Vinnige feite

  • Ons wonder dikwels hoekom mense op ou foto’s nie glimlag nie. Sommige historici beweer dit is omdat die sluiterspoed van ou kameras so stadig was. Ander sê weer dit is omdat mense se tande waarskynlik baie sleg gelyk het en dat dit nie mode was om vir die kamera te glimlag nie. 5
  • Dilish Parekh, ʼn fotojoernalis van Moembai in Indië, het die grootste kameraversameling. Hy besit altesaam 4 425 antieke kameras. 6
  • Die wêreld se eerste digitale kamera is in 1975 deur Steven Sasson uitgevind. Hy het destyds by Eastman Kodak gewerk. Steven se kamera het ongeveer 3,6 kg geweeg en die gehalte en grootte van die foto’s was slegs 0,01 MP (megapieksels). 7
  • Meer as 54 000 foto’s word na raming elke sekonde geneem. 8
  • Moenie dink dat snaakse katfoto’s en -video’s ʼn tendens is wat ʼn paar jaar gelede ontstaan het nie. Katfotografie het sy oorsprong in die 19de eeu. Hierdie neiging het in die 1870’s soos ʼn veldbrand versprei toe Harry Pointer ʼn foto van sy kat geneem het. Katfoto’s en -video’s is van die gewildste soektogte op Google. 9
  • Die Franse uitvinder Gaspard-Félix Tournachon het die eerste lugfoto in 1858 geneem. Nadar (soos hy andersins bekend was) was ʼn lugballonvaarder wat gereeld bo Parys in Frankryk gevlieg het. Ongelukkig is daar geen inligting of bewyse meer van dié foto’s nie. 10
  • Toe die Apollo 11-sending Maan toe is, het hulle 12 Hasselblad-kameras saamgeneem. Hulle is nog steeds op die maan. Die ruimtevaarders het besluit die kameras is te swaar om terug te bring en het eerder plek gemaak om 25 kg se rotsmonsters saam te bring. Gelukkig het hulle darem die film saamgebring. 11
  • Die eerste kameraflitse was soos ʼn klein ontploffing. Lig is geskep deur ʼn mengsel van kaliumchloried en aluminium. As dit verkeerd gemeng is, was daar egter ʼn geweldige ontploffing. 13
Foto: iStock

ʼn Kamera is ʼn wonderlike uitvinding. Dink net hoe lekker dit is om ons gunstelingoomblikke met ons selfoonkameras vas te vang. Ons kan dié foto’s dadelik sien, vir ons vriende stuur of op sosiale media deel.

Lank voordat ons selfone met kameras gehad het, was kameras baie groot, en dit was duur om foto’s te laat ontwikkel. Jy kon nie sommer net links en regs foto’s neem nie en moes jou foto’s laat ontwikkel (druk) het – dit het verskeie dae geduur voordat jy kon sien hoe jou vakansiefoto’s uitgekom het.

ʼn Kamera is ʼn optiese instrument wat gebruik word om mense en voorwerpe af te neem. Sommige kameras vang enkele, stilstaande beelde vas, wat foto’s genoem word. Rolprent- en videokameras neem bewegende beelde op. Dit word films, rolprente of video’s genoem.

Die woord kamera kom van die Latynse woorde camera obscura, wat ‘donkerkamer’ beteken. Dit is omdat die vroegste eksperimente met die vaslegging van beelde of foto’s in ʼn vertrek of kamer wat altyd donker is, plaasgevind het. 1

Verskillende soorte kameras

Tradisionele kameras

ʼn Tradisionele kamera is ’n ligdigte houer (ʼn houer wat heeltemal donker aan die binnekant is). Dié houer of boksie het ʼn gaatjie of opening wat die lig vir ʼn sekere tydperk (ʼn paar sekondes) inlaat. Die deel wat die sluiter genoem word, maak die opening oop en toe. Dit beheer die hoeveelheid lig wat in die kamera inkom en kan soms gestel word om langer of korter oop te bly (met ander woorde meer of minder lig in te laat). 2

Die lig van ʼn voorwerp gaan deur een of meer lense in die kamera. Die lense fokus die lig op film wat in die kamera geberg is. Die chemies bedekte film reageer op die lig en vang ʼn beeld of prentjie van die voorwerp vas. Fotograwe haal dan die film uit die kamera. Met spesiale chemikalieë “ontwikkel” hulle die film om afdrukke van die prent op papier te maak.

Daar is baie soorte tradisionele kameras, en sommige is volledig outomaties. Dit beteken dat die kamera self fokus (die beeld skerp maak) en laat die regte hoeveelheid lig inkom, ten einde ʼn goeie foto te neem. Die fotograaf hoef net die kamera te wys na die voorwerp wat hy wil afneem en die knoppie te druk. Met ander kameras kan die fotograaf die fokus asook die hoeveelheid lig wat deurgelaat word, met die hand beheer.

