Vinnige feite

  • Simon van der Stel was moontlik onrustig oor sy seun se toekoms as leier. Toe hy die bewind aan hom oorgegee het, het hy God gesmeek om aan Willem Adriaan regverdigheid en versigtigheid te gee, asook ’n opregte, suiwer en standvastige gemoed. 6
  • Van die plantversamelings wat Van der Stel en Hartog bymekaargemaak het, is in die British Museum (Natural History) in South Kensington. 1
  • Gedurende die feesvierings ná die nuus van hul sukses, het ’n groep jonger burgers té luid feesgevier na die landdros se smaak. Toe die landdros vir die sewentienjarige Hendrik Bibault vermaan, het hy geantwoord: “… ik wil niet loopen, ‘k ben een Afrikaander al slaat de landdrost mijn dood, of al setten hij mijn in den tronk, is sal, nog wil niet swygen.” Dit is die eerste opgetekende bewys van ’n wit inwoner wat só na homself verwys het. 2
  • Simon van der Stel se moeder was die dogter van ’n Nederlandse seekaptein en ’n inboorlingvrou van die Ooste. In die 1930’s het ’n koerant, The Sun, probeer om trots by bruin mense te kweek deur die fokus daarop te plaas dat Simon en Willem Adriaan van der Stel streng gesproke bruin mense was. 6
Foto: iStock

Willem Adriaan van der Stel (24 Augustus 1664 – 6 November 1733) was die goewerneur van die Kaapkolonie tussen 1699 en 1707. Hy was ’n uiters omstrede figuur, en is bekend vir sy stryd met die Vryburgers wat uiteindelik gelei het tot sy afdanking en verbanning uit die Kaap.

Vroeë jare

Willem Adriaan van der Stel was die oudste seun van Simon van der Stel, wat ook ’n Kaapse goewerneur was, en sy vrou, Johanna Jacoba Six. Die familie het na die Kaap verhuis toe Van der Stel 14 jaar oud was. 1 Vanaf 17-jarige ouderdom het sy pa hom ingespan as assistentskrywer in die Kaapse regering. Hy is ook om en by dieselfde tyd aangestel as boekhouer en kassier. Die Here XVII het teen hierdie nepotisme (wanneer iemand hul familielede begunstig) beswaar gemaak, maar Willem Adriaan het in 1684 na Europa verhuis, dus het daar niks van gekom nie. 1

Simon van der Stel en Catharina Keyser.

Vanaf 1685 tot 1699 het Van der Stel saam met sy eie gesin in Amsterdam gewoon. Hy het gou ’n gesiene lid van die samelewing geword, en het verskeie hooggeplaaste rolle vertolk, soos toe hy in 1689 as kerkmeester van die Zuiderkerk in Amsterdam opgetree het. 1 Teen die tyd van sy vertrek Kaap toe, was hy ’n baie ryk man. 2

Simon van der Stel en sy seun, Willem Adriaan.

Goewerneur van die Kaap

In 1689, op 35-jarige ouderdom, het hy die goewerneurskap van die Kaapkolonie aanvaar. Hy het in Januarie 1699 in die Kaap aangekom en op 11 Februarie 1699 die bewind by sy pa oorgeneem. Sy pa het onmiddellik teruggetrek Constantia toe, en was nie betrokke by Willem Adriaan se goewerneurskap nie. 1

Een stukkie advies wat Simon vir Willem Adriaan gegee het, was om bome in die Kaap aan te plant. Van der Stel was ’n natuurliefhebber en het dus nie eintlik aansporing nodig gehad nie. Hy het duisende bome na die Kaap laat verskeep, baie van hulle by Rondebosch laat plant, en toe nóg 20 000 bestel vir Stellenbosch en Drakenstein. In November 1699 het hy op ’n toer deur die binneland vertrek. As gevolg van sy belangstelling in plante, het hy die tuinier Jan Hartog saamgeneem, en hulle het sade en inheemse plante versamel. 1

Van der Stel het, ná hy verneem het dat daar Vryburgers sonder plase was, 2 aangekondig dat nuwe plase beskikbaar sou wees in die Land van Waveren (vandag se Tulbagh). In Waveren was daar goeie grond, water en bome, en nie “Hottentotte” nie – soos hy op ‘n neerhalende manier na die Khoi-Khoi-mense verwys het.

