Vinnige feite

  • Die woord telefoon kom van die Griekse woorde tēle, wat ‘ver’, en fonē, wat ‘klank’ beteken. 8
  • Toe Alexander Graham Bell in 1922 oorlede is, het alle telefone vir ’n volle minuut ophou lui uit eerbied teenoor die skepper van dié merkwaardige tegnologie. 9
  • Thomas A. Watson, wat in 2011 opgeneem is in Invent Now se Hall of Fame, was nie net die ontvanger van die eerste oproep wat Alexander Graham Bell gemaak het nie. Hy was ook verantwoordelik vir talle beduidende verbeterings aan die telefoon. Danksy Watson het ons ’n luitoon wat sê dat jy ’n oproep ontvang, asook ’n skakelaar wat die oproep beëindig as die telefoon se handstuk neergesit word. 10
  • Heinz Ketchup (die bekende tamatiesous-handelsmerk) is ook in 1876 uitgevind toe Alexander Graham Bell die eerste telefoonoproep gemaak het. 11
  • Die eerste telefoongids is op 21 Februarie 1878 in Connecticut in die VSA uitgegee. Dit het slegs 50 nommers bevat – 11 huistelefoonnommers, 38 nommers van sakeondernemings en die plaaslike polisiekantoor se telefoonnommer. 12
  • Een van die eerste mense wat ’n telefoon in hul huis gehad het, was die Amerikaanse skrywer Mark Twain (Samuel L. Clemens). 13
  • William Gray het die eerste betaaltelefoon (wat met munte gewerk het) in 1889 uitgevind. Dit is in ’n bank in Hartford, Connecticut, in die VSA geïnstalleer. Sy innovasie het toegelaat dat alledaagse mense wat nie hul eie telefone kon bekostig nie, besigheids- en persoonlike oproepe kon maak. Dit het gou gewild geword en binne dekades was daar meer as 2 miljoen van dié telefone in die VSA. Ons oumas en oupas het dit tiekiebokse genoem. 14
  • Die eerste outomatiese antwoordmasjien is in 1935 deur Willy Muller uitgevind. 15
  • Die eerste van die alombekende rooi telefoonhokkies in Londen in die Verenigde Koninkryk is in 1935 opgerig om Koning George V se Silwer Jubileum te vier. Meer as 60 000 van dié hokkies is eindelik in Brittanje geïnstalleer, maar vandag is daar baie min van dié ikoniese bakens oor. 16

 

Foto: iStock

Het jy al gedink hoe die lewe sonder telefone sou wees? Jy sou elke keer wat jy vinnig vir iemand iets wou sê, ’n brief moes skryf wat hulle eers maande later sou bereik! Dink net hoe lekker is dit om Ouma of ’n vriend wat ver woon, se stem te hoor of selfs sy/haar gesig op die telefoon te sien. Dit voel asof hulle sommer hier by jou is.

Telefone help mense al vir meer as 145 jaar om met mekaar te kommunikeer. Voordat dit uitgevind is, was daar geen manier om met ’n vêr ander persoon te praat sonder om op dieselfde plek as hy of sy te wees nie. Mense wat ver van hul vriende en familielede gewoon het, moes baie lank wag om briewe per pos te ontvang. 1

Toe telefone beskikbaar geword het, kon mense vir die eerste keer in die geskiedenis vinnig kontak maak. Dit was baie opwindend om iemand anders se stem van die ander kant van die lyn af te hoor en daarom word die telefoon as een van die belangrikste uitvindings van die 19de eeu beskou.

Telefone het baie verander sedert hulle die eerste keer verskyn het. Hulle lyk nie net baie anders nie, maar is makliker om te gebruik en kan baie meer dinge doen as voorheen.

Telefone verander byna daagliks en danksy die internet kan ons vandag nie net oproepe maak nie, maar ook op die internet rondsnuffel, flieks kyk, musiek luister, en al ons vriende en familie op sosiale media volg. En deesdae kan ons selfs al ons skoolwerk met behulp van die telefoon doen!

Deur die geskiedenis

Hoewel baie mense deur die geskiedenis beweer het dat hulle inderwaarheid die eerste telefoon uitgevind het, was dit die Skotse uitvinder Alexander Graham Bell wat heel eerste ’n patent vir die telefoon geregistreer het.

