Vinnige feite

  • In die tien jaar wat Jan van Riebeeck die kommandeur was, het hy nooit ’n doodsvonnis onderteken nie. Dit is uitsonderlik, want in daardie dae was die doodstraf ’n normale straf vir misdade soos diefstal en moord. 3
  • Terwyl Wagenaer in Japan was, was sy bynaam “der Donnermann” omdat hy so streng opgetree het. 3
  • Simon van der Stel was nie betrokke by sy seun, Willem Adriaan, se korrupsie nie, en dit is nie bekend wat hy daarvan gedink het nie. 9
  • Swellengrebel is waarskynlik as goewerneur aangewys omdat sy pa mense in Holland omgekoop het om hom aan te stel. 3
  • Carolus Linnaeus, die beroemde plantkundige, het uit waardering vir al die plante wat Ryk Tulbagh na hom toe gestuur het, een soort leliefamilie Tulbaghia genoem. 3
Foto: iStock

In 1652 het ’n Hollandse maatskappy, die Vereenigde OostIndische Compagnie (VOC), besluit om ’n verversingstasie aan die Kaap te stig. Die doel van die verversingstasie was om skepe wat tussen Europa en Indië handel gedryf het van vars groente en vrugte, vleis en water te voorsien.

Die VOC, ook bekend as die Kompanjie, is beheer deur direkteure wat die Here XVII genoem is. Hulle wou nie te veel geld aan die Kaap spandeer nie, so die Kaap moes selfonderhoudend wees. Hulle het egter ook nie beplan dat die Kaap ’n vestigingskolonie sou word nie. 1 Die VOC het die Kaap vir ’n lang tyd beheer – tussen 1652 en 1795! In daardie tyd het dinge baie verander, in Europa en ook in die Kaap. 1

Die kommandeur was die voorsitter van die Politieke Raad, wat die sake aan die Kaap moes bestuur. Tweede in bevel was die sekunde, en hy was dus die persoon wat beheer moes neem indien die kommandeur afwesig was of gesterf het. Die amptenaar in beheer van die geldsake was die fiskaal. 2

1652-1662: Jan van Riebeeck

Die eerste kommandeur was Johan Anthoniszoon van Riebeeck (1619-1677). 3 Voor hy na die Kaap gekom het, het hy dwarsoor die wêreld vir die VOC gewerk, soos in Batavia (vandag bekend as Indonesië), Japan en Tonkin (Viëtnam). 2 Hy was ’n koopman van die VOC – ’n hoë rang in die maatskappy. 3

Van Riebeeck het op 6 April 1652 aan die Kaap geland om die verversingstasie te stig. Hy moes planne maak om groente, vrugte, water en vleis in die hande te kry. Daarby moes hy ’n hospitaal bou, en ’n fort om die Kaap te verdedig. 1 Hy moes ook ’n Dagregister – amper soos ’n dagboek – hou om verslag te hou van gebeure aan die Kaap.

Bouwerk aan die Fort de Goede Hoop het op 9 April begin. 3

Van Riebeeck het tuine aangelê om groente en vrugte te kweek, sade, struike en bome ingevoer, en later ook druiwestokke vir wynbou. Vleis sou verkry word deur vee by die inheemse inwoners, die Khoi-Khoi, te ruil tot hulle hul eie veestapels kon opbou. 3

Die verhouding tussen die Hollanders en die Khoi-Khoi gedurende Van Riebeeck se tyd was in die algemeen goed. Van Riebeeck het moeite gedoen om soveel as moontlik kennis oor die Khoi-Khoi-groepe in die omgewing op te doen. 3

Van Riebeeck het die omgewing rondom die Kaapse skiereiland laat verken, en het gou gesien dat die grond oos van Tafelberg goed gelyk het vir boerdery. 1

Hy het aan die Here XVII voorgestel dat hulle families moes invoer om permanent in die Kaap te kom woon en boer. Om landbouproduksie te vermeerder het hy in 1657 die eerste vryburgers toegelaat. 3 Vryburgers was amptenare van die VOC wat dus die maatskappy verlaat het om op hul eie te boer. As gevolg van ’n tekort aan werkers, is slawe na die Kaap ingevoer, en die eerste slawe het in 1658 in die Kaap aangekom. 3

Jan van Riebeeck

Ná 10 jaar as kommandeur het Van Riebeeck en sy familie in 1662 die Kaap verlaat en na Batavia gegaan. 3

Van Riebeeck was ’n bekwame kommandeur. Hy was ’n harde werker en het mense en sake goed georganiseer. Die Dagregister wat hy gehou het, was buitengewoon volledig. 3 Van Riebeeck was ondernemend en het dit reggekry om aan te pas by die omstandighede aan die Kaap. Hy het suksesvol met die Khoi-Khoi onderhandel, en meeste mense het hom as regverdig ervaar. 2

