Vinnige feite

  • Die oudste oorblywende stuk drukwerk wat op Gutenberg se drukpers gedruk is, is die gedig: “Sibyl’s Prophecy”. 1
  • Die Gutenberg Bybel is in 42 lyntjies gedruk. Dit was maklik om te lees en het ook mooi gelyk. 2 Daar is vandag nog 22 kopieë van die Gutenberg Bybel in die wêreld oor. 1
  • Daar is baie mense wat reken die drukpers is die belangrikste uitvinding van die laaste 1 000 jaar. 2
  • Dit is nie moontlik om presies te weet wat Gutenberg se metode was nie. Sy oorspronklike planne het verlore geraak en ander mense het hom feitlik onmiddellik begin namaak. 2
  • Dit is nie bekend of Gutenberg ooit getrou of kinders gehad het nie. 1 Ons weet slegs dat hy in 1436 of 1437 ’n verlowing verbreek het aan ’n vrou met die naam Ennelin. 2
  • Die drukpers is die belangrike uitvindsel, maar Gutenberg het ook in die proses tipografie (die werk verbonde daaraan om bladsye te ontwerp, die styl van die letters te kies en rangskik, en die teks professioneel uit te lê sodat dit gedruk kan word) uitgedink. 6
  • Dit is baie waarskynlik dat ander mense in ander lande voor Gutenberg met sy idees vorendag gekom het, onder meer in Nederland, China of Korea. 4 In China, byvoorbeeld, is beweegbare setsels uit klei gemaak. 1 Maar hierdie uitvindsels is nie bekend nie omdat dit nie die impak van Gutenberg se drukpers gehad nie.
Foto: iStock

Die ontwikkeling van die drukpers in die middel van die 15e eeu is een van die verreikendste oomblikke in die geskiedenis. Dit het die verloop van Europese geskiedenis onherroeplik verander.

Die persoon wat hiervoor verantwoordelik was, was ’n Duitse goudsmid en ontdekker genaamd Johannes Gutenberg.

Vroeë jare

Ten spyte van die massiewe invloed wat Gutenberg se uitvinding op die geskiedenis gehad het, weet ons eintlik baie min van sy lewe af.

Johannes Gensfleish zur Laden zum Gutenberg is gebore in Mainz, Duitsland. 1 Sy presiese geboortejaar is nie bekend nie, maar dit was êrens tussen 1394 en 1404. 2

Hy was die tweede van drie kinders van Friele Gensfleish zur Laden en Else Wyrich. Sy ouers was adellikes (mense wat tot die hoogste sosiale klas behoort). 2 Sy pa was ’n handelaar en goudsmid en die familie was welgesteld (ryk). 3

Êrens deur sy kinderdae was daar ’n opstand (verset) teen die adellikes in Mainz, wat sy familie gedwing het om te trek. 2 Hulle verhuis toe na Eltville am Rhein, waar sy ma ’n huis geërf het. 1

Dit is nie seker wat Gutenberg hierna gedoen het nie. Hy het moontlik aan die Universiteit van Erfut gaan studeer rondom die jaar 1418, waarskynlik om in sy pa se voetspore te volg en ’n goudsmid te word. 3 Hy het ook Duits en Latyn geleer. 2 Of hy gestudeer het of nie, hy het wel as smid (iemand wat metale bewerk), beide met goud en ander metale, gewerk. 4

Sy pa sterf in 1419 en hy erf geld van hom. Tussen 1419 en 1434 is daar geen inligting oor sy lewe nie. Al wat bekend is, is dat hy teen 1434 in Strasbourg werksaam was. 2

Die storie van die ontwikkeling van die drukpers

Gutenberg was betrokke by ’n besigheid wat spesiale spieëls aan pelgrims (mense wat na ’n heilige plek reis om daar te aanbid) verkoop het vir die gebruik in godsdienstige rituele (seremonies). Hierdie besigheid het ongelukkig deur die mat geval (misluk). Dit was waarskynlik Gutenberg se skuld dat dit misluk het, want hy het hierna aan sy vennote (mede-eienaars van die besigheid) belowe dat hy ’n idee gehad het wat hulle almal sou ryk maak. 2

Gutenberg se idee was ’n nuwe soort drukpers. Hy het die planne daarvoor waarskynlik rondom 1440 neergeskryf in ’n boek getiteld Aventur und Kunst (Onderneming en Kuns). 2

Wat is die drukpers en hoekom was dit nodig?

Tot op daardie stadium is boeke en ander geskrewe dokumente op een van twee maniere geskep: dis met die hand oorgeskryf, of met ’n houtblokpers gedruk.

’n Houtblokpers is amper soos aartappeldruk: mens kerf woorde, en soms hele bladsye, uit ’n houtblok, doop dit dan in ink en druk dit op papier. 2 Daar is egter twee groot swakpunte: elke bladsy van ’n boek moet individueel gekerf word, en boonop disintegreer (verbrokkel) die hout ná ’n ruk se gebruik.

