Vinnige feite

  • Rachel de Beer en haar boetie verskyn op een van Orania se geldnote, bekend as die Ora.
  • Rachel de Beer is glo in 1843 oorlede. 4
  • In 2019 het ʼn fliek oor Rachel de Beer en haar heldedaad verskyn.
  • Die naam van die kalfie wat weggeraak het en waarna Rachel en haar boetie gesoek het, was Frikkie. 1
  • Die naam van die tydskrif waarin Eugène Marais se verhaal verskyn het, was Die Boerevrou. 

Rachel (of Racheltjie) de Beer was volgens oorlewering (verhale of stories wat van een geslag na die volgende oorgedra of oorvertel word) ʼn baie dapper meisie wat in die 1830’s geleef het. Dit was in die tyd van die Groot Trek toe mense in moeilike omstandighede geleef, ver gereis en soms lang tye in die veld deurgebring (en selfs geslaap!) het. Wat Racheltjie volgens dié vertellings gedoen het, was só dapper dat mense vandag nog die verhaal van dié klein heldin (iemand wat iets baie dapper doen) vertel, daaroor skryf en selfs rolprente maak.

Hoewel daar verskillende weergawes van die verhaal bestaan en sommige mense selfs beweer dat dit nooit regtig plaasgevind (gebeur) het nie, moet ons onthou dat die Groot Trek en al die gebeure van daardie jare baie lank voor koerante, selfone en sosiale media plaasgevind het. Mense het nie alles neergeskryf nie, maar van gesin tot gesin en geslag tot geslag oorvertel. Of dit werklik (regtig) gebeur het of net fiksie (ʼn storie wat iemand uitgedink het) is, feit bly staan: daar was baie helde en heldinne in dié tyd, net soos Rachel de Beer, wie se verhale onthou en oorvertel móét word. Dit is ʼn geskiedenisskatkis wat bewaar en behoue moet bly.

Rachel in ‘n skermskoot uit die rolprent “Racheltjie de Beer”.

Die verhaal

Rachel de Beer was 12 jaar oud toe die gebeure plaasgevind het, word vertel. Haar boetie, Jamie, was heelwat jonger as sy – ongeveer 5 of 6 jaar oud. Daar was een aand ʼn groot sneeustorm op die plaas waar hulle gewoon het. Rachel en Jamie se pa en die werkers het al die beeste wat in die veld gewei het, kraal toe gejaag om hulle teen die sneeu en koue te beskerm. Hulle het egter besef dat een van die kalfies nie by die ander beeste was nie. Dit was ʼn kalfie wat Rachel en Jamie hans grootgemaak het en waarvoor hulle baie lief was.

Omdat ʼn boer nie sommer ʼn dier buite in die veld sal los wanneer dit sneeu nie, en ook omdat Rachel en haar boetie baie hartseer was oor hul hanskalfie, het hulle pa besluit om na die kalfie te gaan soek. Rachel en haar boetie wou self ook gaan soek, maar hulle pa het gesê hulle mag net naby die huis rond soek.

Dit mag dalk vreemd klink dat ʼn pa sy twee jong kinders sou toelaat om in die nag buite na ʼn kalfie te soek, maar ʼn mens moet onthou dat mense in die tyd van die Groot Trek met hul ossewaens rondgetrek het om blyplek in die binneland te soek. Kinders het in die veld grootgeword en reeds op ʼn jong ouderdom meer verantwoordelikhede en pligte as vandag gehad. Hulle was gewoond om te help om die plaasdiere te versorg, en dit is dus nie vreemd dat hulle na die kalfie gaan soek het nie.

‘n Skermskoot uit die rolprent “Racheltjie de Beer”.

Die twee kinders het in die veld rondgeloop en na die kalfie gesoek, terwyl hulle na hom geroep het. Hulle kon nie die kalfie kry nie en het al verder van die huis af begin dwaal. Intussen het dit al harder gesneeu. Rachel het mettertyd besef dat hulle verdwaal het, want sy het nie meer geweet in watter rigting die huis was nie. Sy het egter geweet dat hulle moes aanhou beweeg, sodat hulle nie kouer begin kry nie. Hulle het bly loop, en later het sy haar boetie gedra. Rachel het moeg geword en kon naderhand nie meer loop nie.

