Vinnige feite

  • Anders as meeste ander goed opgevoede mense wat in die Kaap gebore is, het Stockenström homself as ’n trots Afrikaner en Boer beskou. 6
  • Toe Harry Smith as goewerneur aangestel is, het hy ’n stuk papier opgeskeur en aangekondig: “Geen meer verdrae nie!” 1
  • Stockenström se plaas Maasström is ’n samestelling van hom en sy vrou se vanne (Stockenström en Maasdorp. Hy het die plaas gekry as toekenning vir sy harde werk by goewerneur Donkin. 2
  • Terwyl hy in die vroeë 1850’s in Engeland was, het sy vyande sy plaas afgebrand. 1 Dit het hom in finansiële moeilikheid gelaat. Om dié rede het hy die dorpie Bedford op ’n deel van sy plaas gestig om geld te maak. 2
  • Hy het in April 1940 ’n baronetskap (titel wat beteken jy is deel van die adelstand) aanvaar. 2
  • Stockenström het een maal verklaar: “Dis nie my taak om enige party [wit koloniste of swart mense] te paai nie. Ek dien die waarheid. Ek moet moord as moord bestempel en plunder as plunder, ongeag die kleur van die oortreder se vel …” 5
Foto: iStock

Die Kaapse Oosgrens in die 19de eeu was ’n maalstroom (dolle omstandighede waarin daar geen stilstand of rus is nie), waar kontak tussen Xhosas, Khoi-Khoin, wit trekboere en Britse amptenare gelei het tot konflik, samewerking, uitbreiding en oorlog.

Min mense het só ’n groot rol in die gebeure gespeel soos Andries Stockenström.

Vroeë jare

Andries Stockenström is op 7 Junie 1792 in Kaapstad gebore. Hy was die oudste seun van sir Anders Stockenström, ’n landdros van Graaff-Reinet, en sy vrou Maria Broeders. 1

Alhoewel die familie van Sweedse afkoms was, het hulle hulself as Kapenaars gesien en Stockenström het homself as vroeë Afrikaner beskou. 2

Eerste voorsmaak van die Oosgrens

Stockenström het in Kaapstad skoolgegaan. In 1808, toe hy maar 16 was, het hy Kaapstad verlaat om in sy pa se landdroskantoor (plaaslike hof) in Graaff-Reinet te gaan werk. Op pad daarheen het hy vir luitenant-kolonel Richard Collins ontmoet. Collins het hom genooi om as tolk (vertaler) op te tree tydens ’n reis na die Oranjerivier en die Oosgrens. 2

Op hierdie reis het Stockenström goed bekend geraak met die lewe van die verskillende groepe op die Oosgrens. Dit was die begin van ’n lang en hegte verbintenis met die Oosgrens. 3

Aankoms van Britse Setlaars

Deelname aan Vierde Grensoorlog en bevordering

Stockenström wou ’n militêre loopbaan volg en het in Januarie 1811 ’n vaandrig (die persoon wat die vaandel, of vlag, dra) in die Cape Corps (die Kaapse weermag) geword. 2

Die eerste veldtog (tog deur ’n leër onderneem) waaraan hy deelgeneem het, was teen Ndlambe, die Xhosa-opperhoof (heerser oor ’n uitgebreide swart groep) gedurende die Vierde Grensoorlog (1811-1812). 4

Vroeë Oosgrensoorloë

Sy pa, wat die bevelvoerder was, is tydens die veldtog doodgemaak. Toe Stockenström die nuus hoor, het hy hom na die Doringnek, waar dit gebeur het, gehaas, en 13 van die mense wat sy pa se dood veroorsaak het, doodgemaak. 1 Hierna is hy in sy pa se plek tot bevelvoerder bevorder (’n hoër rang kry). 2 Hy was ’n uitstekende bevelvoerder. 3

Ná die oorwinning oor Ndlambe was hy deel van die span wat die moontlikhede van fortifikasies (forte vir beskerming) vir die nuwe grens gaan ondersoek het. 3

In 1913 het hy weer as bevelvoerder opgetree in ’n veldtog teen die Xhosas wat die nuwe grenslyn geskend het (om nie daarby te hou nie). Hy is daarna wéér bevorder, dié keer tot luitenant van die Cape Corps. 2