1662-1666: Zacharias Wagenaer

Zacharias Wagenaer (1614-1668) het as kommandeur na die Kaap gekom nadat hy as soldaat, skrywer en amptenaar vir die VOC diens gedoen het. Voor hy Kaap toe gekom het, was hy onder meer in vandag se Brasilië, Indonesië, Taiwan en Madagaskar. 3

Gedurende Wagenaer se bewind het die ruilhandel met die Khoi-Khoi goed genoeg verloop dat hulle oorvloedig kos gehad het om aan besoekende skepe te lewer. Hy was besorgd oor armsorg en die mense in die Kolonie se geestelike lewe, en het daarom die Here XVII versoek om ’n predikant na die Kaap toe stuur. Ds. J. van Arckel het in 1665 in die Kaap aangekom. 3

Verder is daar begin om Robbeneiland as tronk te gebruik, daar is ’n nedersetting by Vishoek gebou, en bouwerk aan die hospitaal en skool is gedoen. Hy het ook ’n plan begin maak om kanale te gebruik sodat water makliker by die skepe kon uitkom. 4

Tafelbaai, ongeveer 1660

Bouwerk aan die Kasteel de Goede Hoop, wat die Fort de Goede Hoop moes vervang, het in die laaste jaar van sy bewind begin. 3

Ná Wagenaer die Kaap verlaat het, is hy deur die VOC na Java (vandag Indonesië) verplaas. 4

Historici het verskillende menings oor Wagenaer se sukses as kommandeur. Sommige beweer hy het hom uitstekend van sy taak gekwyt, al was hy vir ’n tyd lank bedlêend. 3 Ander het weer gereken dat hy sieklik en onbekwaam was. 4

1666-1668: Cornelis van Quaelbergen

Cornelis van Quaelbergen (1623-1687) het vir Wagenaer opgevolg. Voor hy na die Kaap toe gekom het, was hy ’n VOC-amptenaar in onder meer Indië. 5

Gedurende sy bewind was Nederland in ’n oorlog met Engeland gewikkel, en die Kaap was baie stil. Daar is wel voortgegaan met bouwerk aan die Kasteel. 5

In 1667 het daar oorlog in Europa uitgebreek en Nederland en Frankryk het aan verskillende kante geveg. 6 Toe ’n Franse vloot net ná die uitbreek van die oorlog by die Kaap aangedoen het, het die nuus oor die oorlog nog nie die Kaap bereik nie. Van Quaelbergen het die Franse vloot dus gasvry ontvang. Toe die Here XVII hiervan verneem, het hulle hom in 1668 afgedank. 5

Hy is terug Nederland toe, waar hy dit reggekry het om sy onskuld te bewys. Hy is toe weer deur die VOC aangestel. 5

Van Quaelbergen was ’n selfsugtige kommandeur en onsimpatiek teenoor die vryburgers aan die Kaap. Hy was egter vir ’n kort tydperk hier en daar het niks opspraakwekkends gedurende sy bewind gebeur nie. 5

1668-1670: Jacob Borghorst (Borchorst)

Jacob Borghorst (geboortedatum onbekend; sterfdatum 1670) het na die Kaap gekom nadat hy as koopman vir die VOC in onder meer Ceylon (vandag se Sri Lanka) opgetree het. Hy het die nuus gebring van die VOC dat Van Quaelbergen ontslaan moes word en dat hy die nuwe kommandeur was. 7

Borghorst was vir die grootste deel van sy bewind baie siek, en die pligte as kommandeur is gedoen deur sy amptenare, veral die fiskaal, Cornelis de Cretzer. 7

Dit was ’n stil tyd aan die Kaap. Handel met die Khoi-Khoi is voortgesit, en daar is ontdekkingstogte na die binneland gestuur. By Saldanhabaai is met ’n nedersetting begin. 7 Graanboerdery is aangemoedig. Die kanaal van die reservoir na die hawe is voltooi, dus kon water makliker aan skepe voorsien word. 8

Kaapse Khoi, 1657

Borghorst was vir minder as twee jaar kommandeur en daar het niks van belang in die Kaap gebeur nie. Die vryburgers het wel gekla dat hy in dispute tussen hulle en die Khoi-Khoi betrokke was, en laasgenoemde se kant bo hulle s’n gekies het. 7

Borghorst het onmiddelik ná sy aankoms gevra om ontslaan te word, maar moes tot in 1670 aanbly totdat sy opvolger daar kon aankom. 7 Hy het na Nederland teruggekeer en is kort daarna oorlede. 8

1670-1671: Pieter Hackius

Pieter Hackius (1600-1671) was ’n amptenaar van die VOC in die ooste (Batavia ingesluit), voor hy as kommandeur na die Kaap gekom het. 9

Soos sy voorganger, was hy alreeds bejaard en feitlik ’n invalide. Die sekundes Cornelis de Cretzer en Hendrik Crudop (’n latere goewerneur) het die werk gedoen. 9 Dit was steeds ’n stil tyd aan die Kaap.

