Vinnige feite

  • Kyk hoe geweldig groot is die SKA se vermoë: Die hoeveelheid data wat die SKA in een dag kan versamel en stuur, is so baie dat dit omtrent twee miljoen jaar sal neem om dit op ’n iPod terug te speel! 4
  • Wetenskaplikes dink dat die heel oudste observatorium van die sonnestelsel in suid-Egipte bestaan het. 4
  • Die SKA-teleskoop kan terugkyk tot in die tyd voor die sterre begin het om lig te maak. Voor sterre bestaan het, was daar net gas en die SKA kan kyk tot in daardie tyd toe daar net gas bestaan het. 4
  • Die SKA sal uiteindelik 3 000 skottel-antennas hê en elkeen van hulle sal ’n deursnee van 15 meter hê. 4
  • In hierdie stadium is die beplanning dat die konstruksiewerk aan hierdie twee teleskope (in Suid-Afrika en Australië) teen 2029 afgehandel sal wees. 3
Foto: iStock

Met ’n verkyker kan mens in die wildtuin tussen die bosse na diere soek of in die tuin na voëls kyk. Met ’n teleskoop kan mens na sterre kyk. Maar luister bietjie hier – met die SKA kan wetenskaplikes terugkyk in die vroegste geskiedenis van die heelal, tot in ’n tyd nog voordat daar sterre bestaan het!  1

Wat presies is die SKA-projek?

Die SKA-projek (Square Kilometre Array, oftewel Vierkante Kilometer Reeks-projek) is begin as deel van internasionale samewerking om die wêreld se grootste teleskoop te bou. Dit is een van die heel grootste wetenskaplike projekte in die geskiedenis van die wetenskap. Die SKA het werkterreine in Suid-Afrika en in Wes-Australië en maak gebruik van die wêreld se heel beste wetenskaplikes en ingenieurs. 1

Die SKA-projek word in fases of verskillende dele aangepak. (Kyk ondertoe in die artikel na die MeerKAT wat reeds bestaan). Op 5 Desember 2022 is die bouwerk aan die twee nuwe radioteleskope in Suid-Afrika en Australië begin. 2 In hierdie nuwe fase van die SKA-projek gaan daar nog 133 nuwe skottels bygevoeg word by die 64 skottels van die SKA se voorloperteleskoop, MeerKAT. Hierdie twee groepe skottels sal dan saam ’n middelfrekwensie-instrument vorm, of ’n SKA-Mid-teleskoop.

In Australië sal die nuwe teleskoop wat deel van die SKA-projek vorm, ’n wetenskap-dataverwerker vir die SKA-Lae-teleskoop, of die laefrekwensie-instrument wees. 3

Die SKA-projek sal ’n bydrae lewer tot wetenskap, tegnologie, sakegeleenthede, werksgeleenthede en kan van Afrika ’n kernpunt maak van data en analisering van data. Hierdie teleskoop sal ook agt lande in Afrika betrek. 4

Die geskiedenis van die SKA

Die SKA is in September 1993 begin met die samestelling van die Groot Teleskoop Werkgroep. Vandag word die projek gelei deur die SKA Organisasie, wat ’n niewinsgewende organisasie is en in Desember 2011 gestig is. 1

Die SKA se hoofkantoor is in Manchester, Engeland.  SKA Suid-Afrika is deur die Departement Wetenskap en Tegnologie begin. 4

Hoe sterk is die SKA?

Die SKA is 50 keer meer sensitief en 10 000 keer vinniger as die beste radioteleskoop wat vandag bestaan. Dit kan beelde verskaf waarvan die resolusie 50 keer hoër is as wat die bekende Hubble-teleskoop kan verskaf. Die rede vir hierdie gevorderde eienskappe is om navorsing te doen en antwoorde te verskaf oor belangrike vrae op die terreine van onder meer astrofisika en kosmologie. 4

Die SKA is ’n moderne radioteleskoop met ’n versameling antennas wat oor ’n groot gebied versprei is – mens kan dit ook beskryf as ’n stelsel van superteleskope. Hierdie verskillende antennas werk soos een skottel wat almal saam inligting versamel. Hierdie gebied wat so deur die SKA gedek word, is een vierkante kilometer groot. Daarom kom “Square kilometre” (vierkante kilometer) in die naam voor. 1