Die houtblokpers was wel vinniger as om met die hand oor te skryf, maar albei metodes was stadig. 4

Die masjien wat Gutenberg ontwerp het, is ’n beweegbare setsel (metaalletter) -drukpers: 5

  • Hy het sy kennis van metaalwerk gebruik om gietvorms (vorm waarin gesmelte metaal gegooi word sodat dit kan stol en dan ’n bepaalde vorm het) te maak waarmee setsels (letters, simbole en leestekens) uit metaal en koper gemaak kon word.
  • Die setsels is dan in ’n raam of vorm gerangskik, na gelang van wat op die bladsy moes staan. 3 Daar is omtrent 100 000 setsels op ’n gemiddelde bladsy en dit het omtrent ’n halwe dag gevat om die setsels só te rangskik dat ’n bladsy gedruk kon word. 6 Sowel die raam as die setels kon ná die tyd gebruik word. 3
  • Daarna is twee balle dierevel (aan die begin hondevel) gebruik om die ink op die setsels te smeer. Hondevel is gebruik omdat dit nie poreus (met klein gaatjies waardeur vloeistof maklik kan beweeg) is nie. 2 Die ink is spesiaal aangemaak om presies die regte digtheid te hê. 4
  • ’n Klam stuk papier – klam papier hou die ink beter en maak die letters skerper en duideliker – is dan met ’n plaat van bo af stadig en egalig ondertoe laat sak en op die setsels in die raam gedruk.
  • Daarna is die bladsy uitgehaal en gedroog en die proses kon weer met ’n nuwe bladsy begin. 2

Die idee van Gutenberg se pers was nie nuut nie. Wat Gutenberg s’n wel revolusionêr gemaak het, was twee dinge:

  • Omdat die letters uit gietvorms gemaak is, kon daar baie letters op ’n slag gemaak word. Anders as houtsetsels kon metaalsetsels duisende kere gebruik word. 2
  • Die letters kon binne die raam op enige manier gerangskik word. Daarom word dit ’n beweegbare setsel-drukpers genoem is. Wanneer jy genoeg van een bladsy gehad het, kon jy in minder as ’n dag ’n nuwe bladsy gereed kry. 1

Impak van die drukpers

Die drukpers het die drukproses verbeter, versnel en aansienlik goedkoper gemaak. 3 Maar dit was nie net dat boeke nou vinnig en goedkoop gemaak kon word nie. Die boeke was nou ook foutloos en identies. Daar is baie foute gemaak in die proses van bladsye oorskryf. Die drukpers het hierdie foute uitgeskakel. Boonop was die gedrukte bladsye baie makliker om te lees. 2

Meer boeke kon nou in een week geproduseer word as wat voorheen in ’n jaar moontlik was. Enige iemand wat kon skryf, kon nou hul werk laat druk, en enige iemand wat kon lees, kon dit nou koop. 2

Gutenberg se besigheid

Gutenberg het in 1448 teruggetrek Mainz toe. 1 Hy het by sy swaer ’n lening gekry, waarskynlik om die drukpers te laat bou. Die eerste drukpers was teen 1450 in gebruik.

Hy het nog geld geleen – hierdie keer by Johann Fust, ʼn Duitse drukker. 2 Die lening was vir 800 gulden en dit was in daardie jare ’n groot bedrag – die som van ’n gewone werker se salaris oor drie jaar. 1

Gutenberg se besigheid was om vir privaat kliënte, soos besighede, hul drukwerk te doen. Een van sy eerste kliënte was die kerk, vir wie hy aflate (’n brief van ’n priester wat jou kwytgeskeld het van strawwe wat jy moes ondergaan as gevolg van die sondes wat jy gedoen het) gedruk het. 2

Gutenberg se droom was om ’n Bybel te druk, en hy het waarskynlik baie van sy tyd daaraan spandeer. Die eerste Bybel is in 1455 (sommige mense sê 1456) gepubliseer. 2 Hy het waarskynlik een drukpers gehad wat slegs Bybels gedruk het. Die Gutenberg Bybel is dan ook die eerste boek wat in groot maat op die drukpers geproduseer is, en dus die eerste boek in die geskiedenis om in groot maat gedruk te word. 3

Sy Bybels was uiters gewild, veral omdat dit so maklik was om te lees. Mense wat gesukkel het om te sien, kon nou weer lees, selfs sonder ’n bril. 1

Teëspoed

In 1456 het Fust vir Gutenberg aangekla dat hy sy geld misbruik het. Gutenberg het die hofsaak verloor. 6 Die hof het Gutenberg se drukpers gekonfiskeer (beslag daarop gelê) en aan Fust en sy skoonseun, Peter Schoffer, gegee. Fust en Schoffer het daarna skatryk uit die besigheid geword en ook die krediet (erkenning) vir die uitvinding geneem. 2 Gutenberg was bankrot. 6

