Vinnige feite

  • In die tyd toe Jopie Fourie geleef het, het die Afrikaans wat gepraat is, verskil van die Afrikaans wat ons vandag praat.
  • Terwyl Jopie Fourie in die hospitaal was nadat hy in die Anglo-Boereoorlog gewond is, het ʼn Engelse offisier hom met die kolf van sy rewolwer geslaan en verwond. Hierdie voorval het ʼn negatiewe ingesteldheid teenoor die Engelse en veral oor hul houding teenoor Afrikaners by Fourie gekweek. 3
  • In die eerste botsing tussen die regering se soldate en rebelle op 8 November in die Vrystaat het tien rebelle gesterf, en een van hulle was generaal de Wet se jongste seun, Danie. 3
  • Generaal Beyers en sy volgelinge was in Wes-Transvaal (vandag die Noordwesprovinsie) deel van die rebellie. Beyers is op 8 Desember 1914 dood toe hy oor die Vaalrivier wou vlug en toe in die rivier verdrink het. 3
  • Tydens sy hofsaak het Fourie gesê dat hy nie vir genade gaan vra nie, maar hy het vir die hof gevra om te onthou dat sy jonger broer en ook die lede van sy kommando onder sy invloed opgetree het. Daarom het hy vir ʼn ligter straf gevra. 4
  • Daar word soms na Fourie verwys as kaptein en soms as kommandant. Dit is omdat hy al twee die range gehad het: Hy was ʼn kaptein in die Unieregering se verdedigingsmag, én hy was ʼn kommandant in die Anglo-Boereoorlog en by die rebelle.
Foto: iStock

Jopie Fourie was ʼn gewone Afrikaner wat op ʼn plaas grootgeword en in die Anglo-Boereoorlog teen die Engelse geveg het. Hy was later ʼn offisier in die verdedigingsmag (dieselde as ʼn weermag) van die Unie van Suid-Afrika. Toe die Unieregering wou hê dat hul soldate die Engelse in die Eerste Wêreldoorlog moet help om teen Duitsland te veg, het hy by die rebelle aangesluit (dit was almal mense wat nie vir Engeland in ʼn oorlog wou help nie).

Wat daarna gebeur het, het Jopie Fourie se naam in geskiedenisboeke verewig.

Jopie Fourie se familie en sy lewe as ʼn boer

Joseph Johannes (“Jopie”) Fourie is op 27 Augustus 1878 op Wildebeesthoek naby Pretoria gebore.

Sy pa was Joseph Johannes Fourie, en sy ma was Anna Sophia Margaretha Fourie. Hy was hulle oudste seun, en hy was ook die vierdegeslagseun met die doopname Joseph Johannes. Sy oupa aan sy pa se kant was een van die eerste Voortrekkers wat in 1848 begin woon het in die omgewing waar Pretoria kort daarna gestig is. Hierdie oupa van hom is ongeveer vyf jaar ná sy kleinseun se tragiese dood oorlede.

Jopie trou in 1903 met Susan Engelmohr. Hulle het nie kinders gehad nie.

In 1910 het hy op Boskop in die distrik van Pretoria gaan boer. In 1912 het hy egter weer op die familieplaas, Wildebeesthoek, gaan boer. 1

Skole in Pretoria, die Vrystaat en die Kaap

In sy eerste skooljare het hy skoolgegaan by ʼn plaasskool op die Fouries se plaas, Wildebeesthoek. Hy was ook in ʼn paar skole in Pretoria. In 1895 het hy na Grey-kollege in Bloemfontein gegaan. Hy gaan later ook na Stellenbosch om sy skoolloopbaan voort te sit. 1

Sy weermagdae

Toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 begin, word Fourie as ʼn rapportryer onder kommandant-generaal P.J. Joubert aangestel. Op 4 Oktober 1901 word hy deur die Britse magte gevang nadat hy bokant sy knie gewond is. Hy kry talle operasies aan die knie, maar die besering veroorsaak dat hy hierna altyd mank (kruppel) loop. 2

Suid-Afrika se geskiedenis ná 1902

Die Anglo-Boereoorlog het in 1902 geeindig, en die vier state wat voor die oorlog in Suid-Afrika bestaan het, het nou saamgesmelt om die Unie van Suid-Afrika te vorm. Generaal Louis Botha was die eerste minister van die Unie, en generaal Jan Smuts was die minister van verdediging. Kommandant Jopie Fourie is in 1913 as kaptein in die Unie se weermag aangestel. Sy jonger broer Johannes Petrus is in dieselfde eenheid as luitenant aangestel.

