Vinnige feite

  • Daar was 621 honderdponders van die Vrystaat, 546 van die Kaapland, 167 van Transvaal, 25 van Natal en twee van Rhodesië. Malmesbury het die meeste gehad met 75. 3
  • Leerlinge by ʼn Stellenbosse skool het ʼn tyd lank een keer per week sonder ontbyt gebly, en die geld wat op kos gespaar is, vir die fonds geskenk. Paarlse skoolseuns het hul rugbyonthaal opgeoffer en besluit om ʼn kwartaal lank slegs droë brood te eet. Toe mense vir die seuns botter geskenk het, het hulle ook die botter vir die fonds verkoop! 3
  • Die Helpmekaarpoging het in 1918 tot die stigting van die versekeringsmaatskappye Santam en Sanlam gelei. 5
  • Tussen 1916 en 2014 het 8 381 studente finansiële steun van die Helpmekaarfonds ontvang. Ongeveer 100 instellings en sake het in hierdie tyd die fonds met miljoene gefinansier (1916-1960: £302 053 en 1961-2014: R350 209 999). 2
  • Die Solidariteit Beweging funksioneer as ʼn moderne helpmekaarbeweging en put inspirasie uit die sukses wat destyds behaal is.
Foto: iStock

Die Rebellie van 1914 het Afrikaner teen Afrikaner laat staan en amper die Afrikanernasie in twee geskeur. Uit die donkerte het daar egter lig gekom. Die nadraai van die Rebellie was oorsprong van een van die positiefste inisiatiewe in die Afrikaner se geskiedenis: die Helpmekaarbeweging en Helpmekaarfonds.  

Agtergrond

As Britse kolonie het Suid-Afrika in 1914 tot die Eerste Wêreldoorlog toegetree aan Brittanje se kant in dié se stryd teen Duitsland en sy bondgenote. Die regering, wat beheer is deur die Suid-Afrikaanse Party (SAP), het ook ingestem om Duitswes-Afrika (later genoem Suidwes-Afrika, vandag se Namibië), ʼn Duitse kolonie, in te val. 1

Slag van Somme

Hierdie besluit was vir baie Afrikaners onaanvaarbaar. Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) was nog vars in hulle geheue. In dié stryd het Brittanje se verskroeideaardebeleid en konsentrasiekampe  duisende Boere uitgewis of verarm. Die Duitsers het boonop die Boere geestelik teen die Britte ondersteun.

ʼn Groep Afrikaners, onder leiding van onder andere die beroemde Boeregeneraal Christiaan de Wet, het in opstand gekom teen die regering se besluit om Duitswes-Afrika in te val. Hierdie opstand staan vandag as die Rebellie van 1914 bekend. Die Rebellie is deur die regering onderdruk, en talle rebelle is skuldig bevind aan verraad. Sommige is tronkstraf opgelê, en almal is beboet. 1

Christiaan de Wet

Tydens die Rebellie het die rebelle boonop toerusting en voorrade, wat nodig was vir hulle opstand, op plase en by winkels van lojaliste (mense wat nie aan die Rebellie deelgeneem het nie) geneem. 2 Die lojaliste het na ie Rebellie skadevergoeding by die rebelle geëis vir die toerusting en voorrade wat geneem is. 3 Die spertyd vir die betaling van die skadevergoeding was 10 November 1917. 1

Die rebelle moes dus nie net die boetes betaal nie, maar ook die skadevergoedingeise. Meeste kon bloot nie.  Hulle was alreeds arm voor hulle gerebelleer het, en baie was bywoners. 2

Die ontstaan van die Helpmekaargedagte

Niemand weet presies waar nie, maar in 1915 het mense in die Noord- en Oos-Vrystaat besef dat die rebelle op die punt gestaan het van totale vernietiging. Indien daar nie ‘n manier gevind kon word om die geld in te samel nie, sou hulle heeltemal verarm. 2

Die stigting van Helpmekaarverenigings

Twee metodes om die rebelle te help, het gevolglik tot stand gekom.

Die Bethlehemmodel

In die Noord-Vrystaat, waar die nood die hoogste was, is die Bethlehem-model gebruik. Daarvolgens het dorpies komitees, genaamd Helpmekaarverenigings, gestig wat die eise namens die rebelle sou betaal, solank die eise regverdig en geldig was.