Hackius het in die Fort de Goede Hoop gesterf en is in die Kasteel, waarvan die bouwerk nog nie voltooi was nie, begrawe. 9 Hy was die eerste leier van die Kaapkolonie wat in die Kaap gesterf het en begrawe is. 10

Gedurende sy bewind is baie van die VOC se opdragte en planne nie uitgevoer nie. 3

Vlag van die VOC

1672-1676: Ijsbrand Goske (Godske(n), Gosken, Gotske)

In die tydperk tussen Hackius se dood in 1671 en die nuwe goewerneur se aankoms in 1672 was daar ’n pouse van tien maande. Die Politieke Raad onder Daniel Froymanteau het eers die Kaap gelei. Ná vier maande het Albert van Breugel as sekunde in die Kaap aangekom en oorgeneem as waarnemende kommandeur. 11

Ijsbrand Goske (1626-1689) was eers ’n kommandeur van die VOC in Batavia en Persië (vandag Iran). Hy het die Kaap in 1671 as VOC-kommissaris besoek. Tydens hierdie besoek het hy besluite geneem oor die Kaap se verdediging, soldate gewerf, en aanbevelings gedoen oor administratiewe en bestuursake. 3

Ijsbrand Goske

Hy is in 1672 as kommandeur van die Kaap aangewys. Bouwerk aan die Kasteel is voortgesit, hy het die administrasie verbeter, en die Kaap het verder uitgebrei toe boere in Hottentots-Holland gaan woon het. 3 Hy het ’n weeskamer opgerig. Daar het ook in 1673 oorlog tussen die Kolonie en die Khoi-Khoi uitgebreek, die sogenaamde Tweede Hollandse-Khoi-Khoi-oorlog. 12

Goske het die VOC versoek om verplaas te word, 3 en ná sy uittrede as kommandeur in 1676 is hy terug Nederland toe. 12

Goske het ’n sterk persoonlikheid gehad en was bekwaam en hardwerkend. 3

1676-1678: Joan (Johan) Bax van Herenthals

Joan Bax van Herenthals (1637-1678) was ’n militêre offisier van die VOC, en voor sy aankoms was hy die kommandeur van Galle in Ceylon. 9

Die bouwerk aan die Kasteel het stadig gevorder, en oorlog tussen Nederland en Frankryk het hom genoodsaak om ’n groot grag vir die onvoltooide Kasteel te grawe. Hy en sy familie het persoonlik grond verwyder – hy het ook ander amptenare gedwing om te help. Toe vrede in Europa in 1678 gesluit is, is hierdie bouwerk eers gestaak. 9

Die Tweede Hollandse-Khoi-Khoi-oorlog teen die Gonnema, ’n Khoi-Khoi stam, is in Junie 1677 beëindig met ’n vredesluiting by die Fort de Goede Hoop. Veeboerdery is uitgebrei. Skeepstogte is langs die kus af onderneem. Die Politieke Raad het in 1676 die eerste huwelikshof in die lewe geroep. 9

Bax van Herenthals het na ’n kort siekbed gesterf en hy is in die nuwe kerk, wat aan die aanbou was, begrawe. 9

1679-1691: Simon van der Stel (kommandeur, 1679-1691; goewerneur 1691-1699.)

Na Bax van Herenthals se dood het die sekunde, Hendrik Crudop, as waarnemende goewerneur opgetree. Op 12 Oktober 1679 het hy die nuwe goewerneur, Simon van der Stel (1639-1712), verwelkom. Van der Stel was ’n kaptein in die Nederlandse leër voor hy na die Kaap gekom het. Saam met Jan van Riebeeck is Simon van der Stel waarskynlik die bekendste van die vroeë goewerneurs. 9

Van der Stel het onmiddelik aan vryburgers meer grond gegee om op te boer en ’n nuwe dorp, Stellenbosch, aangelê. Dit was die eerste dorp buite die Kaapse skiereiland. 1 Hy het fyn aandag gegee aan die stigting, beplanning en administrasie van Stellenbosch. Verder het hy ook beplan aan ander nedersettings soos Drakenstein (vandag se Paarl) en Franschhoek. Hy het ook meer buiteposte laat bou. Van der Stel was die goewerneur met die aankoms van die Franse Hugenote in 1688-1689. Hy het hulle persoonlik verwelkom en hulle gehelp om te vestig. 9

Simon van der Stel

Van der Stel het baie aandag aan landbou en bosbou gegee. Hy het baie bome laat plant, ook op sy eie plaas, Constantia, en tuiniers aangestel om tuinbou te verbeter. Hy het probeer om die wynbou bedryf aan die gang te kry en het self lekker wyn gemaak. 9

Die uitbreiding van die Kolonie het tot groter oeste gelei. Die Kaap se geldsake het verbeter en skuld het verminder. 9

In die vroeë jare van sy bewind het hy self deur die binneland getoer, maar na oorlog met Frankryk weer uitgebreek het, moes hy by die Kasteel bly. 9

Groot Constantia

Van der Stel het baie dryfkrag gehad. Hy was ’n goeie beplanner en uitvoerder. ’n Tydgenoot het hom beskryf as eerlik en ywerig, maar hooghartig teenoor andere. Daar was egter geen klagtes oor hom van die burgers of die Kompanjie nie, en in sy tyd het die Nederlandse nedersetting aan die Kaap versterk. 9