Embleem van die Cape Corps

Landdros van Graaff-Reinet

Die Kaapse goewerneur, sir John Cradock, het Stockenström se potensiaal (natuurlike eienskappe) raakgesien en hom as adjunklanddros (die amptenaar direk onder die hoogste amptenaar) op die nuutgestigte dorpie, Cradock, aangestel. In 1815, toe Stockenström 22 jaar oud was, het die nuwe goewerneur, lord Charles Somerset, hom tot landdros van Graaff-Reinet bevorder. 3

Lord Charles Somerset

Hy het dus tegelyk twee poste beklee: luitenant in die weermag, wat ’n militêre pos was, en landdros, wat ’n burgerlike, of niemilitêre, pos was. 3

Graaff-Reinet was ’n buitengewoon groot distrik, met baie probleme. Baie inwoners was vyandig teenoor Britse beheer. Die wit koloniste was in konstante konflik met die Xhosas op die Oosgrens en die San en die Griekwas op die noordelike grens. Stockenström moes dit probeer oplos. 2

Gedurende sy tyd as landdros het hy, onder meer, die onderwys opgeknap, en aan die Khoi-Khoin en bruin mense meer beskerming onder die wet probeer gee. 2

In 1814 het die sogenaamde Slagtersnek-rebellie plaasgevind. Stockenström het gehelp deur ander koloniste te oorreed om nie aan die opstand deel te neem nie, en om die rebelle aan die regering uit te lewer2

Slagtersnek-gedenkteken, Cookhouse, Oos-Kaap

Konflik op die Oosgrens

Die grootste oorsaak van konflik op die Oosgrens was veediefstal. Goewerneur Somerset se oplossing was die spoorstelsel (ook genoem die vergeldingstelsel of terugvatstelsel).

Volgens hierdie stelsel moes gesteelde vee se spore na die eerste kraal gevolg word. Hierdie kraal moes die gesteelde vee teruggee, of ’n boete betaal. Indien hulle nie skuldig was nie, moes hulle die werklike diewe soek en die vee of boete by húlle terugeis. Dit was ’n rampspoedige stelsel. Ongelukkig vir Stockenström moes hy dit implementeer (laat gebeur) – al het hy dit gekritiseer (die waarde van iets beoordeel, veral deur te wys op wat sleg is). 5

Tydens die Vyfde Grensoorlog (1818-1819) was hy die bevelvoerder van die burgers van Graaff-Reinet in die Katriviervallei, ’n gebied aan die Oosgrens. 4 Hulle het die terrein – ’n woud wat so dig met plante begroei was dat dit nog nooit voorheen deurdring kon word nie – skoongemaak. 1

Hy het hom só goed van sy taak gekwyt (taak verrig) dat hy in Oktober 1819 tot kaptein in die Cape Corps bevorder is. 2

Konflik en samewerking met die owerhede

Stockenström se verhouding met Somerset het vinnig versleg. Daar was vier redes:

  • Hy het Somerset se Grensbeleid gekritiseer.
  • Hy het geweier dat die 1820-Britse Setlaars in Graaff-Reinet kom bly.
  • Hy en Somerset se seun, kolonel Henry Somerset, het glad nie oor die weg gekom nie.
  • Hy was vriende met sir Rufane Donkin, die waarnemende goewerneur toe Somerset oorsee was en met wie Somerset nie oor die weg gekom het nie. 2

Stockenström het ook sterk teenkanting gekry van Robert Godlonton, die redakteur (hoof) van die koerant Grahamstown Journal. Godlonton was een van Somerset se grootste ondersteuners. 1

Die gevolg hiervan was dat Somerset hom uit die Cape Corps verplaas en op halwe soldy (die betaling wat soldate kry) gesit het. Dit het in wese sy militêre loopbaan beëindig. 2 Die Graaff-Reinet-distrik waarvan hy landdros was, is boonop in 1820 verklein. 5 Hy het aangebly as landdros, maar dié pos is in 1928 afgeskaf. 1

Ten spyte van die terugslae het Stockenström aangehou om Kaapse of Britse beleide te kritiseer. Toe die regering hom byvoorbeeld beveel het om die koloniste te belet om die Kaap se Oosgrens tydens die droogtes oor te steek, het hy geweier. 2

