Vinnige feite

  • Pierneef se pa het vanaf Nederland na Suid-Afrika verhuis en is hier met ʼn Suid-Afrikaanse vrou getroud.
  • Pierneef is in Pretoria gebore, het die grootste deel van sy lewe daar gewoon en is ook daar oorlede.
  • Pierneef het in verskeie mediums gewerk, onder meer waterverf, olie, linosneë en etse.
  • In 2008 is een van Pierneef se skilderye, Die Kremetartboom, vir £826 400 (meer as R13 miljoen) op ʼn veiling deur die afslaer Bonhams verkoop! 11
  • Pierneef se 1927-skildery getiteld Die plaas Jonkershoek met twee pieke daaragter, Stellenbosch is in 2017 deur die afslaer Strauss & Co in Johannesburg vir R20,5 miljoen verkoop. 12

Dit is onbetwisbaar dat Pierneef een van Suid-Afrika se bekendste en beroemdste skilders, veral van landskaptonele, is. Geslagte Suid-Afrikaners ken Pierneef se kenmerkende skilderye. Pierneef het ook deur die jare deurentyd die aandag van kunsgeskiedeniskenners en nasionale sowel as internasionale kunskritici, getrek.

Majuba, Natal

Lewensgeskiedenis

Ouers

Pierneef se vader, Gerrit Pierneef, het in 1884 vanaf Nederland na Suid-Afrika gekom. Hy was ʼn opgeleide skrynwerker. Hy het gou in Suid-Afrika bekendgestaan as ʼn bekwame en gesogte meesterbouer. Hy was ook die argitek en bouer van die heel eerste gebou in Johannesburg, in die destydse Markstraat. Gerrit Pierneef het met ʼn Suid-Afrikaanse meisie, Christina Buser, getrou wat in dieselfde Gereformeerde Gemeente as hy in Pretoria was. Jacob Hendrik Pierneef is op 13 Augustus 1886 in Pretoria gebore. 1 Hy het beide die noemname Henk en Jacob gehad.

Pierneef se jeugjare

Die gesin het aanvanklik in die weste van Pretoria, naby die destydse Kerkstraat en ook naby die woning van president Paul Kruger, gewoon. Die Pierneefkinders het ʼn kinderlewe vol avontuur in die heuwels en riviere rondom die stad Pretoria, wat op daardie stadium natuurlik nog baie klein was, gehad. 1

Die jong Henk en sy broer het president Kruger dikwels tydens sy oggendwandelinge raakgeloop en soms ʼn paar woorde met hom gewissel. Ná afloop van die oorlog het die gesin vir ʼn aantal jare op ʼn plaas naby Derdepoort gewoon, ʼn volle uur se ry met wa en perde vanaf die kerk.

Hy het skoolgegaan in die Staatsmodelskool in die (huidige) middestad van Pretoria. Hier het hy reeds tekenlesse by meester Hondius geneem. Een van sy medeleerlinge wat saam met hom tekenlesse ontvang het, is Fanie Eloff. (Fanie Eloff was ʼn beeldhouer wat vanaf 1885 tot 1947 geleef het. Hy was ook ʼn kleinseun van president Paul Kruger. Hy het deur die jare twee borsbeelde van sy vriend, Pierneef, gemaak.) 2

Pierneef (middel) en vriende by Meiringspoort

Vroeë tekens van talent

Die jong Pierneef het van vroeg af reeds uitsonderlike aanvoeling vir teken en ʼn buitengewoon goeie aanvoeling vir elemente soos lyn getoon. Hy was gedurig besig om sommer vir die plesier te teken. Hoewel hy baie by sy pa van sekure tekeninge geleer het, was Pierneef as volwassene self oortuig dat sy talent van sy ma se kant af gekom het.

Een van sy vroegste tekeninge wat behoue gebly het, is ʼn viool wat in ʼn vioolkas lê, en dit dateer uit 1899. 1

Maletin mountains, Plumstead

1900

In 1900 is Pretoria deur Brittanje beset. Gerrit Pierneef, die jong Henk se pa, het bande met die Suid-Afrikaansche Republiek gehad, en hy moes kies: Hy moes óf met sy gesin na Nederland terugkeer, óf hy moes in Suid-Afrika bly en geïnterneer (as gevangene aangehou) word. Die gesin met ses kinders is dus terug Nederland toe.