Doel van die projek

Die belangrikste vraag wat deur die SKA se navorsing beantwoord moet word, is of daar ander lewe in die heelal is behalwe vir die mense wat op aarde woon. Die SKA kan ondersoek instel verby die sterre om te kyk waar daar moontlik planete soos die aarde kan wees en waar daar omgewings is waarin daar moontlik lewe kan wees. 1

Blitsvinnige rekenaar

Hoe klink ’n rekenaar wat omtrent een miljoen keer vinniger is as ’n skootrekenaar vir jou? Dit is hoe vinnig en sterk die rekenaar is wat binnekort deel van die SKA-projek gaan wees. Nog so ’n rekenaar sal deel vorm van die SKA-projek se been in Australië. Hierdie superrekenaars se verwerkingspoed is so groot dat dit onder die vyf vinnigste rekenaars in die wêreld getel word. Hulle word wetenskapdata-verwerkers genoem.

Kom ons kyk hoeveel stoorplek hierdie rekenaar het. Hy sal 710 petagreep kan stoor. Dit is groot genoeg om al die inligting op 1,5 miljoen skootrekenaars te kan stoor! Van hierdie rekenaars af, sal die data deur middel van telekommunikasienetwerke na die SKA se streeksentrums in die SKA-sterrewag (SKAO – SKA Observatory) se lidlande versprei word, waar dit gebêre sal word sodat sterrekundiges toegang daartoe sal hê om dit te gebruik. 3

Só kan mens probeer verstaan hoeveel data hierdie rekenaar werklik kan stoor.

1000 kilogreep is een megagreep

1000 megagreep is een gigagreep

1000 gigagreep is een teragreep

1000 teragreep is een petagreep

En…1000 petagreep is een exagreep.

Sommer vir die interessantheid: Elke woord wat nog ooit deur mense gepraat is, is ongeveer 5 exagreep groot! 5

Nou kan jy probeer dink hoe groot 710 petagreep en 5 exagreep is!

MeerKAT Radio-teleskoop

Die soort meerkatte wat ons ken, bly in gate in die veld en ons sien hulle dikwels kiertsregop sit terwyl hulle fyn kyk wat rondom hulle aangaan. Maar die meerkat waaroor dit hier gaan, is ’n heeltemal ander soort.

Die MeerKAT was die voorloper van die SKA. Die naam daarvan is eintlik Karoo Array Telescope waarvan die eerste letter van elke woord die woord KAT spel – daarom word dit toe MeerKAT genoem. 4

Die basis waarop die MeerKAT gebou moes word, se antennas is in Oktober 2013 gelê. Die konstruksie van die antennas was vanaf Maart 2014 en die amptelike bekendstelling was op 13 Julie 2018. In totaal is daar ses verskillende groepe antennas wat deel vorm van MeerKAT en hulle is van 1 tot 6 genommer om hulle van mekaar te onderskei. 6

MeerKAT

Voordele van die SKA-projek vir die land

Beurse word toegeken aan studente om opleiding te verskaf in die ingewikkelde tegnologie wat nodig is vir hierdie navorsingsveld. Kursusse in sterrekunde word nou ook in ander Afrika-lande soos Kenia, Mosambiek, Madagaskar en Mauritius ontwikkel en aangebied.

Die SKA-projek gebruik die beste wetenskaplikes en ingenieurs van oor die wêreld om in Afrika te kom werk en daardeur kry wetenskaplikes en ingenieurs in Afrika die geleentheid om met hierdie mense saam te werk en by hulle te leer.

Omdat daar soveel geld in hierdie projek belê word, vind daar ook ontwikkeling in infrastruktuur plaas in die gebied rondom die area waar die teleskoop opgerig word. 4

SALT

Suid-Afrika kan spog met nog ’n baie groot teleskoop. Die Southern African Large Telescope (SALT) vind ons by die observatorium met die naam South African Astronomical Observatory (SAAO) naby die dorp Sutherland in die Noord-Kaap. Dit is ongeveer 400 km vanaf Kaapstad.

