Vinnige feite

Ampie, 1930
  • Die naam André Huguenet is deur Paul de Groot voorgestel as ’n nuwe naam vir Gert Borstlap. Hy het sy naam wettig so verander en dit is ook die naam wat op sy paspoort verskyn het. 2
  • Hoewel die verhoog sy groot liefde was, het hy ook in ’n paar rolprente gespeel, soos onder meer in Hans die Skipper en Paul Kruger. 4
  • Een van die seuns van die Borstlaps se stamvader, Johannes Lodewicus (Hans) Borstlap, is die oupagrootjie van Mari Borstlap wat in die afgelope aantal jare bekend geword het as regisseur in Suid-Afrika. Haar oupagrootjie en André se pa was broers. 1
  • Deur die loop van sy eie loopbaan, het André gehelp om die loopbane van baie akteurs wat later bekende name in die toneelwêreld sou word, te laat begin. Van hulle is Siegfried Mynhardt, Patrick Mynhardt, Lydia Lindeque, Anna Neethling-Pohl, Emgee Pretorius, Rena la Roche, Henri van Wyk en Hermien Dommisse. 4

By al die beskrywings van André Huguenet – talentvol, uitstekende akteur, perfeksionisties, charismaties, outokraties, selfgesentreerd, gesteld op orde en presiesheid – is die belangrikste waarskynlik dat hy beskryf word as die “Vader van toneel in Suid-Afrika”.

Wanneer mens kyk na al sy prestasies en na die mense met wie hy saamgewerk het en wie se loopbane hy bevorder het, is dit niks minder as reg dat hy daardie titel gekry het nie.

Die eerste Borstlap kom na Suid-Afrika

Die stamvader van die Suid-Afrikaanse Borstlap-familie het in 1868 uit Nederland in Suid-Afrika aangekom. Hy is op 2 November 1839 in Rotterdam gebore –  kyk bietjie na sy interessante name: Cornelius Wilhelmus Rehuel Zelotes Borstlap!

Hy het skoolgehou by ’n skool in die omgewing van Modderrivier tussen Boshoff en Petrusburg in die Vrystaat. Hy het sy vrou ook daar ontmoet en later het hulle in Bloemfontein gaan woon. Hy het ’n baie groot boekversameling gehad en het op Sondae ook kerkdienste vir bruin mense gehou. Dan het hy ’n lang manel en ’n pluiskeil gedra. 1

André was baie lief vir sy oupa. Hy was sy oupa se gunstelingkleinkind, alhoewel sy oupa tot en met sy dood nie gelukkig was daarmee dat André nie sý naam gekry het nie. Hy (die oupa) het dan die hele pad van Petrusburg af Bloemfontein toe geloop met sy kleinseun se geboorte! 2

Hy het onthou hoe sy oupa sy hand vasgehou het wanneer hulle deur Bloemfontein se strate gestap het en hoe sy oupa vir hom lekkers en speelgoed gekoop het. Hy het ’n lang wit baard gehad en gewoonlik ’n kort manel en ’n hardebol keil gedra. Hy was trots op sy Nederlandse oupa al het die kinders hulle gespot oor hul vreemde van. Sy oupa was baie trots op sy baie name en het altyd daarop aangedring dat hy sy volle name of voorletters gebruik wanneer hy iets moes teken of ’n vorm moes invul. 3

Hierdie stamvader het agt kinders gehad waarvan die tweede oudste, Gerhardus Petrus (Gert) Borstlap, André se pa was. 1

André se pa, sy oupa en sy oom (sy pa se oudste broer), Cor Borstlap, het al drie saam in die Anglo-Boereoorlog geveg. Tydens die Slag van Paardeberg is hulle kommando deur die Engelse oorval en hulle is al drie saam as krygsgevangenes na die eiland Ceylon (vandag Sri Lanka) gestuur. Soos die ander soldate wat aan die oorlog deelgeneem het, het hulle ook elkeen ’n oorlogsmedalje ontvang. Kyk by die foto’s na ’n foto van hierdie medalje. Neels Borstlap, wat ook ’n afstammeling is van die oorspronklike Borstlapstamvader is, besit tans hierdie medalje. 4

Haar egskeiding, 1935

Die jong André

André Huguenet is op 22 Oktober 1906 in Bloemfontein gebore. Sy regte naam was Gerhardus Petrus (Gert) Borstlap. 1

Hy het ’n ouer suster Salomé (Sally) en ’n jonger broer Manie gehad. Hy het skoolgegaan by die Voorbereidende Tegniese Skool waar hy klasse in musiek en voordrag by dr. Blok geneem het. Die skool was in die ou Gereformeerde kerk in Zastron-straat.

