Vinnige feite

  • Lance is in 1965 vir militêre diensplig opgeroep. Hy het sy diensplig in Potchefstroom gedoen waar hy ook in die Weermagorkes klavier gespeel het. 1
  • In 1971 het Lance die hoofrol vertolk in die Afrikaanse rolprent Lindie en hy het ook die temalied gesing. 1
  • Mara van der Bergh het vanaf 1984 saam met Lance gewerk en was vanaf 1994 sy bestuurder, besprekingsagent en klankpersoon tot en met sy dood in Maart 2020. 2
  • In 2014 het Bill Jones ’n biografie oor Lance met die titel Keep It Country at The Show verskyn. In 2015 het Lance met die hulp van Francois van Oudtshoorn die outobiografiese boek Dankie… soos vertel deur “Big Daddy” Lance James geskryf. 8
  • Lance is in Oktober 2019 deur die FAK vereer vir sy lewenslange bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek. 4
Foto: iStock

Min mense sou in 1938 gedink het dat die seuntjie wat in daardie jaar aan die Oos-Rand gebore is, sulke diep spore in Suid-Afrikaanse musiek sou trap en uiteindelik vir meer as 60 jaar gehore met sy musiek sou vermaak – meeste van die tyd met sy bekende Stetson-cowboyhoed op sy kop.

Lance James en Barbara Ray

Die jong Lance en sy gesin

Lance is op 18 Julie 1938 as Lance James Liebenberg op Springs aan die Oos-Rand gebore. Sy pa Charles en ma Gladys het een ander seun met die naam Les gehad wat drie jaar ouer as Lance was.

Lance se oupa en ouma aan sy ma se kant is in Engeland gebore en sy ma Gladys was self in haar jonger dae ’n sangeres. Lance se pa was ’n goeie sportman wat sokker, krieket, rolbal en tennis gespeel het. Sy familie was musikaal en hulle het sommer ’n hele klomp musiekinstrumente bespeel. 1

Lance was vyf jaar oud toe sy gesin na Crown Mines in die suidweste van Johannesburg verhuis het. Hy was van kleins af lief vir musiek en hy het soveel moontlik na die radio geluister en saamgesing. Uit sy jong jare onthou hy ook die lekker vakansies wat die gesin aan die suidkus van Natal gaan hou het. Op een van hierdie vakansies – toe hy net ses jaar oud was – was daar kunstenaars wat op die strand konsert gehou het en net daar het die jong Lance besluit dat hy ook musiek wil maak. 1

Dit was gedurende hierdie selfde vakansie dat die gesin ’n groot krisis beleef het toe Lance op die strand inmekaargesak het en die dokters polio by hom gediagnoseer het. Hulle het vir sy ouers gesê dat hy nooit weer sou kon loop nie. Sy pa se woorde aan die dokter was: “Jy ken nie my seun nie.” Hy was reg en twee jaar nadat hy polio gekry het – in 1947 – het Lance by die John Ware-skool in Mayfair, Johannesburg begin skoolgaan. Hy het die skool se hoofsanger geword en is ook in dieselfde jaar genooi om vir die destydse koning van Engeland, koning George VI en sy vrou te sing toe hulle Suid-Afrika besoek het! 1

Toe Lance se pa in 1950 sterf met Lance nog net 11 jaar oud, het die gesin verhuis na Robertsham. Dit is waar die bekende Gold Reef City vandag is. 1

Hy is op 3 September 1965 getroud met Valerie May (Val) 1 en hulle was vir 35 jaar getroud totdat sy in 2015 oorlede is. Hulle het twee kinders gehad en ook een kleindogter en twee kleinseuns. 2

Lance se merkwaardige loopbaan

Lance het reeds professioneel begin sing toe hy net 16 jaar oud was. Vandat hy 18 jaar oud was, het hy in orkeste begin optree. Die musiek wat hulle gemaak het, was in verskillende genres – Swing, Rock ’n Roll, Afrikaans en Country. Hy het ook in die buiteland opgetree en het onder andere saam met die Britse groep Group One in Brittanje, Ierland, Spanje en Duitsland gaan toer. In 1997 het hy in ’n TV-program in Texas in die VSA opgetree.

Terug in Suid-Afrika het hy onder meer in al die casino’s in die land opgetree en in 1962 het hy musiekopnames begin maak. Hy het uiteindelik in sy loopbaan van 60 jaar meer as 100 albums opgeneem. Hy was veral vir sy Countrymusiek bekend, maar het ook CD’s opgeneem met ander Afrikaanse en Engelse liedjies asook geestelike liedjies. 3 Dink net ’n bietjie – dis amper twee albums per jaar!

