Vinnige feite

  • Daar is geen portret van Confucius wat in sy tyd gemaak is en oorleef het nie. Hy word gewoonlik uitgebeeld as ’n wyse ou man met lang grys hare, maar dis net ’n raaiskoot. 2
  • In dieselfde tyd wat Confucius geleef het, het ander bekende leiers soos Plato, Boeddha, Zoroaster en Hebreeuse profete (wat in die Bybel genoem word) geleef. 3
  • Qufu (ook bekend as Ch’ü-fu, Chü-fu of Kufow), die stad waar Confucius gebore is, is vandag ’n toeristeaantreklikheid. Daar is ’n tempel vir Confucius wat ’n Unesco-wêrelderfenisterrein is. 7
  • Confucianisme word nie net in China nagevolg nie, maar ook deur miljoene mense in Japan, Korea en Viëtnam. 5
Foto: iStock

In die mensdom se geskiedenis is daar enkele mense wie se idees eeue ná hul dood bly voortbestaan. Een só persoon is Confucius, die beroemde Chinese wysgeer en stigter van Confucianisme.

Confucianisme, ook bekend as Ju of Ru, is ’n Chinese filosofie of geloof. Vandag, meer as 2 500 jaar ná Confucius se dood, word dit steeds nagevolg.

Waarheid en mite

Soos dit gaan met mense wat lank terug geleef het, is dit moeilik om te weet wat oor Confucius se lewe waar, en wat ʼn mite is.

Sy lewensverhaal en filosofie is aanvanklik mondelings deur sy volgelinge oorvertel. 1 Die eerste geskrewe boekstawings van Confucius het vier eeue ná sy dood eers verskyn. 2 Ons weet dus wat ons weet van hom deur wat ander mense oor hom geskryf het. In dié opsig is hy baie soos Sokrates, die beroemde Griekse filosoof, wat rondom dieselfde tyd as hy geleef het. 3

Naam

Confucius se naam is al op baie verskillende maniere uit Chinees vertaal en gespel. Wat uitspraak betref is sy familienaam Kong, en sy naam Qui, wat Tsji-ou uitgespreek word. 3 Dit kan ook K’ung Ch’iu, 4 Kongzi, 2 of K’ung Chung-Ni, 4 gespel word.

Later was hy bekend as K’ung Fu-tzu, 5 Khoeng Foetze, 6 Kongfuzi, 7 of Kong Fu Zi. “Zi” of “Fu Zi” is ’n term van verering en respek is: Kong Fuzi beteken iets soos “Meester Kong”. 3

Buite China is hy alombekend aan die Latynse weergawe van sy naam: Confucius. 8

Lewensverloop

Confucius is in 551 v.C. gebore. 4 In daardie tyd het China soos wat ons dit vandag ken, nog nie bestaan nie. Hy is gebore in vandag se Qufu, in die Shandong-provinsie in die noord-ooste van China. In sy tyd was dit die staat Lu. 2

Confucius was waarskynlik lid van ’n adellike familie. Sy pa was Shu-liang He, ’n kryger en regeringsamptenaar. 9 Sy ma was van die Yen-clan, 4 sy pa se tweede vrou. Sy pa was alreeds oud toe Confucius gebore is, en het kort ná sy geboorte gesterf.

Confucius se ma moes hierna self die kinders grootmaak, en hulle het verarm. 9 Confucius het wel ’n goeie opvoeding ontvang. Hy het geleer van Taoisme (of Daoisme), het musiek studeer en kon die luit speel. 4

Vroeë werksjare

Omdat hulle arm was, moes Confucius werke doen wat hy as benede hom beskou het. Hy was byvoorbeeld ’n bees- en skaapwagter, rekenmeester en opsigter van graanskure en landerye. 4 Lu is deur drie adellike families regeer. 2 Confucius was in diens van die Jisun-clan, ’n familie wat die heersers van Lu met raad bygestaan het. 9

Confucius het gevoel dat die samelewing waarin hy gewoon het, in verval was. Hy het geglo dat waardes soos barmhartigheid, regverdigheid, gepaste optrede en respek vir antieke tradisies die samelewing kon red. Hy het sy idees met ander gedeel en gou ’n groep volgelinge opgebou. 5

Sy idees het ook die heersers van Lu se aandag getrek. Hulle wou natuurlik graag onderdane en amptenare hê wat volgens Confucius se waardes geleef het.