Die geld sou verkry word vanuit drie oorde:

Lenings by banke;

Die taksasiebeginsel – lede van die komitees, veral die rebelle self, sou bydraes maak gebaseer op hulle vermoëns;

Vrywillige skenkings – mense wat nie gedwing is nie, maar uit die goedheid van hulle hart geld wou skenk.

Die Bethlehemmodel is eerste in dorpe soos Reitz, Lindley, Frankfort, Ventersburg, Vredefort en uiteindelik in omtrent al die dorpe daar rebelle gewoon het. Teen Mei 1915 is daar ʼn Sentrale Rebellefonds gestig om die verskillende Helpmekaarverenigings van 16 Noord-Vrystaatse dorpe te koördineer, sodat almal wat daarby betrokke was só kon saamwerk dat die geld die beste gebruik kon word. 2

Die meeste lede het getrou volgens die taksasiebeginsel betaal, al was baie self brandarm. In Desember 1915 het iemand berig: “As ʼn teken van hoe die arme mense geswoeg het om hul deel te doen, stap daar ʼn arm getroude paartjie in die kantoor in, stukkend en verskeurd, om hul £2 af te betaal op £5, wat hulle moet gee. Dis om ʼn mens se hart te breek.” (£1 in daardie tyd was omtrent soveel werd as R2 000 vandag.) 4

Vrywillige bydraes

Die ander model was vrywillige bydraes. Baie mense, wat nie enigiets met die rebelle of die Rebellie te doen gehad het nie, wou bloot help. Die meeste is gemotiveer deur teenkanting teen die regering, die SAP. Die SAP se teenstanders, die Nasionale Party (NP), se ondersteuners het leidende rolle in die vrywillige inisiatiewe gespeel. Onafhanklike Helpmekaarverenigings is gestig in die Suid-Vrystaat, Kaap, Transvaal en Natal. 2

In die Suid-Vrystaat is die inisiatief geneem deur onder andere die kultuurleier en skrywer ds. J.D. Kestell, en die Afrikaner Nasionale Helpmekaarvereniging (ANHV) is gestig. 2

In die Transvaal het Helpmekaarverenigings ontstaan op Wolmaransstad, en toe ook ander Wes-Transvaalse dorpe waar rebelle vandaan gekom het, soos Rustenburg, Schweizer-Reneke, Bloemhof en Potchefstroom. Uiteindelik het die behoefte aan vestiging van nog Helpmekaarverenigings gelei tot die stigting van die Transvaalse Helpmekaarvereniging in September 1915. Doeltreffende samewerking is in Januarie 1916 bereik by ʼn provinsiale kongres met die naam Die Helpmekaarvereniging in Transvaal. Alle bydraes vir hierdie verenigings was totaal vrywillig. 2

In die Kaap is die Nasionale Weldadigheidsgenootskap in Februarie 1915 gestig, en dit was gedryf deur vroue. Hulle het kos, klere en geld ingesamel om die behoeftige gesinne van rebelle te help. Aan die begin het mense wat wel geld ingesamel het, dit gestuur na die Helpmekaarbewegings in Transvaal en die Vrystaat. Die genootskap se naam het later verander na die Nasionale Vroue-Helpmekaargenootskap, en die doel het verbreed om geld in te samel om al die rebelle te help, en nie net die families nie. 2

Inisiatiewe van dr. D.F. Malan, die redakteur van De Burger, het in Junie 1916 uitgeloop op die stigting van die Helpmekaarvereniging vir die Kaapprovinsie, wat ʼn sentrale bestuur gehad het om hul aktiwiteite te koördineer. 2

In Natal is inisiatiewe ook aanvanklik deur vroue geneem. ʼn Oorkoepelende provinsiale organisasie het in Junie 1917 werklikheid geword met die besluit om die Nasionale Vroue-Helpmekaarvereniging van Natal te stig. 2

