Vinnige feite

Langlaagte, 1886
  • Die vyf lande in die wêreld wat die meeste diamante produseer, is Rusland, Botswana, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Australië en Kanada. Rusland het die grootste en rykste diamantvelde in die wêreld. 7
  • Ná Barnato se dood, is hy beskou as een van die rykste mense van die 19de eeu. 3
  • Die stoomskip waarmee Barney Barnato na sy dood gevaar het – die Scot – was ’n dubbelskroefskip wat die rekord gehou het vir die vinnigste vaart tussen Engeland en Kaapstad in beide rigtings. 5
  • Daar is ’n gastehuis met die naam Barney Barnato B&B in Kimberley. 8
  • Barney was dikwels onkundig oor belangrike sake omdat hy nooit koerante gelees het nie. 6
  • In 2017 is daar ’n minireeks met die titel Barney Barnato op Suid-Afrikaanse TV uitgesaai.

Barney Barnato se lewe het van ’n nagmerrie in ’n sprokie verander. Hy het gevorder van ’n brandarm kind in Londen se agterbuurte tot die man wat met sy dood, toe hy net 46 jaar oud was, as die rykste man van die 19de eeu beskou is.

Die jong Barney

Barney Barnato is op 21 Februarie 1851 in Aldgate, Londen (Engeland) gebore. Hierdie deel van Londen was deel van die agterbuurte van die stad. 1

Sy pa was Isaac Isaacs, ’n Joodse winkelier wat tweedehandse klere verkoop het. Sy ma is oorlede toe hy nog baie jonk was en die gesin was baie arm. 2

Nadat hy op veertienjarige ouderdom die skool verlaat het, het hy ’n hele paar verskillende soorte werk gedoen. Hy was onder andere ’n uitsmyter by ’n kroeg en hy en sy broer Harry* het in die plaaslike musieksale opgetree. Hy en sy broer het ook as die Barnato Broers saam as komediante opgetree en in hul vertonings akrobatiese toertjies en goëltoertjies gedoen. Vir ’n ruk was Barney selfs ’n bokser wat vir geld geboks het. Die twee broers het ook tweedehandse klere verkoop om geld te maak.

* Harry het vir ’n tyd in Londen onder die verhoognaam The Great Henry Isaacs opgetree. Dit mag die rede wees waarom sommige bronne na hom as ‘Henry’ verwys. Die meeste bronne gebruik die naam ‘Harry’ vir hom. 3

Barney Barnato

Diamante lok hom na ’n nuwe vaderland

In 1873 het Barney sy broer Harry, asook ander familielede (wat twee jaar voor hom vertrek het) na Kimberley gevolg nadat hulle gehoor het van die ontdekking van diamante in die dorp en die Noord-Kaapse diamantvelde. 4

Barney het die eienaar van ’n ossewa betaal om hom van Kaapstad na Kimberley te neem – dit was ’n reis wat twee maande lank geduur het! 5

Toe hy in Kimberley aangekom het, was hy baie arm en het aanvanklik geld verdien deur sigarette aan die mynwerkers te verkoop. In die middel van die 1870’s het hy met sy broer Harry in vennootskap gegaan. Harry het in hierdie stadium reeds heelwat kennis van die diamantbedryf gehad. Harry met sy flambojante karakter sou altyd die meer bekende van die twee Barnato’s wees. 2

Twee jaar later het die broers ernstig begin met spekulasie in kleims en dit het in 1880 gelei tot die stigting van die Barnato Diamond Mining Company. Later het die maatskappy met ander diamantmaatskappye saamgesmelt en die Kimberley Central Diamond Mining Company gevorm. Hierdie maatskappy was ernstige kompetisie vir Cecil Rhodes se De Beers Mining Company en daar was deurentyd wedywering tussen Barnato en Rhodes. 2

Cecil John Rhodes

Daar is uiteindelik ’n alliansie tussen Rhodes en die Barnato’s gevorm. Rhodes moes onder meer sorg dat Barney tot die invloedryke Diamond Buyers Club verkies word. As gevolg van sy nederige afkoms is Barney tot in daardie stadium nie tot die klub toegelaat nie. Rhodes moes ook vir Barney een van die lewenslange direkteure van die De Beersmaatskappy maak. 5

Rhodes het ook gereël dat Barney tot die Kaapse regering verkies is en hy was van 1889 tot 1897 die parlementslid vir Kimberley. 1

In 1888 het Rhodes die Barnato-maatskappy gekoop vir die bedrag van £5 338 650 (Britse pond). Dit was in daardie tyd die grootste bedrag geld wat ooit met ’n enkele tjek betaal is. 4

Diamantmark op delwerye

Johannesburg se goud lok hom

Nadat goud aan die Witwatersrand ontdek is, het Barney daarheen verhuis. Daar het hy in 1889 die Witwatersrand Consolidated Investment Company gestig. 6

Johannesburg (1893) Commissionerstraat, Barnato-gebou

Barnato se gesin

In 1889 het hy in Johannesburg met Frances Christina Bees getrou. Haar noemnaam was Fannie of Fanny. In November 1892 is hulle weer in ’n burgerlike seremonie in Chelsea, Londen getroud.

