Vinnige feite

  • Kaolin, ’n bestanddeel wat in sekere kleisoorte aangetref word, is ’n middel wat ’n omgekrapte maag kan behandel en word in medisyne gebruik. 9
  • Daar is mense wat kos, byvoorbeeld ’n vis, met klei sal bedek en dit dan in die vuur sit. Sodoende verhoed die klei dat die vis in die vuur verbrand en bring mee dat die vis deur middel van die vuur se hitte gaar word. Wanneer die kos gaar is, word die klei gebreek en kan heerlike gaar vuurgebraaide kos geniet word. 7
  • ’n Fyn, wit soort erdewerk word meestal vir breekgoed gebruik en dikwels foutiewelik met duursame porselein verwar omdat dit soveel ooreenkomste in voorkoms het. Porselein is egter deurskynend en kan sodoende uitgeken word as ware porselein. Wanneer ’n skerp lig naby ’n porseleinbord gehou word, sal ’n mens daardeur kan sien. 4
  • Porselein, afkomstig van die Italiaanse woord porcella (“little pig”) word gemaak van klei wat ’n mengsel is tussen kaolin en veldspaat. Hierdie is ’n baie delikate, fyn materiaal en uiters breekbaar. Egte porseleinbreekware, wat vir die eerste keer in China vervaardig is, word gebruik vir spesiale funksies en geleenthede en is ook ’n duursame versamelaarsitem. 5
Foto: iStock

Klei is ’n klewerige, kniebare grondsoort wat deur verwering van veldspaathoudende gesteentes ontstaan. Dit word hard wanneer dit gebak word. 1 Kleiware (erdewerk) is goed soos potte, bakke, bekers, borde, stene, ensovoorts wat van klei gemaak is.

Klei is nodig vir kleiware

In geologiese terme kan gesê word dat klei klein, fyn gegranuleerde aardse materiaal is wat byna oral op aarde aangetref word. Die twee belangrikste komponente van klei is silika en alumina, wat hul oorsprong het vanaf stollingsgesteentes.

Natuurlike klei word gevorm van veldspatiese- of granietrotse wat ontbind deur die aksie van gletsers en verwering oor ’n aantal jare. Kleipartikels is kleiner as 0,002 mm in deursnee. Die meeste kleisoorte word gevorm deur chemiese verwering van hierdie gesteentes. Dit wil sê, die gesteentes is blootgestel aan lug, water of stoom. Kleipartikels is dig teen mekaar en laat nie maklik water deur nie. Die kleipartikels trek water aan, swel en kleef aan mekaar. 2

Klei kan in die volgende tipes gekategoriseer word:

Primêre of oorblywende klei

Primêre klei word meestal naby die oorspronklike bron gevind. Primêre klei word gevorm wanneer water die metale in die kleimengsel vervang. 3 Die belangrikste primêre klei word genoem kaolien – algemeen bekend as porselein- of China-klei. Hierdie klei is in ’n baie suiwer vorm en spierwit van kleur, maar omdat dit uit groot deeltjies bestaan, is dit baie moeilik om daarmee te werk vir alleengebruik. Bentoniet is ’n ander primêre (waardevolle) kleisoort en weer uiters fyn.

Sekondêre of sedimentêre klei

Hierdie soort klei verskil van primêre klei in dié sin dat dit nog meer verweer is deur verskeie omstandighede. Gewoonlik vind mens dié klei nie naby sy oorspronklike bron nie omdat water, wind of gletsers dit laat wegbeweeg het. Die gevolg hiervan is dat sedimentêre klei baie fyner deeltjies het. In die beweging van die sekondêre klei word, onder meer, sekere minerale en onsuiwerhede deel van die klei. Dit het ’n effek op die kleur en temperatuur wat die klei benodig wanneer dit gebak sou word. 4

Die eerste gebruike van klei

Die presiese tyd van die eerste gebruike van klei is onbekend, maar geografiese ontdekkings dui daarop dat kleiware reeds in die antieke tye gemaak is en word gesien as van die oudste bedrywe wat deur mense beoefen is.

Klei is gebruik vir die maak van ruwe stene, deur dit in die son te laat bak. Gate in mandjies is ook met klei toegesmeer om hulle waterdig te maak sodat water vervoer kon word tussen strome of riviere en wonings.

Uitgrawings wat gevind is in die omgewing van die Nylvallei in Egipte, in Engeland, België en Duitsland dui op stukke van gebrande of oondgedroogde houers. Volgens die diepte waarop die stukke gevind is, kan afgelei word dat hulle in ongeveer 15 000 v.C. begrawe is.

Teen 35 000 v.C. het die Egiptenare alreeds geweet hoe om teëls met ’n groenblou koperglasuur te kleur. Die pottebakkerswiel is waarskynlik vir die eerste keer in 2 500 v.C. gebruik, deur ’n stuk klei op ’n draaitafel in die rondte te draai.

’n Hoogtepunt in die antieke pottebakkerskuns is ongeveer 600 v.C. in Griekeland bereik. Hier is vase wat van rooi klei gemaak is, swart geverf, behalwe op die versierde dele. Erdewerk met mooi ontwerpe is ook sedert 208 v.C. in China gemaak, hoewel die Koreane nog voor dié tyd erdewerk gemaak het.

Die Chinese se grootste bydrae tot die keramiekkuns, was hul ontdekking van ware porselein. Sedert die 14de eeu is hierdie harde, wit, deursigtige ware in China gemaak en in groot hoeveelhede uitgevoer. In 1710 het Duitse skeikundiges die Chinese “geheim” ontdek en porselein word tot vandag toe by die Meissen-fabriek, naby Dresden, vervaardig. Kort daarna, is porselein ook in Venesië en nog ander dele van Duitsland vervaardig.

