Vinnige feite

  • Sewe mense is sedert 2006 in die VSA dood en byna eenhonderd beseer as gevolg van gierige en gulsige verbruikers se stormloop om hul hande op winskopies te lê. In 2008, byvoorbeeld, het 20 000 kopers probeer om by die deure van ’n Walmart-winkel in New York in te beur. Tydens dié stormloop is ’n werknemer van dié winkel dood. 2
  • Mense is dikwels desperaat om sekere items te kry en kamp selfs die nag voor die tyd in die straat voor ’n winkel om vroegoggend, as die deure oopmaak, voor in die ry te kan wees. Sommige raak selfs aggressief! In 2010 is verskeie mense, wat gewapen met messe en vuurwapens inkopies gedoen het, in Wisconsin, Florida en Indianapolis in die VSA in hegtenis geneem. In 2011 het ’n man van Kalifornië inkopiegangers, wat in ’n ry gestaan het om die splinternuwe Xbox 360-speletjie te koop, met pepersproei bygedam. 2
  • Abraham Lincoln het Dankseggingsdag eers as ’n nasionale vakansiedag geproklameer nadat Sarah Hale sewentien jaar lank briewe hieroor geskryf het. Sarah is ook die vrou wat die kinderrympie Mary Had a Little Lamb geskryf het. Hoewel baie presidente ná Lincoln die datum verander het, het Theodore Roosevelt in 1941 sy voet neergesit en dit teruggeskuif na die vierde Donderdag in November. 12
  • Sowat 46 miljoen kalkoene word elke jaar in die VSA gaargemaak ter viering van Dankseggingsdag. Ander tradisionele geregte tydens Dankseggingsdag is kapokaartappels (fyn aartappels), pampoentert en bosbessiesous (cranberry sauce). 12
  • Die Amerikaanse president gee elke jaar aan een kalkoen sy vryheid (skeld hom vry of “pardon” in Engels) om die res van sy lewe vreedsaam op ’n plaas deur te bring sonder die vrees om ooit op enigiemand se etenstafel te beland. 12
  • “Jingle Bells,” die klassieke Kersliedjie wat in 1857 deur James Lord Pierpont geskryf is, is glo nie met die oog op Kersfees geskryf nie. Dit was oorspronklik getiteld “One Horse Open Sleigh,” en bedoel om op Dankseggingsdag gesing te word. 12
  • Meer mense doen op Swart Vrydag inkopies as die totale aantal toeriste wat Disney World in Florida in die VSA jaarliks besoek. In 2014 het meer as 20 miljoen mense slegs by Walmart op Swart Vrydag aangeklop; dit is meer as die 18,5 miljoen mense wat jaarliks Disney World in Florida besoek of die 16 miljoen pare voete wat elke jaar deur die hekke van Disney World in Kalifornië stroom. 13
  • Winskopies tydens Swart Vrydag is nie altyd so goedkoop nie. Studies toon dat sommige items (produkte) selfs 17% duurder is tydens hierdie inkopiedag as ander dae. 13
  • Benewens elektroniese goedere is slaapklere (pajamas) ook een van die gewildste items wat op Swart Vrydag verkoop word. 13

Ons almal ken daardie gevoel as die wekker (óf selfoonalarm) op ’n Maandagoggend vir skool lui ná ’n heerlike en luilekker naweek van leeglê. Ons moed sak gaap-gaap in ons skoolskoene en dis sommer met die intrapslag ’n blou Maandag (’n dag waarop alles sommer net skeefloop)! 1 Die ander “gekleurde” dag van die week waarmee Suid-Afrikaners veral die afgelope paar jaar goed bekend geraak het, is natuurlik Swart Vrydag (of “Black Friday” in Engels).

Vir die meeste van ons is Swart Vrydag sinoniem met kasregisters wat klingel, mense wat in lang rye voor winkeldeure wag om winskopies op te raap, of deesdae sommer aanlyn op hul selfoon of rekenaar hul kuberwaentjies vol vroeë Kersgeskenke laat kreun. Swart Vrydag het egter ’n baie donkerder geskiedenis (of ontstaan) waarvan min mense weet. Dit het niks met sakke vol inkopies te doen nie, maar wel met goud en geld.

