Vinnige feite

  • Na aanleiding van een van Kerkorrel se liedjies het die woorde “Sit dit af, sit dit af!” bekend geword en is vandag vir baie Afrikaners steeds bekend. Vra jou ouers! 5
  • Daar is ’n dokumentêr in 2004 oor dié beweging vrygestel, naamlik Voëlvry – Die movie.
  • Tydens die Voëlvry-toer is die motorbande van die groep se voertuie by verskeie geleenthede stukkend gesny deur regsgesindes. Regsgesindes is mense wat konserwatief en behoudend is.
  • Die baanbrekerskabaret Piekniek by Dingaan se naam was oorspronklik Die kinders van Verwoerd. Dit is in 1988 by die Grahamstadse Kunstefees opgevoer en het die versetbeweging versterk. Dié kabaret is by baie teaters verbied.
  • ’n Paar van die Voëlvry-lede se pa’s was dominees.
  • Bernoldus Niemand oftewel James Phillips het sy musiekloopbaan in die jare sewentig in Springs begin deur vir groepe soos Corporal Punishment, Illegal Gathering en the Cherry Faced Lurchers musiek te maak. Die name van hierdie groepe het toe reeds Niemand en die ander musikante se rebelsheid teen die regering getoon. Hy het in 1983 sy eerste album uitgereik en sy liedjie “Hou my vas, Korporaal” as verset teen die weermag het baie bekend geword.

Die Voëlvrybeweging was nie ’n beweging van mense wat voëls iewers vrygelaat of wat uit die tronk ontsnap het en nou voëlvry is nie. Voëlvry beteken immers dat enigeen jou kan vervolg en dat die wet jou nie beskerm nie.

Die beweging was wel ’n Afrikaanse musiekbeweging van rockmusikante wat in die jare tagtig hul musiek as protes teen die Suid-Afrikaanse regering se apartheidsbeleid gebruik het.

Die jare tagtig in Suid-Afrika het baie anders as vandag gelyk. Eerstens was dit die tyd van apartheid en het swart en bruin mense nie dieselfde regte as wit mense gehad nie. As jy in die jare tagtig in die skool was, sou daar geen swart of bruin maats in jou klas gewees het nie.

Daar was groot protes destyds teen die regering en opstande (soos betogings) oraloor. Skole is onder meer afgebrand weens protes teen Afrikaans as voertaal in skole en die weermag is dikwels ingeroep. Die Voëlvrybeweging het teen hierdie agtergrond ontstaan en is as verset teen die stelsel gesien. 1

Die Voëlvry-musikante het rock ’n’ roll gebruik om te wys wat hulle van die destydse regering en sy beleide dink. Hul lirieke, kleredrag en selfs verhoogname het met die destydse regerende Nasionale Party (NP), die Nederlandse Gereformeerde Kerk (NGK), die Suid-Afrikaanse nasionale weermag en Afrikaner-simbole gespot. 2

’n Revolusie in Afrikaanse musiek

Die Afrikaanse musiek was eens op ’n tyd maar vervelig. Baie lirieke (woorde van liedjies) is net so uit Engels vertaal en daar was nie veel oorspronklike Afrikaanse musiek nie. Die Musiek-en-liriek-beweging aan die einde van die jare sewentig en die begin van die jare tagtig het egter ’n verskil gemaak. Kunstenaars soos Anton Goosen, Laurika Rauch, Mynie Grové en Clarabelle van Niekerk wou gehaltemusiek in Afrikaans skep en het daarin geslaag. Hulle het dus ’n ruimte geskep waarbinne nuwe musiek gemaak kon word. 1

Kunstenaars soos Koos Kombuis (André le Roux du Toit), Johannes Kerkorrel (Ralph Rabie) en Bernoldus Niemand (James Phillips) het begin om musiek te maak wat anders was as dit wat daardie tyd die norm was. Dit is as ’n vorm van protes gesien en is deur die media as alternatief bestempel.

James Phillips

Nog van die groot rolspelers van die beweging was die Gereformeerde Blues Band, wat Johannes Kerkorrel, Willem Volume (Willem Moller), Piet Pers (Gary Herselman), Hanepoot van Tonder (Jannie van Tonder) en Karla Krimpelien (Tonia Selley) ingesluit het. Dagga-Dirk Uys was Koos Kombuis se bestuurder en organiseerder van die toer en het ook ’n leidende rol vertolk.