In Nederland het die veertienjarige Henk kans gekry om sy belangstelling in kuns te bevorder. Hy het aanvanklik by ʼn ou argitek in Hilversum tekenlesse gekry. Hy het ook ʼn deeglike kennis van verskillende soorte verf opgedoen deur by ʼn verffabriek te werk. Die gesin het na Rotterdam verhuis, en hier het Henk aandklasse by die Rotterdamse Akademie bygewoon.

1903

Nadat die Vrede van Vereeniging (wat die Anglo-Boereoorlog tot ‘n einde gebring het) gesluit is, kon die Pierneefgesien na Pretoria terugkeer. Dit was waarskynlik aan die einde van 1903. Ná die oorlog was daar nie baie geleenthede vir verdere studie nie, en al wou Gerrit graag sy seun as argitek laat kwalifiseer, was dit nie moontlik nie. Pierneef het goeie kontak met sy peetpa, Anton van Wouw, behou. Van Wouw het ʼn belangrike invloed op Pierneef se lewe en werk gehad. Hy het ook klem gelê op goeie tekenwerk en noukeurige waarneming. Volgens oorlewering het Van Wouw by geleentheid vir die jong Pierneef gesê: “Jonge, nie alleen met je handen werken, maar goed uit je oogen kijken”. Hy het ook daarop aangedring dat Pierneef goed moes leer teken voordat hy met olieverf begin werk.

Hy het ook skilderlesse by Pieter Wenning en Frans Oerder geneem. Hy het verder by die Ier, George Smithard, opleiding in die grafiese tegnieke van ets en houtsnee ontvang. Pierneef het dikwels saam met Wenning, Oerder en Smithard in die veld uitgegaan om te teken en te skilder.

1910

Pierneef verkoop sy eerste skildery aan die kunshandelaar Emil Schweickerdt vir R6,30. 3 Hy het ook werk gekry in ʼn tabakwinkel. Hy het met Agatha Deelen getrou, en hulle het ʼn huis naby die Pretoria Dieretuin gebou.

Pierneef se tweede vrou, Marian Frances

1912

Hy begin as bibliotekaris by die staatsbiblioteek werk. Hy het in die aande gewerk en kon bedags steeds aan sy kuns werk.

1913

Pierneef hou sy eerste eenmanuitstalling in Pretoria.

1917

Pierneef word lid van die Suid-Afrikaanse kunsvereniging.

Selfportret, 1916

1920-1923

Hy werk as dosent by die Pretoria en Heidelberg Onderwyskolleges. Gedurende hierdie tyd het hy baie in Suid-Afrika en ook in die destydse Suidwes-Afrika gereis. Gedurende hierdie reise het hy baie in rotskuns belang begin stel, en dit het ook ʼn invloed op sy werk gehad. In hierdie tyd ontvang hy sy eerste opdragwerk, ʼn reeks muurskilderye vanaf die Hoërskool Ficksburg. Hy bly tussen 1923 en 1924 in Namibië. 4

Rooiplaatplaas, Noord-Transvaal – Sonopkoms

1924

Pierneef en sy vrou skei, en hy trou met Mariane (May) Francis Schoep. Hy besoek weer Europa en die nuwe ontwikkelinge op kunsgebied daar, onder meer die impressionisme, het daartoe gelei dat hy ook in sy eie werk begin eksperimenteer het. In hierdie tyd het daar ʼn vernuwing in sy skilderkuns gekom.

Landskap met boom

1929

Pierneef aanvaar die opdrag om die stasiepanele vir die Johannesburg-stasie te skilder. Hierdie panele is in 1932 voltooi. Hierdie panele word algemeen as die hoogtepunt van sy werk en ontwikkeling beskou.

Deel van ‘n muurskildery wat oorspronklik vir die Johannesburgse stasie geskep is
Pierneef het in 1928 geëksperimenteer met ‘n meer moderne, abstrakte styl

1933-1935

Pierneef reis na Londen om in opdrag muurpanele vir Suid-Afrikahuis te skilder.

1937

Hy skilder die groot paneel van die Uniegebou vir die posboot Pretoria Castle.

