Vinnige feite
- Hy het talle internasionale toekennings vir sy werk gekry: In 1981 by die Festival International du Film de Comédie Vevey (in Engels: Vevey International Funny Film Festival) vir The Gods Must be Crazy en in 1974 die prys vir die beste dokumentêre rolprent by die Hollywood Foreign Press Association vir Beautiful People. 5
- Hy is in Bloemfontein se Mimosa-winkelsentrum vereer met sy eie ster in die saal van roem, waar daar erkenning aan Suid-Afrikaanse rolprente gegee word. 9
- Jamie se rolprente The Gods Must be Crazy (1980) en The Gods Must be Crazy II (1989) het die San-mense van die Kalahari en hul eiesoortige lewenswyse aan die res van die wêreld bekendgestel. 9
- Uys het sy persoonlike lewe baie privaat gehou en daarom is daar geen biografie oor hom beskikbaar nie. 2
- Sy vrou Hettie en sy seun Wynand het in meer as een van sy rolprente gespeel. 2
- In Dirkie is ’n luiperd, ’n hiëna, ’n bobbejaan, slange, skerpioene, ’n Duitse herdershond (in Engels: Alsatian) asook Dirkie se troetelhond gebruik. Dit het vir baie opwinding en probleme gesorg, soos toe die bobbejaan een van die aktrises gebyt het, die troetelhond een nag oor die duine weggehardloop het en die een hond amper die slang opgevreet het waarvoor hy veronderstel was om vreeslik bang te wees! 2
- Jamie Uys ontvang in 1995 die FAK se Prestige-toekenning, waardeur erkenning verleen word aan mense wat besondere prestasies op kultuurgeoriënteerde vakgebiede gelewer het. 10
Hierdie stil, nederige en hardwerkende man van Suid-Afrika het die rolprentwêreld in Suid-Afrika, maar ook in die hele wêreld, aan sy voete gehad met sy vindingryke rolprente. Uiteindelik het hy sy beste rolprent gemaak met ’n lid van die San-bevolking wat nog nooit in sy lewe ’n rolprent of ʼn Coke-bottel gesien het nie! Jamie Uys het vir almal gewys dat mens jou eie drome kan waarmaak as jy aanhou en aanhou totdat jy bereik wat jy met jou lewe wou doen.
Die jong Jamie – voor rolprente
Jacobus Johannes (Jamie) Uys is op 30 Mei 1921 in Boksburg gebore. Hy het sy hoërskoolloopbaan aan die Hoërskool Voortrekker (Boksburg) voltooi.
Ná sy skoolloopbaan het hy vir ’n jaar by ’n myn gewerk voor hy sy BSc-graad aan die Universiteit van Pretoria behaal het.
Hy het met Hettie van Rooyen getrou en hulle het albei skoolgehou totdat Jamie besluit het om in die Bosveld te gaan boer. 1
Die begin van ’n nuwe lewe
Terwyl hy hier geboer het, het hy al hoe meer aandag gegee aan sy groot belangstelling – fotografie. Hy het onderdele van kameras bymekaar gemaak en het ook vir hom ’n tweedehandse rolprentkamera gekoop. Dis met hierdie kamera dat hy sy heel eerste rolprent – Daar doer in die Bosveld – gemaak het. Hiermee het hy hulp gekry van vriende, familie en hy het selfs sy eie ou motor in die prent gebruik.
Hierdie rolprent was die begin van ’n hele nuwe lewe vir Jamie. 1
Die eerste rolprent
Om hierdie eerste rolprent – Daar doer in die Bosveld – te maak, was ’n opdraande stryd vir Jamie. Hy moes al sy besittings verkoop om genoeg geld te kry om die klankbaan van die rolprent te maak.
Hy het die een na die ander koerant gevra om te help met bemarking vir hierdie eerste rolprent. Hy was passievol en het volhard met sy eie idees, selfs toe die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns voorstel dat hy na Hollywood gaan om daar rolprente te maak. Daar is selfs ’n fonds gestig om hom te help, maar hy het dit van die hand gewys. Hy was vasbeslote om in Suid-Afrika te bly en ’n rolprentmaatskappy hier te begin. 1
Sy loopbaan in die rolprentbedryf
Sy tweede rolprent, Daar doer in die stad, het hy vir die rolprentmaatskappy Killarney Studios gemaak. Hierna het hy besluit om sy eie rolprentmaatskappy – Jamie Uys Rolprentproduksies – te stig. Met baie min geld het hy en sy broer – Jok – begin om die rolprent Geld soos bossies te maak.