Nuwe regering in die Kaap

Somerset is in Maart 1826 teruggeroep Engeland toe, en deur sir Richard Bourke as goewerneur vervang. Bourke het ’n hoë dunk (goeie opinie) van Stockenström as Somerset gehad. In Junie 1827 is Stockenström aangestel as lid van die kolonie se Raad van Advies, ’n groep Kapenaars wat vir die regering moes raad gee. 2

In 1928 het Bourke hom aangestel in die nuut gestigte pos van kommissaris-generaal van die Oostelike Provinsie. 2 Dit was ’n erkenning van sy kundigheid (baie kennis), ervaring van Grensprobleme en vermoë om met die Oosgrensbewoners te werk. 3

Dit was ’n uitdagende pos, omdat sy pligte nie duidelik genoeg uiteengesit was nie. Hy het met ander gesagsfigure gebots oor wie vir wat verantwoordelik was. Hy kon byvoorbeeld die weermag oproep om te veg, maar is nie toegelaat om hulle te lei of bevele te gee nie. 2

Hy het deurentyd met Henry Somerset vasgesit, veral oor die spoorstelsel. Bourke het dit in 1826 afgeskaf, maar Somerset het dit aanhou implementeer, en wou selfs hê dat die stelsel buite die Kaap se grense toegepas word. Stockenström was heftig hierteen gekant. 3

Stockenström was verantwoordelik vir die vestiging van die Katriviernedersetting. Die Xhosas is uit die gebied tussen die Vis- en Keiskammarivier verwyder, en die Khoi-Khoin en sogenaamde basters (mense van gemengde bloed) kon daar gaan woon. 2 Dit was deels geskep om die Grens tussen die koloniste en die Xhosas te beskerm, maar hierdeur kon hulle ook troepe op die been bring vir noodgevalle op die Grens. 5

In Februarie 1828 het die regering nuwe regulasies ingestel ten opsigte van die hantering van geroofde vee. Boere moes hul verliese kom aanmeld, waarna die regering die saak sou ondersoek. Indien die boere se saak geldig (wettig) was, sou ’n gewapende mag gestuur word om die vee terug te kry en die stamhoofde te straf. Henry Somerset was ’n groot voorstander van hierdie beleid. 2

In Junie 1830 het Stockenstrom só ’n ekspedisie teen die Xhosa-leier Tyali goedgekeur. Gedurende die ekspedisie het die sogenaamde Zeko-insident plaasgevind: Zeko, ’n Xhosa-hoofman, is deur die burgers doodgeskiet. Stockenström het aanvanklik die burgers geprys, maar daar is later bewyse gevind dat Zeko nie gewapen was nie. 1 In ander ekspedisies is statte afgebrand en inwoners verjaag.

Hierdie gebeure het Stockenström skepties gemaak (geneig om nie maklik te glo wat ander jou vertel nie) teenoor Henry Somerset se bewerings dat hierdie ekspedisies suksesvol was. Hy het die ekspedisies verbied, maar Somerset het agter sy rug na die goewerneur gegaan vir toestemming, en in Junie 1831 nóg ’n ekspedisie van stapel gestuur. 5

Hierna was Stockenström openlik uitgesproke (baie reguit) in sy kritiek teen Somerset en die regering. Hy het sy besware in amptelike verslae neergeskryf, en dit ook in die Raad van Advies genoem. 2

In 1833 het Stockenström na Londen gereis om meer magte te probeer kry vir sy pos as kommissaris-generaal. Hy kon egter nie die Britse regering oortuig nie. Hy het dus bedank – die eerste van vyf keer! – en besluit om in Swede te gaan woon. 2

Ná sy vertrek het die regering se Grensbeleid die bietjie geloofwaardigheid (iets wat klink asof jy dit kan glo) wat dit in die oë van die burgers en die Xhosas gehad het, verloor. 5

Luitenant-goewerneur van Oostelike Distrikte, 1836-1838

Kort ná sy bedanking is Stockenström Brittanje toe genooi om getuienis te lewer (feite wat duidelik bewys dat iets waar is) oor die behandeling van inheemse groepe in Britse kolonies, en spesifiek sake aan die Kaapse Oosgrens. 5 In sy getuienis het hy die spoorstelsel en die nuwe Kaapse goewerneur, sir Benjamin D’Urban, se Grensbeleid gekritiseer. 5