Fourie was lojaal teenoor sy vaderland, al is dit nou deur Engeland regeer, maar hy het nie saamgestem met al die regering se besluite nie. Engeland het ʼn paar jaar gelede nog teen die Boere oorlog gemaak, en nou wou die regering hê dat die Boere Engeland in ʼn nuwe oorlog moet help. Hierdie oorlog was die Eerste Wêreldoorlog wat in 1914 uitgebreek het.

Engeland het die regering van die Unie van Suid-Afrika gevra om Namibië, wat toe Duits-Suidwes genoem is, in te val. 2 Daar was egter in hierdie tyd groot verdeeldheid onder Afrikaners. Sommige het die regering van die Unie van Suid-Afrika gesteun wat vir Engeland in ʼn oorlog teen Duitsland wou help. Ander wou glad nie vir Engeland help nie omdat die Anglo-Boereoorlog maar net 12 jaar gelede beëindig is en hulle nog baie verbitterd was oor Engeland se optrede in die oorlog. 2

Generaal Christiaan de Wet

De Volkstem het op 26 Oktober so berig oor die rebellie:

“Generaals Beyers en De Wet rebelleren / Heilbron in handen der rebellen / Trein te Reitz aangehouden / Overgrote meerderheid der burgers lojaal”.

Ander dorpe in die Vrystaat wat in die rebelle se hande was, was onder meer Vrede, Frankfort, Harrismith, Koppies, Parys, Lindley en Ventersburg. Kommando’s uit hierdie dorpe het by De Wet aangesluit. 3

Christiaan Beyers

Op 10 Oktober 1914 was Fourie by ʼn funksie wat in die Pretoriase Operagebou gehou sou word om president Paul Kruger se verjaardag te vier en waar generaal Beyers ʼn spreker sou wees. ʼn Groep Engelse het die geleentheid probeer ontwrig deur Engelse liedere tussenin te sing, onder meer toe iemand op die verhoog gebid het. Fourie het in Engels met hulle gepraat en hulle gevra om nie so op te tree nie. Hulle het egter aanhou raas. Hierdie voorval het saam met ander dinge wat gebeur het, vir Fourie oortuig om by die rebelle aan te sluit omdat hy dit gesien het as die Engelse se pogings om Afrikaners te beledig en verkleineer. 4

Paul Kruger

Op 25 Oktober het hy en sy jonger broer, Johannes Petrus, by die rebelle aangesluit. Hier is Fourie as kommandant aangestel. Hy sou in Noord-Transvaal onder bevel van generaal J.J. Pienaar wees.

Die probleem met Fourie en sy broer se optrede was dat hulle nie uit hul poste in die Unie se burgermag bedank het voor hulle by die rebelle aangesluit het nie. Hulle het selfs nog hul uniforms van die Unie se verdedigingsmag aangehad. 1

Fourie word gevang

Tussen Oktober en Desember was Fourie se kommando by talle gevegte teen die Unie se magte betrokke. Die regering het uiteindelik ʼn mag saamgestel om die optrede van die rebelle te stop. Die leier van hierdie mag was luitenant-kolonel N.J. Pretorius. Hy was ʼn kleinseun van die Voortrekkerleier A.W.J. Pretorius, én hy was ook Fourie se neef. Hier sien mens weer hoe selfs familie aan verskillende kante geveg het.