Al was hy maar aan die begin van sy loopbaan as rolprentmaker, het ander plaaslike mense wat ook rolprente wou maak, by hom aangeklop om raad te vra.
Hy het ook aan die administratiewe kant van die rolprentwêreld die leiding geneem. Hy het die regering oorreed om aan rolprentmakers ’n gedeelte van hul belasting terug te betaal. Dit het gehelp om ’n rolprentbedryf in Suid-Afrika te laat ontstaan.
Dit was ’n groot prestasie, veral met die klein gedeelte van die inwoners van Suid-Afrika wat in daardie tyd die mark vir rolprentgangers was. As mens dit vergelyk met Nederland, waar daar miljoene mense was en waar daar geen rolprentbedryf was nie, besef mens hoe ver Suid-Afrika voor ’n land soos Nederland was. 1
Al het hy finansieel swaar gekry, was Jamie vasbeslote om ’n sukses van sy rolprentloopbaan te maak. Hy en sy broer het al die geld wat hulle gehad het, gebruik om die rolprent Jabulani Afrika te maak. Hulle is daarvoor beloon toe die prent ’n prys by die Cannes-rolprentfees in Frankryk ontvang het. Hierdie rolprent is na nege ander lande versprei, onder meer na Frankryk, Duitsland, Engeland en Australië.
Hierna het ’n hele paar ander rolprente gevolg. Enkele daarvan was Doodkry is min, ’n wonderlike prent oor die geboorte van Afrikaans, Hans en die Rooinek asook ’n rolprent, The Hellions, wat hulle saam met ’n Britse rolprentmaatskappy gemaak het. Sukses het nou na hulle kant toe gekom en gevolglik het hulle makliker maatskappye gekry wat in hul maatskappy belê het.
Daar was nou ook bekende en belangrike persone wat direkteure in sy rolprentmaatskappy geword het. Van hulle was mense soos Hein Louw, Hennie Marais en professor H.B. Thom. 1
Die internasionale rolprentwêreld
Jamie Uys het met sy rolprente toegetree tot die internasionale rolprentwêreld – Dirkie en Beautiful People. Dit was ’n groot prestasie omdat die internasionale rolprentbedryf baie mededingend was. Hierdie rolprente van hom was goed genoeg om kers vas te hou by die beste internasionale rolprente. In daardie stadium is daar jaarliks ongeveer 6 000 rolprente in die wêreld gemaak, dit was dus baie moeilik vir die klein aantal rolprente wat in Suid-Afrika gemaak is om met die buitelandse rolprentmark te kompeteer. 1
Mimosa Films is in 1964 deur die broers Boet en Bill Troskie gestig. Hulle het Jamie Uys gevra om by hulle aan te sluit en hy het. Saam het hulle die mees formidabele span in die geskiedenis van Suid-Afrika se rolprentbedryf gevorm. Hulle het vir meer as 30 jaar saamgewerk sonder dat daar ooit ’n skriftelike kontrak tussen hulle opgestel is. Hulle het doodgewoon mekaar se woord vertrou. 2
Die eerste rolprent wat deur hierdie nuwe span gemaak is, was Three Wise Men of the World (1967). In hierdie rolprent word die storie van drie blinde Suid-Afrikaners vertel en hoe elkeen van hulle hul wêreld beleef. Dit is in groot rolprentteaters in Amerika vertoon waar dit baie gewild was. Nadat Jamie dit verkort het na ’n 14-minuut lange TV-insetsel, is dit tot in 1980 meer as 4 000 keer in Amerika vertoon. 2
Vyf van die sewe rolprente wat Jamie Uys en Mimosa Films saam gemaak het, het internasionale roem verwerf. Kom ons kyk na hierdie bekende rolprente. 2
Die professor en die prikkelpop (1967)
Hierdie draaiboek is in 1966 deur Jamie geskryf nadat hy die idee hieroor gekry het toe hy in Springs by ’n skoonheidswedstryd as beoordelaar moes optree. Die temalied van hierdie rolprent sou vir jare gewild wees in Suid-Afrika: Timothy, geskryf deur Kobus “Dopper’” Erasmus. In die rolprent is dit deur Carike Keuzenkamp gesing en dit was die begin van haar lang en suksesvolle loopbaan as sangeres. 2
Dirkie (1969)
In hierdie rolprent, wat in die Namib-woestyn in Namibië afspeel, het die rolprentspan altesaam 11 000 km deur die woestyn gery om die prent te skiet! Wat dinge nóg meer ingewikkeld gemaak het, is die feit dat dit in Afrikaans én in Engels verfilm is – die rolprent is dus twee keer gemaak! Die Engelse titel is Lost in the Desert. 2
Beautiful People (1974)
Ná die sukses van Dirkie in die buiteland, wou die internasionale gemeenskap nog ’n Uys-rolprent hê. Omdat die natuur vir Jamie so beïndruk het tydens die maak van Dirkie, wou hy ’n rolprent oor diere maak. Mimosa Films het ’n kontrak in Hollywood gesluit vir die maak van die rolprent. Ná die verfilming het Jamie 804 672 meter film gehad – en hy moes dit persoonlik verkort na net 3 000 meter. 2
In hierdie jare was daar nog nie digitale films nie en rolprente is geskiet (verfilm) op filmstroke wat dan ná die tyd gesny en weer aanmekaargesit moes word om uiteindelike die regte beeld te kry.