Só het die eerste Vryburgers – burgers wat vrygestel is van diens aan die VOC sodat hulle vry in die Kaap kon boer – oor die Roodezandspas getrek en sodoende die Kaap se grense al hoe verder uitgebrei. 1 Van der Stel het hierdie boere gehelp vestig en soldate gestuur om hulle teen die San te beskerm. 2 Van der Stel het veral skaapboerdery aangemoedig, en het moderne boerderymetodes voorgestaan. 3 Hy het egter verdere gebiedsuitbreiding teengestaan. 4

Sedert die aankoms van die eerste Franse Hugenote in 1688 was daar ’n groot Franse invloed in die Kaap. In 1701 het die Here XVII aan Van der Stel opdrag gegee dat Frans as taal aan die Kaap moet verdwyn. Hierdie plan was op die lang duur suksesvol. 5

Die mag van amptenare brei uit

Toe die heel eerste Vryburgers begin boer het, het die VOC in 1668 streng opdrag gegee dat regeringsamptenare nie só mag boer dat hulle voedsel aan skepe en in markte kon verkoop nie. 2 Die rede hiervoor was dat boerdery die Vryburgers se enigste bron van inkomste was, terwyl die amptenare salarisse by die VOC gekry het. Ten spyte van hierdie reëling het die VOC wel begin om by uitsondering plase aan amptenare toe te ken, soos Constantia (later Groot Constantia) aan Simon van der Stel. 4

‘n Kaart van die Constantia-landgoed.

Toe Willem Adriaan die bewind oorgeneem het, was daar ’n kommissaris van die Here XVII, Daniël Heins, teenwoordig. Hy het in ’n brief aan die Here XVII te kenne gegee dat hy die besit van grond vir amptenare wettig verklaar het, al was dit volgens die 1668-verbod nie wettig nie. 2 Dit was in elk geval waar dat baie amptenare reeds geboer en plase gekoop en verkoop het, lank voor Van der Stel se aankoms in die Kaap. 2

’n Ander kommissaris, Wouter Valckenier, het aan Van der Stel ’n plaas van 400 morg (340 hektaar) in Hottentots-Holland (die huidige Somerset-Wes en omstreke) gegee, wat hy Vergelegen genoem het. Dit was nie ’n staatswoning wat hy moes teruggee ná sy goewerneurskap geëindig het nie – dit was sy eie grond, en hy kon dit later verkoop of toesien dat sy kinders dit erf. Hierdie storie het ’n snaakse nadraai gehad, want die Here XVII het later gesê dat hulle nie bewus was van dié plaas nie, en dit glad nie goedgekeur het nie. 1

Van der Stel se plaas, Vergelegen.

Van der Stel het sy plaas vergroot deur nog grond oor te neem, en later was dit 613 morg (510 hektaar) groot. Die standard grootte van ’n Vryburger se plaas in daardie stadium was 60 morg [50 hektaar]. Dit is dus begryplik dat die Vryburgers ongelukkig was oor die groot oppervlakte van Van der Stel se plaas. 1

Daar is geen twyfel dat Van der Stel ’n hardwerkende en uiters bekwame boer was nie. Ná ’n paar jaar het hy omtrent 18 800 skape en 1 000 beeste gehad – genoeg dat hy op sy eie die skepe, hospitaal én slawe van vleis kon voorsien. 6 Hy het tienduisende wingerdstokke geplant en baie koring geoes. Hy het pragtige bome aangeplant, soos die kamferbome wat vandag nog op Vergelegen staan. 1

Van der Stel se broer, Frans, was ook deel van die korrupsie, oftewel die regering wat hulle mag misbruik het om hulself te bevoordeel. Frans het ook grond gekry in Hottentots-Holland, waar hy sy plaas De Paarel Valleij gevestig het. Tussen Willem Adriaan en Frans het hulle basies die hele boerderygebied van Hottentots-Holland oorgeneem. Burgers wat daar wou visvang (tussen Valsbaai en Lourensrivier) is verwilder. En hulle het ook ander nabygeleë gebiede oorgeneem vir hul vee se weiveld. 3