Benjamin D’Urban

Volgens Stockenström was die grootste probleem dat mense nie maklik toegang tot die regering en howe gehad het nie. Die distrikte was te groot en daar was te min dorpe. Beide wit en swart mense het dit moeilik gevind om klagtes by landdroste in te dien. Daarom het hulle die reg in eie hande geneem (wette toegepas sonder om te wag vir die landdros). Stockenström het geglo dat billikheid (regverdigheid) en gelykheid voor die reg die sleutel tot vrede op die Oosgrens was. 6

Omdat sy sienswyses ooreengestem het met die idees van die Britse regering, is hy in ’n nuwe pos in Suid-Afrika aangestel, dié van luitenant-goewerneur. 2 Hy het teruggekeer Suid-Afrika toe en dié pos opgeneem op 3 September 1836. 5

Stockenström se oplossing vir die Grensprobleem was die Verdragstatestelsel (ooreenkoms tussen twee groepe). Verskillende groepe moes vrywillig (om iets te doen uit vrye wil) met mekaar verdrae sluit wat albei groepe sou respekteer. Die skending van die Grens van enige kant af is verbied. Wanneer daar dan veediefstal was, kon dit ingevolge die verdrae teruggekry word.

Hier en daar was daar plekke waar wit regeringsamptenare hierdie stelsel regverdig geïmplementeer (uitgevoer) het en dit was ’n sukses. 5 Daar was egter te veel plekke waar dit nie die geval was nie en die probleme het gebly. 2

Stockenström se nuwe aanstelling het tot baie ontevredenheid gelei. Sy verhouding met D’Urban en Henry Somerset was swak. Die Grahamstown Journal, die militêre leiers en selfs sy eie ondergeskikte amptenare ( mense wat in ’n minder belangrike posisie as hy was) het probeer om hom in die verleentheid te stel (om iemand verleë of skaam te maak), sy beleid gekritiseer en sy mag te ondermyn (heimlik iemand se posisie verswak). D’Urban het byvoorbeeld agter sy rug met sy ondergeskiktes gekommunikeer. Op hierdie manier is sy bestuur in wese tot stilstand gebring. 2

Sommige Afrikanerboere het ook gevoel hy is hooghartig teenoor hulle, veral omdat hy hulle kommando’s se optrede teen die Xhosas gekritiseer het. Hy het ook vurige verskille gehad met Piet Retief, die latere Trekkerleier, oor die burgers se reg om swart mense wat van misdade verdink is, in hegtenis te neem. 7

Piet Retief

As gevolg van hierdie uitdagings is Stockenström se Grensbeleid nooit behoorlik geïmplementeer nie. Sy planne vir die sogenaamde Verowerde Gebied – ’n stuk grond wat vroeër aan die Xhosas behoort het – is laat vaar (gelos), en in plaas daarvan het D’Urban die gebied die Provinsie van Koningin Adelaide genoem en dit oopgestel vir permanente vestiging deur wit koloniste. 2

Stockenström het homself probeer verdedig deur vir kaptein Duncan Campbell, een van sy vyande, van laster aan te kla (om kwaad te praat van iemand sodat hulle in ’n ongunstige lig gestel word). Die hof het bevind dat daar nie genoeg bewyse teen Campbell was nie.

Stockenström het toe na Brittanje gegaan om sy saak voor die Britse regering te stel. Toe hy nie daar reggekom het nie, het hy in Augustus 1839 bedank. 2

Duncan Campbell

Terug in die Kaap, 1840-1850

Tussen Mei 1840 en April 1846 het Stockenström op verskeie plekke in die Kaapkolonie gewoon, onder meer op sy plaas Maasström aan die voet van die Kagaberge. 2

In April 1846 het die Sewende Grensoorlog uitgebreek (1846-1847). 4 Omdat die burgers geweier het om onder ’n Britse bevelvoerder te dien, het die nuwe goewerneur, sir Peregrine Maitland, vir Stockenström as die burgers se bevelvoerder aangestel. 2 Stockenström se magte het goed geveg. Daar was egter baie teenkanting en ná hy met die Britse bevelvoerders gebots het, het hy bedank. 8

