Vinnige feite

  • Ongeveer 1,9% van die oseane se massa bestaan uit chlooratome.
  • Vir ’n gas het chloor ’n taamlike hoë digtheid – 3,21 gram per liter – teenoor byvoorbeeld lug wat ongeveer 1,29 gram per liter is.
  • Chloor word gebruik om chloorfluoorkoolstof, algemeen bekend as CFC te maak. Deur die jare is dit algemeen gebruik in dinge soos lugversorgers en spuitkannetjies. Ongelukkig dra CFC  by tot die vernietiging van die oseaanlaag, en die gebruik daarvan word vandag in die meeste gevalle verbied. 1
  • Chloor kom die derde meeste van al die elemente in die oseane op aarde voor. Dit kom ook die 21ste meeste van al die elemente in die aardkors voor, en dit kom die negende meeste van al die elemente in die menslike liggaam voor. 1
  • In Suid-Amerika is daar ’n sekere soort padda wat in hulle vel ’n gif het wat ook ‘n chloorverbinding bevat. Hierdie gif kan groter diere verlam laat of selfs doodmaak. Inwoners van die reënwoude in Colombië het in vroeër jare die punte van hulle spiese oor die vel van hierdie paddas geskraap of gevryf om van die gif aan die spiese te kry. 2
Foto: iStock

Die meeste van ons ken sekerlik daardie lekker gevoel om op ’n warm somersdag in ’n swembad in te duik om heerlik af te koel. En saam met die koel water kom ook die fyn, kenmerkende reuk waaraan ’n mens so gewoond is dat jy dit soms nie eers meer ruik nie – daardie reuk is die reuk van chloor wat in die meeste swembaddens gebruik word om die water skoon te hou. Dit is egter nie die enigste gebruik van chloor nie; kom ons kyk ook na die ander maniere waarop chloor in ons alledaagse lewens gebruik word.

Wanneer en deur wie is dit ontdek?

Chloorgas is vir die eerste keer deur ’n Sweedse chemikus met die naam Carl Wilhelm Scheele in 1774 geproduseer. Vir baie jare daarna het wetenskaplikes gedink dat daar suurstof in die gas is. Eers in 1810 het ’n Britse chemikus, sir Humphry Davy, bewys dat dit eintlik ’n afsonderlike element is. Dit was ook hy wat die naam benoem het. Hy het dit eers ‘chlóros’ genoem en dit later ‘chloorgas’ of ‘chloor’ begin noem. 1 Die naam “chloor” is afkomstig van die Griekse woord chlóros wat ‘geelgroen’ beteken. 2

Carl Wilhelm Scheele

Waar kom dit voor?

Chloor kom in baie groot hoeveelhede in die aardkors voor. Natriumchloried (NaCl) wat in rotse vasgevang word, word deur water opgelos en beland dan in riviere en ander waterweë wat uiteindelik in die see uitmond. Natriumchloried is ’n wateroplosbare verbinding en vorm dus maklik ’n oplossing. 3 Dit is die rede waarom ons die verbinding natriumchloried, beter bekend as tafelsout, in die see vind. Van die minerale in die aardkors wat chloor bevat, is onder meer haliet (NaCl) en karnalliet. 1

Chloor is ’n baie reaktiewe gas wat ’n hele aantal verbindings met ander elemente kan vorm. Dit kom ook nie in sy suiwer vorm in die natuur voor nie. 4

Waarvoor word dit gebruik?

Miljoene kilogramme chloor word elke jaar geproduseer vir gebruik in verskillende industrieë. Dit word, onder meer, gebruik in ’n groot verskeidenheid produkte soos insekdoders, skoonmaakmiddels, farmaseutiese middels, tekstiele en plastiek.

Swembaddens

Chloor word in swembaddens gebruik om dit veilig en skoon te hou deur bakterieë, kieme en alge te vernietig.

Drinkwater

Chloor word ook gebruik om bakterieë in drinkwater te vernietig, sodat dit veilig is vir mense om te drink.

Papier

Wanneer jy weer op papier skryf, dink ’n bietjie hieraan: Wetenskaplikes gebruik chloor om papier mee wit te maak – dit bleik die papier sodat alle kleur verdwyn.

Bleikmiddels

Omdat chloor kieme doodmaak, word dit in ontsmettingsmiddels gebruik, en dit vorm die basis van die meeste bleikmiddels. 1 Dit maak, onder meer, jou wit klere weer baie mooi wit. Maar moet dit net nie gebruik saam met donker klere nie, want die chloor sal sommer die kleur uit daardie klere ook haal!

