Vinnige feite

  • Met “kinders” word bedoel individue onder 18 jaar.
  • Die regte van kinders in Suid-Afrika word in die Kinderwet (38 van 2005) beskryf.
  • Artikel 28 van die Grondwet van Suid-Afrika beskryf die regte van kinders.
  • Daar is meer as 60 vorms in die Kinderwet waarmee die administrasie van die regte van kinders hanteer word.
Foto: iStock

Die regte van kinders word in die meeste lande as baie belangrik beskou. Daar is ook belangrike dokumente in die wêreld wat aandag gee aan die regte van kinders. Enkele van hierdie dokumente is: 1

Doel van die Kinderwet

Die doelstellings van die Kinderwet is, onder meer, om:

  • die regte van kinders soos dit in die Grondwet beskryf word, te verseker;
  • te verduidelik hoe kinders versorg en beskerm moet word;
  • ouers se regte en verantwoordelikhede te beskryf;
  • te bepaal hoe ouers moet bydra vir die versorging van hulle kinders;
  • die aanneming van kinders te beskryf;
  • aanneming van kinders tussen verskillende lande te beskryf;
  • die ontvoering van kinders te verbied;
  • reëlings oor surrogaat moederskap te tref; en
  • te kyk na nuwe soort oortredings wat teenoor kinders gepleeg word en te sorg dat dit nie gebeur nie.

Beskrywing van die regte van kinders

Kinders se regte word soos volg in die Kinderwet beskryf:

  • Kinders het die reg om deur (ʼn) ouer(s) of binne ʼn gesin versorg te word.
  • Hulle het die reg om ʼn persoonlike verhouding en gereelde kontak met albei ouers te hê (indien van toepassing).
  • Kinders het die reg op voeding, blyplek en gesondheidsorg.
  • Kinders moet teen mishandeling, verwaarlosing en vernedering beskerm word. Hierdie reg sluit onder meer in dat geen kind lyfstraf by die skool mag kry nie of emosioneel mishandel mag word nie. In artikel 110 van die Kinderwet word bepaal dat dit die plig van mense soos dokters, onderwysers, predikante, maatskaplike werkers en regsmense is om dit aan te meld indien hulle vermoed dat ʼn kind mishandel of verwaarloos word. Enige persoon moet die polisie of ʼn maatskaplike werker in kennis stel as hy/sy vermoed dat ʼn kind sorg of beskerming nodig het.
  • Kinders het die reg om gehoor te word; met ander woorde, daar moet na kinders geluister word wanneer hulle probleme het.
  • In elke saak wat ʼn kind raak, moet sy/haar belange eerste gestel word.

Die belangrikste ding wat hierdie wet wil bereik, is om te verseker dat kinders so veilig en goed as moontlik leef. Dit is die plig van die staat om te sorg dat hierdie regte van kinders beskerm word. 2

Administrasie van die regte van kinders

Dit is so belangrik dat die regte van kinders hoog geag en korrek bestuur moet word, dat daar meer as 60 verskillende soorte vorms in die Kinderwet is vir verskillende sake wat kinders raak.

Hier onder is slegs enkele voorbeelde van dié vorms: 3

  • Vorm 5: Hierdie vorm is ʼn verklaring van die gesinsadvokaat oor die regte en verantwoordelikhede van ouers.
  • Vorm 23: Met hierdie vorm word die verwaarlosing van ʼn kind aan die direkteur-generaal gerapporteer.
  • Vorm 27: Dié vorm verskaf inligting oor ʼn persoon wat nie met kinders mag werk nie.
  • Vorm 35: Hierin word toestemming gegee dat ʼn ouer sy/haar eie kind mag opereer.

Verantwoordelikhede wat aan regte gekoppel is

Wanneer kinders sekere regte kry, beteken dit ook dat kinders verantwoordelikhede saam met daardie regte het.

Hier is enkele voorbeelde van sulke verantwoordelikhede:

  • Die reg om ernstig opgeneem te word – die verantwoordelikheid om na ander te luister.
  • Die reg op onderwys – die verantwoordelikheid om te studeer en onderwysers te respekteer.
  • Die reg om trots te wees op hul erfenis en geloof – die verantwoordelikheid om vir ander se geloofsoortuigings respek te hê. 4

Suid-Afrika het hierdie verklaring in 1993 onderteken. Lande wat hierdie verklaring onderteken, verklaar dat hulle die regte van kinders sal beskerm.

Alle kinders het hierdie regte. Dit maak nie saak wie jy is, waar jy bly, watter taal jy praat, hoe jy lyk, wat jou godsdiens is, of jy ʼn seun of dogter is, of jy gestremd is, of jy arm of ryk is en wie jou ouers is nie. Alle kinders moet eenders behandel word.