Hy het vir 18 maande sonder ophou gewerk terwyl hy tussen Johannesburg en Kalifornië heen-en-weer gevlieg het. Hy het homself heeltemal uitgeput en ’n hartaanval gekry.
Hierdie rolprent het alle vorige rekords laat spat. Teen 1975 het meer as drie miljoen mense reeds die rolprent gesien. In Amerika was dit ’n wegholsukses, in Hongkong het dit chaos veroorsaak soos duisende mense tougestaan het om dit te sien en in Bangkok het dit binne net 48 uur alle bywoningsrekords oortref. Ook in Suid-Amerika het dit bywoningsrekords oortref. 2
Funny People (1976)
Jamie en sy span het ongeveer 100 snaakse situasies geskep waarin hulle mense met versteekte kameras afgeneem het. Daarvan het hulle 50 gekies wat uiteindelik in die rolprent gebruik is.
Ongelooflik soos dit mag klink, het Funny People selfs die rekords van Beautiful People oortref! In teaters waar die rolprent gewys het, was die kaartjies vir weke vooruit uitverkoop nog lank voor die rolprent begin draai het. Internasionale rolprentverspreiders het die rolprent gekoop sonder dat hulle dit gesien het – Jamie Uys se naam as filmmaker alleen was genoeg om hulle te oortuig dat dit ’n sukses in hul verskillende lande gaan wees. In Swede het dit vir twee en ’n half jaar lank ononderbroke in rolprentteaters gewys. 2
Toe kom televisie in 1976 na Suid-Afrika. Dit het die rolprentbedryf byna vernietig. Mense het net televisie begin kyk en nie meer na rolprenteteaters gegaan nie. In 1976 is 32 plaaslike rolprente gemaak, in 1977 net 18 en in 1979 net 12. Teen 1980 was Jamie Uys een van slegs enkele voltydse rolprentmakers in die land. 2
The Gods Must be Crazy (1980)
Hierdie was Jamie Uys se bekendste rolprent wat sy naam vir altyd in groot dele van die wêreld bekend gemaak het – van Europa tot die Ooste tot in Skandinawië! 1
Dit is steeds internasionaal die heel bekendste en beste rolprent wat nog ooit in Suid-Afrika gemaak is. 2
Daar was net geen keer aan Jamie Uys nie. Niemand sou kon dink dat hy die sukses van Beautiful People en toe Funny People kon herhaal nie, maar toe maak hy ’n rolprent oor ’n lid van die San-bevolking en ’n Coke-bottel – en weer verstom hy die wêreld.
Jamie het 50 000 km gery om presies die regte plekke vir verfilming in Namibië, Angola, Botswana en in Suid-Afrika te vind, en byna net soveel kilometer om presies die regte San-persoon te vind om die hoofrol te speel. Hy het vir maande lank vir 14 tot 18 uur per dag aan die redigering gewerk en ’n tweede hartaanval gekry. Ná talle vertragings, het die rolprent uiteindelik op 8 September 1980 in teaters landwyd begin draai.
Sy rolprente was rekordbrekers en The Gods Must be Crazy was die beste voorbeeld hiervan.