Op 14 Februarie 1876 het Bell suksesvol aansoek gedoen vir dié patent, slegs ure voordat die Amerikaanse elektriese ingenieur Elisha Gray glo ’n soortgelyke patent ingedien het. Bell het hom dus net-net voorgespring! 2

Ook Antonio Meucci, ’n Italiaanse immigrant, het in 1849 aan die ontwerp van ’n “pratende telegraaf” begin werk. In 1871 het hy ’n voorbehoud (’n aankondiging van ’n uitvinding) ingedien vir dié ontwerp, maar weens sy ekonomiese omstandighede kon hy glo nie ’n patent registreer nie. Sy rol in die uitvinding van die telefoon is oor die hoof gesien totdat die Amerikaanse huis van verteenwoordigers op 11 Junie 2002 ’n resolusie aangeneem het om Meucci se bydraes en werk te vereer. 3

’n Patent registreer ’n uitvinding sodat ander mense nie dieselfde idee vir ’n sekere tydperk kan verkoop nie. Veertig jaar voor Alexander Graham Bell se uitvindsel is langafstandboodskappe met behulp van ’n masjien genaamd die telegraaf (die geesteskind van Samuel Morse) gestuur. Dit het gewerk deur elektriese seine met ’n draad of kabel na ’n ontvanger te stuur. Bell het hard daaraan gewerk om die telegraaf te verbeter en in 1875 ontdek hy dat klank ook met behulp van telegraafdrade oorgedra kan word of beweeg. 4

Alexander Graham Bell

Die eerste telefoongesprek in die geskiedenis is op 10 Maart 1876 in Boston in die VSA gevoer tussen Bell en sy assistent Thomas Watson.

“Meneer Watson, kom hier, ek wil u sien,” het Bell in sy eksperimentele telefoon aan Watson gesê wat in ’n ander kamer, maar buite hoorafstand was. Die uitdrukking om iemand te laat aanhou (“on hold”) kom van Bell wat vir Watson die telefoon se gehoorstuk gegee en gesê het: “Hou hierdie vas”.

In 1877-’78 is die eerste telefoonlyn gebou, die eerste skakelbord geskep en die eerste telefoonsentrale in werking gestel. Drie jaar later was daar byna 49 000 telefone in gebruik. In 1880 het Bell sy maatskappy saamgevoeg met ander en in 1885 is American Telegraph and Telephone Company (AT&T) gestig; dié maatskappy het telefoniese kommunikasie vir die volgende eeu oorheers. 5

Teen 1900 was daar byna 600 000 telefone in Bell se telefoonstelsel; teen 1905 was daar 2,2 miljoen telefone en teen 1910 sowat 5,8 miljoen. Teen 1948 was die 30 miljoen telefoonlyne net in die Verenigde State en teen die 1960’s was daar meer as 80 miljoen telefoonaansluitings in die VSA en 160 miljoen in die wêreld.

Die koms van die eerste selfoonnetwerk in 1993 was egter die begin van die einde vir landlyne.

Hoe werk die moderne selfoonstelsel?

Die selfoonnetwerk bestaan uit ’n aantal geografiese areas. Elke area word ’n sel genoem. Binne-in hierdie selle is daar mobiele basisstasies of selfoontorings. Selfoongebruikers word dan met mekaar verbind deur radiogolwe vanaf ’n selfoon na ʼn ander gebruiker, deur die selfoontorings. 6

Telefoonnommers

In die vroeë dae van die telefoondiens, moes jy ’n skakelbordoperateur bel en vra dat jy na ’n spesifieke lyn deurgeskakel word. Hierdie stelsel is die eerste keer in 1879 bevraagteken deur Alexander Graham Bell se vriend, dr. Moses Greeley Parker van Lowell, MA in die VSA.

Dié stad het gebuk gegaan onder ’n maselepidemie, en die dokter het gesê die tydelike operateurs sukkel om die stelsel te bestuur as die telefoonoperateurs siek word. Getalle pleks van name is gesien as ’n beter oplossing en dit was die ontstaan van telefoonnommers soos ons dit vandag nog ken. 7

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om meer te leer

Geskiedenis van die telefoon

Geskiedenis van die telefoon

 

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 Januarie 2022 | Bygewerk op 18 Januarie 2024