Die bepaling van skuld en aanwending van die fondse

Die groot doel in 1915 was om die presiese waarde van die eise vas te stel, en met metodes vorendag te kom oor hoe om die eise te betaal. 2 Die situasie in 1915 was taamlik droewig. Die rebelle het gou besef dat selfs met plaaslike bystand hulle nie in staat sou wees om die skuld te vereffen nie. Die direkte eise (vir goedere wat deur die rebelle opgekommandeer is) is vasgestel op omtrent £300 000 (omtrent R600 miljoen in vandag se geldwaarde). 4 Nog £22 000 was nodig vir boetegeld. Boonop is baie rebelle se huise gedurende die Rebellie deur die regering gekonfiskeer – die waarde hiervan was omtrent £250 000, en die rebelle is nie hiervoor deur die regering vergoed nie. 2

In Augustus en September 1915 het die situasie mistroostiger geword, toe indirekte eise teen die rebelle begin instroom het. (Indirekte eise was vir goed soos gebrek aan inkomste, onwettige gevangeneming en aanhouding of vorms van liggaamlike leed.) Dit is aanvanklik geskat op omtrent £750 000, wat ʼn verpletterende bedrag was. Op die ou end was dit slegs omtrent £75 000 2  (omtrent R150 miljoen in vandag se geldwaarde). 4

Ná afvaardigings by die regering gaan smeek het, het die regering darem hier ingegryp en ʼn einddatum ingestel, waarna mense nie meer eise kon indien nie. Dit het ten minste gehelp dat die rebelle kon vasstel wat hulle totale skuld sou wees. 2

Hulpverlening en insameling van fondse

Een van die Helpmekaarverenigings se groot uitdagings was om prokureurs te kry om individuele eise te ondersoek. Sommige prokureurs het gratis vir die Helpmekaar gewerk, terwyl ander betaal moes word. Hulle het met eisers onderhandel om die eise uit die howe te probeer hou. Hierdie aksie het die waarde van die eise met omtrent 30% laat daal. 2

Vrywillige bydraes was die grootste bron van inkomste. Vroue het aanvanklik die grootse rol gespeel, deur ʼn eindelose stroom van basaars, konserte, etes, veilings en kollektelyste. 2

Een manier om mense te motiveer om bydraes te lewer, was om op hulle volksgevoel, of opkomende Afrikanernasionalisme, te speel. So het een voorsitter van ʼn propagandakomitee in ʼn brief in De Burger geskryf: “ … van Afrikaners in die Vrystaat aan Afrikaners in die Kaapprovinsie … Kom oor en help ons!” 2

Krisis

Ten spyte van die vroeë pogings was die situasie in April 1917 benard. Daar het eenvoudig nie genoeg geld ingekom nie. Teen hierdie agtergrond het J.S. Botha, W.J.M. Visser en R.T. van der Merwe van die Sentrale Rebellefonds ʼn brief aan hulle “medevolksgenote” geskryf, gedateer 1 Julie 1917. In die brief het hulle verduidelik dat die rebelle nie die eise kon betaal nie en dat die versuim om die eise te betaal, tot die totale verarming van baie Afrikaners sou lei. Hulle het ʼn oproep gedoen op die NP, SAP en vroue-organisasies soos die SA Vrouwe Federasie, kerkrade en die pers. In die brief het hulle die hoop uitgespreek dat die verskille van die verlede opsy gesit sou word om “ons verdrukte broeders met hul families te help.” 2

Lig aan die einde van die tonnel

In Julie 1917 is die kwessie aangespreek by die tweede kongres van die Helpmekaarvereniging. 2 Daar is ʼn fonds gestig om te probeer om die skuld voor die sperdatum van November 1917 te delg1

Die finale uiteindelike inspirasie het vanuit twee oorde gekom. Die eerste was toe die Middelburgtak die Kaapprovinsie se Helpmekaarvereniging versoek het om Saterdag, 10 November 1917, as ʼn Uniewye “Helpmekaardag” te verklaar. Die Helpmekaarvereniging het die idee aanvaar en hulself daartoe verbind om lede van alle Helpmekaarbewegings te motiveer om deel te neem. 2 Die tweede was die besluit van dr. D.F. Malan, redakteur van De Burger-koerant en toekomstige eerste minister, om sy koerant te gebruik om fondse te probeer insamel. 2 De Burger het begin om artikels en briewe te plaas waarin welvarende Afrikaners gevra is om die rebelle te help. 5