In 1847 het sir Harry Smith die nuwe goewerneur geword. Smith was teen die verdragstelsel gekant en hy en Stockenström het openlik gebots. 2

sir Harry Smith

Lid van die wetgewende raad

Stockenström het verteenwoordigende bestuur – waar Kapenaars vir verteenwoordigers in die regering sou stem – gesteun, en het probeer om Brittanje se invloed in die Kaap se sake te verminder. 2

Stockenström het nou wel konflik met ander leiersfigure gehad, maar hy was uiters gewild onder die gewone Kapenaars. Die wit koloniste wat nie aan die Groot Trek deelgeneem het nie, het gevoel hy is een van hulle. Bruin mense het hom gesteun as gevolg van ’n wet wat alle rassegroepe gelyk voor die wet gemaak het en omdat hy die “vader” van die Katriviernedersetting was. 9

In 1850 het hy in ’n verkiesing vir die wetgewende vergadering die meeste stemme in die Oostelike Distrikte gekry. Hy het wel konflik gehad met ander leierfigure, maar hy was uiters gewild onder beide wit en bruin gewone Kapenaars.

Die wetgewende vergadering het bestaan uit lede wat verkies is, soos Stockenström, én lede wat deur die goewerneur aangewys is. Laasgenoemde wou nie aanvaar dat die verkose lede die gewone mense se menings verteenwoordig het nie. Stockenström het daarom bedank. 2

In 1853 is verteenwoordigende regering wél aan die Kaap gegee. Stockenström het weer die verkiesing gewen. Ten spyte van ’n veldtog teen hom in die Grahamstown Journal het hy 2 000 meer stemme as sy aartsteenstander, Godlonton, gekry. 2

As lid van die wetgewende vergadering het hy gemengde sukses behaal. Aan die een kant kon hy nie die afskaffing van die Katriviernedersetting keer nie. Aan die ander kant kon hy ook nie mense wat oorlog op die grens opgestook het (iemand aanmoedig om iets kwaads te doen), keer nie. 2

Sy pogings om die Kaap se administrasie te verbeter, was meer suksesvol. Daar is rade gestig om as skakel tussen die burgers en die regering, te dien. Voorts is daar ’n wet gemaak wat die burgers se kommando’s gelykgestel het met die weermag. 2

Watter tipe mens was Stockenström?

Stockenström was individualisties (iemand wat dinge op sy/haar eie manier doen en wie se menings dikwels van ander verskil) en het nie geskroom (gehuiwer) om andere, veral die regering, te kritiseer nie. Dit het hom omstrede (iets waaroor mense sterk menings het en hewig verskil) gemaak en hy het baie vyande gehad. 3

Aan die ander kant was hy uiters begaafd (slim en baie talentvol) en ondernemend (iemand met baie idees wat die moed het om dinge aan te pak). 3 Hy was hoogs gerespekteerd onder sy vriende. Daarby was hy dapper en eerlik en het skynheiligheid (iemand wat voorgee om iets te wees wat hulle nie is nie) gehaat. 6

Persoonlike lewe

Stockenström het in 1828 met Elsabe Helena Maasdorp, die dogter van ’n voormalige amptenaar van die VOC, getrou. Hulle het ses kinders gehad waarvan die oudste vroeg dood is. 2

Tydens die Grensoorlog van 1846 is sy gesondheid blywend verswak deur die ontberings wat hy moes deurmaak. As gevolg daarvan was hy deels ’n invalide (iemand wat nie oor al die funksies van ’n gesonde mens beskik nie en gewoonlik versorg moet word) vir die res van sy lewe. 2

Hy het in Maart 1856 bedank as gevolg van swak gesondheid. 2

In 1856 het hy uit Kaapstad vertrek en onder meer in Frankryk, Italië en Engeland gewoon. 2

Hy het in 1864 aan ’n longkwaal gesterf en is in die Kensal Green-begraafplaas in Londen begrawe. 2

