap was dus nie meer net ʼn halfwegstasie nie, maar ʼn volwaardige kolonie. 1

In 1802 het gebeure in Europa weer ʼn invloed op die gebeure in die Kaap gehad. Brittanje en Frankryk het die Vrede van Amiens  gesluit wat ’n einde gemaak het aan die oorlog tussen die twee lande. Hierdie ooreenkoms het ook bepaal dat Brittanje onderneem het om die Kaap aan Nederland (die Bataafse Republiek) terug te gee. 1 2 4

Nederlandse amptenare het in Februarie 1803 in die Kaap aangekom. Hulle was onder leiding van goewerneur Jan Willem Janssens en kommissaris-generaal Jacob Abraham de Mist. 1

Jacob Abraham de Mist

Bataafse bewind (1803 tot 1806)

De Mist was tot in September 1804 in beheer in die Kaap. Hy was ʼn lid van die Asiatiese Raad, en hierdie raad was verantwoordelik vir die administrasie en verdediging van die Nederlandse kolonies in die Ooste en die Kaap.

Die Asiatiese Raad het hom versoek om sy program van revolusionêre beginsels ten opsigte van staat, kerk en onderwys in die Kaap in werking te stel. Hierdie idees, veral ten opsigte van die kerk en die onderwys, was heeltemal te revolusionêr vir die konserwatiewe Kaapse bevolking. Omdat die Bataafse bewind in die Kaap só kort was, is hierdie planne van De Mist nooit heeltemal deurgevoer nie. 1

Administrasie

Politieke Raad

Die koloniste het aan die sentrale regering deelgeneem. Twee burgers het saam met twee amptenare ʼn Politieke Raad gevorm, met die goewerneur as voorsitter. Elke lid van die Politieke Raad was die hoof van ʼn departement: Landbou en veeteelt, Finansies, Handel en skeepvaart, asook Visserye. 1

Kaapse parlement, ongeveer 1872

Rekenkamer

Daar is ʼn Rekenkamer ingestel om die finansies te beheer. Die lede van die Rekenkamer was koloniste wat deur die Asiatiese Raad aangestel is. 1

Uitvoerende en regterlike gesag

Die uitvoerende en die regterlike gesag is van mekaar geskei. Die nuwe Raad van Justisie het uit ses regsgeleerdes, ʼn sekretaris en ʼn prokureur-generaal bestaan. Die goewerneur en sy amptenare kon dus nie met die regspraak inmeng nie. Daar kon na die hooggeregshof in Den Haag geappelleer word. 1

Gemeenteraad

Die Burgersenaat – wat deur die Britte ingestel is – het plek vir ʼn Munisipale Raad gemaak. Dit het algemeen bekend gestaan as die Gemeenteraad en het uit 7 lede bestaan. Hulle was almal inwoners van Kaapstad en die distrik van Kaapstad. 1

Britse Offisier aan die Kaap, 1796

Distrikte

Die Gemeenteraad was verantwoordelik vir munisipale aangeleenthede in Kaapstad en distrik. Toe De Mist in die binneland gereis het, het hy besluit dat die Kaapkolonie te groot was om slegs vier distrikte te hê. Hierdie vier distrikte was Kaapstad, Stellenbosch, Swellendam en Graaff-Reinet. Daarom is nog twee distrikte – Tulbagh en Uitenhage – gestig. Aan die hoof van elke distrik was ʼn landdros. Hy is bygestaan deur ses burgers wat heemrade genoem is. Die landdros is deur die goewerneur aangestel en daar was ook ʼn sekretaris. Die distrikte is verdeel in veldkornetskappe, elkeen ongeveer 50 km in deursnee. Elke veldkornetskap was onder beheer van ’n veldkornet. 1

Pligte van veldkornette:

  • Hulle moes hulle wyke verdedig.
  • Hulle moes misdadigers in hegtenis neem 1

Pligte van landdros en heemrade:

  • Hulle kon kleiner hofsake verhoor.
  • Hulle kon ook huwelike in die hof voltrek.
  • Vir die meeste van die koloniste was die gedagte van ʼn siviele huwelik (huwelik wat in die hof plaasvind) nie aanvaarbaar nie en hulle het De Mist is skerp hieroor gekritiseer. 1
Grensoorlog, 1851

Kerk en onderwys

In 1804 het De Mist ʼn Kerkorde en ʼn Skoolorde uitgevaardig.

Kerkorde

Die Kerkorde het volkome vryheid van godsdiens moontlik gemaak. Alle kerkgenootskappe en gelowe het nou gelyke regte gehad.

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) het die staatskerk gebly, en hulle predikante is deur die staat aangestel en betaal. Ander kerkgenootskappe moes self hulle predikante se salarisse betaal.

Die meeste mense in die platteland het aan die NG Kerk behoort. ʼn Gemeente kon nie sy eie predikant beroep nie. Kerkraadslede is deur die gemeentes gekies, maar die goewerneur het die mag gehad om hulle te vervang.

Die kerk was dus ondergeskik aan die staat (onder beheer van die staat). Dit het ooreengestem met die revolusionêre idees van die Franse Revolusie. 1

Lutherse kerk, Kaapstad, ongeveer 1850

Skoolorde

Die Skoolorde het bepaal dat die kerk nie meer beheer oor onderwys gaan hê nie, maar dat die staat die onderwys sal beheer. Onderwyssake is opgedra aan ʼn Raad van Skolarge, wat uit sewe lede bestaan het.