Die meeste van hierdie musikante was jong Afrikaanse mans in hul twintiger- en vroeë dertigerjare hoewel daar wel ’n paar Engelssprekende Suid-Afrikaners was. Die meeste van hulle het uit konserwatiewe Afrikaanse huise gekom en hulle het by Afrikaanse universiteite studeer. Willem Moller het ’n MA-graad in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch behaal, Johannes Kerkorrel ’n honneursgraad in sielkunde aan die Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (nou die Noordwes-Universiteit), James Phillips (Bernoldus Niemand) ’n graad in musiek aan die Universiteit van die Witwatersrand en Dagga Dirk-Uys ’n graad in politiek aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Koos Kombuis het sy studies aan die Universiteit van Pretoria gestaak omdat hy gevoel het dat dit te veel soos sy Afrikaanse hoërskool was – wat hy verpes het. 2

Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band

Hoe het dit begin?

Heel moontlik kan ’n mens Voëlvry se ontstaan teruglei na die stadium toe Koos Kombuis vir die eerste keer Bernoldus Niemand se musiek gehoor het. 2

Bernoldus Niemand

Kombuis was in daardie stadium ’n skrywer en het ook sy naam van André le Roux du Toit na André Letoit verander. Hy het in die vroeë jare tagtig sy aandag na musiek verskuif en het begin om saam met sy meisie voor studentegehore op te tree. Hy het gevoel dat sy anti-apartheidsboodskap nie genoeg jong Afrikaners deur sy boeke bereik nie en daarom het hy hom tot musiek gewend. Bernoldus Niemand se musiek was vir hom ’n groot inspirasie.

Niemand, wie se regte naam James Phillips was, het sy musiekloopbaan in die laat jare sewentig in Springs begin. Hy het in 1983 sy eerste album as Bernoldus Niemand opgeneem. Koos Kombuis het genoem dat Niemand se musiek hom die selfvertroue gegee het om sy eie musiek op te neem.

Koos Kombuis

Nog iemand wat belangrik was vir die ontstaan van hierdie beweging en die verspreiding van hul musiek, was Lloyd Ross. Hy het die platemaatskappy Shifty Records saam met Ivan Kadey in 1982 gestig en hulle het musiek uitgereik van kunstenaars wie se musiek deur die nasionale uitsaaier, die SAUK (Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie), onder sensuur geplaas is.

Hulle het Koos Kombuis se eerste album, Ver van die ou Kalahari, op kasset uitgereik. Die lirieke was krities teen die apartheidsregering. Hulle was ook nie bang om die musiek op te neem van mense wie se musiek niemand anders wou opneem nie, soos veelrassige musiekgroepe.

Johannes Kerkorrel, wat toe nog as Ralph Rabie bekend gestaan het, was in daardie stadium ’n joernalis vir die Afrikaanse koerant Rapport en moes ’n onderhoud met Kombuis voer.

Hulle het goed oor die weg gekom en toe Kombuis sy eerste konsert by die Sterrewag-teater in Bloemfontein moes lewer, het hy vir Rabie saamgenooi omdat hy skrikkerig was om alleen op te tree. Kerkorrel kon baie goed klavier speel en het saam met hom opgetree.

Dagga-Dirk Uys het in daardie stadium Kombuis se bestuurder geword en het ’n groot rol in die beweging en die verspreiding van hul boodskap gespeel.

Kombuis en Kerkorrel se eerste kabaretopvoering, Piekniek by Dingaan, is die eerste keer in Hillbrow opgevoer en was ’n groot sukses.

Shifty Records het ’n versamelalbum van ’n paar kunstenaars uitgegee en een van die liedjies daarop is “Voëlvry” genoem. Dit is deur die joernalis Pieter van der Lugt geskryf en gesing en het toe die naam van die beweging en hul landwye toer geword.

Die kunstenaars het besluit om hierdie landwye toer te onderneem om ’n groter gehoor aan hul musiek voor te stel. Hierdie toer word as die hoogtepunt van die beweging gesien.

Die toer is by verskeie universiteitskampusse verbied, die SAUK het die hele album verbied en predikante het landwyd van die kansel daarteen gewaarsku. Nadat die Universiteit Stellenbosch hulle verbied het om daar op te tree, het ongeveer 1 500 studente teen die besluit betoog.