In Suid-Afrika het die rolprent binne 96 uur alle vorige kaartjieverkope van enige rolprent oortref. Teaters kon nie voorbly om kaartjies te verkoop nie. In Potchefstroom moes die polisie ingeroep word toe ontevrede mense wat nie kaartjies by ’n rolprentteater kon kry nie, met geweld gedreig het! 2
Kyk net na wat in ’n paar ander lande gebeur het:
- Teen Februarie 1982 het 450 000 Japannese dit reeds gesien.
- In 1983 het een miljoen Franse kaartjies gekoop en die rolprent was die topverkoper in Frankryk vir daardie jaar.
- In Portugal het dit vir ’n hele jaar ononderbroke gewys.
- In Swede het meer as ’n miljoen Swede dit gesien.
- In Maleisië het dit vir 100 weke ononderbroke gewys en was dit tot op daardie stadium die gewildste rolprent in die land se geskiedenis.
- In Australië het dit vir ’n jaar lank gewys. Blykbaar was daar een teater in Sydney waar paramedici rolprentgangers moes gaan help wat te histeries gelag het!
- In New York was dit die buitelandse rolprent met die langste ononderbroke speeltyd in die geskiedenis. 2
- Vanaf 1980 tot 1989 is The Gods Must be Crazy sonder onderbreking iewers op aarde gewys! 2
Jamie beheer gehalte in sy rolprente
Jamie was daarvoor bekend dat hy self gesorg het dat alles in sy rolprente presies net reg gedoen word. Hy was betrokke by alle afdelings van sy rolprente en was die kreatiewe dryfkrag agter elke rolprent. Hy het verkies om self die kamerawerk te doen en hy het dikwels vir 17 tot 18 uur per dag gewerk aan redigering. Vir hom was die redigering net so belangrik soos die skryf van draaiboeke en om regisseur te wees.
Jamie se uitsonderlike werk het daartoe gelei dat baie mense wat later bekend geword het in die rolprentwêreld, by sy rolprentmaatskappy aangesluit het. Van hierdie mense was Jans Rautenbach, Ivan Hall, Emil Nofal en Elmo de Witt. 1
Gaan kyk gerus by hoeveel rolprente hierdie mense later betrokke was nadat hulle baie oor die kuns van rolprentmaak by Jamie Uys geleer het.
Bydrae tot die land se beeld en toekennings
Jamie het in die buiteland bekendheid verwerf vir sy bydrae om ’n positiewe beeld van ons land na ander lande uit te dra. Hy het talle bekende en hoog aangeskrewe dokumentêre programme gemaak vir die destydse Departement van Inligting. Enkele hiervan was The Fox Has Four Eyes (1958), Citizens of Tomorrow (1962) en Three Wise Men of the World (1967). 1
Vir hierdie goeie werk van Jamie het hy deur talle toekennings erkenning verkry.
Op 21 September 1970 het hy by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n Medalje vir Filmkuns ontvang. 1
In Maart 1983 het die staatspresident aan hom die hoogste toekenning gegee wat ’n lid van die publiek kan ontvang, naamlik die Orde van Verdienstelike Diens. 1 Iemand wat hierdie toekenning ontvang, kan daarna DVD agter sy of haar naam skryf. 3
In 1983 het die Universiteit van Port Elizabeth aan hom ’n eredoktorsgraad in Letterkunde toegeken. Daardeur het die Universiteit hom vereer vir die erkenning wat hy internasionaal na Suid-Afrika gebring het, vir die uitsonderlike gehalte van sy werk in die uitvoerende kunste, vir sy finansiële sukses wat hy behaal het en vir sy geloof in die toekoms van Suid-Afrika en sy mense. 1
Vir sy rolprente het Jamie sommer hope toekennings in die buiteland ontvang.
Kom ons kyk net na al die toekennings wat hy vir The Gods Must be Crazy ontvang het:
- Switserland: Festival International du Film de Comédie: Grand Prix-toekenning (1981)
- Noorweë: Rolprentfees Grand Prix (1981)
- Londen: Rolprentfees – toekenning vir uitstaande rolprent van die jaar (1981)
- Suid-Kalifornië: Rolprentraad se toekenning vir spesiale prestasie (1984)
- Amerikaanse Akademie vir Wetenskapfiksie en Rillers: Goue perkamentroltoekenning (1985) 2
Jamie deel van kultuuroplewing
Suid-Afrika het in die jare 1950’s, 60’s en 70’s ’n opbloei in kultuur beleef. Daar is twee nuwe universiteite geopen – die Universiteit van Port Elizabeth in 1965 en die Randse Afrikaanse Universiteit in 1968. Die Universiteit van Port Elizabeth, ’n tweetalige universiteit in ’n stad waar die meeste mense Engels gepraat het, was goeie nuus vir Afrikaans.