Van der Stel het in 1699 uit die pos as goewerneur bedank, waarna hy in Suid-Afrika gebly het. Hy het in 1712 gesterf en is in die Groote Kerk in Kaapstad begrawe. 13

Kaapkolonie, ongeveer 1690

1699-1707: Willem Adriaan (Wilhem Adriaen) van der Stel

Willem Adriaan van der Stel (1664-1733) het op 14-jarige ouderdom saam met sy pa, Simon van der Stel, na die Kaap gekom. Hy het daarna na Nederland teruggekeer en ’n suksesvolle loopbaan gehad. In 1699 is hy aangewys as goewerneur en hy het in die Kaap aangekom om sy pa te vervang. 3

Van der Stel het tienduisende bome in die Kaap laat aanplant en die binneland verken, waar hy sade en plante versamel het. 3 Hy het moderne boerderymetodes aangemoedig. 2 Hy het ook nuwe koloniste in die Land van Waveren (vandag Tulbagh) laat vestig. 3

Willem Adriaan van der Stel

Van der Stel is veral bekend daarvoor dat hy sy posisie as goewerneur misbruik het om homself (en van sy amptenare) te verryk. Die vryburgers was ontevrede hieroor, en het hom by die Here XVII aangekla. Hy is in 1707 afgedank en uit die Kaap verban. Ná sy terugkeer na Nederland het hy vir jare probeer om sy onskuld te bewys. 3

Ten spyte van die korrupsie gedurende sy bewind het hy landbou aan die Kaap gemoderniseer en uitgebrei. 2

Vergelegen

1708-1711: Louis (Louwies) van Assenburgh

Nadat Van der Stel afgedank is, het Joan (Jan) Cornelis D’Ableing as waarnemende goewerneur opgetree, waarna hy die pos as sekunde opgeneem het. 3

Louis van Assenburgh (1657-1711) het in 1708 die goewerneurskap opgeneem. Dit was sy eerste pos vir die VOC; voorheen was hy in diens van die keiser van die Heilige Romeinse Ryk. 11

Dit was ’n uitdagende tyd om goewerneur te wees. Die vryburgers was baie ontevrede met die VOC ná Van der Stel se skelmstreke. Van Assenburgh moes probleme soos smokkelhandel hanteer en nuwe amptenare aanstel in die plek van dié wat saam met Van der Stel afgedank is. Hy het ook toegesien dat siekesorg verbeter is. 11

Van Assenburgh was ongetroud en het (vir sy tyd) twyfelagtige sedes gehad. Hy was nie baie beslis nie en die Kaap het verwaarloos daar uitgesien. Hy het wel administratiewe sake goed hanteer, en dit reggekry om die vryburgers en die Kompanjie te begin versoen. 11

In 1711 het hy bedlêend geword en in die tuig gesterf. 11

1714-1724: Lt.kol. Maurits Pasques de Chavonnes

Ná Van Assenburgh se dood het Willem Helot, die sekunde, tussen 1711 en 1714 as goewerneur waargeneem. Daar het egter niks opspraakwekkends in hierdie tyd gebeur nie. 7

Maurits (Maurice) de Chavonnes (1654-1724) was ’n majoor in die Nederlandse leër voor hy in diens van die VOC getree het. 3

Die eerste saak waaraan hy moes aandag gee, was om die Kaap se finansies te verbeter deur die inkomste te vergroot. Hy het ’n jaarlikse huurgeld op weilisensies ingestel, wat later sou lei tot die stelsel van leningplase wat in die Kaap gebruik is. Hy het ook ander belastings verhoog. 3

Maurits (Maurice) de Chavonnes

De Chavonnes het voorgestel dat slawe eerder as wit arbeiders na die Kaap ingevoer moes word. Hierdie was ’n keerpunt in die toekoms van die Kaap, en die hoofrede waarom daar so min wit mense na die Kaap geïmmigreer het in die 18de eeu. 3

Gedurende sy bewind het boerdery baie terugslae beleef as gevolg van siektes en droogtes. 3

Hy het die onderwys probeer opknap, maar met gemengde resultate. 3

De Chavonnes het in 1724 skielik ná ’n siekte van een dag gesterf, en is in die Kaap begrawe. 3

De Chavonnes het die verhouding tussen die Kompanjie en die koloniste op goeie grondslag geplaas. Hy het die agting van beide die Kapenaars en die Here XVII geniet. 3

1727-1729: Pieter Gysbert Noodt

Ná De Chavonnes se skielike dood het Jan de la Fontaine tussen 1724 en 1727 as goewerneur waargeneem. 9

Pieter Gysbert (Pieter Gisbert) Noodt (1681-1729) is in Februarie 1727 as goewerneur beëdig. Hy het voor sy goewerneurskap die Kaap besoek om die Kaap se verdediging te ondersoek en was van mening dat dit nie goed genoeg was nie. 3