Gutenberg het moontlik in 1459 in Bamberg nog ’n drukkery oopgemaak, maar teen 1460 het hy ophou druk, moontlik omdat sy oë te swak geword het. 2

Later jare

Gutenberg het in Duitsland gewoon tot met sy dood op 3 Februarie 1468. 3 Hier en daar het iemand hom wel as ontdekker van die drukpers erken. Die aartsbiskop Adolph van Nassau het byvoorbeeld vir hom die titel “Hofmann” (heer van die hof) gegee. Hiervolgens het hy ’n jaarlikse pensioen (geld vir iemand wat nie meer kan werk nie), klere, kos en wyn gekry. Ten spyte hiervan het hy in sy latere jare in armoede geleef. 2

Gutenberg is in Mainz begrawe. Die kerk waar hy begrawe is, is later vernietig en sy graf het dus verlore geraak.

Met sy dood was hy onbekend en meeste mense het nie geweet van sy bydrae tot die drukpers nie. Dit was eers baie jare later dat historici die krediet aan hom gegee het. 3

Langtermyn-impak van die drukpers

Dit is maklik om die impak van die drukpers te onderskat. Dit het nie net een aspek van mense se lewens verander nie, maar die fundamentele manier hoe mense gelewe het.

In die tyd voor die drukpers het meeste mense op dieselfde plek waar hulle gebore is en grootgeword het, gesterf. Hulle het geen kennis van die wêreld buite hul dorpie gehad nie en hul idees en gedagtes is deur hul ouers, bure en priesters beïnvloed. 2

Die drukpers het alles verander.

Daar was baie meer boeke. Meer skrywers kon nou hul idees publiseer en mense kon ’n bestaan maak slegs deur te skryf. Biblioteke het vermenigvuldig.

Omdat meer mense toegang tot boeke gehad het, het geletterdheid (om te kan lees) toegeneem. Spelling en grammatika van tale is gestandaardiseer, met ander woorde, almal het dieselfde begin praat en skryf. Mense het in hul spreektale, soos Duits of Frans, begin skryf, en dít het dus meer in gebruik geword as ouderwetse tale soos Latyn. 3

Maar nóg belangriker: idees kon vinniger en oor baie langer afstande versprei. Leiers kon met hul volgelinge kommunikeer sonder dat hulle direk met hulle hoef te gepraat het. Dit was nie meer nodig nie – hulle kon “praat” deur hul skryfwerk. 2

Die revolusie van die drukpers het revolusies van idees moontlik gemaak. Sulke revolusies – die Renaissance, die Kerkhervorming en die Wetenskaplike Revolusie – het die geskiedenis van Europa én die wêreld vir ewig verander.

Woordbank

adellikes Die groep mense (edelmanne en edelvroue) wat in sommige lande tot die hoogste sosiale stand behoort.
aflate Wanneer ’n priester jou kwytskeld of vrystel van strawwe wat jy nog moes ontvang nadat jou sondes vergewe is.
disintegreer Verbrokkel.
geletterdheid As jy kan lees en skryf.
gietvorms Vorm van sand/klei/metaal/ens. waarin gesmelte metaal of ’n ander vloeibaar gemaakte stof gegiet word sodat dit ná stolling ’n bepaalde vorm kan hê.
gekonfiskeer Beslag lê op iemand se goedere.
krediet Erkenning gee aan iemand vir iets wat hy/sy gedoen/gesê/geskryf het.
opstand Verset teen ’n owerheid.
pelgrims Iemand wat na ’n heilige plek reis om daar te aanbid.
pensioen ’n Bedrag geld wat ’n maatskappy of die staat gereeld betaal aan iemand wat nie (meer) werk nie, byvoorbeeld omdat hy/sy reeds die ouderdom bereik het waarop mense aftree, of omdat hy/sy siek is.
poreus Met klein gaatjies waardeur vloeistof/lug/ens. maklik beweeg. 7
rituele Seremonie met ’n vaste volgorde en inhoud.
setsel Metaalletters met behulp waarvan iets geset kan word sodat dit gereed is om te druk, of metaalletters wat voorberei en geset is volgens ’n bepaalde kopie. 8
smid Iemand wat metaal, veral yster, bewerk en dit smee om voorwerpe daaruit maak.
vennote Een van twee of meer eienaars van ’n besigheid/onderneming. 7

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Johannes Gutenberg

Kyk hierdie video om nog meer te leer oor Johannes Gutenberg

Hoe werk die Gutenberg drukpers?

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 8 Mei 2023 | Bygewerk op 26 Februarie 2024