Vinnige feite

  • Julius Malema, die leier van die EFF, het ʼn graad in kommunikasie en ’n honneursgraad in filosofie aan Unisa voltooi.
  • Toe Malema as jeugleier van die ANC verkies is in 2008, het hy sy opponent met net 137 stemme gewen.
  • Malema was 32 jaar oud toe hy die EFF in 2013 gestig het.
  • Die EFF se verkiesingsmanifes vir die 2024-verkiesing is ‘n lywige 260 bladsye.

 

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (Economic Freedom Front of EFF) is ’n Suid-Afrikaanse politieke party wat sedert sy stigting in 2013 ’n groot invloed op die land se politiek gehad het. Hierdie party is aan die ver linkerkant van die politieke spektrum, wat beteken die meeste van sy idees is radikaal en baie kontroversieel.

Om “links” in die politiek te wees, beteken gewoonlik ’n ondersteuning vir veranderings wat sosiale gelykheid moet bevorder. Linkse partye glo gewoonlik in sterker beheer en regulering deur die regering, veral in die ekonomie. Hulle wil ook rykdom herverdeel vanaf ryker na armer mense deur hoër belastings en sosiale programme.

Hoekom is die EFF gestig?

Die EFF is in 2013 deur Julius Malema gestig. Hy was in daardie stadium die leier van die ANC Jeugliga. Ná ʼn openbare bakleiery met die ANC is Malema geskors en uit die party geskop, waarna hy besluit het om sy eie party te begin. 1

Julius Malema, leier van die EFF.

Malema en die ANC het vasgesit oor ʼn paar dinge wat tot dié breuk gelei het:

  1. Ideologiese verskille:
    Malema en sy volgelinge het gevoel die ANC het weggeskuif van sy oorspronklike bevrydingsideale. Die ANC het, volgens hulle, nie radikaal genoeg opgetree om ekonomiese ongelykheid die hoof te bied nie.
  2. Korrupsie en nepotisme:
    Malema het die ANC-leierskap gekritiseer vir wydverspreide korrupsie en nepotisme binne die party. Volgens hom het dit die geloofwaardigheid en doeltreffendheid van die ANC beïnvloed.
  3. Konflikte:
    Die verhouding tussen Malema en belangrike leiers in die ANC, insluitend diegene toe pres. Jacob Zuma aan bewind was, het versleg.
Oudpres. Jacob Zuma, tans die leier van die MK-party.

Wat dink en glo die EFF?

Die EFF is ʼn radikaal linkse, antikapitalistiese party. Die party glo in grondhervorming sonder vergoeding, nasionalisering van belangrike industrieë, en die bevordering van ekonomiese vryheid vir swart Suid-Afrikaners deur ʼn staatsbeheerde ekonomie.

Die EFF meen dat die regering soveel as moontlik dele van die samelewing moet beheer en bestuur – skole, universiteite, banke, myne, gesondheidsorg, elektrisiteit, water, infrastruktuur, sakeondernemings en byna elke ander faset van die samelewing. 2

Die regering moet in beheer van die samelewing wees om seker te maak dat ekonomiese bevryding (vandaar die partynaam “ekonomiese vryheidsvegters”) vir soveel moontlik swart Suid-Afrikaanse burgers plaasvind.

Die antikapitalistiese deel van die EFF se beleid gaan daaroor dat die regering – eerder as ondernemings en mense self – in beheer van die ekonomie moet wees. Die regering moet besluit wie wat mag verkoop, hoeveel dit mag kos, ensovoorts. Dit alles met die doel om die ekonomie meer inklusief te maak en seker te maak dat swart mense nie ly onder die beheer van “wit monopolie-kapitaal” nie.

Uiteindelik wil die EFF die huidige ekonomiese stelsel (ʼn kapitalistiese een) omverwerp en ʼn volledig sosialistiese model bou. Om dít reg te kry, is die party bereid om radikaal en militant op te tree. Die EFF is ook ʼn baie populistiese party, wat beteken hy sal amper bykans enigiets sê om mense te kry om vir die party te stem – selfs al is die dinge wat belowe word onwaar of nie uitvoerbaar nie. 3

Impak van die EFF op SA se politiek

Hoewel dit nie ʼn reuseparty is nie, het die EFF tot dusver ʼn groot impak op Suid-Afrika se politiek gehad.

