Vinnige feite

  • Die SAVLU het in 2021 hul 90ste verjaardag gevier, en dis tydens hul kongres in Oktober 2021 gevier. Die tema was: “Eer die verlede, vier die hede, en omhels die toekoms.”
  • Die SAVLU is met die Wêreldbond van Plattelandse Vroue (WBPV) geaffilieer. Dit is die grootste internasionale organisasie vir landelike vroue.
  • Enige vrou of meisie wat 14 jaar en ouer is, mag by die SAVLU aansluit.
  • ʼn SAVLU-lid Magdie de Kock was die eerste vrou uit Afrika wat as die president van die WBPV verkies is. Die bond bestaan al 90 jaar en verteenwoordig 10 miljoen vroue oor die wêreld heen. 4
  • Die TVLU het op 8 September 1925 ontstaan toe 55 vroue in die raadsaal van die ou stadshuis in Pretoria byeengekom het. Daar was ʼn behoefte by vroue om ʼn bydrae tot die gesin te lewer. Die VLU is ná sy ontstaan as die “universiteit van die vrou” gesien. 5
  • Ná 1994 het ontbondeling van die TVLU plaasgevind, en daar is in 1995 ʼn herindeling van die VLU-provinsies gedoen. Vandag bestaan die SAVLU uit VLU-Mpumalanga, VLU-Noord, Vrystaatse-VLU, Namibië (Namibiese Vroue-vereniging), Noordwes-VLU en KwaZulu-Natal (Federation of Women’s Institutes). Die Vroue-landbouvereniging word in die Kaap bedryf.
Foto: iStock

Wat weet jy van die Suid-Afrikaanse Vrouelandbou-unie (SAVLU)? Jy dink heel moontlik dit is ʼn spul tannies wat koek eet en kuier en leer om te brei of te hekel. Wel, nou en dan eet die vroue seker koek en kuier saam en leer wel om te brei of te hekel, maar hierdie unie doen belangrike werk en het ʼn ryk geskiedenis.

Hulle is al vanaf Oktober 1931 deel van die Suid-Afrikaanse landskap en snoer vroue oor grense saam. Hul hoofdoel is om opleiding te gee om tot die ontwikkeling van Suid-Afrika en sy burgers by te dra. Dit is ʼn organisasie sonder winsoogmerk, en dit beteken dat hulle ingevolge die Maatskappyewet nie die winste onder lede verdeel nie, maar dit gebruik om die organisasie te laat groei. 1

Die SAVLU wil geleenthede vir vroue skep en hulle met vaardighede toerus om ʼn bydrae in hul gemeenskap te lewer. Die SAVLU is een van die grootste vroue-organisasies in die land en het saam met hul geaffilieerde organisasies meer as 7 000 lede in Suid-Afrika en Namibië.

Die ontstaan

Dit het alles in 1931 begin. Suid-Afrika het in daardie jare baie anders as vandag gelyk. Afrikaans is byvoorbeeld eers in 1925 as amptelike taal erken. Dit was ook die tyd van die Groot Depressie, wat ʼn tyd van erge armoede was. Baie mense het hul werk verloor en swaargekry. Dit was die ergste ekonomiese insinking in die geskiedenis en het van 1929 tot 1939 geduur. 2

Benewens die depressie en die feit dat wêreldhandel omtrent tot ʼn einde gekom het, was daar ook ʼn groot droogte in Suid-Afrika. Baie boere kon nie meer hul plase bekostig nie en moes na die stede toe trek. Die SAVLU is teen hierdie agtergrond gestig.

In daardie jare was daar vier provinsiale landbouverenigings, en hulle het tussen September 1925 en Desember 1930 – onder die voorsitterskap van E.W. Hunt, president van die Suid-Afrikaanse Landbou-unie – oor ʼn nasionale vrouelandbou-unie gesels. Die vier organisasies het op 17 Junie 1931 besluit om ʼn nasionale vrouelandbou-unie te vorm. Die SAVLU het gevolglik by ʼn kongres in Oktober van dieselfde jaar ontstaan. 3

Die organisasie is as ʼn tweetalige beweging gestig en is nie partypolities (dit beteken dat hulle nie sekere politieke partye ondersteun nie) of sektaries nie.