Digitale kameras

Die koms van digitale kameras het ook die einde van ʼn era vir konvensionele kameras beteken. Dié deurbraaktegnologie het die einde van maatskappye soos Kodak beteken. Kodak is in Januarie 2012 bankrot verklaar. Duisende Kodak-winkels oor die hele VSA het hul deure gesluit omdat mense nie meer foto’s ontwikkel het nie.

ʼn Digitale kamera werk op dieselfde manier as ʼn tradisionele kamera. Dit vang egter die beeld op ʼn elektroniese skyfie eerder as op film vas. Die skyfie in ʼn digitale kamera is ʼn ligsensor wat die beeld in elektriese seine verander. Die meeste digitale kameras het ʼn klein skerm wat die foto wat jy nou net geneem het, dadelik vertoon. Die kamera kan ook die foto’s op ʼn geheuekaart stoor. Fotograwe kan die gestoorde foto’s dan na ʼn rekenaar oordra. Só kan hulle na die foto’s op die skerm kyk, dit per e-pos stuur of selfs uitdruk.

Digitale kameras het soos tradisionele kameras ook verstellings om onder meer gebeure wat teen ʼn vinnige spoed plaasvind (soos ʼn atleet wat hardloop of ʼn renmotor wat om die baan jaag), vas te vang, sonder dat die persoon of voorwerp wasig (blurry) of streperig vertoon.

Film- en videokameras

Filmkameras is soos tradisionele kameras, maar neem bewegende beelde op. Die outydse film- of rolprentkameras werk deur baie stilstaande foto’s agtereenvolgens (vinnig ná mekaar) te neem – gewoonlik 24 of 30 per sekonde. Dié beelde word op ʼn groot filmrol vasgevang en word soos die tradisionele kamera se film ontwikkel. Wanneer ʼn filmprojektor die filmrol laat draai en die prente vinnig een ​​ná die ander wys, lyk dit asof die beelde beweeg. Videokameras (camcorders) neem bewegende beelde op magneetband (videoband) op. Dit word egter byna glad nie meer gebruik nie. Digitale videokameras werk net soos ʼn digitale kamera en stoor die bewegende beelde as elektriese seine op ʼn geheuekaart.

Vandag se slimfone is met uitstekende kameras toegerus wat dieselfde – en selfs beter kwaliteit – foto’s en video’s as ander kameras kan neem. Beroepsfotograwe verkies egter gewone kameras en baie gebruik steeds kameras wat met film werk omdat die gehalte anders as dié van digitale foto’s is.

Deur die geskiedenis

Die kameras wat ons vandag ken, word gebruik om foto’s en video’s te neem, maar die eerste kamera (camera obscura) het glad nie ʼn foto geneem nie. Die eerste kamera het ʼn beeld onderstebo deur glas op ʼn muur of tafel geprojekteer. Hierdie kamera se beeld was nie permanent nie, tensy iemand die hele prent op papier oorgeteken het. Die tipiese camera obscura was buitengewoon groot – sommige was so groot soos ‘n persoon se slaapkamer – en is slegs deur mense soos wetenskaplikes gebruik.

Honderde jare nadat die eerste kamera uitgevind is, het Nicéphore Niépce in 1816 ʼn baie klein weergawe van die camera obscura geskep en ʼn stuk papier wat met silwerchloried bedek was, bygevoeg. Die stuk papier het donkerder geword waar die lig dit getref het en sodoende ʼn kopie van die beeld wat deur die camera obscura geprojekteer is, geskep. Nietemin was hierdie beeld ook net tydelik. In 1826 of 1827 het Niépce daarin geslaag om ʼn foto te neem wat nie vervaag het nie, wat die wêreld se oudste bekende oorlewende foto is.

In 1839 het ʼn uitvinder met die naam Louis Daguerre die oorspronklike camera obscura verander om ʼn meer permanente beeld te maak. Die eerste foto van ʼn mens word aan Daguerre toegeskryf. Dié foto is in 1838 geneem. Dit beteken dus dat alle foto’s van mense ouer as 1838 is!

Daguerre het ʼn vel papier met silwer jodium behandel, die beeld met die kamera op dieselfde manier as Niépce geprojekteer, maar dié keer die beeld met kwikdamp en natriumchloried ontwikkel. [Lees hier oor kwik.] Dit het die beeld langer laat hou. Hierdie tipe kamera is die daguerreotipe gedoop. In 1840 het ʼn ander uitvinder, Henry Fox Talbot, die kalotipe geskep. Die kalotipe benodig ʼn langer blootstellingstyd om die beeld permanent te laat word, soms selfs ‘n hele uur. 3

In die vroeë 1900’s is die 35 mm-kamera deur Oskar Barnack uitgevind. Met die 35 mm-formaat kon hoëkwaliteitfoto’s op filmrolle geneem word. Gedurende die res van die 1900’s is daar heelwat verbeteringe aan kameras aangebring; funksies is bygevoeg en die kwaliteit het verbeter. Fotografie as ʼn stokperdjie het baie gewild geword en is as kunsvorm erken, met foto’s wat in baie kunsgalerye as kuns aanvaar is. Fotojoernalistiek het ook ʼn belangrike deel van storievertelling en die oordra van die nuus geword. 4

In 1907 het Auguste en Louis Lumière die Autochrome-proses bekendgestel en die eerste praktiese kleurfotoproses vervaardig.