Toe hy 11 was, het hy begin met klavierlesse en het later kerkorrelis geword. Toe hy 16 was, het hy voortgegaan met voordragklasse by Grey Kollege en het sy studies in 1925 voltooi. Hy was ’n toegewyde student en mense het begin weet van hierdie student wat sulke mooi voordragte kon doen. 5

André Huguenet word vir die verhoog ontdek

André was in matriek toe hy in Johannesburg aan ’n kunswedstryd gaan deelneem het. Op hierdie stadium het André reeds besluit dat hy wil toneelspeel omdat hy vir Paul de Groot en Wena Naudé in die toneelstuk Oorskotjie gesien het en toe reeds groot bewondering vir hulle albei gehad het. 2

Paul de Groot, 1926

By hierdie kunswedstryd het Paul – wat toe ’n baie bekende en hoog aangeskrewe akteur was – vir André gesien en hom gevra om by die Paul de Groot Toneelgeselskap aan te sluit. Dit het hy in Julie 1926 gedoen toe hy in Potchefstroom by die geselskap aangesluit het. Hierdie geselskap is deur Paul en Hendrik Hanekom gestig – hulle was albei in daardie tyd baie bekende persone in die Suid-Afrikaanse teaterwêreld.

André was die hoofspeler onder die jong spelers in die geselskap. Hy het rolle gespeel in onder meer die volgende toneelopvoerings: Huis Toe, As mans huishou, Gerieflike huwelik, Haar tweede man en Geleende geld. Toe Paul de Groot hom vra om in Rosekrans te speel, was hy reeds baie bekend aan die publiek, maar hy het die rol van die hand gewys.

Hy het toe vir drie jaar nie toneelgespeel nie en as verslaggewer begin werk – eers vir The Friend in Bloemfontein en daarna ook vir Die Vaderland in Pretoria. 4

Toe Paul de Groot die land verlaat, het André die leiding by sy geselskap oorgeneem. Hul eerste verhoogstuk was ’n Nederlandse stuk met die naam Dolle Hans wat André in Afrikaans vertaal het. Die Groot Depressie van 1929 het die geselskap swaar getref en omdat daar nie genoeg geld was nie, moes hulle ontbind. 4

André Huguenet en Berdine Grunewald in Hamlet en Ophelia, 1947

André se eie toneelgeselskap

Met Bethlehem as sy basis, het André sy eie toneelgeselskap gestig – Die Afrikaanse Toneelspeler, André Huguenet Geselskap. Hulle teikenmark was veral die ouer mense op die platteland en vir meer as 30 jaar het hy oral in die land rondgetoer met Afrikaanse weergawes van klassieke toneelstukke. 4

Onder sy toerlede was bekende Afrikaanse toneelspelers soos Wena Naudé, Lydia Lindeque, Siegfried Mynhardt asook Hendrik en Mathilde Hanekom. 6

Later het die geselskap Johannesburg as basis gehad. In 1937 het André na Londen gegaan waar hy by die British Drama League aangesluit het. Saam met hulle het hy ook na die destydse USSR (Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke) gereis waar hy onder andere die baie bekende Russiese dramaturg, Leo Tolstoi, se huis besoek het.

Spoorwegwa van die De Groot Hanekomgeselskap 1926

Toe hy terug was in die land, het die toere voortgegaan. ’n Paar van die talle toneelstukke wat hulle aangebied het, was Absalom, my seun!, Genoveva, Ek het ’n man vermoor, By die ou meulstroom, Oom Bart, Die kwaksalwer en Helshoogte. In 1947 het hy die hoofrol gespeel in die Afrikaanse weergawe van Shakespeare se Hamlet.