Eerstens maak die EFF die politieke debat baie meer radikaal omdat hy soveel radikale idees en beleide ondersteun. Die party het die ANC oor die jare onder druk geplaas om sy eie beleid te hersien om “by te bly” met hoe radikaal die EFF se beleid soms is – veral wanneer dit kom by dinge soos onteiening sonder vergoeding en ekonomiese transformasie. 4

Terwyl die EFF vreeslik grootpraterig is, is die party nie so doeltreffend wanneer dit by die uitvoering van baie van sy dreigemente en planne kom nie. Dit beteken dat die party veel meer geraas maak as wat dit werklik ʼn bedreiging in die politiek is.

Die EFF het ook die bestaande ideologiese skeure in die ANC duideliker gemaak en interne spanning binne die ANC vererger. Dit is omdat sommige (meer radikale) dele van die ANC met die EFF saamstem en dalk wil saamwerk, terwyl ander dele van die ANC dit nié wil doen nie.

Hoewel die EFF maak asof hy ʼn party vir Suid-Afrika se armes en agtergeblewenes is, is die meeste EFF-ondersteuners jong, middelklas swart mense.

Die EFF se leierskap

Julius Malema, die stigter van die EFF, was sedert die party se ontstaan in 2013 die party se leier. 5 Malema as persoon speel ʼn belangrike rol in die sukses van die party omdat sy persoonlikheid so ֹʼn groot deel van die party uitmaak.

Sy ervaring en profiel wat hy in die ANC opgebou het, veral as die hoof van die ANC Jeugliga, het hom gehelp om vinnig nasionale aandag en volgelinge vir die EFF te wen.

Malema is bekend vir sy opswepende, populistiese en radikale toesprake. Hy gebruik kragtige en soms omstrede taal – veral wanneer hy met skares van sy ondersteuners praat. Dit maak hom populêr onder sy ondersteuners, maar lok ook kritiek onder sy teenstanders uit.

Hy is spesifiek skuldig daaraan dat hy verdeeldheid en rassepolarisasie bevorder deur dít wat hy sê en voorstaan. Malema het ʼn lang geskiedenis van sterk uitsprake, en selfs haatspraak, teen veral wit mense en Afrikaners.

Kritiek op die EFF

Hierdie is ʼn party wat gewoond is aan kontroversie, veral wanneer dit by sy verhouding en uitsprake teenoor wit Suid-Afrikaners kom. Die EFF gebruik uitdagende slagspreuke soos “Kill the Boer” om rasseverhoudinge te versleg. Dit is veral oor die party se rasuitsprake waaroor daar baie debat en bekommernis is – plaaslik, maar ook internasionaal.

Die EFF tree vyandig teenoor die wit bevolking van Suid-Afrika op en beskuldig “wit monopolie-kapitaal” of die “witheid” daarvan dat dit apartheid lewendig hou deur die ekonomie. 6 Volgens die EFF het wit mense in Suid-Afrika hul rykdom deur onderdrukking en uitbuiting verkry en is dit nie eintlik regmatig hulle sʼn nie. Daarom ondersteun die EFF ʼn beleid wat radikaal herverdelend is – wat geweldig baie gaan vat by ryker mense en dan aan die regering gee. Die EFF voer aan dat die regering dan die herverdeling sal organiseer deurdat hulle gaan besluit wie kry grond en wie kry watter werk, ens.

Een van die mees omstrede uitsprake van die EFF, is die herhaaldelike gebruik van die slagspreuk “Kill the Boer”. 7 Hierdie slagspreuk, wat sy historiese oorsprong het in die stryd teen apartheid, word deur die EFF gebruik in ’n konteks wat baie beskou as aansporing tot geweld teen wit boere en die Afrikanergemeenskap in Suid-Afrika. Die EFF verdedig die gebruik daarvan as deel van sy stryd teen onderdrukking en sê dat dit nie letterlik bedoel word nie, maar slegs ʼn simboliese liedjie is.