In die vyftigerjare het Asahi (wat later Pentax geword het) die Asahiflex bekendgestel en Nikon het sy Nikon F-kamera bekendgestel. Die sogenaamde SLR-kameras (Single-lens Reflex of enkellensrefleks) sou oor die volgende paar dekades gewild bly tot die uitvinding van die digitale kamera.

Die SLR-kamera stel jou in staat om deur ’n gaatjie te loer na dit wat jy wil afneem en jy kan ook verskillende lense op dié kamera gebruik. Dit het die wêreld van fotografie vir gewone mense ontsluit. Die latere digitale weergawe of DSLR werk op dieselfde manier, maar het ook ’n skerm waarop jy die beeld kan sien wat jy gaan afneem.

Woordbank

agtereenvolgens Die een na die ander; in volgorde; opeenvolgend.
beroepsfotograwe Iemand wie se werk dit is om foto’s te neem en daarvoor betaal word; professionele fotograaf, persfotograaf (vir koerante), kunsfotograaf, ens.
chemikalieë Skeikundige stof.
daguerreotipe Fotografiese proses van Daguerre (Franse uitvinder, 1839) waarby die ligbeeld deur kwikdamp op ’n met jodium bereide plaat ontwikkel word (en met ‘n silhoeët gevorm word).
digitale Iets waarby ’n stelsel betrokke is wat data elektronies bewaar.
donkerkamer Kamer wat altyd donker is, wat vir die ontwikkeling van fotografiese plate gebruik word; filmkamer, ontwikkelingskamer.
elektronies Wat met ’n elektron of met elektronika in verband staan;
films Dun, vliesagtige selluloïedstof vir foto’s en rolprente wat ’n filmrol genoem word.
filmprojektor Projeksieapparaat.
fokus Instel, skerpstel.
fotojoernalistiek Fotojoernalistiek is ’n vorm van joernalistiek wat ’n nuusstorie deur kragtige fotografie vertel.
geheuekaart ’n klein, plat flitsskyfie (flash drive) wat veral in digitale kameras en selfone gebruik word.
jodium Niemetaalelement, verwant aan chloor en broom, wat in klein hoeveelhede in die natuur voorkom en gebruik word in die geneeskunde en fotografie.
konvensionele Standaard, tradisioneel, gebruiklik.
kwikdamp Damp/wasem van verhitte kwik of van chemiese reaksies.
lense ’n Stuk glas wat aan een of albei kante gebuig is en in brille, mikroskope, kameras, ens. gebruik word.
ligsensor ’n Ligsensor is ‘n tipe fotodetektor (ook genoem fotosensors) wat lig opspoor. Verskillende tipes ligsensors kan gebruik word om beligting te meet, te reageer op veranderinge in die hoeveelheid lig wat ontvang word, ens.
magneetband Band bedek met magnetiese deeltjies vir die opname van klanke of beelde, of vir die opberging van inligting.
natriumchloried Gewone sout, tafelsout.
outomaties Wat vanself werk/beweeg.
optiese Wat te make het met prosesse/masjiene wat te doen het met lig, beelde en hoe ons dinge sien/waarneem.
projektor Toestel waarmee beelde op ’n verligte skerm gegooi word, projeksielamp, projeksielantern.
rolprente Fliek.
silwerchloried Silwerchloried is ’n chloried van silwer wat natuurlik voorkom as die mineraal chlorargyriet. Dit word gebruik om fotografiese papier en pottebakkery-glasuur te maak.
skyfie Fotografiese plaatjie/foto in ’n raampie wat op ‘n skerm geprojekteer kan word.
sluiter Hortjie voor die lens van ’n kamera.
tradisionele Betreffende tadisies wat van geslag tot geslag oorgelewer word.
verstellings Instel, regstel.
video’s Benaming vir televisiefilm; beeldopname.
wasig Soos met ’n waas of sluier bedek, newelagtig, dynsig, onduidelik.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer

Só werk ’n kamera

Die geskiedenis van die kamera in vyf minute

ʼn Vlugtige historiese oorsig van fotografie

 

 

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 2 Maart 2023 | Bygewerk op 29 Februarie 2024