Rabie se Rapport-werkgewers het vir hom ook in hierdie tyd ’n ultimatum gegee om óf die beweging te los óf te bedank en hy het besluit om te bedank.

Die toer, wat van April tot Junie 1989 geduur het, is deur die koerant, die Vrye Weekblad geborg. Die koerant met Max du Preez as die redakteur was ook ’n groot kritikus van die regering.

Nadat die toer verby is, het die beweging die meeste van sy momentum verloor en die verskillende lede het hul eie paadjie gegaan.

Die Voëlvrybeweging het ’n belangrike rol as ’n protesbeweging gespeel, want dit het vir baie jong Afrikaners die ruimte gegee om hul weerstand teen die regering te wys en om los te breek van die onderdrukkende atmosfeer van die Afrikaanse samelewing. Dit het ook vernuwing in die Afrikaanse musiekwêreld gelei.

Johannes Kerkorrel

Kerkorrel is op 27 Maart 1960 as Ralph Rabie in Johannesburg gebore. 3

Hy het in 1988 sy debuutalbum, Eet Kreef, saam met die Gereformeerde Blues Band uitgereik. Daar is net een liedjie van die album wat nie deur die SAUK verbied is nie, en dit is “Hillbrow”.

Kerkorrel het deur hierdie album sy minagting teenoor die regering uitgespreek. Hy het byvoorbeeld oor die land se reëls gekla, het die destydse NP-regering gevloek en het met die SAUK se nuusdekking gespot.

Kerkorrel het in 1992 sy eerste solo-album Bloudruk uitgereik en een van die bekendste liedjies was  “Halala Afrika”. Hy het dit ook later in 1994 met die inhuldiging van oudpresident Nelson Mandela gesing. Hy het in 1994 ’n oorwegend Engelse album getiteld Cyanide in the Beefcake vrygestel en in 1996 sy volgende Afrikaanse album Ge-trans-for-meer. Hy het in 1998 sy dekade in die musiekbedryf met die album Tien jaar later gevier en in 2000 het sy laaste album Die ander kant verskyn.

Kerkorrel het op 12 November 2002 sy eie lewe geneem.

Johannes Kerkorrel

Koos Kombuis

Koos Kombuis is as André le Roux du Toit op 5 November 1954 in Duiwelspiek, Kaapstad, gebore. Hy het op skool die bynaam Koos gekry en het op verskeie dorpe skoolgegaan omdat sy pa dikwels van werk verander het.

Hy kon al op driejarige ouderdom lees en het al op tienjarige ouderdom stories geskryf. Hy het allerlei werke probeer en het later begin om verhale vir die tydskrif Die Huisgenoot te skryf.

Kombuis het ’n paar boeke skryf en het toe begin om liedjies te skryf en musiek te maak. Shifty Records het sy eerste plaat uitgegee en dit is dadelik deur die sensuurraad as ongewens gesien.

Soos vroeër genoem, het hy deel van die Voëlvry-toer geword, en ná dié toer is sy tweede album, Niemandsland and Beyond, uitgegee.

Hy het in 1994 Elke boemelaar se droom uitgegee en het kommersieel suksesvol geword. Hy het vandag meer as tien albums agter sy naam, maar sien homself eerder as ’n skrywer as ’n musikant.

Kombuis het in 2000 sy outobiografie, Seks & drugs & boeremusiek, uitgegee en is vandag ’n bekende skrywer en naam. 4

Woordbank

alternatief Iets wat nie tot die hoofstroom behoort nie.
konserwatiewe Iemand wat nie hou van verandering of nuwe idees nie.
lirieke Die woorde van liedjies.
ongewens Iets wat verkieslik nie moet gebeur of daar moet wees nie.
protes Iets wat jy doen om vir almal te wys dat iets verkeerd en onregverdig is.
sensuur Die praktyk of beleid van sensor, met ander woorde, om iets krities te ondersoek om vas te stel of dit aan sekere standaarde voldoen.
verpes Om nie van iets te hou nie.
verset Dit is weerstand of opstand teen iets.
voëlvry Wanneer jy buite die beskerming van die wet is en blootgestel is aan vervolging deur enigeen.

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Betogings teen die regering in die jare tagtig

Johannes Kerkorrel sing Hillbrow

30 jaar ná die Voëlvry-beweging

Foto: iStockGrafika: Monique Janse van VuurenFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 7 September 2022 | Bygewerk op 22 April 2024