Confucius het vir die regering begin werk en is vinnig bevorder. Teen 503 v.C. was hy die minister van openbare werke, en kort daarna die minister van justisie. 2

Confucius was ’n goeie, effektiewe minister. Hy was veral goed met diplomatieke sendings.

Daar was egter ʼn politieke geknoeiery in Lu, en toe hy die verkeerde mense ondersteun het, is hy uit Lu verban. 3

Ballingskap en omswerwinge

Vir die volgende 14 jaar het Confucius rondgeswerf. Hy het die state rondom Lu deurkruis, op soek na ’n heerser wat bereid sou wees om hul regering op sy idees te bou. Hy kon dit egter nie regkry nie. 3

Tydens sy omswerwinge het Confucius baie geleer, gedink en andere onderrig. Hy het ook ander avonture gehad. Hy is byvoorbeeld een keer in die tronk gegooi en is amper tereggestel, in wat waarskynlik ’n geval van persoonsverwarring was. 2

Confucius is deur van sy volgelinge of dissipels op sy reis vergesel. Die bekendstes was Zigong, Zilu en Yan Hui.

Zigong het ’n regeringspos in Lu gekry. Hy het toe die heerser van Lu oortuig om vir Confucius terug te nooi Lu toe. 9

Leermeester

Confucius het teruggekeer as ’n wysgeer of leermeester. Hy het sy eie skool gestig, waar almal – ryk en arm – welkom was om sy lesings en preke by te woon. 2 Hy is gereeld deur die heersers en ander vir advies genader. 3

Confucius se volgelinge het vermenigvuldig. 9 Sommige bronne reken hy het 3 000 dissipels gehad, maar dit is waarskynlik ’n oordrywing. 1

Dood

Confucius het op 21 November 479 v.C., in die ouderdom van 72, in Qufu gesterf. 4

Sy volgelinge het vir hom ’n begrafnis gehou en ’n routydperk in sy eer gehou. 5 Hy is in sy familie se grafkelder begrawe. 2

Confucius se idees en boeke

Confucius se filosofie staan vandag as Confucianisme bekend. Alhoewel sommige mense dit as geloof beskou, is dit nie werklik ’n geloof nie. Dit is eerder ’n filosofie of stel riglyne waarvolgens mens kan leef. 1

Die bekendste werk van Confucius is Lunyu, ook genoem Analekte van Confucius of Gesprekke van Confucius. Dit is in 1190 deur die Chinese filosoof Zhu Xi gepubliseer, en is ’n versameling van Confucius se belangrikste idees. 5

Confucius het ook ander boeke geskryf, insluitende:

  • Die Vier Boeke van Confucianisme, of Sishu. Lunyu een van dié Vier Boeke
  • Die Vyf Klassieke Werke, wat insluit die Boek van Odes, Boek van Veranderinge, Boek van Geskrifte, Boek van Gebruike, en die Annale van Lente en Herfs. 5

Daar is geen bewyse dat die teks van hierdie boeke deur Confucius geskryf is nie. 2 Sy volgelinge het dit neergeskryf en die woorde aan hom toegeskryf. 1

Confucius het homself nie as ’n god of profeet soos Jesus of Mohammed beskou nie. 2 Hy het self gesê dat hy nie met die idees van Confucianisme opgekom het nie. Hy was bloot besig om die wysheid en tradisies wat uit die oorleweringe van die oertyd kom, aan nuwe mense oor te dra. 9

Een van die redes waarom hy so gewild is, is dat sy boeke eenvoudig is. Die boeke verskaf praktiese riglyne vir hoe mens behoorlik en ordentlik kan leef. 1

Confucianisme

Confucianisme is ’n konserwatiewe filosofie.

Die hoofidees van Confucianisme het te doen met sedes, opvoeding en politiek.