Sy het ʼn groot, uitgeholde miershoop in die veld gesien. Dit was waarskynlik ʼn erdvark (wat die miere in die miershoop wou eet) wat dit met sy skerp naels uitgehol het. Rachel het haar boetie in die holte (opening of gat) van die miershoop gesit, en voor die gat gaan sit om die koue van hom af weg te keer. Jamie het steeds gebibber van die koue. Rachel besluit om haar klere vir Jamie aan te trek om hom warm te maak en gaan lê weer voor die opening.

Intussen het haar pa en die werkers wat help soek het, by die huis aangekom en gesien dat sy en haar boetie steeds nie teruggekom het nie. Hulle het dadelik begin soek, maar die pikdonker nag en yskoue, vallende sneeu het die soektog baie moeilik gemaak. Hulle kon die kinders nêrens kry nie.

Hulle het die twee kinders eers die volgende oggend gevind. Jamie was yskoud, maar het nog geleef. Vir Rachel was die koue egter té veel. Sy het nie meer geleef nie. Haar heldedaad en liefde vir haar jonger boetie het haar lewe gekos. 1

Rachel was haar boetie, Jamie, in ‘n skermskoot uit die rolprent “Racheltjie de Beer”.

Verskillende weergawes van die verhaal

In verskillende weergawes van die verhaal, is daar onenigheid oor sommige feite, byvoorbeeld:

  • Sommige mense beweer dat die gebeure in Suidoos-Transvaal plaasgevind het en ander dat dit in Natal (vandag KwaZulu-Natal) naby die Van Reenenspas plaasgevind het.
  • Sommige skrywers sê dat Rachel se pa se naam Herman was, en in ander boeke word die naam Anton de Beer weer gebruik.
  • Van die bronne beweer dat Rachel se ma oorlede was toe dit gebeur het, en volgens ander het haar ma nog geleef.
  • Dit is ook nie duidelik of die gebeure op húlle of op familielede se plaas afgespeel het nie. 1 Sommige skrywers meen dat dit op vreemde mense se plaas, waar die gesin verby getrek en vir ʼn paar dae gerus het, gebeur het. 2
Jamie met die hanskalfie, Frikkie, in ‘n skermskoot uit die rolprent “Racheltjie de Beer”.

Feit of fiksie?

Daar is mense wat dink dat die gebeure nie werklik plaasgevind het nie. Sommige meen dat die verhaal vir die eerste keer in 1920 deur Eugène Marais vir ʼn tydskrif geskryf is, en dat sy storie gegrond is op iets wat in die Verenigde State van Amerika (VSA) gebeur het. Daar was glo ʼn meisie met die naam Hazel Miner wat ook haar twee jonger boeties of sussies in ʼn sneeustorm in die VSA gered en toe self gesterf het. 2

Dit is nie vreemd dat daar nie van alles wat destyds gebeur het, bewyse op papier bestaan nie. In die dae van die Groot Trek en ook in ander lande waar mense as pioniers in onbekende (en soms gevaarlike) gebiede ingetrek het om ʼn nuwe lewe vir hulle en hul kinders te begin, was daar baie mense wat dapper dinge gedoen het waarvan ander mense nie eers geweet het nie. 3

ʼn Mens sal nooit weet of Rachel de Beer se verhaal presies so gebeur het nie. Wat ons wel weet en nooit moet vergeet nie, is dat daar, net soos Rachel de Beer se verhaal vertel, baie dapper mense destyds was én vandag nog is.

Rachel de Beer se nalatenskap

Rachel de Beer word onder meer op die volgende maniere onthou:

  • Daar is ʼn straat in Pretoria-Noord met die naam Rachel de Beer.
  • In Pretoria is daar ook ʼn laerskool met die naam Rachel de Beer.
  • ʼn Mens kan in Pretoria-Noord brandstof ingooi by ʼn motorhawe met die naam Rachel de Beer Motors.

 

Woordbank

binneland Die deel van ʼn land wat nie aan die kus geleë is nie.
hans grootgemaak Dit gebeur gewoonlik wanneer ʼn lammetjie of kalfie se ma doodgaan terwyl hulle nog baie jonk is. Dan versorg die boer die jong dier naby die huis, en die dier word melk gegee met ʼn bottel totdat hy of sy groot genoeg is om saam met die ander diere veld toe te gaan.
pionier Een van die eerste mense wat na ʼn nuwe land of ʼn nuwe deel van ʼn land trek om daar te gaan bly. 5

Kyk hier na die volledige rolprent oor Racheltjie de Beer

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 September 2022 | Bygewerk op 18 Desember 2023