Tydens sy goewerneurskap het daar nie veel van belang gebeur nie. Die binneland is ondersoek en ’n buitepos is by Siekenhuis naby Riviersonderend opgerig om die Khoi-Khoi te beskerm teen burgers wat hul vee met geweld by hulle wou afneem. 3

Noodt het skielik op 23 April 1729 in die goewerneurswoning gesterf en is in die Kaap begrawe. 3

Noodt was hardvogtig en onsimpatiek en nie baie gewild onder die vryburgers nie. 3

1730-1737: Jan de la Fontaine

Jan de la Fontaine (1684-1743) was tussen 1724 en 1727 die waarnemende goewerneur van die Kaap. Daarna is hy tot opperkoopman van die VOC bevorder. Ná Noodt se dood is hy weer deur die Politieke Raad as waarnemende goewerneur aangestel. Die Here XVII het hom in 1730 amptelik as goewerneur aangestel. 9

Gedurende De la Fontaine se bewind het die Kaap uitgebrei en nuwe buiteposte is gestig, onder meer by St. Helenabaai. Hy het self na Mosselbaai gereis en ’n baken laat opsit as teken dat dit aan die VOC behoort het. 9

Jan de la Fontaine

Hy het probeer om die vryburgers te ondersteun, deur byvoorbeeld sywurmboerdery aan te moedig, maar dit was nie suksesvol nie. 9

De la Fontaine het bedank om sy laaste jare in Nederland te spandeer en het die Kaap in 1738 verlaat. 9

Hy was ’n bekwame goewerneur en die Kaap het onder sy bewind deur ’n rustige tydperk gegaan. 9

1737-1737: Adriaan van Kervel

Adriaan van Kervel (1681-1737) was die sekunde en president van die weeskamer aan die Kaap. Ná De la Fontaine se bedanking het die Here XVII hom as opvolger aangewys. Hy het egter ná minder as drie weke gesterf. 3

1739-1751: Hendrik Swellengrebel

Ná die dood van Van Kervel moes die Politieke Raad ’n waarnemende goewerneur aanwys. Ná ’n staak van stemme tussen Daniel van den Hengel, die fiskaal, en Hendrik Swellengrebel, die sekunde, is Van den Hengel deur die lot as waarnemende goewerneur aangewys. Die Here XVII het egter die besluit verander en vir Hendrik Swellengrebel (1700-1760) as goewerneur aangewys. Swellengrebel is in 1739 ingehuldig. 3

Swellengrebel was die eerste en enigste Kaapse goewerneur in die VOC-tydperk wat in die Kaap gebore is. Hy het die rang van opperkoopman van die VOC gehad. 3

Gedurende Swellengrebel se bewind is die San beslissend verslaan. Daar was die opstand van Éstienne Barbier in Drakenstein, wat veral bekend is vir Barbier se tereggestelling. 3

Die Kaapse nedersetting het geleidelik na die binneland uitgebrei. Swellengrebel het gevoel die geestelike lewe van die koloniste in die binneland was op ’n te lae standaard en daarom het hy nuwe gemeentes in Roodezand (naby vandag se Tulbagh) en Swartland laat stig, elk met ’n eie predikant en sieketrooster. Daar is ook nog ’n distrik gestig wat in 1747 Swellendam genoem is, ter ere van Swellengrebel. 3

Swellengrebel het in 1751 bedank om sy laaste lewensjare in Nederland te spandeer. 3

Swellengrebel was hardwerkend en pligsgetrou. Sy openhartige en vredeliewende persoonlikheid het hom baie gewild gemaak. 3

1751-1771: Rijk (Ryk) Tulbagh

Rijk Tulbagh (1699-1771) het op 17-jarige ouderdom na die Kaap gekom as amptenaar van die VOC. Hy is vinnig bevorder. Teen 1738 was hy die sekunde en nadat Swellengrebel, sy swaer, afgetree het, is hy as goewerneur aangestel. 3

Die Kaap se ekonomie was wisselvallig en die boere het swaargekry. Vroeg in die 1750’s was daar ’n depressie. Tydens die Sewejarige Oorlog tussen Engeland en Frankryk (1756-1763) het die ekonomie verbeter, maar het daarna weer verswak. 3

Ryk Tulbagh

Tulbagh het ekspedisies gestuur om die binneland na noord en oos te verken. 3 Deels as gevolg van sy beleid was daar in die tweede helfte van die 1750’s merkwaardige uitbreiding van die grense van die Kolonie. 2

Tulbagh is baie bekend vir die sogenaamde Prag-en-Praalwet wat tydens sy bewind afgekondig is. Dit was ’n wet wat onnodige vertoon verbied het. 3

Op administratiewe gebied het hy sake vir slawe-eienaars vergemaklik deur al die verskillende wette saam te voeg in een plakkaat. Hy het krisisse, soos die twee uitbrekings van pokke wat die Kaap in 1755 en 1767 getref het, goed hanteer. 3