In 1936 was hy op die eerste bestuur van die Toneelbond wat deur die FAK gestig is en hy was in 1937 ook ’n raadgewer van die Toneelburo.

Ná die groot sukses van die opvoering van Hamlet, het André, Anna Neethling-Pohl en ander mense uit die toneelbedryf die destydse administrateur van Transvaal gevra vir die stigting van ’n staatsteater. Dit het gelei tot die stigting van die Nasionale Toneelorganisasie in 1948. André was ’n stigterslid en ook lid van die beheerraad daarvan.

In die jare hierna het André in nog baie toneelstukke opgetree. Enkele daarvan was Altyd my liefste (1947/48), Dear Brutus (1948), Nag het die wind gebring (1948/49), Minnaar onder die wapen (1949 – Afrikaanse vertaling van Arms and the Man), Die Indringer (1949 – Afrikaanse vertaling van The Outsider) en Macbeth (1950, in Afrikaans). 4

André Hugeneut en Anna Neethling-Pohl

Aan die einde van die 1950’s het dit nie meer goed gegaan met André se loopbaan nie. Hy het selfs vir ’n tyd die Pigalle-rolptrentteater naby Johannesburg bestuur. Wat vir hom ’n vernedering moes wees, is dat hy in hierdie dae oudisies moes aflê om rolle te kry. Hy wat so ’n bekende akteur was, moes nou eers vir ander mense wys of hy kan toneel speel voor hy ’n rol kon kry.

In die 1960’s het hy nog ’n paar keer vir die NTO gespeel. Sy laaste rol was in 1961 in The Prisoner. Baie mense het hierdie rol as sy beste vertoning beskou. 4

Toekennings en nalatenskap

In 1948 het André saam met Anna Neethling-Pohl ’n erepenning vir Toneelkuns van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang.

In 1948 ontvang hy ook die Koningin se Kroningsmedalje. 7

In 1950 is die Grey College eremedalje aan hom toegeken. (’n Ander bron gee die datum as 1953). 4

In 1971 het hy die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se prys vir Vertaalde Werk vir King Lear ontvang. 5

In Bloemfontein – die stad waarin hy gebore is en gesterf het, is een van die teaters in die Sand du Plessis-teaterkompleks na hom genoem. 5

In 1955 ontvang hy ’n erepenning van Pro Arte, die Universiteit van Pretoria se kunsvereniging. 6

André het deur sy hele loopbaan hard gewerk om van die grootste dramas uit die Wes-Europese letterkunde in Suid-Afrika aan te bied. En nog belangriker is dat hy dit dikwels in Afrikaans aangebied het. So het hy vir liefhebbers van die toneel die kans gegee om toneelstukke van goeie gehalte te sien en het daarmee die Afrikaanse beroepstoneel in Suid-Afrika gevestig. 6

Kollegas skryf oor hom

Mens kan altyd baie oor ’n mens leer uit wat kollegas oor hom of haar sê.

In André se geval het daar ’n hele boek verskyn waarin kollegas oor hom geskryf het – nie minder nie as 52 mense het oor hom geskryf, en nie sommer net ’n paragraaf nie, elkeen het ’n hele opstel geskryf. Hulle het vertel van hul persoonlike ondervinding met en oor hom en oor alles wat hy vir die toneel beteken het. Hulle het ook nie doekies omgedraai nie, as hulle ook André se moeilike kant leer ken het, het hulle so gesê.

Kyk net watter bekende name in die kunstewêreld het oor hom geskryf:

P.P.B. Breytenbach (groot naam in die toneelwêreld en die man na wie die Breytenbach-teater in Pretoria vernoem is)

Mimi Coertse (internasionaal bekende sopraan van Suid-Afrika)

W.A. de Klerk (skrywer)

Taubie Kushlik (aktrise)

W.E.G. Louw (digter)

Siegfried Mynhardt (akteur)

Patrick Mynhardt (akteur)

Anna Rudolph (skryfster van kinderliedjies)

Gert van den Bergh (akteur)

Anna Neethling-Pohl (aktrise)

Albie Venter (rolprentvervaardiger) 8

Kom ons kyk wat ’n paar mense geskryf het:

Patrick Mynhardt oor André se vertolking van Oedipus in die toneelstuk Oedipus Rex: “I was staggered, horrified, dumbfounded, ecstatic, elated and crying – this man had caused my stomach to summersault, and then proceeded to tear my guts right out…I simply had to become an actor and follow in the footsteps of this great man, and move people to tears or laughter in the way he had moved me.” 9

Patrick Mynhardt

Anna Neethling-Pohl het vertel dat André buitengewoon musikaal was, altyd gesorg het dat hy netjies aantrek en trots was op sy blonde hare en mooi profiel. Hy was uiters gevoelig vir ongunstige kritiek en aan die ander kant was hy baie dankbaar vir hulp en waardering. Hy was weetgierig en het tot laat in die nag gelees – koerante, tydskrifte en boeke, veral dramas.

Anna Neethling-Pohl

Hy het net één obsessie gehad en dit was ’n bloeiende Afrikaanse toneellewe in die land. Sy sê verder: “Mens ontmoet net één maal in jou lewe ’n André Huguenet.” 2

Ook sy suster Sally Kruger het tot die boek bygedra. Toe hulle skoolgegaan het, is net Engels en Nederlands gebruik. Sy vertel hoe haar boetie in die skool dikwels met ’n liniaal pakgekry het omdat hy daarop aangedring het dat die onderwyseres in sy eie taal met hom moet praat. Dit het aangehou totdat die skoolhoof daarvan gehoor het, daarna het die onderwyseres nie weer met hom Engels gepraat nie, wel so ’n soort Afrikaans-Nederlands. Sally vertel hoe hy op haar troue die troumars gespeel het en hoe hy altyd geld huis toe gestuur het vir sy ouers. Volgens haar was hy later nie meer die opgeruimde en tog stil mens van vroeër nie, sy het gedink dit is omdat hy in die laaste jare so swaar gekry het in sy loopbaan. 10

André Huguenet sterf

Op 15 Junie 1962 is hy dood in sy suster se huis in Bloemfontein gekry. 4

Op sy kis was sy doopnaam – Gerhardus Petrus Borstlap. Maar André Huguenet sal in Suid-Afrika leef solank as wat Afrikaans gepraat word. 2

Die Poppehuis

Woordbank

beheerraad Komitee of raad wat ’n organisasie bestuur.
charismaties Sterk en oortuigend.
dramaturg Skrywer van toneelstukke.
erepenning Medalje, ereteken.
gesteld op Om sterk te voel oor hoe iets moet gebeur.
hoog aangeskrewe Voortreflik, uitmuntend, uitstekend.
kommando Groep gewapende soldate wat tydens die Anglo-Boereoorlog deur die Boere op die been gebring is (bymekaar gebring is).
krygsgevangenes ʼn Soldaat wat deur die vyand gevang en opgesluit word, meestal in ʼn krygsgevangenekamp.
lotte Artikels wat tydens ’n veiling saamgegroepeer word en dan saam verkoop word.
manel Baadjie met ’n langer of korter agterste gedeelte. Dié met die langer deel is gewoonlik gedra tydens formele geleenthede.
musikaal Iemand wat musiekinstrumente kan speel of goed kan sing.
nie doekies omgedraai nie Reguit gepraat.
obsessie Beheptheid met iets, om gedurig daaraan te dink; kwel- of dwanggedagtes.
outokraties Om alleen met onbeperkte mag te regeer.
paspoort Dokument wat mens nodig het om na ’n ander land te reis.
pluiskeil Lang silindervormige hoed.
teikenmark Die spesifieke groep mense wat jy met jou bemarkingsboodskap wil bereik.
toegewyde Wanneer iemand die meeste van sy of haar tyd aan iemand of aan ʼn saak bestee.
verslaggewer Beriggewer, korrespondent van ʼn nuusblad.
voordrag Om ’n geskrewe teks uit jou kop op te sê.
weetgierig Om graag al hoe meer kennis te verkry.

Lees hier

Kyk hier

 

Foto: iStock
Gepubliseer op: 26 Februarie 2024 | Bygewerk op 18 April 2024