Die Raad se belangrikste plig was om goeie onderwysers uit Nederland te laat kom. De Mist wou ook graag ʼn plaaslike opleidingsentrum vir onderwysers stig. Die meeste van die onderwysmaatreëls was teen 1806 nog nie in werking gestel nie. 1

Khoekhoen (Khoi) en Xhosas

Goewerneur Janssens het die lewensomstandighede van die Khoekhoen – wat nie meer in stamme geleef het nie – probeer verbeter.

Die swerwende Khoekhoe-stamme het reservate langs die Gamtoosrivier ontvang en is verbied om kontak met die Xhosas te hê. Die Khoekhoen se rondswerwery is ook deur nuwe wette beperk. 1 2

Janssens het Gaika – opperhoof van die westelike Xhosas – ontmoet en hom oorreed om die Visrivier as grens te aanvaar. Baie Xhosas het egter die grensreëlings geïgnoreer en Janssens het nie genoeg soldate of geld gehad om hulle te dwing om die reëls te volg nie. 1

Kaapse Khoi, 1657
Xhosa-gemeenskap

Handel en landbou

Om meer inkomste vir die Kaap te probeer kry, het die Bataafse regering probeer om die koringbedryf, wynbou en ook veeteelte te verbeter. Omdat die reënval wisselvallig was, was die inkomste uit landbou ook wisselvallig. Boere wou ook nie hulle vetstertskape (gebruik vir hulle vleis) vervang deur merinoskape (gebruik vir hulle wol) nie. Eers 20 jaar nadat ʼn kommissie in 1804 die boerdery met wolskape aanbeveel het, het boere met wolskape begin boer.

King Williams Town, ongeveer 1850

Omdat die Britte so ʼn sterk mag op see gehad het, was dit vir Kaapse of Nederlandse skepe moeilik om hulle bestemmings te bereik. Dit was dus ook moeilik om produkte van die Kaap af uit te voer. Die koloniste kon hulle produkte dus net plaaslik verkoop. 1

Groenkloof, ongeveer 1800

Tweede Britse besetting

In 1803 het die oorlog tussen Brittanje en Frankryk weer begin. Brittanje wou dus weer die Britse seeroete na die Ooste beskerm. Omdat die Kaap steeds strategies ʼn goeie ligging op die roete na die Ooste was, wou Brittanje die Kaap weer oorneem.

Op 4 Januarie 1806 het ʼn Britse vloot – onder bevel van admiraal sir Home Popham – in Tafelbaai aangekom. Drie dae later het 4 500 Britse troepe onder bevel van generaal David Baird by Bloubergstrand aan wal gegaan om van daar af na Kaapstad te marsjeer. 1

Op 8 Januarie 1806 het die Slag van Bloubergstrand plaasgevind. Op 18 Januarie het goewerneur Janssens oorgegee. Volgens die Verdrag van Papendorp (Woodstock) het die Kaapse burgers hulle regte en voorregte behou, sou godsdiensvryheid gehandhaaf word en sou die koloniste kon voortgaan om die bestaande papiergeld te gebruik. 1 2

Slag van Blouberg, 1806

Toe Janssens in Maart 1806 na Nederland vertrek, is die Kaap se politieke en kulturele skakel met Nederland verbreek. Hoewel die Bataafse (Nederlandse) bewind nie lank genoeg geduur het om ʼn duidelike stempel op die Kaap af te druk nie, het sommige van De Mist se idees tog ʼn invloed op verdere ontwikkelings in die Kaap gehad.

David Baird

Hy het die koloniste die eerste keer met die demokratiese beginsels van die Franse Revolusie laat kennis maak, en daardeur het hy bygedra tot hulle politieke ontwaking in die 19de eeu. 1

Kolonialisme

Kolonialisme het plaasgevind wanneer groot en invloedryke lande kleiner lande op ander plekke in die wêreld begin beheer het. Europese lande wat lande ver van hulle eie grense af so oorgeneem en beheer het, was, onder andere Spanje, Portugal, Brittanje, Frankryk en Nederland. Die kleiner lande of kolonies is dan op alle vlakke van die samelewing oorheers. Hulle moes ook hulle grondstowwe en landbouprodukte aan die koloniale owerheid (die land wat hulle beheer het) afstaan. 2

Birkenhead-stranding, 1852

Woordbank

Bataafse Republiek In 1895 is die Republiek van die Verenigde Nederlande deur Frankryk oorrompel en deur die Bataafse Republiek vervang.
drosdy Die Drosdy was ʼn regeringsgebou in Graaff-Reinet.
heemrade Lid van ʼn raad wat in die tyd van die VOC saam met ʼn landdros ʼn hof gevorm het om sake te verhoor.
kolonies ʼn Land wat deur ʼn groter land oorgeneem is, is ʼn kolonie van die groter land genoem.
koloniste Inwoner van ʼn kolonie.
veldkornet Belangrike amptenaar op plaaslike bestuursvlak, veral in die 19de eeu.
wisselvallig Iets wat onbestendig is of dikwels verander.

Khoi en Khoekhoen

Albei woorde word deur verskillende skrywers gebruik. Volgens kenners van die inheemse tale, is die korrekte stamwoord Khoe en nie Khoi nie. 5

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 16 November 2021 | Bygewerk op 26 Maart 2024