Vinnige feite

  • Pierre van Ryneveld was die eerste persoon in Suid-Afrika wat met ʼn valskerm uit ʼn vliegtuig gespring het.
  • 1 Februarie 1920 word as die amptelike stigtingsdatum van die Suid-Afrikaanse Lugmag beskou. 1
  • Pierre van Ryneveld se vliegtuie is onder andere in Frankryk en ook in 1922 toe hy oor Benoni gevlieg het, afgeskiet. Hy het albei voorvalle oorleef.
  • Hy het eerbewyse van Engeland, Frankryk, België, Egipte, Nederland en Griekeland ontvang. 1

Pierre van Ryneveld was ʼn lugvaartpionier wat die Suid-Afrikaanse Lugmag tot stand gebring het. Hy was ʼn sterk leier en het die respek en lojaliteit van die lede van die Unie van Suid-Afrika se verdedigingsmag afgedwing. Hy het baie eerstes in lugvaart bereik, soos om die eerste mens te wees wat in Suid-Afrika met ʼn valskerm gespring het. Hy het ook gedurende sy loopbaan eerbewyse van talle lande vir sy dapperheid en prestasies ontvang.

Noem my sommer Pierre!

Helperus Andrias van Ryneveld is op 2 Mei 1891 op Senekal gebore. Hy was nog ʼn kind toe hy besluit het hy verkies om “Pierre” genoem te word, en hy is daarna altyd so genoem.

Sy ouers was Daniel Johannes van Ryneveld en Sophia Leuttig, en hy was een van drie kinders. 1

Hy is op 1 September 1927 met Enid Kathleen Helen Collard getroud. Sy was van Croydon in Engeland. Hulle het een seun met die naam John, wat ook ʼn vlieënier was, gehad. Op 7 Maart 1931 is hy weer getroud, hierdie keer met Edith Stirling Meintjes. Sy het ook van Engeland gekom, en haar nooiensvan was Graham. 1

Hy het in Mei 1949 afgetree en op sy plaas Spitzkop in die omgewing van Bronkhorstspruit gaan woon. Hy is op 2 Desember 1972 in die ouderdom van 81 jaar oorlede. 2

Skool- en studiejare

Hy het sy skoolloopbaan aan Grey-kollege in Bloemfontein voltooi. Daarna het hy ʼn BA-graad aan die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop ontvang. Hy was net 18 jaar oud toe hy sy BA-graad ontvang het. Hierdie universiteit het in 1916 die Universiteit van Suid-Afrika of Unisa geword. Kort voor die begin van die Eerste Wêreldoorlog het hy ook ʼn BSc-graad in ingenieurswese aan die Universiteit van Londen ontvang. 2

Werk en prestasies in lugvaart

Aan die begin van die Eerste Wêreldoorlog het Pierre by die Loyal North Lancashire Regiment aangesluit en is in 1915 na die Royal Flying Corps oorgeplaas. Hier het hy die rang van luitenant-kolonel gekry. Binne net vier jaar het hy die Distinguised Service Order en Military Cross, albei militêre eretekens of toekennings vir uitsonderlike diens, verwerf. Sy broer John Percival, wat ook ʼn loods (of vlieënier) was, het tydens die Eerste Wêreldoorlog gesterf. 2

Pierre van Ryneveld is self tydens ʼn luggeveg in Frankryk ernstig gewond, maar hy kon gelukkig veilig land. 1

Van Ryneveld en Quintin Brand was die eerste loodse wat van Engeland na Suid-Afrika gevlieg het. Daarmee het hulle ʼn vliegroete oor Afrika moontlik gemaak. Hierdie vlug het tussen 4 Februarie en 20 Maart 1920 plaasgevind, en hulle het tydens die vlug in drie verskillende vliegtuie gevlieg. Vir hierdie prestasie is albei tot ridder geslaan.