Ander amptenare wat by hulle aktiwiteite betrokke was, het ingesluit die Kompanjie se sekunde, Samuel Elsevier, en die predikant Petrus Kalden. Teen 1705 was ’n derde van die landbougrond in die kolonie in die hande van 20 amptenare. 2 En dit alles sonder die medewete van die Here XVII! 3

Omdat hulle self boere was, was die amptenare natuurlik gekant teen die Vryburgers se boerdery. 6 Hulle het begin om planne te beraam om monopolieë te skep, wat die alleenreg is om goed soos wyn, vleis, koring en vis te verkoop. 4 Van der Stel het vir homself ’n wolmonopolie geskep deur vir die Here XVII te laat weet dat die Vryburgers nie in wolboerdery belangstel nie. 1

Opstand teen Van der Stel

Die kritiek teen Van der Stel en sy amptenare het stadig maar seker toegeneem. Die koloniste het hom aangekla dat hy die slawe en werkers van die Kompanjie op sy eie plaas laat werk het, en dat hy Kompanjie-bosse laat uitkap het en die hout na Vergelegen aangery het. Hy het ook sy amptelike pligte by die Kasteel afgeskeep. In daardie tyd het dit het ses uur te perd geneem om van Vergelegen na Kaapstad te ry, en Van der Stel wou eerder tyd aan sy eie boerdery bestee. Wanneer hy wel sy pligte nagekom het, het hy van die burgers verwag om vir hom geskenke te gee, vóór hy take vir hulle verrig het (wat eintlik sy werk was)! 1

Nog ’n kwessie waaroor daar baie ongelukkigheid was, was ruilhandel met die Khoi-Khoi. Ruilhandel tussen die Vryburgers en die Kho-Khoi was voorheen verbied, maar die Here XVII het in 1699 aangekondig dat dit nou wettig was. Van der Stel het egter nie hierdie aankondiging aan die Vryburgers bekendgemaak nie.

Toe kommissaris Valckenier dit uitvind, het hy dit in die openbaar aangekondig. Die ruilhandel het onmiddellik “ontplof” (die hoogte ingeskiet), maar dit was vir die amptenare baie slegte nuus, want hulle eie handel is hierdeur aangetas. Van der Stel het beswaar gemaak, maar die Here XVII was vasbeslote.

Toe tree Van der Stel agter hul rug op en verbied die handel weer. Toe die Here XVII hiervan uitvind en ’n aankondiging stuur dat die handel oop en vry moes wees, het Van der Stel dit bloot weer net nie aan die Vryburgers bekendgemaak nie! 2

Van der Stel was hoogmoedig en pronksugtig, en dit het die Vryburgers geïrriteer. Hy het die Vryburgers onbeskof behandel, en hulle selde na Vergelegen genooi, soos wat die goewerneur eintlik moes doen. Sy broer, Frans, se ewe hoogmoedige houding het hom die spottende bynaam “Don Francisco” op die hals gehaal. Hy was een van die mees gehate mans aan die Kaap. 6

Die wrewelrigheid onder die burgers het opgebou. Gerugte het die rondte begin doen dat Elsevier gesê het dat daar oor ’n paar jaar nie meer Vryburgers gaan nodig wees nie, want die amptenare sou in die behoeftes van die vlote, garnisoen en hospitaal kon voorsien. 1

Ontevredenheid onder die Vryburgers het ’n hoogtepunt bereik toe die goewerneur se vriend, Johannes Phijffer, in Augustus 1705 deur knoeiery volle beheer oor die Kaapse wynpag – die alleenreg om wyn aan die Kompanjie se skepe te lewer – gekry het. 3 Kort daarna is die vleispag ook deur knoeiery aan vier slagters, lojaal aan van der Stel, toegeken. 1