Hier onder volg van die belangrikste sake in die dokument:

Beste belang van die kind

Wanneer volwassenes besluite neem, moet hulle in ag neem hoe hulle besluite kinders kan raak. Alle volwassenes moet so optree dat dit goed is vir kinders. Regerings moet seker maak dat kinders deur hulle ouers of deur ander volwassenes beskerm en versorg word.

Identiteit

Kinders moet geregistreer word wanneer hulle gebore word en ʼn amptelike naam kry. Kinders moet ʼn nasionaliteit hê; dit wil sê, hulle moet aan ʼn sekere land behoort.

Om gesinne bymekaar te hou

Kinders mag nie weggeneem word van hulle ouers, tensy die ouers nie goed vir hulle sorg nie. Indien kinders se ouers nie bymekaar woon nie, moet die kind kontak hou met albei ouers, behalwe wanneer dit die kind skade kan aandoen.

Om gedagtes vrylik te deel

Kinders het die reg om dit wat hulle leer, dink en voel vrylik te deel deur daaroor te praat, te skryf of tekeninge te maak.

Toegang tot inligting

Kinders het die reg om inligting vanaf die Internet, radio, TV, koerante, boeke en ander bronne te kry. Volwassenes moet seker maak dat hierdie inligting nie skadelik vir kinders is nie. Regerings moet die media aanmoedig om inligting vanuit verskillende bronne bekend te stel en te versprei. Dit moet gebeur in tale wat alle kinders verstaan.

Beskerming teen geweld

Regerings moet kinders teen geweld en mishandeling deur enigeen wat die kind versorg, beskerm.

Kinders wat aangeneem word

Wanneer kinders aangeneem word, is die belangrikste oorweging dit wat die beste vir die kind is. Indien ʼn kind nie in sy of haar eie land goed versorg kan word nie, kan so ʼn kind deur mense in ʼn ander land aangeneem word.

Vlugtelingkinders

Wanneer kinders uit hulle eie land vlug omdat dit nie vir hulle veilig is om daar te bly nie, dan moet hulle hulp en beskerming in die land waarheen hulle vlug, kry – net soos kinders wat in daardie land gebore is.

Kinders wat gestremdhede het

Elke kind wat ʼn gestremdheid het, moet so goed moontlik versorg word. Regerings moet probeer om alles wat dit vir sulke kinders moeilik maak, te verwyder sodat hulle uiteindelik onafhanklik kan leef.

Beskerming teen gevaarlike werk

Kinders moet beskerm word teen werk wat gevaarlik vir hulle gesondheid of ontwikkeling is. Wanneer kinders werk doen, moet hulle veilig wees en regverdig betaal word.

Beskerming teen skadelike dwelms

Regerings moet kinders daarteen beskerm om dwelms te gebruik, te vervaardig, by hulle te hê of dit te verkoop.

Beskerming teen seksuele uitbuiting

Regerings moet kinders beskerm teen seksuele uitbuiting, teen seks teen betaling of om seksuele foto’s te neem of seksuele films te maak.

Kinders wat in aanhouding (gevangenisse) is

Kinders wat beskuldig word dat hulle die wet oortree het, mag nie gemartel word, wreed behandel word of saam met volwassenes aangehou word nie. Gevangenisstraf behoort die laaste moontlikheid te wees en ook vir so kort as moontlik. Kinders in die gevangenis moet regshulp kry, en hulle moet in kontak met hulle ouers bly.

Beskerming tydens oorlog

Kinders moet beskerm word teen oorlog. Geen kind onder 15 jaar mag aan oorlog deelneem of by die weermag aansluit nie. 5

Afrika Handves oor die Regte en Welsyn van die Kind

Hierdie Handves is in Julie 1990 deur die Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE) aangeneem. Die naam van die OAE is vandag Afrika-Unie (AU).

Die doel van hierdie dokument is om die regte van kinders, soos dit in die VN se Verklaring beskryf word, aan te pas sodat dit ook na die spesiale omstandighede waaronder kinders in Afrika leef, kan kyk.

Die Afrika Handves oor die Regte en Welsyn van die Kind:

  • verbied huwelike met ʼn kind.
  • dring daarop aan dat kinders eers op die ouderdom van 18 mag trou.
  • noem dat meisies wat swanger is, steeds mag skoolgaan.
  • verbied kinders onder 18 om aan oorlog deel te neem.
  • sluit aanbevelings in oor die verantwoordelikhede van kinders.
  • gee aandag aan die regte van kinders wat saam met hulle moeders in ʼn gevangenis. 6

Woordbank

surrogaat Iets wat in die plek van iets anders gebruik word, soos heuning as surrogaat vir suiker; of iemand wat die plek van iemand anders inneem, soos ‘n surrogaatmoeder.
deklarasie Formele verklaring of uiteensetting 7

Lees hierdie artikel om nog meer te leer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 3 Desember 2021 | Bygewerk op 5 Maart 2024