Vinnige feite

  • Die Gariepdam is die grootte van ongeveer 72 rugbyvelde. 5
  • Dit het ses jaar – van 1966 tot 1972 – geneem om die Gariepdam te bou, en nadat dit voltooi is, was die dam 104% vol.
  • Die damwal is eers in 1988 uitgebrei toe dit 129,88% vol was, en later daardie jaar het dit vir twee weke lank oorgeloop.
  • In Februarie 2021 was die Gariepdam 112% vol. 6
  • In Januarie 2011 was die dam 126% vol, dit het oorstroom, en meer as 4,5 miljoen liter water per sekonde het oor die damwal geloop. Dit het sonder ophou vir drie maande lank oorgeloop, en tot vandag toe kan die erosie ongeveer 15 meter hoog op die oewer reg rondom die dam gesien word.

 

Foto: iStock

Die Gariepdam is die grootste opgaardam in Suid-Afrika en is naby die dorp Norvalspont – wat aan die Vrystaat– en Oos-Kaap-provinsies grens – geleë. Die primêre doel van die dam is vir besproeiing, huishoudelike en industriële gebruik, asook vir kragopwekking. 1

Die Gariepdam is oorspronklik die Hendrik Verwoerddam genoem na die eerste premier van die Republiek van Suid-Afrika, Hendrik Verwoerd. Die naam is egter amptelik op 4 Oktober 1996 na die Gariepdam verander. Gariep beteken “groot water”.

Die dam grens aan die Oranjerivier, ongeveer 48 km noordoos van Colesberg en 208 km suid van Bloemfontein. Dit is in ʼn kloof by die ingang van die Ruigtevallei, ongeveer 5 km oos van Norvalspont.

Die dam se muur is 88 m hoog, het ʼn kruinlengte van 914 m en gebou met ongeveer 1,73 miljoen m³ beton. Die Gariepdam het ʼn totale opbergingskapasiteit van sowat 5 340 000 megaliter (1 megaliter is gelykstaande aan 1 miljoen liter) en ʼn oppervlakte van meer as 370 vierkante kilometer wanneer dit vol is.

Die Gariepdam is deel van die Oranjerivierprojek, die breinkind van dr. A.D. Lewis, wat as minister van waterwese die idee in 1928 van stapel gestuur het. Vanaf die dam by Oviston lei die Oranje-Visriviertonnel (wat meer as 82 km lank is) water na die Visriviervallei met die uitlaat by Teebus naby Middelburg.

Gariepdam

Die eerste groot besoek aan die damterrein deur ingenieurs van die departement van waterwese en die konsultante het gedurende Oktober 1963 plaasgevind, en teen April 1964 het die eerste van die byna 3 500 mense wat uiteindelik aan die projek gewerk het, begin arriveer. 2

Die muur waar die Noord-Kaap en Vrystaat aan mekaar grens.

Die Gariepdam – wat in 1972 voltooi is – bied besproeiing aan meer as 200 000 ha (hektaar) omliggende landerye via ʼn enorme netwerk van bykans 100 km se tonnels. 3

Die hidro-elektriese kragstasie huisves vier kragopwekkers van 90 MW (megawatt), wat ʼn maksimum opbrengs van 360 MW elektrisiteit lewer met ʼn watervloeitempo van 800 m³ per sekonde.

Die struktuur is ʼn hibriede dam van betonswaartekragboë. Hierdie ontwerp is gekies omdat die kloof te wyd is vir ʼn volledige boog, sodat flankerende mure swaartepunte aan die sentrale boog vorm. Dit is gebou deur Dumez, ʼn Franse konstruksieonderneming. Riviere en spruite wat in die dam invloei, sluit in die Oranjerivier, Caledonrivier, Brakspruit, Broekspruit, Oudagspruit, Palmietspruit en Slykspruit.

Die muur waar die Vrystaat en Oos-Kaap aan mekaar grens.

Aan die noordekant van die Gariepdam is meer as 11 000 ha grond opsygesit om twee natuurreservate te vorm: die Gariepdam-natuurreservaat en die Oviston-natuurreservaat, wat ‘n tuiste vir talle groot herbivore – insluitend swartwildebeeste, rooihartbeeste, klipspringers, sebras en springbokke – bied. Die dorpie waar werkers gebly het, het as Oranjekrag bekendgestaan. Vandag is dit ‘n vakansieoord en ‘n aftreedorp.

Muurtoere – om die 13 km se gange binne die mure van die Gariepdam te verken – kan met amptenare van die departement van water en sanitasie gereël word. Tydens Toerisme- en Erfenismaand, wat in September gevier word, vertoon die baie blomme in die omgewing die mooiste kleure en skoonheid in die omgewing.

Die unieke oop Karoo-velde, in kombinasie met die grootste dam in Suid-Afrika, omring deur natuurreservate met baie vars lug, plat vlaktes en heuwels, sorg vir rustige sonsondergange en asemrowende nagtonele. Dit is ook baie gewild onder watersportliefhebbers, hardlopers, stappers, bergfietsryers, asook voël- en wildliefhebbers.

Dit is ʼn ervaring om by die Gariepdam te slaap, met baie akkommodasie (blyplek) wat hier beskikbaar is – van luukse eenhede tot gastehuise, chalets, plaashuise, lodges, hotelle en oorde. Dit is ook ʼn ideale stopplek vir lang padreise – net agt uur tot in Kaapstad, vyf uur tot in Oos-Londen en ʼn bietjie meer as drie uur tot in Kimberley. 4

Woordbank

herbivore
‘n Dier wat plantmateriaal eet.
ingenieurs Iemand wat akademies opgelei is in een of ander vertakking van die ingenieurswese of dit as beroep beoefen, soos ‘n siviele ingenieur wat by die bou van byvoorbeeld paaie, brûe en damme betrokke is.
kapasiteit Inhoudsmaat of die hoeveelheid water wat in die dam geberg kan word; dravermoë.
natuurreservaat
Gebied waar plante en diere beskerm word.
opgaardam Groot dam wat met beton gebou is om groot hoeveelhede water op te berg/bewaar of te hou.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Interessante feite oor die Gariepdam

Beeldmateriaal van die Gariepdam

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 18 Oktober 2021 | Bygewerk op 5 Maart 2024