Gedurende hierdie tyd het hulle ’n paar keer tussen Suid-Afrika en Londen gereis vir familie-aangeleenthede, asook vir sake. 3

Onthou, hierdie reise moes per skip afgelê word, en gevolglik moes hulle elke keer vir ’n paar maande op die skip deurgebring het!

In September 1895 het Barney en sy gesin in Spencer House, St. James’ Place in Londen gewoon.

Hy en sy vrou het drie kinders gehad, Isaac Henry Woolf Barnato, Joel Woolf Barnato en Leah Primrose Blackwell. Na sy dood, het sy gesin na Brighton verhuis.

Barney het ook ’n buite-egtelike dogter by Isabella Clarke gehad. Haar naam was Isabel/Isabella Louise Barnato. Sy het ongelukkig net ʼn paar dae geleef (tussen 5 Junie 1891 en 19 Junie 1891). Barney en haar ma was nie getroud nie. 3

Aansig van die Randse goudmyn

Die vyf standbeelde by sy huis in Park Lane, Londen

In 1894 het hy teruggekeer na Londen en het begin om vir hom ’n deftige huis in Park Lane in Londen te bou. Hy wou deel word van die Britse sosiale kringe deur vir hom ’n indrukwekkende groot huis te bou.

Hy het ook vyf groot standbeelde van byna vyf meter hoog laat bou.

Elk van hierdie beelde moes iets simboliseer:

Oggend (gesimboliseer deur ’n jong soldaat wat ’n swaard vashou en in die rigting van die opkomende son kyk)
Welkom
Getrouheid
Waarheid
Aand (gesimboliseer deur ’n ou soldaat wat op sy wapen leun terwyl hy kyk hoe die son ondergaan). 3

Ongelukkig is Barney oorlede voor die huis klaar gebou was. Die huis is toe deur sir Edward Sassoon gekoop. 3

Sir Sassoon wou nie die vyf standbeelde hê nie en dit is in 1898 verwyder en vanaf Londen na die Victoria Gardens in Brighton verskuif.

Al vyf beelde het in 1922 verdwyn en ten spyte van ’n soektog is hulle nie opgespoor nie. Slegs twee voetstukke met dowwe bewoording is oor. 3

Barney se dood

“Mnr. Barnato was korterig, met ’n ligte gelaatskleur en ’n merkwaardige hoë voorkop, wat – net soos sy spraak – op ’n baie skerp intellek gedui het…” 5

Doodsberig in Cape Argus Weekly – 16 Junie 1897.

Daar is tot vandag nie duidelikheid oor presies hoe hy dood is nie.

Hy was saam met sy gesin en ander familielede op ’n stoomskip met die naam Scot op pad terug na Southampton in Engeland. Die skip het op 2 Junie 1897 uit Kaapstad vertrek en op 14 Junie het hy naby die eiland Madeira oorboord (van die skip af) geval. In die tyd voor sy dood was hy geestelik onstabiel. Hy was soms deurmekaar en het in ’n stadium vir drie dae aaneen nie geslaap nie. 5

Die amptelike verklaring is dat hy selfdood gepleeg het omdat hy depressief was. Sy familie het dit nie geglo nie. Hulle het gesê dat iemand wat soveel in sy lewe vermag (reggekry) het, nie sy eie lewe sou neem nie. Die feit dat Barney so ’n ryk man was, het ook vir mense rede gegee om te glo dat daar dalk ’n ander rede as selfdood was en dat hy dalk vermoor is. 3

Barney se neef, Solly Joel, was saam op die skip en hy was saam met sy oom op die dek van die skip toe hy oorboord geval het. Volgens sy getuienis tydens die amptelike ondersoek na Barney se dood, het sy oom langs hom gestaan waar hy op ’n dekstoel gesit het en het hy ontsteld gelyk. Volgens hom het hy ’n flits gesien net toe sy oom oor die kant van die skip verdwyn het. Iemand het “moord” geskree en die aandag getrek van een van die skeepsoffisiere wat in die see gespring het om Barney te probeer red, maar hy was te laat. 5

Daar word bespiegel dat die “flits” wat Solly gesien het, moontlik ’n wapen kon wees.