Henning Hüsing, wat die vleispag verloor het, en sy neef Adam Tas, het ’n geheime klagskrif opgestel, 3 wat deur 63 Vryburgers onderteken is en dit aan die Here XVII gestuur. 1 Tas was ’n vaardige skrywer. In die klagskrif het hy gekla oor die onwettige grondbesit van amptenare, hul pligsversuim en oneerlike gedrag. Hy het bewyse gegee dat Willem Adriaan die burgers onbeskof behandel en die Kompanjie benadeel het met sy oneerlikheid en wangedrag. 6

Van der Stel het onraad vermoed, en daarom besluit om sy eie getuigskrif, waarin hy sy eie voorbeeldige gedrag geloof het, Nederland toe te stuur. 1 Van der Stel het die hele Kaapse gemeenskap kasteel toe genooi – burgers, vrygestelde slawe, selfs bandiete (gevangenes wat besig was om tronkstraf uit te dien) – hulle met wyn en tabak getrakteer, en gevra om ’n geskrif te teken dat hulle die goewerneur as ’n eerlike mens ken. Baie het dit onderteken, want dis natuurlik moeilik om te weier as die goewerneur self by is! 6 Hy het 240 handtekeninge bymekaar gemaak. Dit is met dieselfde vloot as die Vryburgers se klagskrif na die Here XVII gestuur. 1

Net voor sonop op 25 Februarie 1706 het Van der Stel vir Tas in hegtenis laat neem en na die Kasteel gebring. 3 Van der Stel het Tas se huis deursoek, en op sy dagboek afgekom. Tas het in sy dagboek al die besonderhede van hom en sy vriende se griewe met Van der Stel neergeskryf. Van der Stel het die dagboek gebruik om uit te vind wie sy opponente was, en op hulle toegeslaan. 5

Vier Vryburgers is na Nederland gestuur om verhoor te word. 5 Drie burgers, Jacques de Savoye, Pieter Meyer en Jakobus van der Heiden, is in die kasteel se ondergrondse tronk, wat die Donker Gat genoem is, aangehou. 2 De Savoye was 71 jaar oud, 6 maar het standvastig gebly en geweier om sy skuld te beken. 1 Van der Heiden is gemartel tot hy ’n “bekentenis” geteken het dat hy verkeerd en Van der Stel reg was. Van der Stel het hierdie bekentenis Amsterdam toe gestuur om sy saak te versterk. 1

Uiteinde van die opstand

Tas se verhoor was beplan vir Maart, maar dit het nooit plaasgevind nie. 3 Henning Hüsing en twee ander Vryburgers het die klagskrif persoonlik aan die Here XVII oorhandig. Van der Stel se getuigskrif het op dieselfde tyd Amsterdam bereik. 2 Die Here XVII het ’n kommissie van ondersoek ingestel, wat bevind het dat Van der Stel en die ander beamptes skuldig was. Op 20 Februarie 1707 het ’n skip, Peter en Paul, die nuus in die Kaap aangebring. Die vryburger Albert van Emmenes het die volgende nag deur die strate van Stellenbosch gery en luidkeels verkondig: “Victorie! Victorie!” (Oorwinning! Oorwinning!). 3

Die gevangenes is vrygelaat. 6 Die twee van der Stel-broers en ander, soos die landdros van Stellenbosch, Johannes Starrenburg, die sekunde Elsevier en die predikant Kalden is afgedank en uit die Kaap verban. Van der Stel het probeer om sy vriende in Nederland te oortuig dat hy stil en vergete soos sy pa in die Kaap mag bly woon. 1 Die Here XVII wou egter niks weet nie, en het herhaal dat sy plaas in vier dele verdeel moes word, die woonhuis afgebreek word, en dat sy verbanning gestaan het. 1 Die skuldiges het in April 1708 met die skip Oostersteijn na Nederland vertrek, en nooit teruggekom nie. 3

Hierna is alle amptenare verbied om grond te besit of in die Kaapse mark handel te dryf in koring, wyn of beeste. 2 Hulle moes al hul grond verkoop, 4 of hulle moes hul werk by die VOC bedank en Vryburgers word. 6

Die eerste eiendomsbrief in die Kaap aan ‘n vryburger, naamlik Jacob Cloete van Keulen. Die datum van die brief is 1657 en verwys na eiendom langs die Liesbeekrivier.