Die Groot Trek, 1938

1940

Hy skilder die panele vir die magistraatskantore in Johannesburg.

1957

Jacob Hendrik Pierneef sterf op 4 Oktober 1957 in Pretoria. 5

Hendrik Pierneef

Pierneef ontvang die volgende toekennings vir sy werk

  • In 1935 ontvang hy die eremedalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy was die eerste beeldende kunstenaar wat hierdie medalje ontvang het.
  • In 1951 word ʼn eredoktorsgraad van die Universiteit van Natal aan hom toegeken.
  • In 1957 ontvang hy ʼn eredoktorsgraad van die Universiteit van Pretoria.
  • Ook in 1957 word hy ʼn erelid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
‘Die Individualiste’ in 1910/1911, van links na regs: dr .Grünberger, Nina Murray, Marcele Piltan, Henk Pierneef, Selina Harding van die Normaal Kollege, Pieter Wenning en Sydney Stent

Temas in Pierneef se skilderye

Pretoria en omgewing

Aanvanklik het Pierneef as jong skilder gekonsentreer op die omgewing van Pretoria en ook tonele uit die stad self.

Sy vader was ʼn bouer van beroep en omdat hy self aanvanklik as argitek sou gaan studeer, was hy veral geïnteresseerd in geboue en bouwerk.

Heelwat van sy skilderye het dus hierdie temas gehad.

Met die bou van die Uniegebou vanaf 1911 was dit ook ʼn belangrike tema in Pierneef se tekeninge en skilderye.

In 1986 was daar 32 pasteltekeninge in die versameling van die Pretoriase Kunsmuseum, en 18 hiervan het geboue en plekke in Pretoria as tema gehad.

Landskappe en bome

Pierneef het veral op tonele van verskillende landskappe in Suid-Afrika gekonsentreer. Sy landskapskilderye is waarskynlik die skilderye wat deur meeste mense byna dadelik as ʼn Pierneef-skildery herken sal word. Hy is ook bekend vir sy skilderye van verskillende soorte bome, soos Die Kremetartboom, ens. Die bome van die Transvaalse bosveld was ʼn groot fokus van Pierneef, en hy wou bome vanaf hul wortels af ken en verstaan. Volgens sy dogter, Marita, het hy eenkeer vir haar gesê: “Kom, kyk hoe groei ʼn boom, my kind, kyk hoe mooi. Soek jou eie lewensboom, dan sal jy jou eie wortels kry.”

Kremetart, linosnee

Pierneef het ook linosneë gemaak. Linosneë is ʼn kunsvorm waarby ʼn ontwerp in linoleum uitgesny word om ʼn drukvlak te verkry waarmee afdrukke gemaak word. Volgens FGE Nilant is sy linosneë almal voor 1933 gedoen. Een van die besondere linosneë was van Gustav Preller se huis wat op die hoek van die destydse Kerk- en Du Toitstraat gestaan het. Die Soutpansberg is nog een van Pierneef se bekende linosneë. 3

Twee intieme vriende stop saam pyp op die stoep van die Preller-woning: Gustav Preller en Hendrik Pierneef

Pierneef was vriende met ʼn aantal skrywers, en hy het vir ʼn paar van hulle illustrasies vir hulle boeke gemaak.

Hy het linosneë gemaak vir drie boeke van Totius (een daarvan met die titel Trekkersweë), twee van J.F.W. Grosskopf, asook een elk van Van Melle en D.J. Potgieter. 1

Grosskopf het later, in 1947, ʼn boek oor hom gepubliseer, Hendrik Pierneef – The Man and his Work.

Maletin mountains, Plumstead

Stellenbosch

ʼn Belangrike kenmerk van Pierneef se werk

Louis Trichard
Dit is kenmerkend van Pierneef se skilderye dat daar nie mense in hulle verskyn nie; hy konsentreer op landskaptonele, dorptonele en geboue, maar sonder om mense in te teken.

Hieroor was daar verskillende menings.

Sommige het gesê dat dit vir hom ʼn politieke motief van koloniale nasionalisme was.