Tulbagh het baie belanggestel in die plant- en dierelewe aan die Kaap. Hy het plante en opgestopte diere na Europa gestuur en met bekende plantkundiges gekorrespondeer. Daar het baie bekende besoekers, onder meer sterrekundiges, skrywers en ontdekkingsreisigers, die Kaap besoek. 3

Hy het in 1771 gesterf ná ’n lang siekbed. Om hom te eer is ’n routydperk van ses weke ná sy dood afgekondig. 3

“Vader Tulbagh”, soos hy genoem is, was geliefd en hooggeag. In sy testament het hy geld aan kerke gelaat omdat sorg van behoeftiges vir hom so belangrik was. 3

Tulbagh Kollege

1774-1785: Joachim van Plettenberg

(1739-1793) het as fiskaal na die Kaap gekom. Drie jaar later is hy as waarnemende sekunde aangestel. Ná Tulbagh se dood in 1771 het die Politieke Raad hom as waarnemende goewerneur aangewys. Tulbagh se plaasvervanger, baron Pieter van Reede van Oudtshoorn, is onderweg na die Kaap oorlede en Van Plettenberg is in 1774 amptelik as goewerneur aangestel. 5

In 1775 is die Kaapse Oosgrens verder oos geskuif, tot by die Boesmans- en Visrivier. Hy het self in 1778 ’n drie maande lange reis na die Oosgrens onderneem. 5 Tydens die reis is daar met sommige Xhosa-leiers ooreengekom om die Groot Visrivier amptelik as grens tussen die Xhosas en die Kaapkolonie te erken. 2 Plettenbergbaai is gedurende dié reis na hom vernoem. Hierdie reis was destyds die verste wat ’n goewerneur nóg in die binneland ingereis het. 5

Die Kapenaars was ongelukkig met die VOC, omdat hulle gevoel het die Kompanjie is ongevoelig vir hul probleme. Dit het gelei tot die stigting van die Patriottebeweging. Die Patriotte was egter meer ontevrede met die Here XVII en nie spesifiek met Plettenberg nie. 2

Joachim Ammema van Plettenberg

Gedurende Plettenberg se bewind het internasionale gebeure, soos die Amerikaanse Vryheidsoorlog (1776-83), oorlog tussen Frankryk en Engeland (1778-83), en oorlog tussen Engeland en Nederland (1780-84), ’n groot impak op die Kaap gehad. Die gevaar dat die Britte die Kaap sou oorneem, het gemaak dat Plettenberg baie aandag aan die verdediging van die Kaap moes gee. 5

Die Kaapse ekonomie was maar op en af. Die VOC was baie verswak deur oorlog met Brittanje en hulle kon nie vir die Kaapse regering geld stuur nie. Die Kaap moes papiergeld uitgee om salarisse en uitgawes te betaal – die eerste papiergeld in Suid-Afrika se geskiedenis!

Tussen 1781 en 1783 was ’n Franse vloot aan die Kaap om te keer dat die Britte nie die Kaap oorneem nie, en dit het die ekonomie tydelik laat verbeter. 5

Teen die einde van die 1770’s het die ongelukkigheid van die Kapenaars met die amptenare weer toegeneem en die burgers het ’n petisie na die Here XVII gestuur. Plettenberg het goed hierop gereageer en baie van die burgers se voorstelle aanvaar. Hy het egter gedink dat ’n nuwe goewerneur dalk beter in staat sou wees om die probleme op te los en het daarom gevra om ontslaan te word. Hy kon eers ná die oorlog, in 1785, vervang word, en is terug Nederland toe. 5

Ten spyte van hul ongelukkigheid met die Kaapse owerhede, het die Kapenaars oor die algemeen van Plettenberg gehou. Hy het ’n vriendelike geaardheid gehad en was oor die algemeen gewild. 5

1785-1791: Cornelis van de Graaff

Cornelis Jacob van de Graaff (1734-1812) was voor sy aankoms aan die Kaap ’n Nederlandse genieoffisier. Hy is juis as goewerneur aangewys omdat hy goeie kennis gehad het van militêre versterkings, en omdat die Here XVII bang was vir ’n Britse aanval op die Kaap. 11

Van de Graaff het onmiddelik begin om die Kaapse verdediging te verbeter, deur verdedigingslinies op te knap en batterye op te rig. 11 Nóg troepe is na die Kaap gestuur om die verdediging op te knap en ’n militêre kweekskool is opgerig. 11

Cornelis Jacob van de Graaff

Terselfdertyd is daar ook ’n nuwe hospitaal opgerig. Die distrik Graaff-Reinet, vernoem na hom en sy vrou, is in 1786 gestig, veral om die verdediging op die Noord- en Oosgrens te versterk. Spanning met die Xhosas het voortgeduur en pogings om die probleem op te los, was onsuksesvol. 11

Die ekonomie het verswak. Hy het te veel geld spandeer – die Kolonie se uitgawes onder sy bewind was vier keer so groot as onder Van Plettenberg. 2 Inflasie het vererger omdat hy te veel papiergeld laat druk het. Die VOC het van 1790 af probeer geld bespaar deur militêre bouwerk te stop en militêre buiteposte te ontruim. 11

