Vinnige feite

  • Die Titanic was ’n luukse Britse stoomskip wat in die vroeë oggendure van 15 April 1912 gesink het nadat dit ’n ysberg getref het. Dit het gelei tot die dood van meer as 1 500 passasiers en bemanningslede. 6 Die Titanic se enjins het elke dag meer as 800 ton steenkool gebruik. Die topspoed van die skip was 24 knope (spoed word op water in knope gemeet; dit was net meer as 44 km per uur). Stoom van die ketels van die Titanic het deur drie stapels (skoorstene) ontsnap. Bouers het ’n vierde stapel bygevoeg omdat hulle gedink het dit laat die skip beter lyk. 7
  • Die dodelikste stoombootongeluk in die Amerikaanse geskiedenis is ook die ergste maritieme ramp in dié land se geskiedenis. Die Sultana was ’n stoomboot op die Mississippi-rivier wat op 27 April 1985 ontplof het. Die werklike dodetal is onbekend, maar volgens beramings is tot 1 160 mense dood. 8
  • Dieselenjins het stoomenjins mettertyd vervang en vandag word skroefaangedrewe skepe gebruik wat met diesel aangedryf word. Skepe van 100 000 ton en meer word vandag gebou, en ongeveer 92% van die wêreld se handelsgoedere word met skepe vervoer. 9
  • In Suid-Afrika was die Union-Castle Line (amptelik bekend as die Union-Castle Mail Steamship Company) die bekendste omdat die maatskappy van 1876 tot 1977 die kontrak gehad het om pos van Brittanje na Suid-Afrika te vervoer. Dié posdiens is gekenmerk deur streng stiptelikheid en namate tegnologie verbeter het en skepe vinniger kon vaar, het die reis van Kaapstad na Southampton in Engeland deur die jare afgeneem van 44 dae tot 16 dae, toe tot 14 dae en uiteindelik (1965) tot 11,5 dae. 10
  • In 1966 het Safmarine (destyds die grootste skeepvaartonderneming in Suid-Afrika) twee posskepe van Union-Castle gekoop en ’n gesamentlike Union-Castle-Safmarine-posdiens begin.
Foto: iStock

Voordat treine, motors, vragmotors en vliegtuie bestaan het, is riviere gebruik om te reis. Dit het mense en goedere van die een plek na die ander vervoer. Rivierreise was dikwels stadig omdat die snelheid van die reis afgehang het van die rivierstroom en die bemanning van die boot. Dit het alles verander toe stoomaangedrewe bote uitgevind is. 1

Enige seevaartuig wat energie vanaf ’n stoomaangedrewe enjin kry, word ’n stoomboot genoem. Die term beskryf egter meestal die soort bote en skepe wat aangedryf word deur die draai van groot wiele (“paddlewheel boats”) en wat dikwels in die 19de eeu op riviere in die Verenigde State van Amerika (VSA) gebruik is.

Hierdie bote het gebruik gemaak van die stoommasjien wat in die vroeë 18de eeu deur die Engelsman Thomas Newcomen uitgevind is, en wat later verbeter is deur James Watt van Skotland. Verskeie Amerikaners het probeer om hierdie tegnologie vir seereise toe te pas. Die VSA het destyds vanaf die Atlantiese kus na die binneland toe uitgebrei. Daar was ’n behoefte aan doeltreffender riviervervoer, want dit het baie krag gekos om ’n vaartuig teen ’n rivierstroom te laat vaar.

Deur die geskiedenis

In 1787 het John Fitch ’n model van die stoombootkonsep op die Delaware-rivier gedemonstreer, maar die eerste werklik suksesvolle ontwerp het eers twee dekades later verskyn. Dit is gebou deur Robert Fulton met die hulp van Robert R. Livingston, die voormalige Amerikaanse minister in Frankryk. 2

Fulton se vaartuig, die Clermont, het sy eerste reis in Augustus 1807 onderneem, teen ’n indrukwekkende snelheid van agt kilometer per uur met die Hudson-rivier op van die stad New York na Albany, New York. Fulton het toe begin om hierdie roete vir betalende kliënte te bedryf. 3

Stoombootverkeer het geleidelik gegroei, veral langs die Mississippi-rivier en ander rivierstelsels in die VSA. Daar was talle soorte stoombote wat verskillende funksies gehad het. Die algemeenste soort was die pakkieboot (“packet boat”). Dié bote het mense en kommersiële vrag soos katoenbale vervoer. In vergelyking met ander soorte vaartuie van daardie tyd, het stoombote die tyd en koste van die versending van goedere na verafgeleë markte aansienlik verminder. Om hierdie rede was hulle baie belangrik in die groei en konsolidasie van die Amerikaanse ekonomie voor die burgeroorlog.

Stoombote was egter ’n redelik gevaarlike vorm van vervoer vanweë hul konstruksie en die aard van hoe dit gewerk het. Die ketels wat gebruik is om stoom te skep, het dikwels ontplof as te veel druk opgebou het. Soms het goed soos stompe of rotse in die rivier die bote laat sink. Dit het beteken dat stoombote ’n kort lewensduur van gemiddeld net vier tot vyf jaar gehad het, wat dit minder kostedoeltreffend as ander vorme van vervoer gemaak het.

In die latere jare van die 19de eeu is stoomaangedrewe skepe dikwels gebruik om die Atlantiese Oseaan oor te steek. Die Great Western, een van die vroegste stoomaangedrewe skepe wat aangepas is om op die see te vaar, was groot genoeg om meer as 200 passasiers te vervoer. Stoomskepe het die gewildste manier van transatlantiese vragversending asook passasiersreise geword. Miljoene Europeërs het aan boord van stoomskepe na die VSA geëmigreer.

Die meeste stoomaangedrewe bote het ’n soortgelyke ontwerp gehad, maar verskillende soorte bote het verskillende take gehad. Sleepbote het vaartuie beweeg deur hulle op en af in riviere te stoot; veerbote het mense oor riviere vervoer; “snagboats” het die rivier van gevare skoongemaak; pakkiebote het goedere, pos en mense vervoer; en stoombote wat “fuelers” genoem is, het ander stoombote langs die riviere ontmoet en hulle van hout en steenkool of olie voorsien. Die bekendste soort stoomboot was die vertoonboot (“showboat”). 4

Vertoonbote was die drywende paleise van die 19de en vroeë 20ste eeu. Baie vertoonbote was pragtig en met teaters, galerye, sale en kroeë toegerus. Hulle het op en af in riviere gereis en toneelstukke en musiek na rivierdorpe gebring. Hoewel dié bote opwinding en vermaak vir dorpe gebied het, was dit nooit baie algemeen nie. In 1900 was daar minder as 30 vertoonbote, en teen 1930 was daar minder as tien. 5

Teen die 1900’s het treine stoomskepe verbygesteek as die gewildste manier van vervoer. Die meeste stoombote het tot niet gegaan, behalwe ’n paar wat vandag as toeriste-aantreklikhede as restaurante en selfs casino’s gebruik word.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video om nog meer te leer

Robert Fulton – History-kanaal

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 24 Januarie 2022 | Bygewerk op 9 Oktober 2023