Weet jý wanneer dié dag gehou word en wat die oorsprong daarvan is? Kom ons begin by die “wanneer” voordat ons by die “waarom” kom.

Wanneer word Swart Vrydag gevier?

Swart Vrydag word ná Dankseggingsdag (beter bekend as “Thanksgiving”) in die Verenigde State van Amerika (VSA) gehou en het ook in dié land sy ontstaan gehad. Dankseggingsdag val altyd op die vierde Donderdag in November en Swart Vrydag op die dag daarna, oftewel die laaste Vrydag in November. 2

Dankseggingsdag is volgens oorlewering (verhale wat van een geslag na ’n volgende oorvertel word) die eerste keer op 24 November 1621 in Plymouth in die VSA gevier toe koloniste (sommige bronne verwys na hulle as pelgrims of reisigers) die opbrengs van hul eerste oes met die inboorlinge van die gebied gedeel het. Vir meer as twee eeue ná daardie eerste Dankseggingsdag het die verskillende kolonies en state in die VSA hierdie tradisie (gebruik) herdenk (gevier). Dit het egter eers amptelik geword toe pres. Abraham Lincoln in 1863 – midde-in die Amerikaanse burgeroorlog (wanneer inwoners van dieselfde land teen mekaar baklei of veg) – dit as ’n amptelike vakansiedag geproklameer (verklaar) het. 3

Abraham Lincoln

Baie Amerikaners beskou Swart Vrydag as die begin van die feesseisoen in Desember. Hierdie idee het ontstaan toe afdelingswinkels of kettingwinkels (winkels wat ’n groot verskeidenheid verskillende items verkoop) in die laat negentiende en vroeg twintigste eeu begin het om Dankseggingsparades te hou of te borg. Hierdie parades is later die Kersvaderparades genoem omdat dit gewoonlik met die aankoms van Kersvader (of “Santa Clause” soos die Amerikaners die vriendelike gryskop oom met die slee vol geskenke noem) geëindig het. In sommige Amerikaanse stede vind sulke parades vandag nog plaas. 4

Die winkels het hierdie parades gebruik om die begin van hul Kersfeesvieringe en vakansie-inkopieseisoen in te lui. Mettertyd het dit ’n ongeskrewe reël geword dat handelaars (winkels) nie vakansieverkope (of groot winskopies of uitverkopings) voor hierdie dag sal begin nie, hoewel dié gebruik grootliks nie meer gevolg word nie en winskopies dikwels reg deur November en Desember (en soms veral in Januarie as almal platsak gekoop is!) uitgesnuffel kan word. 4

Waarom “Swart” Vrydag?

Daar is verskeie teorieë (idees of verhale) waarom dié dag juis Swart Vrydag genoem word. Die bekendste hiervan is die ineenstorting van die Amerikaanse aandelebeurs op 24 September 1869. Wat het dié aanvanklike blink dag dan so “swart” gemaak? wonder ’n mens. 5

Die rede vir dié ekonomiese ramp kan voor die deur van twee beleggers, Jay Gould en Jim Fisk, gelê word, wat probeer het om die prys van goud deur die dak te druk. Hulle het vroeg in September begin om soveel as moontlik goud te koop, wat veroorsaak het dat die prys van goud die hoogte ingeskiet het (dit het die hoeveelheid goud, wat vir ander mense beskikbaar was om te koop, dus baie minder of skaarser en gevolglik waardevoller en duurder gemaak). 5