Op 16 Desember was daar ʼn geveg by Nooitgedacht, en 46 rebelle is gevang. Onder hulle was ook Fourie en sy broer. Op 18 en 19 Desember word Fourie en sy broer voor ʼn veldkrygshof verhoor. Die aanklag teen hulle is dat hulle aan ʼn gewapende rebellie deelgeneem het terwyl hulle offisiere in die Unieverdedigingsmag was. Albei is skuldig bevind en ter dood veroordeel. Die jonger broer, luitenant Johannes Petrus Fourie, se vonnis is verminder tot vyf jaar gevangenisstraf met dwangarbeid. 1

Tydens sy hofsaak het Fourie gesê dat hy ná die Anglo-Boereoorlog gedink het dat Afrikaners en Engelse tog kon saamwerk in Suid-Afrika. Later het hy nie meer so gedink nie, en hy het voorbeelde genoem van hoe Engelse Afrikaners na die oorlog verkleineer het en hoe daar geen gelykheid was nie. Hy kon ook nie saamstem dat Afrikaners vir Engeland moes help veg teen Duitsland, wat Afrikaners nooit enige skade aangedoen het nie. 5

Jopie Fourie se laaste ure

Die Saterdagaand voor sy dood het Fourie in die gevangenis gehoor dat hy die volgende oggend teen dagbreek sou sterf.

Hy het gevra of ds. Neethling na hom toe kon kom. Die predikant het die hele nag by hom gebly. Jopie het gevra vir ʼn tafel en skryfpapier, en hy het vir die grootste deel van die nag briewe aan onder andere sy familie geskryf. Teen ongeveer vyfuur die Sondagoggend het hulle hom kom haal.

Jopie Fourie se graf in die Helde-akker in Pretoria

 

Hy het die volgende vir ds. Neethling gevra:

“Hulle moet mij tog nie in mij gesig skiet nie. Ik het een groot Afrikaner hart: daar is genoeg plek om mij te skiet”.

Hierna is hy weggeneem. Hy het self die blinddoek om sy oë gebind en op die stoel gaan sit waar hy deur die vuurpeleton doodgeskiet is. 5

Sy liggaam is in die gevangenisterrein begrawe, en daarna is dit twee keer opgegrawe totdat hy uiteindelik in die heldeakker in Pretoria begrawe is. 1

Kyk wat gebeur het ná sy dood

In sy normale lewe en ook in sy politieke loopbaan het Fourie nie regtig groot prestasies waarvoor hy onthou sou word, behaal nie. Hy was wel ʼn baie goeie soldaat, en hy was ook ʼn goeie leier wat baie respek by die lede van sy kommando afgedwing het.

Dit was egter die manier waarop hy gesterf het, wat veroorsaak het dat hy nooit in die geskiedenis van sy volk vergeet sou word nie.

Daar was baie mense wat nie kon verstaan waarom slegs Fourie ter dood veroordeel is nie, terwyl ander rebelle wat ook nie hulle range neergelê het nie, nie dieselfde straf gekry het nie. Fourie het eintlik ʼn klein rol in die rebellie gespeel en terwyl hy ter dood veroordeel is, is die leiers wat die rebellie begin het, slegs vir sewe jaar gevangenis toe gestuur. 1

Jan Smuts

Daar word deur baie aanvaar dat generaal Smuts – as minister van verdediging – die belangrikste persoon was wat Fourie ter dood wou veroordeel. Verskillende leiers asook Fourie se eie ma het op Saterdag, 19 Desember, vir generaal Smuts in die hande probeer kry om hom te vra om Fourie se vonnis te verander. Verskeie versoekskrifte is in Pretoria rondgestuur. ʼn Hele aantal senior leiers wou die versoekskrifte aan generaal Smuts oorhandig. Hierdie leiers was onder andere dr D.F. Malan, ds. C. Neethling, ds. H.S. Bosman, generaal Jan Joubert en dr. Gey van Pittius. Niemand kon Smuts in die hande kry nie omdat dit lyk asof hy doelbewus van plek tot plek gery het om hulle te vermy. Uiteindelik het Smuts laat weet dat hy die versoekskrifte op die Sondag om tienuur sou lees. Dit was natuurlik te laat, want toe was Fourie reeds dood. 4

Jopie Fourie se nalatenskap

Langs die pad tussen Pretoria na Brits, ongeveer 16 km wes van Pretoria-Noord en aan die voet van die Magaliesberge, staan ʼn gedenknaald van gekapte graniet om hom te vereer.