Sedes

Die grondslag van Confucius se filosofie is die beginsel van “ren” of “naasteliefde.” Confucius het geglo mens moet die goue reël toepas: “Moet nie aan andere doen wat jy nie wil hê aan jou gedoen moet word nie.” 5

Die tweede grondslag is selfdissipline. Mense moet hulself goed hanteer, deur deurentyd te leer en jouself te verbeter. 1 Die volgende is deugde wat mense moet naleef:

  • Fatsoenlike, gepaste optrede 8
  • Liefde vir die mensdom
  • Respek vir jou voorvaders
  • Nakoming van rituele en tradisies 5
  • Liefdadigheid
  • Regverdigheid
  • Nederigheid
  • Beskeidenheid 2
  • Eerlikheid
  • Nakoming van jou pligte in die samelewing. 3

Confucius het geglo dat individuele mense se innerlike harmonie ’n direkte impak op die harmonie van die samelewing het. Korrekte optrede bewaar die harmonie, maar verkeerde optrede versteur jou innerlike harmonie, en dus ook die samelewing se harmonie. As gemeenskappe en regerings dus ondergaan, is dit omdat mense nie korrek opgetree het nie. 2

Opvoeding

Confucius het opvoeding hoog geag. Hy het geglo mens moet opgevoed word in die Ses Kunste: pyl-en-boog-skiet, skryfkuns, rekenkunde, musiek, strydwa-ry en rituele. 5 Voorts was taal, spraak en kunste belangrik. 8

Die doel van opvoeding was om mense te leer om met integriteit te leef. 5 Deur opvoeding kon mense ook status bekom. 8

Politiek

Heersers moes deur voorbeeld lei, 2 en moes:

  • Weldadig wees. Hulle moes hul onderdane se respek deur liefde en deernis, en nie geweld nie, wen.
  • Spaarsamig wees 2
  • Regverdig wees
  • Besluite en aksies neem wat moreel korrek is. 1
  • Selfbeheersing toon
  • Nederig bly 5

Indien leiers ’n goeie voorbeeld gestel het, sou hulle hul onderdane motiveer om ook korrek te leef. 5

Nalatenskap

Toe Confucius gesterf het, het hy nie gedink sy idees gaan ’n groot impak op Chinese kultuur hê nie. Hy was verkeerd. 5

Deur die jare het sy gewildheid gegroei. Teen die tweede eeu v.C., toe China deur die Han-dinastie regeer is, het sy idees die grondslag van die staat se ideologie gevorm. 5 Tussen 206 en 220 v.C. is daar tempels in sy naam in stede dwarsoor die ryk gebou. 2

Onder die Han-keiser Wu Ti het Confucianisme die amptelike geloof van China geword. 8

Sedert daardie tyd is dit ’n integrale deel van Chinese mense se opvoeding, en dit is vandag nog sigbaar. Die fokus in China op sterk familieverhoudings, respek vir ouers en die belangrikheid van opvoeding is alles deel van Confucius se nalatenskap. 2

Gedurende die era van die Kulturele Revolusie in China, tussen 1966 en 1976, het die kommuniste onder Mao Zedong probeer om Confucianisme uit te roei. Hulle kon dit nie regkry nie. 3

Confucius is waarskynlik die mees invloedryke wysgeer in China se geskiedenis.