Die rolprentbedryf was deel van hierdie kultuuroplewing. Jamie was een van die mees geslaagde rolprentmakers in hierdie tyd met sy rolprente soos onder andere Daar doer in die bosveld, Rip van Wyk en Hans en die Rooinek. Van sy rolprente wat hy later gemaak het, soos Funny People en The Gods Must be Crazy, was nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in die buiteland treffers. 4
Deel van hierdie kultuuroplewing was ook die stigting van die Rapportryerbeweging in 1961 met die doel om die Afrikaanse kultuur te beskerm en te bevorder. Nuwe Afrikaanse koerante soos Rapport (29 November 1970) en Beeld (16 September 1974) is ook in die sewentigerjare gestig. 4
Rolprente van Jamie Uys
In sy loopbaan van byna 50 jaar, het hy meer as 40 rolprente gemaak – dit het kortrolprente, dokumentêre rolprente en vollengte rolprente ingesluit. Tussen 1950 en 1966 het hy byna elke jaar ’n rolprent gemaak. 2
Hy het vir meeste van sy rolprente die draaiboeke geskryf en ook die regie hanteer. In baie van hulle het hy self ook ’n rol vertolk. 5
In sy loopbaan by Mimosa Films, het hy net sewe rolprente gemaak. Hierdie sewe rolprente was duurder as enige van sy vorige rolprente en vyf van hierdie sewe rolprente het meer internasionale sukses behaal as enige ander rolprent ooit in die geskiedenis van Suid-Afrika se rolprentbedryf. 2
Hier is die lys van meeste van sy rolprente met sy betrokkenheid op verskillende vlakke in elkeen daarvan: 6
- Daar doer in die Bosveld (1951) Regisseur + Speler + Draaiboekskrywer + Vervaardiger
- 50-50 (1953) Regisseur + Speler + Draaiboekskrywer
- Daar doer in die stad (1954) Regisseur + Speler + Vervaardiger
- The Fox has Four Eyes (1959) Regisseur
- Doodkry is min (1961) Regisseur
- Citizens of Tomorrow (1963) Regisseur
- Three Wise Men of the World (1967) Regisseur
- We Are Marching to Pretoria (1968) Regisseur
- The Great Adjustment (1968) Regisseur
- Jabulani Afrika (1985) Regisseur
- Satanskoraal (1959) Draaiboekskrywer
- Rip van Wyk (1960) Speler + Draaiboekskrywer
- Hou die blinkkant bo (1960) Vervaardiger
- Hans en die Rooinek (1961) Regisseur + Speler + Draaiboekskrywer + Vervaardiger
- The Hellions (1961) Speler
- Lord oom Piet (1962) Regisseur + Speler + Draaiboekskrywer + Vervaardiger
- Dingaka (1964) Regisseur + Speler + Draaiboekskrywer + Vervaardiger
- All the Way to Paris (1966) Regisseur + Speler + Draaiboekskrywer + Vervaardiger
- Die professor en die prikkelpop (1967) Regisseur + Speler + Draaiboekskrywer + Vervaardiger
- Dirkie (1969) Regisseur + Speler + Draaiboekskrywer
- Beautiful People (1974) Regisseur + Draaiboekskrywer
- Funny People (1976) Regisseur + Speler + Vervaardiger
- The Gods Must be Crazy (1980) Regisseur + Vervaardiger + Speler + Draaiboekskrywer + Direkteur Fotografie
- Funny People II (1983) Regisseur + Draaiboekskrywer + Vervaardiger
- The Gods Must be Crazy II (1989) Regisseur + Speler + Draaiboekskrywer
Jamie as persoon
Hy het die volgende oor homself en sy skryfwerk gesê: “Ek sou daarvan gehou het om op ’n keer ’n rolprent met ’n ander skrywer se draaiboek te maak, maar ek is te vol nonsens om tevrede gestel te word. Selfs met my eie draaiboeke is ek nie tevrede nadat ek dit geskryf het nie”. 2
Hy was sensitief vir die uitwerking van sy rolprente. Nadat hy in 1961 Doodkry is min gemaak het, waarin Engelssprekende Suid-Afrikaners die skuld gekry het vir probleme in die land, het hy ’n komedie gemaak waarin hy pleit vir eenheid en versoening tussen die verskillende mense in Suid-Afrika. In hierdie rolprent – Lord Oom Piet – het Uys self die hoofrol gespeel van Oom Piet Kromhout, ’n trotse Afrikaner, wat op ’n dag meegedeel word dat hy eintlik ’n Engelsman is en boonop Koningin Elizabeth II se neef! 7
