Vinnige feite

  • Ons vind die tamboeryn in, onder meer, Italiaanse volksmusiek, Turkse volksmusiek, Persiese musiek, Griekse volksmusiek, klassieke volksmusiek, rock en natuurlik die samba (’n soort dans).
  • Aan die einde van die 19de eeu het die Heilsleër (The Salvation Army) die tamboeryn as een van hul belangrike ritme-instrumente opgeteken.
  • Van die bekendste sangers of groepe wat die tamboeryn gebruik (het), sluit in Freddy Mercury (van Queen), Robert Plant, Peter Gabriel, Roger Daltrey, Stevie Nicks en Jim Morrison. U2 se tromspeler, Larry Mullen, het ’n tamboeryn wat op ’n staander deel van sy tromstel vorm.
Foto: iStock

Of jy nou van pop-, rock- of selfs klassieke musiek hou, êrens sal jy heel moontlik die klank van ’n tamboeryn hoor wat ritmies met ’n liedjie se melodie vervleg is.  Die tamboeryn is ’n baie ou en een van die bekendste instrumente. Dit vorm deel van ’n groep instrumente wat as perkussie– of slaginstrumente bekend staan.

Elke orkes bestaan uit verskillende dele – soos die strykers (viole, tjello’s en kontrabas), koperblasers (trompette, trombone en tubas) en die ritmeseksie of perkussie wat tromme, tamboeryn(e), klokkies en driehoekie insluit. Dan kry ’n mens natuurlik nog die verskillende soorte kitare wat veral in pop- en rockorkeste gebruik word. 1

Die tamboeryn word wêreldwyd aangetref en deur oud en jonk bespeel. Van skoolorkeste tot wêreldberoemde simfonieorkeste gebruik die tamboeryn om die ritme of maatslag van ’n liedjie of musiekstuk te ondersteun.

Dit word dikwels in godsdienstige seremonies gebruik en selfs dansgroepe gebruik die tamboeryn om saam met sang en kleurvolle kostuums deur die strate te dans. Die tamboeryn maak nie net ’n mooi klank nie, maar help die dansers om gelyk en in tyd met die musiek te bly.

Ons vind die tamboeryn in, onder meer, Italiaanse volksmusiek, Turkse volksmusiek, Persiese musiek, Griekse volksmusiek, klassieke volksmusiek, rock en natuurlik die samba (’n soort dans). 2

Anders as ander instrumente wat ure se oefening verg om te bemeester, is die tamboeryn nie moeilik om te bespeel nie. As jy ’n bietjie ritme in jou lyf het, sal jy die tamboeryn sommer vinnig kan baasraak!

Die tamboeryn word daarom gereeld gebruik om musiek vir kinders te leer en word algemeen gebruik in musiek wat vir kinders se vermaak gemaak word.

Hoe lyk ’n tamboeryn?

Hoewel ’n mens baie verskillende soorte tamboeryne kry, is die meeste se basiese vorm en struktuur dieselfde. Tamboeryne is rond en lyk amper soos ’n klein trom. Die raam word meestal van hout of plastiek gemaak. Sommige het ’n vel (“skin”) oor, net soos ’n trom, terwyl sommige ’n vel aan die bo- én onderkant het.

Aan die kant van die tamboeryn (reg rondom), vind ’n mens klein simbale (“zills”) wat soos klein weergawes lyk van die groot simbale (koper slaginstrumente) wat deel van tromspelers se tromstelle uitmaak. Die meeste tamboeryne het sowat 20 pare van dié simbaaltjies of metaalklingels.

’n Tamboeryn word meestal met die hand vasgehou (sommige het gleuwe of spesiale vashouplek), maar kan ook op ’n staander gemonteer word. Dit word bespeel deur met jou hand of vingers op die vel of plat oppervlak te slaan, wat bo-op soos ’n trom klink en aan die kant van die tamboeryn die klein simbale laat klingel. Die tamboeryn kan ook gespeel word deur dit teen jou been te slaan of dit te skud. 3

Dansgroepe gebruik die tamboeryn as deel van hul bewegings (choreografie). Hulle maak soms kleurvolle materiaal of linte aan die tamboeryn vas en swaai en slaan die tamboeryn hoog bo hul koppe. Nie net hoor ’n mens die tamboeryn dan duidelik nie, maar dit lyk ook pragtig as die linte op die maat van die musiek saam met die danser beweeg.

Waar kom die tamboeryn vandaan?

Tamboeryne bestaan sedert antieke tye in antieke Rome, Griekeland, Indië, die Midde-Ooste en Mesopotamië.

Die tamboeryn is deur handelaars en musikante na Europa geneem. In die Middeleeue was die tamboeryn algemeen in Europa. Dit kan gesien word in beeldhouwerke uit die 2de eeu in Rome, en het vir baie eeue feitlik onveranderd gebly. Gedurende die Middeleeue was die tamboeryn algemeen in Europa. 4

Die tamboeryn as deel van volksvermaak is nie net beperk tot Europa nie – dit kom ook voor in baie ander kulture, byvoorbeeld dié van China, Indië, Peru, Groenland, die Kaukasus en Sentraal-Asië.

Een van die vroegste komponiste wat die tamboeryn in sy komposisies gebruik het, was Wolfgang Amadeus Mozart. Tsjaikowski het die tamboeryn ingesluit in die beroemde ballet Die Neutekraker. Die Carmen-opera van Georges Bizet bevat weer die beroemde Habanera-aria met die tamboeryn wat in elke koorgedeelte gehoor kan word.

Die Romani-mense (Sigeuners – rondreisende groepe mense of families) het die tamboeryn as ’n slaginstrument gebruik, en dit is gereeld deur die gehoor gestuur of aangegee om geld ná ’n vertoning in te samel.

Aan die einde van die 19de eeu het die Heilsleër (The Salvation Army) die tamboeryn as een van hul belangrike ritme-instrumente opgeteken. Hulle verkies die term timbrel, die Engelse vertaling vir die Hebreeuse woord toph. Sedert 1945 behels die optredes van die Heilsleër dikwels uitgebreide tamboeryne-choreografie wat deur groepe in militêre styl uitgevoer word, meer vir visuele vertoon as vir musikaliteit.

Vandag is die tamboeryn veral algemeen in Mediterreense lande, waar dit dien as ’n ritme-instrument wat liedjies en danse begelei. Dit word óf met die hand geslaan óf geskud.

Moderne musici gebruik ook gereeld die tamboeryn as deel van hul vertonings. Dit is gewoonlik die hoofsanger van ’n orkes of sanggroep wat die tamboeryn (dikwels saam met ’n ander instrument soos ’n kitaar of mondfluitjie) bespeel. Van die bekendste sangers of groepe wat die tamboeryn gebruik (het), sluit in Freddy Mercury (van Queen), Robert Plant, Peter Gabriel, Roger Daltrey, Stevie Nicks en Jim Morrison. U2 se tromspeler, Larry Mullen, het ’n tamboeryn wat op ’n staander deel van sy tromstel vorm.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Instrumente vir kinders

 

Perkussie-instrumente vir kinders

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 Januarie 2022 | Bygewerk op 3 April 2024