Ommekeer

Die groot ommekeer het op 29 Augustus 1917 gekom. Jakob Elisa de Villiers van die Paarl het in ʼn brief aan dr. D.F. Malan homself bereid verklaar om £500 (vandag om en by R1 000 000) 4 te skenk, as daar nog 500 mense £100 (vandag so R200 000) elk sou skenk. 3 De Villiers was geïnspireer deur die idee van Middelburg se Helpmekaardag, en het in sy brief gesê dat hy wou help “om te keer dat vooruitstrewende boere in bedelaars verander sou word …” 2

Afrikaanse koerante soos Het Volksblad en De Burger, 2 met die seën van die kerke en sommige politici, het die voorstel ondersteun en ʼn beroep op ander gedoen om te help. 3

De Villiers se aanbod het die krane oopgedraai, en die geld het begin instroom. Mense wat geskenk het, het as “honderdponders” bekend gestaan. Dit was egter nie net individue nie. In baie gevalle het mense wat nie alleen met £100 kon opkom nie, saamgewerk. Sulke groepe was byvoorbeeld Die Jong Ongetrouwde Boertjies van Trompsburg, Jonge Boer Seuns van Wellington, Moeders en Dochters van verskeie plekke en Leden Joodse Inwoners van Heilbron. 3

Intussen het vroue op dorpe voortgegaan met basaars, konserte en dinees. De Burger se Middelburgkorrespondent het geskryf: “Ek ken geen magtiger middel tot die saamsnoer van die Afrikanervolk as hierdie basaars nie. Deur die nood gedrewe kom ons nader aan mekaar. Tussen dié wat help, kom ʼn band wat nie lig verbreek sal word nie. Dit is die groot betekenis van die Helpmekaar-basaars.” 5

Sukses

Teen die afsnydatum was daar 1 361 honderponders en die honderdpondfonds het op die ou end 1 415 bydraes gehad, met ʼn totale inkomste van £141 500. Die Helpmekaardag het £62 000 ingesamel. 2 Teen 1917 was dit duidelik dat die verskillende bewegings meer as genoeg geld ingesamel het. 3 Ná die boetes en die eise betaal is, was daar £92 000 oor. 2

Die kwessie van die surplus

Ná die aanvanklike doel bereik is, was daar verskillende voorstelle uit al die provinsies oor hoe om die oorblywende geld aan te wend. Sommiges wou al die fondse in een fonds saamvoeg en slegs die rente gebruik, maar al die Helpmekaarbewegings wou dit nie aanvaar nie. Uiteindelik het vier afsonderlike Helpmekaarverenigings, een in elke provinsie, aanhou bestaan. 2

Skoolkinders in Transvaal

Die doel van die Helpmekaarbeweging het toe verander na een van bevordering van Afrikaners, spesifiek die Afrikanerkultuur. Hierdie tweede doel het mettertyd ʼn opvoedkundige fokus ontwikkel, naamlik om die armblankeprobleem op te los deur die Afrikanerjeug op te voed, sodat hulle potensiaal ontsluit kan word ten goede van die samelewing. 2

Die Helpmekaarstudiefonds bestaan vandag nog en loof studiebeurse uit vir belowende studente. 5

Invloed

Die Helpmekaarbeweging se invloed was van onskatbare waarde vir die Afrikanervolk. Die impak was nie net ekonomies nie, maar ook geestelik. Dit was vir die Afrikaners ʼn voorbeeld van wat hulle kon bereik wanneer hulle as groep saamgewerk het. 2

Dit het ook gewys dat nasionalisme, indien dit deur die media, politieke figure en organisasies aangestook word, alle Afrikaners – ryk boere, die stedelike middelklas, maar ook die armes en werkers – ekonomies kon opbou. 2

Dit het die amperse fiasko van die 1914-rebellie in ʼn groot prestasie vir die Afrikaner omskep. Die Nasionale Party sou hieruit groot voordeel trek, veral omdat dit gelyk het of die SAP se leiers en ondersteuners afsydig teenoor die hele ding gestaan het. 5