In 1756 het ’n Franse fabriek met ’n nuwe produk vorendag gekom: ’n sagte pasta wat ’n kunsmatige soort porselein is. Dit het uitgebrei na Engeland, waar dieselfde materiaal gebruik is om huisware te maak. 5

Wat is keramiek?

Keramiek is die kuns of tegniek van die vervaardiging van sier- en gebruiksvoorwerpe, hoofsaaklik uit klei, deur dit te bak en te verglaas. Dit sluit voorwerpe soos potte, bakke en teëls in 1. Die woord keramiek is afgelei van die Griekse woord, keramos, wat pottebakkersklei beteken. 6

Keramiek dui op alle soorte pottebakkery, ongeag die samestelling of gebruik daarvan. Alle keramiekware word gemaak van verskillende soorte klei saam met grondstowwe soos sand, veldspaat of porseleinklei, asook hoogvuurklei (bolklei). 3

Gebreekte goed verruil vir goud

Kleiware is meestal broos en kan maklik breek. ’n Spesiale gebruik word egter in Japan aangewend om gebreekte kleiware te herstel. Volgens hierdie vorm van kuns, Kintsugi (wat beteken “golden repair”), word die gebreekte stukke aanmekaar gelas deurdat die krake met goud of silwer gevul word. Die tradisie, om gebreekte ware te herstel, het sy oorsprong in die filosofie dat die artikel nie weggegooi hoef te word omdat dit gebreek het nie, maar dat die stukkende dele deel van sy verlede vorm en bydra tot die unieke voorkoms wat dit aanneem ná die herstelproses. 7

Die maak van kleiware

Voordat kleiware gemaak kan word, word die klei eers skoongemaak deur alle stukkies klip en ander vuiligheid te verwyder. Wanneer die klei droog geword het ná die skoonmaakproses, meng die pottebakker die klei met water totdat dit maklik vormbaar is.

Die eenvoudigste manier om met die proses van die vorming te begin, is deur lang stukke klei te vorm. Die lang stukke word op mekaar gesit om sodoende ’n bak of vaas te vorm. Na die vorming van die artikel of ornament, word die verdere afwerking gedoen.

Nog ’n metode wat gebruik word in die maak van kleiware, is deur die klei te meng sodat dit in vloeistofvorm in vorms gegiet kan word. Die klei word dan hard en neem die vorm aan van die houers wat gebruik is.

Die pottebakkerswiel is die gewildste metode wat gebruik word vir die maak van kleiware. Die pottebakker sit gewoonlik ’n groot stuk klei op die wiel – ’n groot, plat oppervlak wat in die rondte draai. Die pottebakker bewerk die klei met sy hande om die vorm aan te neem van dit wat hy wil skep, terwyl die klei deur middel van die pottebakkerswiel beweeg word. Die draaiende wiel help die kunstenaar om veral ronde vorms te skep en maak dit makliker om byvoorbeeld al die kante van die artikel wat geskep word, ewe dik of dun te maak. Om patrone op die artikel te graveer of uit te kerf, word gewoonlik ’n skerp lem of ander pottebakkersgereedskap van voorkeur gebruik.

Wanneer die pottebakker tevrede is dat die artikel die regte vorm aangeneem het, word dit voorberei om gebak te word. Die artikel moet eers heeltemal droog wees voordat dit deur die bakproses kan gaan. Dit word stadig droog met gewone lug, daarom gebruik baie pottebakkerye outomatiese droërs om die proses te bespoedig.

Wanneer die artikel goed droog is, word dit in ’n oond geplaas. Die temperatuur waarvolgens dit gebak word, sal afhang van die tipe klei, die vorm van die erdestuk asook die tipe versierings wat daarop aangebring is. Porselein word teen temperature tot so hoog as 1 480 °C gebak.

Ná afloop van die bakproses, kan die hardgebakte klei geglasuur en geverf word. Meestal nadat die kleiware geglasuur en geverf is, word dit weer gebak sodat die glasuur kan verhard en blink. 8

Woordbank

bentoniet Bentoniet is ‘n absorberende swelklei. Dit vorm gewoonlik uit verwering van vulkaniese as in seewater, wat die vulkaniese glas wat in die as teenwoordig is, omskakel na kleiminerale. 10
erdewerk Potte, bakke, ensovoorts wat van hard gebakte klei gemaak is. 1
glasuur Dit is ’n dun, glasagtige lagie waarmee keramiekvoorwerpe soos porselein, erdewerk, teëls, ensovoorts gewoonlik ter versiering bedek word. 1
granuleer Iets granuleer wanneer dit die vorm van korreltjies of klein deeltjies [laat] aanneem, verkorrel of in die vorm van korreltjies kristalliseer. 11
kaolien Porseleingrond, klei gebruik in die pottebakkersbedryf. 12
pottebakker ’n Persoon wat uit pottebakkersklei erdewerk vervaardig.
stollingsgesteente Dit is gesteente wat ontstaan deur afkoeling van magma of lawa wat uit vulkane stroom. 1
veldspaat ’n Wit, blou, groen of rooierige delfstof wat as kristalle voorkom en waaruit aluminium gehaal kan word. Dit is ook ’n vername bestanddeel van granietklip of maansteen. 1
verglaas Om glasuur aan te bring.

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die maak van erdewerk

Hoe om ’n erdewerkbak van begin tot end te maak

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 19 Februarie 2022 | Bygewerk op 18 Maart 2024