Tafelsout

Tafelsout (natriumchloried; NaCl) is ’n chemiese verbinding van een chloor- en een natriumatoom. Dit kom vanuit die see na jou tafel toe.

Plastiek

Kyk bietjie na ’n besproeiingstelsel in ’n tuin. Om te verseker dat die hele tuin besproei word, word plastiekpype gebruik. Hierdie pype word van chloor gemaak. Hierdie soort plastiek word polivinielchloried of PVC genoem. 5 PVC word ook gebruik in voorwerpe soos vensterrame, die bekleding van motors, die isoleermateriaal van elektriese bedrading, die plastieksakkies waarin bloed gestoor word, asook in vinielvloere. 6

Basiese eienskappe van chloor

Atoomgetal (getal protone in die kern): 17

Simbool op die periodieke tabel: Cl

Relatiewe atoommassa (Ar): 35,453

Fase van materie teen kamertemperatuur: Gas

Kookpunt: -34,04°C

Smeltpunt: -101,5°C

’n Nota oor atoommassa

’n Massaspektrometer kan gebruik word om atoommassa akkuraat te bereken. Wetenskaplikes het ’n standaardmassa van 12 ame (atoommassa-eenheid) aan die koolstofatoom (koolstof-12) toegeken. Die massa van koolstof-12 is 1,99 x 10-26 kg, en ander atome se massa kan relatief tot hierdie atoommassakonstante bepaal word.

Vandag praat wetenskaplikes van die relatiewe atoommassa (Ar). Hierdie waarde het geen eenheid nie, want dit is slegs ’n syfer wat aandui hoeveel maal groter een atoom van die spesifieke element is as een twaalfde van die massa van ’n koolstof-12-atoom. 7

Bohr-model

Die Deense wetenskaplike Niels Bohr (1885-1962) het ’n atoommodel voorgestel. Hierdie model word soms die planetêre atoommodel genoem. Die elektrone beweeg in hul spesifieke energievlakke al óm die kern. Deur die aantal energievlakke en elektrone te tel, kan die atoom maklik uitgeken word. 7

Niels Bohr

’n Atoom is die kleinste deeltjie van ’n chemiese element wat selfstandig of in verbinding met ander atome kan bestaan. Atome bestaan weer uit kleiner deeltjies wat subatomiese deeltjies genoem word. Daar is drie soorte subatomiese deeltjies, naamlik elektrone, protone en neutrone. Die chloor-atoom het ’n atoomgetal van 17. Dit beteken dat die atoom 17 protone het. Atome het ’n neutrale lading, en daarom is daar ook 17 elektrone wat óm die kern beweeg. Dit het ook 18 neutrone wat saam met die protone in die kern voorkom. Chloor het twee stabiele isotope – Cl-35 en Cl-37. In die natuur word chloor in ’n mengsel van hierdie twee isotope gevind. 1

Is chloor gevaarlik vir mense?

Chloor het baie praktiese gebruike op aarde, en verbeter en vergemaklik die lewe van mense op heelwat maniere, maar chloor kan ook baie gevaarlik wees vir mense. Chloorgas het ’n baie skerp reuk en is giftig vir mense. Wanneer ’n mens te veel chloorgas inasem, kan dit jou dood veroorsaak. Die Duitsers het in die Tweede Wêreldoorlog chloorgas gebruik om soldate van die Geallieerde Magte te vergiftig. 1 Dit was die eerste keer dat gas in chemiese oorlogvoering gebruik is. 8

Vergiftiging deur chloor gebeur meestal deur middel van inaseming. Dit kan veroorsaak dat die oë, vel en lugweg geïrriteerd word en kan lei tot ’n seer keel en hoes. Indien ’n mens groot hoeveelhede inasem, kan dit lei tot probleme met asemhaling, en dit kan mens se bors laat toetrek.

Omdat chloor swaarder as lug is, sal daar meer gas naby die vloer wees wanneer chloorgas vrygestel word, en veral kleiner kinders sal meer daaraan blootgestel wees omdat hulle korter is as volwassenes en dus nader aan die vloer is.

’n Mens kan ook chloor inkry indien jy vloeistof drink waarin daar chloor is, soos bleikmiddels wat in die huis gebruik word. Indien dit gebeur, kan dit inwendige skade veroorsaak.