Hulle het selfs vir Abel Corbin, die swaer van die destydse Amerikaanse president Ulysses S. Grant, by hul slinkse plannetjies betrek. Hulle wou hê Corbin moes die president oorreed om die metaal se beskikbaarheid te beperk (hoeveel goud daar was om te koop), wat die prys daarvan selfs hoër sou laat styg. Grant was egter nie onder ’n kalkoen uitgebroei (dom) nie. Toe hy van dié planne verneem, het hy die Amerikaanse tesourie opdrag gegee (beveel) om van die land se goudreserwes te verkoop. Die regering het $4 miljoen se goud te koop aangebied, wat die goudprys van $160 per fyn ons tot $130 per fyn ons laat daal het. Die goudmark het in duie gestort en die hele aandelebeurs met 20% laat tuimel. Dit het baie beleggers bankrot gelaat en die koerantopskrifte het dié dag as Swart Vrydag gedoop. 5

Hierdie ineenstorting van die aandelemark het daartoe gelei dat daar na enige drastiese dalings in die mark as “swart” dae verwys word. Ander voorbeelde sluit in Swart Dinsdag op 29 Oktober 1929, toe die mark vinnig gedaal en die begin van die Groot Depressie van die dertigerjare (1930’s) ingelui het, en Swart Maandag op 19 Oktober 1987, toe die Dow Jones-indeks (een deel of lys van die Amerikaanse aandelemark) in die VSA met meer as 22% gedaal het. Laasgenoemde was die grootste daling op een dag in die aandelemarkgeskiedenis. 5

Heelwat later, in die 1950’s, het die polisie en verkeersbeamptes van die Amerikaanse stad Philadelphia die dag tussen Dankseggingsdag en ’n groot tradisionele voetbalwedstryd die Saterdag tussen die weermag en vloot, ook Swart Vrydag gedoop. In hierdie geval het dit verwys na al die mense wat na die wedstryd én winkels gestroom het, en die reuseverkeersopeenhopings wat dié see van mense (massa of groot groep mense) veroorsaak het. Vir die polisie was dit nag om al hierdie mense te beheer! 6

Dit is eers in die laat 1980’s dat Swart Vrydag sinoniem met groot inkopietogte en reusewinskopies geword het. Bemarkers het daarin geslaag om die negatiewe verhale wat met Swart Vrydag geassosieer was, in iets positief te omskep. Hulle het verwys na boekhouers (mense wat maatskappye se finansiële state opstel) wat swart ink gebruik het om te wys dat ’n besigheid (onderneming) ’n wins toon, teenoor rooi ink wanneer ’n onderneming ’n verlies gely het. Swart was volgens hulle ’n teken van voorspoed en winsgewendheid. Sedertdien het dié “bemarkingsfoefie” behoorlik spoed opgetel en was Swart Vrydag destyds vir baie ondernemings die eerste dag van die jaar waarop hulle ’n wins getoon het. Vandag nog teken verskeie winkels op Swart Vrydag rekordverkoopsyfers aan wat hulle ’n yslike finansiële hupstoot tot in die nuwe jaar gee. 6

Swart Vrydag reg oor die wêreld

Die Swart Vrydag-inkopietogte het intussen na ander inkopiedae soos Kubermaandag uitgebrei. Op Kubermaandag, wat sy ontstaan in 2005 gehad het, kan verbruikers winskopies teen groot afslag veral aanlyn koop. Dit word die Maandag direk ná Swart Vrydag gehou. Kubermaandag is benewens Swart Vrydag die grootste inkopiedag ter wêreld en die dag waarop die meeste aanlyn verkope geskied (gedoen word). 7

Hoewel Kubermaandag sy oorsprong in die VSA het, is dit vandag ’n wêreldwye verskynsel. Baie e-handelmaatskappye reg oor die wêreld gebruik dié term om hul verkope in hierdie tyd van die jaar ’n hupstoot te gee. 7

Gemeet teen ander lande, is Swart Vrydag steeds die gewildste in die VSA.