Die EFF sê dat sy uitsprake nie gesien moet word as aanvalle op mense op grond van hul ras nie. Volgens die EFF is die party se uitsprake en aksies slegs gemik op die enorme ekonomiese ongelykheid wat Suid-Afrika beleef. Die EFF sê dat hy sulke taal “moet” gebruik omdat hy baklei teen die nalatenskap van apartheid wat ons tans sien in armoede en werkloosheid onder swart mense.

Koalisies

Omdat Suid-Afrika se politiek besig is om vinnig te verander, speel koalisies ʼn al hoe belangriker rol in stadsrade en munisipaliteit, maar ook op parlementsvlak. Die EFF het in verskeie koalisies in die middel van die koalisiegesprekke gestaan vanweë sy steun wat gewoonlik net genoeg is om ʼn ander groter party te help om ʼn regering te vorm. Hoewel die EFF in die praktyk deel wil vorm van koalisies, maak sy radikale beleid en vyandigheid dit baie moeilik.

Die EFF is ʼn uitdagende en onvoorspelbare koalisievennoot.

Die EFF se ver-linkse standpunte is gereeld presies die teenoorgestelde van meer gematigde of sentrum-regse standpunte van ander partye in koalisies. Hierdie ideologiese verskille kan lei tot onoorkombare meningsverskille met die EFF, wat die stabiliteit en doeltreffendheid van ’n koalisie verswak.

Die EFF se politieke styl word gekenmerk deur onvoorspelbaarheid en die gebruik van ultimatums. Die party is gewoonlik bereid om konfronterende en onverwagse standpunte in te neem. Dit plaas koalisievennote baie keer in moeilike posisies, juis omdat kompromieë en samewerking noodsaaklik is vir die bestuur van ʼn koalisie.

Die EFF is baie goed met die gebruik van die media om sy boodskappe te versprei en só druk op teenstanders en vennote uit te oefen. Hierdie benadering gee aan die EFF baie sigbaarheid en invloed, maar maak dit moeilik om met die party in koalisie te wees – veral wanneer sy openbare uitsprake koalisievennote in ʼn slegte lig stel.

Die EFF se geskiedenis van vinnige verbrekings van koalisie-ooreenkomste, dikwels oor beleid of strategie, dien as ’n verdere afskrikmiddel vir potensiële vennote. Die EFF het ʼn patroon van hierdie gedrag en dit is ʼn groot risiko wat in ag geneem moet word wanneer dit kom by die sluit van ʼn koalisie met die EFF.

Terwyl die EFF ’n belangrike rol kan speel in die Suid-Afrikaanse politiek, maak sy radikale benadering, onvoorspelbaarheid, en geskiedenis die party ’n moeilike vennoot in koalisieregerings. Enige party wat met die EFF in koalisie wil gaan, moet mooi dink oor al die goed wat die EFF bring en doen, en dit opweeg teen dít wat aanvaarbaar is voordat ʼn koalisie met die EFF aangegaan word.

Woordbank

antikapitalistiese

Teen die kapitalistiese stelsel waar ondernemings in privaat besit is en winsgedrewe is.
apartheid Amptelike, rassistiese beleid van die Nasionale Party-regering (1948-1994) waarvolgens Suid-Afrikaners in rassegroepe geskei is.
belasting Geld wat deur die regering van burgers en sakeondernemings gevat word om staatsdienste en -programme te betaal.
bevrydingsideale Idees wat fokus op die vrymaak van mense van onderdrukking.
debat Besprekings op ’n vergadering van die voor- of nadele van ’n saak; gedagtewisselings of redes, bv. in ’n parlement.
die hoof bied Beveg.
geskors (As straf) iemand nie toelaat om na sy of haar party/werk/skool/ens. terug te keer nie.
haatspraak Aanstootlike redevoering/gesprekke/uitlatings wat ’n groep of individu teiken gebaseer op ras, godsdiens of geslag en wat sosiale vrede kan bedreig.
herverdeel Om hulpbronne of eiendom van een groep na ’n ander te verskuif, dikwels deur staatsinmenging.
ideologiese Wat verwys na die idees en sienings wat die basis vorm van ’n politieke en ekonomiese bestel.
impak Invloed, uitwerking.
inklusief Wat almal/alles insluit.
interne Binne; dit wat binne ʼn party/instansie/regering, ens. gebeur.
kapitalisties ’n Stelsel waar ondernemings in privaat besit is en vir wins werk, met min staatsinmenging.
koalisies ʼn Verbond of ooreenkoms tussen twee politieke partye/moondhede teen ʼn gemeenskaplike teenstander/vyand.
koalisievennoot ’n Politieke party of groep wat met ander saamwerk in ’n koalisie om ’n regering te vorm.
kompromieë Ooreenkoms waarin al die betrokkenes minder aanvaar as wat hulle oorspronklik wou hê; skikking waarby elke kant iets toegee.