Woordbank

adellike Wat tot die adelstand behoort; van ʼn hoë familie afkomstig.
amptelike Formeel of deftig. Namens die regering.
barmhartigheid Medelydend, ontfermend, simpatiek, goedhartig, mensliewend, hulpvaardig, behulpsaam, dienswillig, empaties.
benede Laer as iets/iemand; minder belangrik, onbelangrik.
beskeidenheid Nederigheid, sonder grootpratery, sonder pretensie, sonder eiewaan.
bevorder Aan iemand ’n beter werk of hoër rang gee.
deernis Om jammer te voel oor iemand anders se swaarkry; diep meegevoel en simpatie.
deugde Goeie eienskappe.
dinastie Regerende stamhuis; vorstehuis.
diplomatieke sendings ’n Werk wat namens jou regering op ’n ander plek verrig moet word. ’n Mens word dus op ’n sending gestuur om werk iewers anders te gaan doen.
dissipels Volgeling van ’n leermeester.
eenvoudig Maklik om te verstaan.
effektiewe Wanneer iets uitwerk soos wat jy dit wil hê.
fatsoenlike Ordentlik, beskaafd, goedgemanierd.
filosofie Wetenskap wat die betekenis van die lewe ondersoek.
geskrewe boekstawings Dokumente wat inligting bevat wat neergeskryf is.
gepaste Dade wat korrek en positief is.
graanskure Plek waar graan gebêre/gestoor word, veral op ʼn plaas; pakhuis; bêreplek; stoor.
grafkelder Gemesselde vertrek, soms (gedeeltelik) onder die grond, waarin lyke in doodskiste weggelê word in plaas van in grafte in die grond begrawe te word.
harmonie Eensgesindheid, goeie verstandhouding, samewerking, onderlinge begrip; welwillendheid, vreedsaamheid, vriendskaplikheid, wedersydse liefde.
ideologie Die idees en sienings wat die basies vorm van ’n politieke en ekonomiese bestel.
impak Uitwerking, invloed.
integrale ’n Noodsaaklike deel van iets.
integriteit Eerlikheid en regskapenheid.
invloedryke Wat groot invloed het/uitoefen.
justisie Die stelsel waarvolgens vermeende oortreders in howe verhoor en misdadigers gestraf word.
geknoeiery Bedrog; konkelry.
kommuniste ’n Regeringstelsel waar die regering alles in die land besit en beheer.
konserwatiewe Wat nie hou van verandering of nuwe idees nie; behoudend.
Kulturele Revolusie Beweging in China tussen 1966 en 1976 wat bedoel was om kommunisme te versterk deur ou idees in die Chinese samelewing uit te wis.
leermeester Persoon van wie ʼn mens iets leer.
lesings Lesse, praatjies, preke.
luit ’n Musiekinstrument wat baie soos ’n kitaar lyk, maar ’n bolvormige kas, meer snare en ’n langer nek het.
minister ʼn Politikus wat aan die hoof staan van een van die departemente van ʼn land se regering.
mite Oorlewering van idees wat met gode, godsdiens of kulturele waardes te doen het. Dit word dikwels as die waarheid voorgehou.
mondelings Wanneer mense oor iets praat maar dit nie neerskryf nie.
moreel Wat betrekking het op ’n gevoel vir wat goed en reg is.
Odes ’n Lied of gedig waarin iemand geprys word.
oertyd Voorhistoriese tyd, met ander woorde baie lank terug.
omswerwinge Rondswerf.
ondergaan In ’n al hoe slegter toestand raak; tot niet gaan.
oorleweringe Mondelinge oorvertelling; tradisie.
persoonsverwarring Wanneer jy dink dat iemand eintlik iemand anders is.
praktiese riglyne Die reëls wat mens volg om iets reg te doen wat maklik is, is om uit te voer.
profeet Persoon wat van God opdrag gekry het om te vermaan/leer/waarsku; geïnspireerde vertolker van God se wil; voorspeller.
publieke werke Infrastruktuur soos paaie en brûe wat deur die regering gebou word vir almal se gebruik.
regeringsamptenaar Iemand wat ’n openbare pos het in diens van die regering.
rekenkunde Kennis van getalle en die maak van somme.
rekenmeester Iemand wat opgelei is in rekeningkunde; iemand wie se werk dit is om rekeninge na te gaan, ens.
rituele Seremonies; die manier waarop kerklike bedrywighede gebeur, maar ook by gebruike wat nie met die kerk verband hou nie.
rondgeswerf Om sonder ’n vaste woonplek rond te trek.
routydperk Die tydperk waarbinne daar oor iemand se dood getreur word.
ryk ’n Gebied waaroor ’n vors (koning/koningin/keiser) regeer.
sedes Gebruike en gewoontes van ’n groep mense.
status Iemand se posisie tussen ’n groep mense – as iemand status het, is daardie persoon om verskillende redes (rykdom, geleerdheid, ens.) iemand wat bewonder word.
strydwa-ry In Engels: chariot. ’n Antieke gevegskar wat deur perde gesleep word.
Taoisme Chinese geloof wat op die idee gebaseer is dat daar harmonie tussen alle lewende dinge bestaan.
tempel Mooi en groot gebedehuis/kerk/gebou vir godsdiensoefening; heiligdom.
tereggestel Met die dood straf.
toegeskryf Om te sê dat iemand vir iets verantwoordelik is.
tradisies Oorgelewerde sedes, gewoontes, kultuurwaardes van ’n volk.
verban Verplig om ʼn land/plek vir goed te verlaat; in ballingskap ʼn land uitstuur; uitstoot; verdryf.
in verval Verarm, verwaarloos; agteruitgaan.
wysgeer Filosoof. Iemand wat na wysheid soek en oor die lewe nadink.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Confucius

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Confucius

Wie was Confucius?

Interessante feite oor antieke China

Die idees van Confucius

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 22 Februarie 2024 | Bygewerk op 22 Februarie 2024