Die doel was om ʼn nasionale organisasie te stig om vroue se belange te bevorder, veral omdat baie vroue toe nie lank skoolgegaan het of ná skool gaan studeer het nie. Landelike gebiede was ook geïsoleer, wat beteken dat mense nie eintlik bymekaar uitgekom het nie. Met mense wat finansieel swaargekry het, moes boervroue slim planne beraam om geld te maak. Hulle moes elke sent omdraai.

Daar was nie juis geleenthede vir jongmense om in daardie gebiede te bly nie, en baie van hulle het sommer gou-gou stede toe getrek. Die organisasie wou graag beter geriewe vir die jeug in plattelandse gebiede skep. E.W. Hunt wou die lewe op die platteland verbeter en kultuur bevorder.

Die eerste uitvoerende vergadering is op 28 Oktober 1931 by ʼn vroueklub in Pretoria gehou, en die voorsitter van die vergadering was die eerste SAVLU-president, Edith O’Connor. Tydens ’n latere kongres is 55 resolusies bespreek, en ʼn grondwet vir die unie is aangeneem.

Die eerste president

Edith O’Connor is as die eerste president verkies. Sy en haar man het in die Marico-distrik geboer en het die Molope-boerevereniging gestig. Sy was ook die adjunkpresident van die Transvaalse Landbou-unie (TLU). Dit was nogal ongewoon in daardie tyd omdat mans meestal die topposisies beklee het.

Sy het ook die vroue-afdeling van die TLU gestig, is daar as president verkies en het dié pos tot 1946 beklee. O’Connor het vir 16 jaar die SAVLU gelei en het geglo dat dit een van die grootste organisasies in Suid-Afrika kon word en die land tot groot voordeel kon strek.

Wie is die SAVLU vandag?

Soos die land verander het, moes die organisasie ook verskillende baadjies aangetrek. Die Transvaalse Vrouelandbou-unie (TVLU), as een van die provinsies van die SAVLU, is tydens hul 70ste jaarlikse kongres ontbind en vier nuwe organisasies het ontstaan. Dit is VLU-Noord, VLU-Noordwes, VLU-Mpumalanga en VLU-Overvaal.

Wat doen die SAVLU?

Lede van die SAVLU hou gereeld tak- en streeksvergaderings, streekskonferensies, ʼn jaarlikse nasionale kongres, gee geleenthede om ʼn internasionale kongres by te woon, en bied somerskole (die aanleer van nuwe vaardighede), asook werkswinkels in spesifieke vaardighede of kunsvlyt aan. Vroue kan daar allerlei vaardighede aanleer soos hoe om te bak, brei, hekel, borduur en handwerk (soos mosaïek, kralewerk, pottebakkery en macramé) te doen.

Daar word ook kursusse aangebied vir vroue oor kommunikasie, leierskapsontwikkeling en geselligheidsbeplanning. Daar is gereelde inligtingsessies oor gesondheid, sekuriteit en veiligheid, kinders, regs- en verbruikerskwessies, asook praktiese demonstrasies, optredes deur motiveringsprekers en kunstenaars.

Daar word ook allerhande kompetisies vir lede gehou om hul vaardighede en talente ten toon te stel, soos in borduurwerk, skryfkuns, handwerk, fotografie, hekel, brei en naaldwerk.

Omgee vir ander

Die SAVLU is nie ʼn liefdadigheidsorganisasie nie, maar hul lede is wel by opheffingsprojekte in die gemeenskap betrokke, soos sopkombuise vir bejaardes, voedingsprogramme vir skoolkinders, gemeenskapsgroentetuine, opruimingsbedrywighede, gemeenskapsklinieke, vakansiekampe vir minderbevoorregte kinders, die opgradering van kleuterskole, Kersprojekte, en nog baie ander.

Woordbank

geaffilieerde Organisasies of mense word by ʼn groter groep ingelyf.
insinking Agteruitgang.
landelike Soos op die platteland, op plase en klein dorpies.
ontbondeling Proses om gedeeltes (soos ʼn groep organisasies of maatskappye) los te maak van mekaar.
opheffingsprojekte Iemand help om in beter omstandighede te lewe.
macramé Knoopwerk wat uit die knoop van tou of gare bestaan.
kongres   ʼn Byeenkoms van afgevaardigdes.
sektaries Wat met ʼn sekte verband hou. ʼn Sekte is ʼn klein kerklike of geloofsgroep.
vaardighede Die vermoë om iets goed te doen.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Loer na ʼn projek

Die invloed van die Groot Depressie op Suid-Afrika

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 12 Augustus 2022 | Bygewerk op 13 Junie 2024