SALT word beheer deur ’n aantal internasionale vennote uit Suid-Afrika, die Verenigde State van Amerika (VSA), Pole, Indië en die Verenigde Koninkryk. Hierdie teleskoop werk reeds sedert 2011. 7

Die Southern African Large Telescope

Elke week word twee van die spieëls binne-in die teleskoop uitgehaal, skoongemaak en weer met aluminium oorgetrek. Op hierdie manier neem dit ongeveer ’n jaar om die hele reeks spieëls skoon te maak. 8

Die mense wat by SALT werk, werk nie almal soos ander mense in die dag nie. Daar is ’n groep wat nagskof werk, wanneer die son ondergegaan het, omdat hulle dan eers na die sterre kan begin kyk. Hulle hou op met werk sodra dit vroeg in die oggend begin lig word, nog voordat ander mense eers opstaan. 8

Woordbank

analisering Om ’n voorwerp te ondersoek of te ontleed en te kyk hoe die verskillende dele daarvan werk en saamwerk.
antennas ’n Draad of stel drade waarmee elektromagnetiese golwe opgevang of uitgesaai word.
astrofisika Die wetenskap waarmee die samestelling van sterre bestudeer word.
data Inligting wat in ’n rekenaar gebêre kan word, word “data’” genoem.
frekwensie Die aantal keer dat iets in ’n spesifieke tyd gebeur, soos byvoorbeeld in ’n sekonde. 9
Hubble-teleskoop Hierdie teleskoop is nie op aarde nie, maar in die ruimte. Dit is in 1990 na die ruimte gestuur en het teen 2019 reeds meer as 500 000 beelde na die aarde teruggestuur. Die data wat die teleskoop ingesamel het, is genoeg om 50 miljoen boeke mee te vul. 10
infrastruktuur Strukture wat opgerig word vir mense om te gebruik, soos paaie en brûe.
ingenieurs Iemand wat werk met dinge wat vir mense nuttig is, soos bouwerk of om dinge te ontwerp wat deur mense gebruik kan word.
kiertsregop Om penorent of heeltemal regop te sit.
kosmologie Wanneer die ontstaan en die bou van die heelal deur sterrekunde bestudeer word. 9
niewinsgewende organisasie Organisasie wat dinge doen om mense te help en nie om geld daaruit te maak nie.
observatorium ’n Plek met groot teleskope waarmee wetenskaplikes ver in die ruimte na planete en sterre kan kyk. 11
resolusie Die kwaliteit van ’n beeld of foto.
sensitief Iets wat deur klein veranderinge in dinge soos lig of temperatuur beïnvloed kan word.
skottels ’n Apparaat waarmee iets soos ’n TV of ’n teleskoop seine kan ontvang.
telekommunikasie Kommunikasie wat oor ’n groot afstand gebeur, soos byvoorbeeld met die hulp van ’n kabel, radio, telefoon, rekenaar of televisie.
teleskoop ’n Teleskoop help mense om te kyk na voorwerpe wat baie ver weg is. Teleskope gebruik lense of spieëls om lig op te vang. Hulle versterk die lig wat hulle so opvang om voorwerpe wat ver is, groter te laat lyk. In die nag kan teleskope gebruik word om die lig vanaf sterre wat baie ver weg is, op te vang. Hulle kan baie meer lig opvang as wat ons oë kan doen, daarom kan hulle baie verder sien. 11
wetenskap Wanneer mens kennis oor die wêreld om ons kry deur dinge te ondersoek en navorsing daaroor te doen. 9

Lees hier

Kyk die volgende video’s

Agtergrond van die SKA

Geskiedenis van die SKA oor dertig jaar

Waarom Suid-Afrika as tuiste vir die wêreld se grootste teleskoop?

Die MeerKAT-teleskoop as voorloper van die SKA-teleskoop

So lyk die SKA-skottels in Suid-Afrika van naby

Wat is kilo, mega, giga, tera, peta, exa en zetta?

Die struktuur van die eerste SKA-satellietskottel is gedurende 2023 in China aanmekaargesit 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 20 Julie 2023 | Bygewerk op 18 Januarie 2024