Hulle het op 4 Februarie in Londen in ʼn Vickers Vimy genaamd “Silver Queen” opgestyg. Hulle moes land in die land wat vandag Soedan genoem word. Die vliegtuig kon nie verder vlieg nie en nog ʼn Vickers Vimy (“Silver Queen II”) is vir hulle gestuur. Hulle het toe vanaf Kaïro opgestyg. Op 6 Maart 1920 het hierdie vliegtuig geval toe hulle van Bulawayo (in vandag se Zimbabwe) wou opstyg. Nog ʼn vliegtuig is vir hulle gebring – ʼn De Havilland DH.9 wat “Voortrekker” genoem is. Hulle het op 17 Maart opgestyg en op ʼn aanloopbaan op die kampus van die Universiteit van Pretoria geland. Op 20 Maart het hulle in Wynberg in Kaapstad geland. Hul vlug het in totaal 109 uur en 30 minute geduur. 3

Ná die oorlog het Brittanje 111 vliegtuie aan Suid-Afrika geskenk. Daarom is Van Ryneveld in 1919 deur generaal Jan Smuts opdrag gegee om die Suid-Afrikaanse Lugmag tot stand te bring. Sy adjunk was Kenny van der Spuy. 1 Met sy sterk persoonlikheid en praktiese aanleg het hy ʼn lugmag gevestig met goed opgeleide lede en goeie toerusting. 2

Van 1 Februarie 1920 tot 1933 was hy die direkteur van die lugmag. Hy was vir 13 jaar in hierdie belangrike pos. Vandag staan hierdie posisie as die hoof van die lugmag bekend en word die lugmaghoof slegs vir vyf jaar op ʼn slag in dié pos aangestel.

Tydens die Randse mynwerkerstaking van 1922 het Van Ryneveld gehelp om die opstand te onderdruk. Sy vliegtuig is op 10 Maart 1922 afgeskiet terwyl hy oor Benoni gevlieg het. 1

Van Ryneveld was in 1926 die eerste persoon in Suid-Afrika wat met ʼn valskerm uit ʼn vliegtuig gespring het. Hy was ook die eerste mens wat in een ononderbroke vlug van Pretoria tot in Kaapstad gevlieg het. Dít het hy in 1927 gedoen.

Hy is in 1937 aangestel as hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en was die bevelvoerder toe Suid-Afrika aan die Tweede Wêreldoorlog deelgeneem het. Hy het tot met sy aftrede in Mei 1949 vir die weermag gewerk. 2

Nalatenskap

Pierre van Ryneveld word onder meer deur die volgende gedenkgebare onthou:

  • In 1966 is die Kempton Park High School vir leerders wat in Engels wou skoolgaan, gestig. In 1972 is die naam van die skool verander na die Sir Pierre van Ryneveld High School. Van Ryneveld het self hierdie seremonie op 12 Augustus 1972 bygewoon. Dit was die laaste amptelike funksie wat hy bygewoon het omdat hy kort daarna oorlede is.
  • In 1999 het die Suid-Afrikaanse Lugmag en Denel ʼn Mirage-vegvliegtuig aan die skool geskenk. Hierdie vliegtuig is ʼn teken van die band tussen die skool en sir Pierre van Ryneveld.
  • Die Suid-Afrikaanse Lugmag-monument, waarmee die eerste vlug oor Afrika gevier word, staan op die Universiteit van Pretoria se Hillcrest-kampus. Hier is ʼn gedenkplaat ter ere van Pierre opgerig.
  • ʼn Houer met die as van sir Pierre en lady Betty van Ryneveld word in die Muur van Herinnering by die Suid-Afrikaanse Lugmag-gedenkteken by Zwartkop, Pretoria, gebêre. 3
  • In Pretoria is ʼn woongebied met die naam Pierre van Ryneveld.
Upington Lughawe, voorheen bekend as die Pierre van Ryneveld Lughawe.

Woordbank

Denel Dit is ʼn maatskappy van die Suid-Afrikaanse regering wat te doen het met militêre tegnologie en lugvaart. Denel is in 1992 gestig.
lojaliteit Om lief of getrou te wees aan byvoorbeeld jou skool of land.
ononderbroke Sonder om te stop; aanhoudend.
lugvaartpionier Een van die eerste mense wat na ʼn nuwe land of gebied gaan en daar begin woon, dikwels is dit ook ʼn gevaarlike gebied. Pierre van Ryneveld is ʼn pionier omdat hy die eerste persoon was wat sekere dinge in die land se lugvaartbedryf gedoen het – soos om die land se eerste lugmag te stig.
tot ridder geslaan Dit is ʼn eerbewys wat deur die koning of koningin van Engeland gegee word vir ʼn persoon wat baie goed presteer; die persoon ontvang ridderskap. Dié persoon kry dan die titel “sir” voor sy naam.
Foto: iStock
Gepubliseer op: 15 Augustus 2022 | Bygewerk op 2 November 2023