Lance James en Barbara Ray

Sy heel eerste plaat was When Will I be Loved – dit is in 1962 opgeneem. 1

Lance se heel laaste CD was Swan Song wat in 2019 verskyn het en waarop liedjies in ’n wye verskeidenheid musiekstyle opgeneem is. Lance het gesê dat die opneem van hierdie CD vir hom ’n verrykende ervaring was. 4

Lance is as sanger bekend, maar hy het in 1967 ook kontrabas in die Werner Krupski-orkes gespeel. 1

Waar kom sy verhoognaam vandaan?

In sy tyd by Springbokradio het die omroeper Eric Egan op ’n dag vir Lance gesê dat “Lance Liebenberg” nie ’n verhoognaam is nie. Net voor Eric weer op die lug moes gaan, het hy uitgeroep “Lance James! Ja! Dis ’n mooi verhoognaam.” En net daar is die naam gebore waarvoor Lance tot en met sy dood bekend sou wees. 1

Lance het nog ’n ander en baie bekende bynaam gehad. Onder kunstenaars wat Countrymusiek gesing het, is hy “Big Daddy” genoem.

Lance en ander kunstenaars

Lance is baie bekend vir sy duet-optredes, veral saam met die sangeres Min Shaw. Hulle het vir nie minder nie as 51 jaar saam opgetree! 4

Hul eerste plaat saam het in 1969 met die titel Silwer en blou verskyn. 5

Lance James en Min Shaw

In 1999 is Lance en Min deur die tydskrif Keur gekies as die sesde gewildste Afrikaanse duetpaar van die 20ste eeu. ’n Paar van die liedjies waarvoor hierdie twee kunstenaars baie bekend was, is “Vicki”, “Ahoy, Madagaskar”, “Bloedrooi die rose” en “Aandlied van die voëls”. 3

Min en Lance was een van die mees suksesvolle duetpare in die Suid-Afrikaanse musiekgeskiedenis. Hulle het saam ongeveer 12 albums opgeneem en Lance se stem is ook in verskeie rolprente gebruik waarin Min opgetree het. Hulle het van 1972 tot 1974 ook versoekprogramme op Radio Hoëveld en Radio Port Natal (vandag bekend as East Coast Radio) aangebied. 1

Lance het ook dikwels in duet-optredes saam met ander sangers soos onder andere Barbara Ray opgetree. Twee van die liedjies waarvoor hierdie twee kunstenaars baie bekend was, is “After The Fire Is Gone” en “Somewhere Between”. 6

Lance James en Min Shaw

In 2015 het Lance, Tommy Dell, Barbara Ray en Clive Bruce saam met die gewilde internasionaal bekende kunstenaar, Kenny Rogers, opgetree tydens sy laaste toer deur Suid-Afrika. Lance het ook die verhoog gedeel met die alombekende sangeres Dolly Parton. 3

In 2003 het Lance en sy bestuurder, Mara van der Berg, besluit dat hulle sy vertonings nog meer kleur moet gee deur lyndansers saam met hom te laat optree. Die Rodeo Girls, onder leiding van Lientjie Bayman, het vir meer as 10 jaar saam met Lance opgetree. Lientjie het reeds in Amerika én Europa goue medaljes met haar lyndanse verower. 1

Lance en die radio

Lance was nie net as sanger bekend nie. Hy het ook vir homself naam gemaak as aanbieder op radio.

Lance was net 16 jaar oud toe hy in Desember 1954 by die SAUK (Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie) begin werk het as klankoperateur by Springbok Radio. Hy het sy werk goed gedoen en in 1956 het hy die Silwer Springbok-trofee vir beste klankeffekte ontvang. 1

In die 1970’s en 1980’s het hy verskillende programme op die destydse Springbokradio aangebied. Twee daarvan was Munt uit musiek en Keep It Country. 6

Keep It Country het as ’n radioprogram talle rekords opgestel. Die program is wêreldwyd op 34 radiostasies en internetstasies uitgesaai. Tot en met sy dood was Lance die samesteller én aanbieder van die program, vir 45 jaar lank. 3 Daar is darem nie baie omroepers wat so ’n prestasie kan behaal nie!

Lance het vanaf 1954 tot 1985 by Springbok Radio gewerk. 7

Lance James met Min Shaw

Toekennings en pryse

Geen ander Suid-Afrikaanse kunstenaar het soveel pryse en toekennings vir sy/haar werk ontvang soos Lance James nie – ongeveer 50 in totaal!

Sy eerste toekenning het hy in 1956 ontvang toe hy die Silver Springbok-trofee vir “Best Presentation Effects Operator” by Springbok Radio ontvang het. Sy laaste toekenning was in 2015 toe hy in MTN se Radio Eregalery opgeneem is. 1

Lance het onder andere ses Sarie-toekennings ontvang! Hy het ook 10 toekennings ontvang vir lewensbydrae tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, vanaf organisasies en instansies soos onder andere die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), Vonk Musiek, Huisgenoot, South African Music Awards (SAMA), die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), Solidariteit en die Gallo-platemaatskappy.