Daar is nie ’n teenmiddel vir chloorvergiftiging nie. Indien chloorgas in jou oë gekom het, is dit belangrik om jou oë met baie water uit te spoel. Maar omdat daar verskillende soorte skade is wat deur chloor veroorsaak kan word, is selfs hierdie raad nie altyd die regte raad om te volg nie. 9

Volgens dr. Nitin Seetohul, ’n gifontleder en forensiese gifkundige aan die Nottingham Trent-universiteit in Engeland, het chloor siektes soos cholera en ingewandskoors in meer ontwikkelende lande help uitgewis. Dit is egter slegs voordelig as die aanbevole inhoud van een deel chloor in een miljoen dele water gebruik word. 10 Dit raak egter problematies wanneer mense hierdie aanbeveling oorskry en twee tot vyf dele chloor byvoeg om byvoorbeeld swembadwater skoon te hou.

In België is daar in ’n ondersoek bevind dat kinders wat een keer per week in ’n swembad wat met chloor behandel is, swem, meer geneig is om asma te ontwikkel as kinders wat nooit in ’n swembad wat met chloor behandel is, swem nie. Kinders word meer as volwassenes deur die gevare van chloor in swembadwater beïnvloed omdat hulle gewoonlik vir langer tye swem en ook omdat hulle meer dikwels water insluk terwyl hulle swem en speel. 7

Indien ’n mens ernstige blootstelling aan chloorgas gehad het, kan dit ly tot edeem, dit is wanneer die longe met vloeistof gevul word. Chloorgas is so giftig dat slegs een deel daarvan in ’n duisend dele lug binne ’n paar minute iemand se dood kan veroorsaak. 11

Woordbank

aardkors Die buitenste rotslaag van die aarde wat 100 tot 150 km dik is.
alge Wier wat deur spore voortplant, mens sien alge teen die mure van ’n swembad en dit vorm soms ook in stilstaande water.
atome Kleinste deeltjie van ’n chemiese element wat selfstandig of in verbinding met ander atome kan bestaan.
atoomgetal Die getal protone in die kern van die atoom.
atoommassa Word ook massagetal genoem. Dit is die totale aantal protone en neutrone in die kern van die atoom.
bakterieë Klein organisme wat infeksie en besmetlike siekte veroorsaak.
bekleding Bedekking wat gebruik word om iets te versier of beskerm.
bleik Om iets wit te maak, of dit wit te laat word.
chemiese oorlogvoering Wanneer daar oorlog gemaak word sonder om wapens soos gewere en bomme te gebruik, maar eerder chemiese middels soos gas gebruik word om die vyand dood te maak.
elektrone Baie klein, negatief gelaaide deeltjies (partikels) wat in die energievlakke van ’n atoom rondbeweeg. Elektrone maak die vorming van chemiese verbindings moontlik. 4
element Dit is ’n stof wat saamgestel is uit atome wat dieselfde atoomgetal het.
Geallieerde Magte Bondgenote teen Duitsland en die Spilmoondhede (Italië, Japan, ens.) in die Eerste en Tweede Wêreldoorlog. 12
halogeen Enigeen van ’n aantal chemiese elemente in groep 17 wat in die kategorie niemetale van die periodieke tabel voorkom. Dit is die mees reaktiewe groep elemente. Hierdie elemente vorm soute wanneer dit met metale reageer. Al die halogene het sewe elektrone in hul buitenste energievlak.
isoleermateriaal Met ’n materiaal soos plastiek bedek, byvoorbeeld ‘n elektriese draad.
isotope Enigeen van twee of meer vorme van ’n element wat dieselfde atoomgetal (protone) en eenderse chemiese eienskappe het, maar waarvan die atoommassa en radioaktiewe gedrag verskil. Die aantal protone en elektrone is dus dieselfde, maar die aantal neutrone verskil.
neutrone Neutrale deeltjies (partikels) wat geen elektriese lading het nie en saam met protone in die kern van die atoom voorkom. ’n Neutron en proton het dieselfde gewig. 4
protone Positief gelaaide deeltjies (partikels) wat in die kern van ’n atoom voorkom en die elektrone in posisie hou. Atome het ewe veel protone as elektrone en het dus ’n neutrale lading. 4
tekstiele  Materiaal wat gespin en geweef is.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor chloor

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor chloor

Proefneminge met chloor

Chloor: hoe dit werk en waarom ons dit gebruik

Atoomstruktuur en Bohr-model vir die chlooratoom (Cl)

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 5 Desember 2023 | Bygewerk op 18 Desember 2023