Woordbank

adjunk Amptenaar direk onder ‘n ander (meestal die hoogste) amptenaar.
begaafd Slim; met baie talente.
bevelvoerder Iemand wat beheer of gesag oor ander het.
bevorder Aan iemand ’n beter werk of hoër rang gee.
billikheid Regverdig.
bondgenoot Iemand wat hom verbind om ’n ander te help.
burgerlike Niemilitêr.
fortifikasies Versterking met forte/vestings.
geldig Wettig.
geloofwaardigheid Wat klink asof jy hom/haar/dit kan glo.
getuienis Feite of tekens wat duidelik wys dat iets bestaan of waar is.
heimlik Ongemerk, stilletjies, agteraf.
heftig Kwaai, driftig.
hoë dunk Goeie opinie.
hooghartig Hoogmoedig, verwaand; selfvoldaan.
implementeer Toepas; uitvoer (soos beplan); laat gebeur.
individualisties Iemand wat dinge op sy/haar eie manier doen en wie se menings dikwels van dié van ander verskil.
invalide Iemand wat as gevolg van siekte, ouderdom of ’n besering nie oor al die funksies van ’n gesonde mens beskik nie en in meerdere of mindere mate versorg moet word.
goed van sy taak gekwyt Jou taak goed/sleg verrig/afhandel.
konflik Stryery, botsende standpunte, meningsverskille.
gekritiseer Die waarde van iets/iemand beoordeel, veral deur te wys op dit wat sleg is.
kundigheid Met baie/voldoende kennis.
laat vaar Iets los; afsien van ’n plan; ’n plan opgee.
landdroskantoor Iemand, gewoonlik ’n regsgeleerde (prokureur/advokaat), wat in ’n plaaslike hof as regter werk en uitspraak oor minder ernstige misdade en regsake gee.
laster Om kwaad te praat van iemand sodat hulle in ’n slegte lig gestel word.
maalstroom Dolle bedrywighede of omstandighede waarin daar geen stilstand of rus is nie.
omstrede Waaroor mense sterk, uiteenlopende menings het en hewig verskil.
ondergeskikte In ’n minder belangrike posisie as iemand anders.
ondermyn Heimlik iemand of iets se posisie verswak.
ondernemend Wat die lus/moed het om iets aan te pak; vol idees.
ondeurdringbaar Wat so welig groei of so dig met plante en (of) bome begroei is dat dit nie deurgedring kan word nie.
opperhoof Heerser oor ’n uitgebreide swart groep/stam.
opgestook Iemand aanmoedig om iets (kwaads) te doen.
potensiaal Die natuurlike vermoë of eienskappe wat nodig is om in die toekoms tot ’n bepaalde soort mens/ding te ontwikkel.
redakteur Die persoon aan die hoof van ‘n koerant/tydskrif (of deel van ’n koerant/tydskrif) wat oor die inhoud daarvan besluit.
reg in eie hande geneem Wette of wetstoepassing, reëls, regulasies, of dergelike self probeer toepas sonder om die normale wetlike prosedure te volg of te wag vir die persoon of persone wat veronderstel is om so ‘n taak te verrig.
geskend Jou nie hou by iets nie; verbreek.
skepties Geneig om nie maklik te glo wat ander jou vertel nie.
geskroom Aarsel; huiwer.
skynheiligheid Iemand wat voorgee dat hy/sy baie gaaf/goed/vriendelik/ens. is.
soldy Betaling/vergoeding wat soldate kry.
tolk Iemand wie se werk dit is om die woorde van iemand wat in een taal praat in ’n ander taal te vertaal sodat die mens(e) wat luister, kan verstaan wat die spreker sê.
uitgesproke Wat baie reguit praat; wat geen gevoelens weggesteek nie.
uit te lewer Iemand in die hande gee van mense, bv. die polisie, wat hom/haar soek.
vaandrig Soldaat wat die vaandel dra.
veldtog Tog deur ’n leër onderneem.
verdrag ’n Ooreenkoms tussen twee of meer magte.
verleentheid Iets/iemand wat jou verleë/skaam maak.
vrywillig Om iets te doen uit vrye wil uit, nie gedwing nie.
vurige Intens; met ʼn driftige stem. 10

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Andries Stockenstrom

Kyk hierdie video oor die Grensoorloë

Die Oos-Kaapse oorloë van weerstand

Britse oorheersing 1800

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: Jackie Grobler-versamelingFoto: iStock
Gepubliseer op: 30 Mei 2023 | Bygewerk op 22 November 2023