Hester Cornelia Reynet

Die Kaapse Patriotte was steeds ongelukkig met die VOC en het ’n afvaardiging Nederland toe gestuur om hul ontevredenheid duidelik te maak. 11

Die VOC het vir De Graaff ontslaan en hy het in 1791 na Nederland teruggekeer. Hy het daarna by die Nederlandse weermag aangesluit. 11

Daar is uiteenlopende opinies oor De Graaff se goewerneurskap. Hy het wél die Kaap se verdediging aansienlik versterk. Die ekonomie het agteruitgegaan en hy was self ’n slegte voorbeeld, omdat hy self spandabelrig geleef het. 11

1792-1793: Sebastiaan Nederburgh en Simon Frijkenius (kommissarisse-generaal)

Johan Isaac Rhenius, die sekunde, was die waarnemende goewerneur tussen 1791 en 1792, waarna hy weer die sekunde was. 11

In 1791 het die VOC vir Sebastiaan Cornelis Nederburgh (1762-1811) en Simon Hendrik Frijkenius (1747-1797) aangestel as kommissarisse-generaal, om die Kompanjie se sake te probeer regstel. Die twee was in die Kaap tussen Junie 1792 en September 1793. Nederburgh het die leiding geneem. 7 Kommissarisse en kommissarisse-generaal was VOC-amptenare wat die Kaap vir kort tydperke besoek het. Terwyl hulle hier was moes hulle die bestuur van die Kaap ondersoek en kon veranderings of verbeterings aanbring. 14

Sebastiaan Cornelis Nederburgh

Hulle het geld probeer bespaar deur regeringsposte af te skaf en belasting te verhoog. Hulle het smokkelhandel probeer bestry en aan die vryburgers toestemming gegee om hul produkte uit te voer. 7 Dit was egter alles onvoldoende en te laat om werklik ’n verskil te maak aan die Kolonie se finansies. 2

1793-1795: Abraham Josias Sluysken (goewerneur en kommissaris-generaal)

Abraham Josias Sluysken (1737-1799) het Nederburgh en Frijkenius opgevolg. 2 Hy is as beide goewerneur en kommissaris-generaal aangestel. 15 Sluysken was eintlik op pad van Indië na Nederland, toe hy deur Nederburgh en Frijkenius oortuig is om die beheer van die Kaap oor te neem. 3

Sluysken het hard en met toewyding gewerk en die Kaap goed bestuur. Daar was egter menige probleme. Die Kolonie se verhoudings met die Khoi-Khoi en Xhosas was baie swak. Die VOC was bankrot en die Kaapse ekonomie verlam. Die Kapenaars was uiters ontevrede en in Graaff-Reinet en Swellendam het burgers die Kompanjie se gesag verwerp en hul eie republieke probeer stig. 3

In Junie 1795 het ’n Britse vloot die Kaap binnegeseil met die nuus dat Frankryk die Nederlande verower het. Hulle het vir Sluysken meegedeel dat hy die Britse troepe in die Kaap moes verwelkom as beskermers. Sluysken wou nie die Kaap aan die Britte oorgee nie, maar het nie opdragte van die Here XVII gehad nie. Hy het nie baie militêre ervaring gehad nie, en boonop min soldate. 3

Hy het met die Britte probeer onderhandel. Toe hy uiteindelik weier om die Kaap aan die Britte oor te gee, het die Britse troepe aan wal gekom en begin met die opmars Kaapstad toe. Sluysken se terugvegpoging was nie baie sterk nie en op 19 September 1795 het hy die Kaap aan die Britte oorgegee. 3

Sluysken het ná die oorgawe na Nederland teruggekeer, waar hy redes vir die oorgawe verskaf het: Die begeerte van die Kapenaars om van die VOC ontslae te wees; die klein militêre mag aan die Kaap; die Britse troepe se oormag; en die lafhartigheid van die burgers. ’n Regeringskommissie het bevind dat hy billik opgetree het en hy is bedank vir sy dapper diens. Daar was egter baie mense wat fel hierteen geprotesteer het – in die Kaap én in Nederland – en gemeen het dat hy swak beplan het en sterker kon optree. 3