Daar het ook ander dinge gebeur wat mense laat wonder het. Een van sy erfgename, Woolf Joel, is in sy kantoor in Johannesburg geskiet deur Karl Frederick Kurtze wat in werklikheid eintlik Ludwig von Veltheim was. Tydens sy verhoor oor die moord op Joel, het hy gesê dat hy opdrag gehad het om ’n plan uit te voer waarvolgens president Paul Kruger ontvoer sou word en dat Barney en Joel hierdie plan gesteun het.

Een van die moontlike bespiegelinge is dat Von Veltheim dalk vermom was en op die dag van Barney se dood, ’n afspraak met hom op die dek van die skip gehad het in verband met die geheime plan teen president Kruger. Hy kon hom toe vermoor het. 5

Die onsekerheid oor hoe Barney Barnato werklik dood is, sal na alle waarskynlikheid nooit opgeklaar word nie.

Hy is in die Willesden United Synagogue-begraafplaas in Brent, Londen begrawe. 3

Staaltjies oor Barney Barnato

Daar is baie staaltjies oor Barney in die geskiedenis. Die volgende is een daarvan.

Hy was in Johannesburg ook ’n bekende persoon, onder andere omdat hy nie net in diamante handel gedryf het nie, maar ook goudaandele op die Johannesburgse aandelemark gekoop het. Hy was dus ’n gereelde gas op partytjies wat deur welgestelde (ryk) mense in Johannesburg gehou is. By hierdie partytjies was alles baie luuks en net die beste silwerware en breekgoed is gebruik. In ’n stadium was dit ’n groot bekommernis dat van die duur silwer messegoed by hierdie partytjies weggeraak het.

In daardie tye, voor televisie en selfs platespelers, moes die gaste tydens hierdie partytjies self ligte vermaak verskaf. Hierin het Barney nogal uitgeblink. Een aand, tydens so ’n funksie, het hy gesien hoe een van die gaste skelm ’n silwer lepel in sy sak gesit het. Hy het opgestaan en gesê dat hy ’n kulkunstenaar/towenaar was (hy was glad nie een nie!) en dat hy dit sal regkry om ’n silwer lepel te laat verskyn. Hy het toe na die dief toe geloop, sy hand in die persoon se sak gesteek en die lepel uitgehaal.

Die dief is só uitgevang en is natuurlik nooit weer na een van hierdie partytjies genooi nie. 4

Woordbank

akrobatiese Om allerhande behendige/ratse toertjies uit te haal, kunstemaker.
alliansie ’n Ooreenkoms tussen mense of organisasies om met mekaar saam te werk tot albei se voordeel.
bespiegel Wanneer verskillende moontlikhede oorweeg word, maar daar nie genoeg getuienis is om te bepaal wat werklik gebeur het nie.
brandarm Om baie arm te wees.
burgerlike seremonie Wanneer twee mense voor ’n landdros trou en nie in ’n kerk nie.
erfgename Om geld en/of besittings van iemand te kry ná sy dood.
flambojante Iemand wat baie selfvertroue het en van vertoon hou.
goëltoertjies Toertjies uitvoer sodat die mense dink jy kan toor; oëverblindery.
kleims Stuk grond waarin daar moontlik waardevolle minerale of edelgesteentes kan wees.
nederige Beskeie, sonder hoogmoed.
spekulasie Transaksie waarmee mens ʼn groot risiko loop, maar waar jy ook die kans het om baie wins te maak.
staaltjies ’n Grappige verhaal.
tjek Skriftelike magtiging vir die uitbetaling van ’n genoemde bedrag geld deur ‘n bank; kassiersbrief.
uitsmyter Iemand wat aangestel is om sekere mense, byvoorbeeld rumoerige/raserige gaste, by die deur van ’n kroeg of kuierplek uit te gooi.
vennootskap Ooreenkoms waarby twee of meer persone hulle verbind om iets saam te doen die voordele daarvan met mekaar te deel.
wedywering Wanneer en persoon probeer om beter as ’n ander te wees. 9

Lees meer

Kyk hier

Die “spook” van Cecil John Rhodes

Argieffoto’s van die Kimberley-diamantmyne

Foto: iStock
Gepubliseer op: 16 Mei 2023 | Bygewerk op 27 Februarie 2024