Dié dag het oor die jare ook soos ’n veldbrand na ander wêrelddele versprei:

Kanada

In ’n poging om Kersfeeswinskopies aan húl kant van die grens te hou, het Kanada, die VSA se aangrensende buurland, in 2008 begin om die Amerikaners se Swart Vrydag-tradisie te volg. 8

Verenigde Koninkryk

Hoewel Dankseggingsdag nie ’n vakansiedag in die Verenigde Koninkryk (VK) is nie, het winkeleienaars die tradisie van die VSA begin volg deur óók die Vrydag ná die VSA se vakansiedag Swart Vrydag-winskopies aan te bied. In 2014 het die Britte selfs meer geld as die Amerikaners op aanlyn inkopies bestee. 8

Mexiko

El Buen Fin (dit beteken “Die Goeie Naweek”) vind die naweek voor die herdenking van die Mexikaanse revolusie plaas, wat die derde Maandag in November is. El Buen Fin het in November 2011 bekend begin raak as ’n nasionale inkopiedag en is hierdie Suid-Amerikaanse land se weergawe van Swart Vrydag. 8

China

Die grootste aanlyn inkopiegebeurtenis val saam met Enkelingedag (“Singles Day”) wat op 11 November in China gevier word. (Die dag word só genoem omdat die datum 11/11 is – dit is dus vier ene of enkelinge langs mekaar.) Tydens hierdie dag word enkellopende persone aangemoedig om hulself met duur geskenke te bederf. Die inkopies vind op die internet op platforms (webtuistes) soos Alibaba plaas. 8

Suid-Afrikaanse kopers ook “van hul trollie af”

Die Swart Vrydag-inkopietradisie het eers in 2012 in Suid-Afrika begin kop uitsteek. Sedertdien het Suid-Afrikaanse verbruikers vroeg reeds hul huiswerk begin doen oor waar om die beste winskopies te vind. Tussen 2012 en 2017 het Swart Vrydag-verkope in Suid-Afrika met ’n enorme 9 900% gestyg. Tussen 2017 en 2019 was daar ’n styging van R400 miljoen se verbruikersbesteding (die bedrag geld wat verbruikers spandeer). 9

As die verkope op Swart Vrydag met dié van ’n gewone Vrydag vergelyk word, is die verkoopsyfer op Swart Vrydag meer as 2 500% hoër. Dit is veral elektroniese toerusting wat baie gewild is. Die gewildste items sluit in selfone, televisies, juwele, skootrekenaars en groot huishoudelike toestelle soos yskaste. 9

Ten spyte van die invloed van beurtkrag, hoë brandstof-, kos- en elektrisiteitspryse, is Suid-Afrikaners beslis nie skaam om op Swart Vrydag hul sakke te skud nie. Tog maan baie ondernemings (soos skuldberaders wat mense help om uit hul skuldstrik te kom) mense om versigtiger te koop en eerder gebruiksartikels (noodsaaklike produkte soos kos en skoolklere vir die volgende jaar) as elektroniese katoeters in hul inkopiewaentjies te laai. 11