In 1934 het ʼn groepie Afrikaners, ongeveer 40 km noord van Pretoria, ʼn Jopie Fourie-monument opgerig. Dit is gedoen by Nooitgedacht, waar Jopie twintig jaar tevore op 16 Desember gevange geneem is. Dr. D.F. Malan het op Sondag, 16 Desember 1934, ʼn toespraak tydens hierdie geleentheid gelewer. Die monument bestaan uit ʼn gedenkteken van graniet wat op ʼn voetstuk rus.

Die volgende woorde is op die voetstuk gegraveer:

Komdt. Jopie Fourie. Gevang met 43 Burgers deur ʼn oormag unie troepe op 16 Des. 1914. Deur ʼn Veldkrygsraad op Pretoria ter dood veroordeel. Die vonnis hom bekend gemaak Saterdagaand om 10 uur, 19 Des. 1914. Doodgeskiet in Pretoria-Sentrale tronk om 5 uur op Sondagmore 20 Des. 1914. Hy het sy lewe opgeoffer vir volk en vaderland.

Hierdie monument is 50 jaar ná sy dood, in 1964, na sy geboorteplaas geskuif. By hierdie geleentheid het adv. B.J. Vorster, wat toe minister van justisie was, die monument op sy nuwe staanplek onthul. 2

In Salvokop, Pretoria, is daar ʼn dubbelmediumlaerskool met die naam Laerskool Jopie Fourie.

Jan F.E. Celliers skryf die volgende gedig oor Jopie Fourie se dood:

Jopie Fourie

Daar trek ʼn koeël met spoed, met spoed;

hy’s nat van Afrikaner-bloed,

en smart die boodskap wat hy voer;

hy kom uit Afrikaner roer,

hy gaan deur Afrikaner-hart.

Maar met die roue en die smart

bring hy steeds die hart se kragte oor.

Slaap sag, trou hart, so wreed deurboor,

Want, trekkend, trekkend jaar en stond,

sal steeds die koeël sy boodskap sprei;

en waar hy tref, heel nooit sy wond;

en wat hy tref, dit heilig hy! 6

Woordbank

begenadig Om iemand se straf te verminder.
dwangarbeid Wanneer iemand gedwing word om werk te doen, gewoonlik word dit gebruik om werk wat in ʼn gevangenis gedoen word, te beskryf.
kommando ʼn Klein groep soldate wat opgelei is om vinnig teen die vyand se soldate op te tree.
krygshof ʼn Militêre hof wat sake oor militêre oortredings tydens oorloë verhoor.
lojaal ʼn Militêre hof wat sake oor militêre oortredings tydens oorloë verhoor.
range Dit beskryf die posisie wat ʼn persoon in die weermag het, soos sersant of kaptein.
rapportryer Iemand wat militêre boodskappe vinnig moet aflewer, gewoonlik ry so iemand op ʼn perd.
vaderland Die land waar jy gebore is.
verbitterd Wanneer ʼn mens kwaad en hartseer is oor iets wat gebeur het of iets wat iemand gedoen het.
verdeeldheid Wanneer mense nie dieselfde dink oor ʼn saak nie en daar onenigheid tussen hulle is.
verkleineer Om iemand anders minder belangrik te maak of te laat voel as wat die persoon is.
versoekskrifte ʼn Dokument waarin mense ʼn regering vra om iets te doen.
vuurpeleton ʼn Klein groep soldate met gewere wat op ʼn kort afstand iemand wat deur ʼn krygshof ter dood veroordeel is, doodskiet. Al die soldate skiet op presies dieselfde oomblik. Die persoon wat geskiet gaan word, het gewoonlik ʼn blinddoek om sy oë gebind. 7
plaasskool Baie jare gelede was daar op baie plase skole waar die kinders van die omgewing se plase skoolgegaan het. Hierdie skole het baie gehelp omdat ouers dan nie hulle kinders so ver na skole in dorpe moes neem waar hulle in koshuise moes woon nie. Tot in die tweede helfte van die 1900’s was daar nog baie van hierdie skole op plase.
Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 15 November 2022 | Bygewerk op 27 Februarie 2024