Ander menings was dat Pierneef daarmee probeer het om ʼn kenmerkende Suid-Afrikaanse skilderstyl te skep. 6

Die waarde van Pierneef se werk en lewe

Kultuurhistoriese bydrae

Pierneef se uitbeelding van geboue en tonele in veral Pretoria was nie alleen goeie kunswerke nie, maar het ook groot kultuurhistoriese waarde. Pierneef het die gewoonte gehad om hierdie skilderye te onderteken én die datum daarop te skryf. Hy het ook aangeteken waar die huise en geboue wat hy geteken het, was, asook wie die eienaars was.

Hy het die landskap van Suid-Afrika so intens in sy skilderye uitgebeeld en dit op so ʼn besondere manier interpreteer, dat Suid-Afrikaners hulle land deur sy oë gesien het. 3

Majuba, Natal

Pierneef word in sy tuisstad verewig

Pierneef het mettertyd na die woongebied Villieria verhuis, en dit lei daartoe dat een van die strate deur die woongebied na hom vernoem word. Vandaar verhuis hy na ʼn stuk grond teen ʼn klipkoppie in die area wat vandag as Lynnwood Manor bekendstaan. 1 Daar is ook ʼn Pierneef Laerskool langs Pierneefstraat. In 2003 is ʼn teater aangrensend aan Pierneefstraat begin en ook na Pierneef vernoem.

Hoeveel werke het Pierneef geskep?

Volgens Pierneef se vrou, May, het hy gedurende sy lewe ongeveer die volgende aantal werke geskep:

  • Tussen 2 000 en 3 000 sketse (dit sluit linosneë, etse en houtgraverings in)
  • Tussen 6 000 en 8 000 waterverfskilderye
  • Tussen 2 000 en 3 000 olieverfskilderye 7
Rustenburgkloof

Waar is sy skilderye te sien?

Pierneef se skilderye kan wêreldwyd gesien word in private, openbare en korporatiewe versamelings.

Museums met Pierneefskilderye

Maluti, Ficksburg

Rupert-museum

Hierdie museum spog met onder meer die gesogte 32 stasiepanele.

Pierneef is in 1929 opdrag gegee om skilderye vir die Johannesburg-stasie te skilder. Hierdie skilderye moes tipiese Suid-Afrikaanse landskappe uitbeeld en groot genoeg wees, sodat hulle duidelik sigbaar sou wees wanneer hulle hoog teen die mure van die stasie se ingangsportaal gehang word. Pierneef het hierdie olieverfskilderye tussen 1930 en 1933 voltooi.

Ongelukkig is hierdie pragtige skilderye deur die loop van die volgende 15 jaar deur rook en reën beskadig. Pierneef het hulle in 1948 herstel en met glas laat bedek.

Ongelukkig het dieselfde weer gebeur en uiteindelik is die skilderye in 1971 afgehaal, weer skoongemaak en herstel en gedurende 1973 in Pretoria uitgestal. Jare hierna het dr. Anton Rupert toestemming by die Suid-Afrikaanse Spoorweë gekry om die skilderye op ʼn langtermynbasis in ʼn klein kerk in Graaff-Reinet, wat op daardie stadium nie gebruik is nie, te bewaar. Hierdie meesterstukke het uiteindelik ʼn tuiste in die Rupert-museum in Stellenbosch gevind. 8

La Motte-museum

Die Pierneefskilderye in die La Motte-erfenisversameling is tussen 1908 en 1955 geskilder. Die La Motte versameling sluit ook boeke, dokumente en skildertoerusting wat aan Pierneef behoort het, in. Hierdie versameling is in 2009 deur Pierneef se dogter, Marita Pierneef-Bailey, aan die La Motte-museum geskenk. 9

Kunsgalerye met Pierneefskilderye

Pierneef se skilderye kan vandag by die volgende kunsgalerye besigtig word:

  • Durban-kunsgalery
  • Johannesburg-kunsgalery
  • King George VI-kunsgalery
  • Pretoria-kunsgalery 4
 

Hardekoolbome, 1945

Woordbank

geïnterneer As gevangene aanhou, veral in ʼn bewaakte kamp. 10
linosneë Tekening wat in linoleum uitgesny word en waarvan afdrukke dan gemaak word. 10

Kyk na hierdie skakels om nog meer te leer oor Pierneef

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 14 April 2022 | Bygewerk op 19 Maart 2024