Woordbank

aandelebeurs Instelling waar aandele deur makelaars of agente gekoop of verkoop word; aandelemark.
aanlyn Ingeskakel by ’n netwerk sodat inligting daarheen gestuur of daarvan onttrek kan word; aan die internet gekoppel met ’n rekenaar of selfoon.
afdelingswinkels Winkel waarin goedere of produkte in verskillende afdelings uitgestal en te koop aangebied word.
afslag Vermindering van prys; iets goedkoper as die oorspronklike prys verkoop.
aggressief Aanvallend; strydlustig; veglustig; bakleierig.
amptelik Afkomstig van iemand met gesag wat byvoorbeeld ’n vakansiedag kan wettig.
geassosieer Met mekaar in verband bring.
beleggers Iemand wat geld/ens. in ’n besigheid of die aandelebeurs belê/inkoop.
bemarkers Iemand wat ’n produk adverteer, bekendstel.
boekhouers Iemand wie se werk dit is om van geldsake boek te hou; aantekeninge maak oor geldsake; rekeningkunde.
borg ʼn Persoon of maatskappy wat vir ʼn vertoning/uitsending/sportgebeurtenis/ens. betaal in ruil vir die reg om sy produk(te)/diens (te) daar te adverteer.
burgeroorlog ’n Oorlog tussen partye van een volk/nasie.
desperaat Bereid om enigiets te doen in ’n slegte situasie, ten spyte van gevaar.
e-handel Sake doen op ’n elektroniese platform soos die internet.
feesseisoen Tydperk waarin daar verskeie feeste voorkom, bv. die seisoen of tydperk wat Kersfees en Nuwejaar insluit.
foefie Slimmigheid; slim plannetjie; streek; iets waaroor daar skeptisisme bestaan.
fyn ons ’n Gewigseenheid gelyk aan een sestiende van ’n pond of 28,350 gram.
gierig Uitermate begerig om iets te besit; hebsugtig; inhalig.
gulsig Wat meer van iets wil hê as wat hy of sy nodig het.
handelaars Iemand wat handel dryf, soos ’n winkelier.
inboorlinge Uitermate begerig om iets te besit; hebsugtig; inhalig.
inkopie ʼn Masjien wat in winkels gebruik word om die geld in te hou en die bedrag te registreer van elke artikel wat verkoop word.
kasregisters ʼn Masjien wat in winkels gebruik word om die geld in te hou en die bedrag te registreer van elke artikel wat verkoop word.
katoeters Woord in informele geselstaal soms gebruik om te verwys na iets wat nog nie ’n naam het nie, waarvan die spreker die naam nie ken nie, of waarvan hy/sy die naam vergeet het.
kolonies ʼn Gebied wat deur ʼn ander land oorheers word, veral in die verlede.
koloniste ’n Kolonis is ’n nedersetter, iemand wat uit die moederland kom om hom of haar in die betrokke kolonie te vestig.
oorlewering (Van geslag tot geslag) oorvertel; mondelings oordra.
oorsprong Die begin/ontstaan van iets; waar iets/iemand oorspronklik vandaan kom.
parades Seremoniële optog waartydens die deelnemers op ‘n ordelike manier stap of marsjeer.
pepersproei ’n Chemiese middel of soort (traan)gas wat gespuit word ter selfverdediging.
platsak Sonder geld; met ’n plat beursie.
geproklameer Bekend maak of afkondig.
reserwes Wat teruggehou word om later te gebruik; noodvoorraad.
sinoniem Wat in betekenis gelyk is aan ʼn ander.
skuldstrik Skuld: Geld wat nog betaal moet word vir produkte/diens wat reeds gelewer is; som geld wat geleen is en terugbetaal moet word. Strik: Listige plan om iemand te benadeel.
skuldberader Opgeleide/geregistreerde persoon wat aan mense met te veel skuld raad kan gee.
slee ʼn Groot oop voertuig sonder wiele wat gebruik word om oor sneeu te reis en deur diere getrek word.
slinks Op ʼn skelm manier slim; uitgeslape.
stormloop Vinnige beweging êrens heen; bestorming; stormaanval.
tradisie Gebruike wat binne ’n groep na byvoorbeeld die volgende geslag oorgelewer word.
teorie Grondreëls van ’n wetenskap om waargenome feite/verskynsels te verklaar; voorstelling van iets in ’n mens se gedagte sonder om rekening te hou of voordat rekening gehou is met die werklikheid.
tesourie Plek waar geldmiddele van ’n staat/munisipaliteit bewaar word; instelling/ministerie van finansies wat die geldmiddele beheer.
verbruikers Iemand/iets wat goedere verbruik.
winskopies Besondere voordelige aankoop deur dit byvoorbeeld baie goedkoper as gewoonlik te maak. 14

Lees hier meer oor Dankseggingsdag en Swart Vrydag

Kyk hierdie video’s om meer te wete te kom

Suid-Afrikaners raak net so angstig tydens Swart Vrydag:  

Macy’s in Amerika se Dankseggingsdagparade vir 2022:

Die ware verhaal agter Swart Vrydag:

Wat het werklik tydens daardie eerste Dankseggingsete gebeur?  

Die tien ergste Swart Vrydag-stormlope ooit!

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 25 November 2022 | Bygewerk op 26 Februarie 2024