Hy het baie goeie mensekennis gehad. Oor die ster van die rolprent The Gods Must be Crazy, N!xau, het hy gesê: “Die woord ‘adeldom’ in Afrikaans beskryf presies wie hy is. Dis amper soos ‘aristokraties’, maar dit klink heeltemal te verhewe”. 2
Jamie het gesê dat hy nie boodskappe in sy films inskryf nie, dit is bloot komedie met geen diep of verskuilde boodskappe nie. Volgens hom beroof dit die gehoor van die geleentheid om self hul eie boodskap uit die rolprent te kry as die skrywer boodskappe in ’n rolprent sit. 8
So het Katinka Heyns vir Jamie Uys beskryf: “Almal wat selfs maar net op ʼn afstand met hom saamgewerk het, weet hy was veeleisend, moeilik, perfeksionisties tot by ʼn punt waar almal om hom selfmoord begin oorweeg. Verbaal gestremd, verstrooid, geniaal, met niks tevrede nie, en — so absurd as wat dit ook mag klink — lief vir alles om hom en maklik om lief te hê. Hy was ʼn bietjie soos daardie Switserse mes met die baie goeters: skêr, blikoopmaker, els, naelvyl, saag, skroewedraaier, noem maar op.”
Jamie Uys is op 29 Januarie 1996 aan ’n hartaanval in Johannesburg oorlede. 5
Woordbank
aan sy voete gehad | Om mense baie te beïndruk en deur hulle bewonder te word. |
by hom aangeklop | Om na iemand te gaan om hulp te vra. |
dokumentêre programme | Programme waarin daar feite oor ’n onderwerp gegee word. |
eredoktorsgraad | ’n Graad wat aan iemand toegeken word om hom of haar te vereer vir ’n belangrike prestasie. |
formidabele | Indrukwekkend, buitengewoon. |
geboorte | In hierdie sin beteken dit wanneer iets begin of ontstaan. |
hoog aangeskrewe | Iets waarvoor mense baie respek het. |
ingewikkeld | Moeilik. |
kers vas te hou | Om te kan doen/presteer soos ander. |
kreatiewe | Skeppende. |
mededingend | Om baie hard te probeer om die beste of meer suksesvol as ander te wees. |
nederige | Om nie baie van jouself en jou prestasies te dink nie. |
ononderbroke | Sonder om op te hou. |
opbloei | Goed ontwikkel en kragtig/suksesvol word. |
opdraande stryd | Wanneer dit moeilik is om iets te doen. |
paramedici | Mense met noodhulpopleiding en wat mediese noodgevalle kan hanteer. |
regie | Afrigting van toneelspelers. |
rillers | Boeke/rolprente/toneelstukke wat ’n mens van spanning/vrees/ens. laat ril. |
toegetree tot | Om by iets aan te sluit. |
verhewe | Om gemaak belangrik te wees. |
vindingryke | Slim of kreatief; die vermoë om dinge uit te vind en slim oplossings te bedink. |
volhard | Om aan te hou probeer. |
wegholsukses | Baie groot sukses. |
Lees meer
- Lees hier hoeveel moeite Jamie Uys gedoen het om sy rolprente te maak presies soos hy hulle wou hê
- Lees by hierdie skakel verder oor nog van Jamie Uys se suksesvolle rolprente wat deur Mimosa Films versprei is
Kyk hier
Rip van Wyk (rolprent) 1960
The Hellions (Suid-Afrikaanse Wilde Weste) 1961
Lord Oom Piet (rolprent) 1962
Dingaka (1964)
Funny People (rolprent) 1976
Uittreksel uit Funny People
Lokrolprent vir Funny People
Lokrolprent vir die rolprent Beautiful People (1974)
Uittreksel uit The Gods Must be Crazy
Onderhoud met Jamie Uys in 1990
Onderhoud met N!xau, die hoofrolspeler van The Gods Must be Crazy en The Gods Must be Crazy II in 2022. Hier kan jy ook sien hoe die ander spelers in die rolprent in 2022 gelyk het.