 

konfronterende Teenoor mekaar te staan kom met uitdagende/bakleierige/strydlustige houding; om moeilikheid te soek.
konteks Situasie/gebeure/inligting/ens. wat met iets verband hou en jou help om dit beter te verstaan.
kontroversie Wat aanleiding kan gee tot twis en onenigheid.
korrupsie Oneerlike optrede om jouself of ’n ander te bevoordeel; omkoop of die meedoen daaraan.
links Partye of individue wat progressiewe, sosialistiese, of radikale veranderings in die samelewing voorstaan. In ’n politieke konteks, is “links” geneig om meer staatsinmenging in die ekonomie en ’n groter rol vir die regering in die verskaffing van sosiale dienste te ondersteun.
middelklas Die sosiale groep tussen die rykes en die armes.
militant Gewelddadig of aggressief in die ondersteuning van ’n politieke saak.
nalatenskap Dit wat vir die nageslag agtergelaat word.
nasionalisering Om privaat ondernemings in staatsbesit te neem sodat die regering dit kan beheer.
nepotisme Wanneer mense in magtige posisies werksgeleenthede of voordele aan familielede gee.
omstrede Waaroor baie gestry word; betwisbaar, aanvegbaar; iets wat bevraagteken word.
omverwerp Om radikaal af te breek of te verander.
opswepende Iets wat mense oproer of aanhits, gewoonlik in ’n politieke konteks.
politieke spektrum Die verskillende idees en oortuigings oor hoe regering en politiek moet werk.
populistiese Wanneer iemand net sê wat hulle dink mense wil hoor om hul ondersteuning te kry, ongeag hoe onrealisties of radikaal dit is.
potensiële Moontlike, waarskynlike.
radikaal Wat tot die uiterste gaan; diep ingrypend; wat die wortel raak; geheel en al; grondig; totaal.
rassepolarisasie Spanning en verdeeldheid tussen verskillende rassegroepe.
sentrum-regse Sentrum-regse partye ondersteun oor die algemeen liberale demokrasie, kapitalisme, die markekonomie, private eiendomsreg en ’n beskeie welsynstaat.
slagspreuke Strydkrete.
sosiale programme Programme deur die regering om hulp te bied aan mense in nood, soos werkloses en armes.
sosialisties ’n Stelsel waar die staat beheer en verspreiding van hulpbronne beheer.
staatsbeheerde ekonomie ’n Ekonomiese stelsel waar die regering alle ekonomiese aktiwiteite beheer.
stabiliteit Standvastigheid; weerstand teen verandering.
strategie Wyse waarop ʼn persoon/groep/regering volgens beplanning beoog om ʼn doel te bereik.
transformasie Gedaanteverandering, herskepping, vervorming.
uitbuiting Om onregverdig en selfsugtig soveel moontlik voordeel uit ’n persoon of groep mense te put.
ultimatums ’n Finale eis of verklaring van voorwaardes. “Jy moet X doen, anders gaan ons Y doen.”
Ver-linkse Die groep mense wie se politieke sienings die mees liberale is; radikaal.
wit monopolie-kapitaal ’n Uitdrukking gebruik om die ekonomiese beheer deur ’n wit minderheid in Suid-Afrika te beskryf.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Julius Malema (biografie)

Die omstrede lied “Kill the Boer, Kill the Farmer”

Malema se ekonomie

Foto: iStock
Gepubliseer op: 9 Mei 2024 | Bygewerk op 30 Mei 2024