Woordbank

bywoners ʼn Persoon wat nie sy/haar eie grond besit het nie en op ander se plase gebly het. 6
delg Finaal afbetaal. 6
geldig Wettig. 6
koördineer Iets so reël dat die mense wat daarby betrokke is, goed saamwerk en die beste resultaat behaal. 6
pers Koerante en die mense (joernaliste/verslaggewers) wat vir hulle skryf. 6
spertyd Tyd of datum waarop iets klaar gedoen moet wees. 6
verraad Gedrag waarin jy nie lojaal bly teenoor jou land nie. 6
vrywillige Om iets uit vrye wil te doen; nie gedwing nie. 6
aangewend  As jy iets gebruik of bestee. 
Afrikanernasionalisme  Liefde vir jou eie volk of nasie, in heirdie geval die Afrikaners. 
armblankevraagstuk  Aan die begin van die 20ste eeu was daar verskriklik baie arm wit mense wat nie in staat was om sonder hulp vir hul gesinne te kan sorg nie. Hulle het as die “armblankes” bekendgestaan. Die toestand van hierdie mense het vir die regering ’n groot probleem 
basaars  Verkoping van goed vir liefdadigheid. 
beboet  Om iemand ‘n geldstraf op te lê om op te maak vir ‘n oortreding. 
benard  Moeilik en sorgwekkend. 
beroemde  Iemand wat baie bekend is, gewoonlik vir iets goeds. 
bondgenote  Iemand wat hom verbind om ‘n ander te help. 
doeltreffende  Effektief, doelmatig, geslaagd. 
fiasko  Wanneer iets totaal misluk. 
geestelik  Dinge wat nie op aardse goed toegespits is nie en verband hou met jou gees eerder as met jou liggaam en verstand. 
gekonfiskeer  Om beslag te lê op items, om items by iemand af te neem, veral wanneer dit iets is wat die persoon nie mag besit nie. 
genootskap  Vereniging van persone wat ’n bepaalde, gemeenskaplike doel nastreef. 
geswoeg  Baie sukkel met iets wat moeilik is. 
individuele Mens, persoon, enkeling. 
inisiatief geneem  Die vermoë om besluite te neem en dinge te doen sonder dat iemand vir jou hoef te sê wat om te doen. 
inisiatiewe Die eerste stap. Om iets op tou te sit of begin. 
kolonie  Gebied wat deur ʼn ander land oorheers word; oorsese besitting. 
komitees  ‘n Groep mense wat ‘n taak moet uitvoer. 
liggaamlike leed  Om iemand se liggaam te beseer. 
loof  Om iets vir iemand te gee. 
ommekeer  ‘n Wending, of wanneer iets skielik heeltemal verander. 
onaanvaarbaar  Wanneer jy weier om toe te gee dat iets reg is. 
oorkoepelende  Omvattend. 
oorskot  Wat oorbly nadat jy iets gebruik het; oorblyfsel; surplus. 
oorsprong  Die begin/ontstaan van iets; waar iets/iemand oorspronklik vandaan kom. 
prestasie  Iets belangriks wat ʼn mens regkry. 
rebelle  Iemand wat teen sy/haar land se wettige regering veg. 
redakteur  Iemand wat rigting gee en toesig hou oor die beleid van ’n publikasie, soos ‘n koerant. 
saamsnoer  Tot ’n eenheid verenig. 
skadevergoeding Vergoeding in geld (of goed) van skade wat gely is. 
studiebeurse  Bedrag geld wat aan ʼn student geskenk word vir verdere studie. 
vars in hulle geheue  Iets wat onlangs genoeg gebeur het dat dit maklik is om te onthou. 
vergoed  Aan iemand iets gee of vir iemand iets doen, omdat hy/sy vir jou iets gedoen het of vir skade wat hy/sy gely het. 
vermoëns  Dit wat jy kan doen of gee. 
versuim  As jy iets nie doen nie of veronagsaam. 
welvarende  Mense wat ryk is. 

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die Helpmekaarfonds

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die Helpmekaarfonds

Wat is die Solidariteitbeweging?

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 16 September 2022 | Bygewerk op 22 April 2024