Woordbank

afvaardiging Iemand met ‘n opdrag stuur om iets te doen.
baken Enige duidelike teken/voorwerp wat as gids (kan) dien.
bankrot Sonder geld; nie in staat om jou geldelike verpligtings na te kom nie.
batterye ’n Aantal stukke swaar geskut met die manskappe wat dit bedien.
bewind Beheer; regering.
depressie ’n Tydperk van ernstige insinking in die handel waartydens min sake gedoen word en baie mense werkloos is.
dispute Ernstige meningsverskille oor iets.
ervaring Kennis en vaardighede wat jy gekry het deur iets te doen, in verskillende situasies te wees, verskillende mense te ontmoet, ens.
fel Hewig; heftig; sterk; skerp.
fiskaal Regterlike amptenaar wat veral moes waak oor (die) geldsake.
geïmmigreer Van ’n ander land kom om jou permanent in ’n nuwe land te vestig.
genieoffisier Lid van daardie deel van die leër wat met ingenieurswerk doenig is.
grag ’n Sloot met water gevul wat om ’n stad/kasteel/ens. gegrawe word om vyande uit te hou.
hardvogtig Gevoelloos teenoor ander wees; geen genade betoon nie.
in die lewe geroep Iets tot stand laat kom; skep.
in die tuig gesterf Gesterf terwyl jy nog in diens was.
inflasie Die aanhoudende styging van pryse, of die tempo waarteen pryse styg, as gevolg van die vermindering van die waarde van geld.
invalide Iemand wat as gevolg van siekte, ouderdom of ’n besering nie oor al die funksies van ’n gesonde mens beskik nie en in meerdere of mindere mate versorg moet word.
kanale ’n Kunsmatige stroom water.
kolonie Gebied wat ’n oorsese besitting van ’n ander land is.
kommissaris Iemand met ’n hoë amptelike pos.
korrupsie Wat op ’n oneerlike/onwettige manier sy/haar mag gebruik om hom-/haarself te bevoordeel.
kweekskool Opleidingskool.
linie ’n Verdedigingslyn.
lot Een van ’n aantal gemerkte/genommerde voorwerpe wat getrek word om ’n beslissing te kry of ’n saak/persoon aan te wys.
moderne Die jongste/nuutste; volgens die jongste mode.
nedersetting ’n Klompie huise en geboue waar mense woon, veral op ’n plek waar daar vroeër min mense was.
ondernemend Wat die lus/moed het om iets aan te pak; vol idees.
ontslaan Iemand toelaat om ’n plek te verlaat.
oormag ’n Mag wat baie groter/sterker is as ’n ander.
opbloei Goed ontwikkel en kragtig/suksesvol word.
opspraakwekkends Iets wat sensasie/opgewondenheid veroorsaak.
petisie ’n Geskrewe versoek, gewoonlik geteken deur ’n aantal mense wat vra dat iemand met gesag iets moet doen of verander.
plakkaat ’n Kennisgewing of advertensie op ’n groot stuk papier/karton wat êrens opgeplak of deur iemand rondgedra word.
pokke Epidemiese siekte waarby die hele liggaam met etterpuisies bedek is.

Pokke was ’n uiters gevaarlike en dodelike siekte, maar danksy wêreldwye inentings is dit heeltemal uitgewis.

rang Die posisie wat iemand in ’n maatskappy/organisasie het, veral in die polisie of weermag.
reservoir ’n Dam waarin water opgegaar word voordat mense dit in hul huise gebruik.
routydperk Die tydperk waarbinne daar oor iemand se dood getreur word.
San Inheemse stamgroep.
sedes  

Gedrag of gewoonte wat onder ’n bepaalde groep as goed/normaal beskou word.

sekunde Tweede in bevel; adjunk.
selfonderhoudend Wat uit ’n eie inkomste leef of bestaan of wat in staat is om deur eie inset of hulpbronne vir onderhoud.
sieketrooster Amptenaar in die tyd van die VOC wat siekes moes besoek en die pligte van predikant en opvoeder moes vervul.
skiereiland ’n Stuk land wat byna heeltemal deur water omring word en net op een plek aan die vasteland verbind is.
smokkelhandel Onwettig met verbode ware/goedere handeldryf.
spandabelrig Wat links en regs geld uitgee; nie spaarsamig nie.
staak Gelyk in aantal wees.
teregstelling Met die dood te straf.
uiteenlopende Wat (sterk) van mekaar verskil; nie eenders nie.
veestapels Totale aantal van ’n bepaalde soort groot- of kleinvee wat in ’n streek of land aangetref word.
verdediging Iets doen om jou/iemand/iets teen ’n aanval te beskerm.
versoen Om ’n vyandskap tot ’n einde te bring.
vertoon Die doen van iets om gesien te word, om te spog.
vryburgers Burgers wat die reg gehad het om ’n vry beroep te beoefen, veral ’n dienaar van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie aan die Kaap die Goeie Hoop.
weeskamer Instelling wat toesig hou en beheer uitoefen oor die besittings van weeskinders en erfporsies van onbekendes.
weilisensies Met ‘n lisensie kry iemand toestemming (en die bewys daarvan in ’n dokument) om iets te doen, byvoorbeeld ’n motor te bestuur, te jag, of jou diere te laat wei.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die Kaapse leiers van toeka

Video’s oor Kaapse goewerneurs (1652-1795)

Toe die Hollanders die wêreld regeer het

Die begin van die geskiedenis van Suid-Afrika

Jan van Riebeeck

Van der Stel 1679

W.A. van der Stel en die vryburgers

vFoto: Die ErfenisstigtingFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: Jacques du PlessisFoto: iStockFoto: Jacques du Plessis
Gepubliseer op: 14 November 2023 | Bygewerk op 3 April 2024