Lewe in Amsterdam

Van der Stel het uit Amsterdam aangehou om in die Kaap besigheid te doen. Hy het verskeie landgoedere gekoop, insluitende Uijttermeer en Meer en Duijn. In 1713 het hy ook ’n landgoed vir sy minderjarige seun Willem Adriaan gekoop. 1

Hy het homself nooit regtig versoen met sy afdanking en verbanning nie. In Nederland het hy ’n boekie van 172 bladsye geskryf waarin hy die Vryburgers aanval en homself verdedig. 1 Die Vryburgers het hom geantwoord met ’n boekie van hul eie van 320 bladsye, wat in 1712 gepubliseer is. 1

Die vlag van die VOC.

Nalatenskap

In Van der Stel se verdediging kan genoem word dat hy bloot gedoen het wat die ander amptenare gedoen het, maar net beter as hulle. 1

Van der Stel was vir ’n groot klomp nuwe landboubedrywighede verantwoordelik, wat ná sy afdanking voortgegaan het. 3

Die Van der Stel-era het gelei tot groter eenheid onder die Vryburgers. 3 Dit was ook die eerste keer dat mense in Suid-Afrika suksesvol teen ’n onregverdige regering in opstand gekom het. 5

Persoonlike lewe

Van der Stel het in 1684 met Maria de Hase, die dogter van ’n hoë amptenaar van die VOC, getrou. Hulle het drie seuns gehad, Sijmon, wat jonk oorlede is, Willem Adriaan, en toe nóg ’n Simon, en daarna drie dogters: Cornelia, Jacoba Catharina en Maria. 1

Voor hul vertrek na die Kaap in 1698 was hulle welgesteld. Willem Adriaan het vir sy pa renteloos groot bedrae geld geleen, en landgoedere gekoop en verkoop. Toe hy die na die Kaap verhuis het om die goewerneurskap oor te neem, het hy ’n klein fortuin in Amsterdam gelos. 1

Van der Stel was ’n man met kultuur, en hy het boeke uit Nederland bestel oor geskiedenis en natuurkunde. Hy was uitspattig en het weelde-artikels vir sy vrou en kinders én vir homself gekoop, soos duur pruike. Hy het ook ’n maankyker (teleskoop), barometer, en snare vir sy viool gekoop. Hy wou duidelik van die Kaap sy tuiste maak. 1

Ná hy uit die Kaap verban is, het hy hom weer in Nederland gevestig, waar hy waarskynlik in die winter in Amsterdam en in die somer in Lisse gewoon het. Hy was tot aan die einde van sy lewe welgesteld. Sy vrou het op 1 Julie 1723 in Nederland gesterf op die ouderdom van 55 jaar. Van der Stel het in Lisse gesterf in 1733, toe hy 69 jaar oud was. 1

Woordbank

bandiete ’n Gevangene wat tronkstraf uitdien.
korrupsie Om op ’n oneerlike of onwettige manier mag gebruik om jouself te bevoordeel.
monopolie ’n Reg wat ‘n maatskappy het om alleen met ‘n bepaalde produk handel te dryf.
nepotisme Begunstiging van familielede en vriende.
sekunde Waarnemer in die plek van ’n goewerneur (in die Kaap)
Vryburgers Burger wat die reg gehad het om ’n vry beroep te beoefen, veral ’n dienaar van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie aan die Kaap die Goeie Hoop en aan wie van tyd tot tyd ontslag hiervoor toegestaan is.
pag Huurgeld wat betaal moet word vir, byvoorbeeld, grond; alleenreg om iets te verbou.
wrewelrigheid Ergernis, ontevredenheid.

Lees dié artikel om meer te leer

Kyk dié video om meer te wete te kom

Die Vryburgers en goewerneur Willem Adriaan van der Stel

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 28 September 2022 | Bygewerk op 8 November 2023