Nog ’n paar van sy toekennings was ’n Prestige-toekenning van die FAK, asook ’n erepenning en oorkonde van die ATKV in 2006 vir sy lewenslange bydrae om gesonde verhoudinge tussen Afrikaanse en Engelse luisteraars aan te moedig. 3

Vir twee jaar ná mekaar – 1997 en 1998 – is Lance deur die tydskrif Keur aangewys as een van die 10 gewildste kunstenaars in Suid-Afrika. In 1999 het Keur twee van Lance se grootste treffers – “Dankie” en “Vicky” – gekies as die twee gewildste Suid-Afrikaanse liedjies in die geskiedenis van Afrikaanse Musiek. 3

SA en die musiekwêreld groet vir Lance

Lance is in Januarie 2020 hospitaal toe vir ’n heupvervangingsoperasie. Hy het daar infeksie opgedoen en was uiteindelik vir twee maande in die hospitaal waar hy stelselmatig verswak het.

Op 2 Maart 2020 is hy oorlede.

Hy het sy lewensmaat van ’n paar jaar, Eunice Wait, twee dogters en drie kleinkinders nagelaat. 8

Hierdie groetwoorde van Tommy Dell wat vir baie jare saam met Lance opgetree het en 78 jaar oud was toe Lance dood is, vertel vir mens op ’n baie mooi manier hoeveel ander kunstenaars van hom gedink het:

“If I had to write a song today it would be called ‘Gonna miss you’   if I wrote a poem today I couldn’t find the words … can somebody help me to tell Lance I loved him like a brother.

“Only the memories now remain of a Gentleman and a friend. You will still always be a big part of the music industry.

“50 years we travelled, sang, cried and laughed together. Tonight I am jealous of the Angels. I just don’t know how to say goodbye so If you don’t mind I will just have a quiet moment where you can hear me.” 9

Woordbank

albums Oudio-opnames wat op plate, CD’s of in digitale vorm is.
biografie Die geskiedenis van iemand se lewe wat beskryf word; lewensbeskrywing.
diep spore Om goeie werk te doen en daarom deur mense raakgesien en onthou te word.
duetpaar Twee mense wat saam sing.
erepenning Gedenkpenning, medalje.
gediagnoseer Vasstel watter siekte iemand het of wat ʼn probleem veroorsaak.
genres Verskillende soorte musiek.
klankoperateur Persoon wat die tegniese deel van ’n radioprogram hanteer en sorg dat die klank reg klink.
kleur moet gee Iets interessant maak.
kontrabas Basviool.
lewensmaat Baie goeie vriend of vriendin met wie mens nie getroud is nie, maar met wie jy saamwoon.
lyndansers Mense wat in ʼn sekere styl dans met ʼn reeks herhaalde stappe terwyl hulle in rye staan, veral op countrymusiek.
militêre diensplig Tussen 1967 en 1993 moes alle Suid-Afrikaanse mans verpligte militêre diensplig doen sodra hulle 18 jaar oud geword het.
musikaal Iemand wat die talent het om goed te kan sing of musiekinstrumente goed te kan speel.
omroeper Persoon wat programme op die radio aanbied en aankondigings doen.
op die lug moes gaan Wanneer ’n omroeper begin uitsaai nadat daar byvoorbeeld musiek gespeel het.
outobiografiese Storie wat iemand self oor sy/haar lewe geskryf het.
plaat Voor daar CD’s was, is musiek op langspeelplate opgeneem, mense het sommer net van “plate” gepraat.
polio Hierdie siekte tas mens se ruggraat aan en veroorsaak verlamming in dele van die liggaam.
prestasie Iets belangriks wat ʼn mens regkry.
prestige Baie belangrike toekenning.
professioneel Wat verband hou met ’n beroep, m.a.w. jy kry ’n salaris vir dit wat jy doen.
rekords Hoogste, verste, grootste, meeste, ens. van iets wat tot nog toe onder amptelike kontrole behaal/bereik is.
samesteller Persoon wat besluit wat die inhoud van ’n radioprogram is.
stelselmatig Bietjies-bietjies soos wat die tyd verloop het; geleidelik.
toekennings Iets wat mens ontvang as erkenning vir wat jy goed gedoen het.
verrykende Wanneer mens iets doen wat vir jou baie beteken en jou lewe ryker maak.
versoekprogramme Luisteraars na die radio vra dat ’n sekere lied vir hulle gespeel moet word.

Luister en kyk

Don’t Let The Old Man In

Lied van hoop

One Day At A Time

Die Rodeo Girls en Lientjie Bayman saam met Lance James

 

 

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 23 Februarie 2024 | Bygewerk op 27 Februarie 2024