Strokiesprente word beskou as visuele of grafiese tekste, dit wil sê tekste wat visuele elemente (soos byvoorbeeld kameraskote, stilfoto’s en grafika) met verbale elemente (woorde, dialoog en taal) kombineer om ʼn sekere boodskap aan die leser oor te dra. Voor ons egter strokiesprente as ʼn vorm visuele tekste kan bespreek, is dit belangrik om onderskeid te tref tussen die subgenres karikatuur, spotprent en strokiesprent. ʼn Karikatuur (Engels: caricature) is ʼn afbeelding of voorstelling van ʼn persoon waarvan ʼn spesifieke, meestal uiterlike, kenmerk komies beklemtoon word deur tegnieke soos vergroting, oorbeklemtoning of oorvereenvoudiging.

Die plasing van ʼn groot kop ʼn klein lyf, is byvoorbeeld ʼn algemene tegniek om karikature te skep. Dit is egter baie belangrik dat die persoon herkenbaar moet bly. Waar karikature meestal op persone fokus, fokus spotprente (Engels: cartoons) eerder op situasies. In ʼn spotprent word ʼn spesifieke toneel uitgebeeld waarin die spot met iets of iemand gedryf word. Karikature kan wel in spotprente gebruik word om die persoon of persone waarmee die spot gedryf word, uit te beeld. Strokiesprente (Engels: comic strips) bestaan gewoonlik uit ʼn reeks ewe groot rame wat in logiese volgorde horisontaal langs mekaar geplaas word om ʼn storie te vertel of ʼn boodskap oor te dra.

Humor en stereotipering word dikwels as tegnieke aangewend om die kunstenaar se boodskap oor te dra. ʼn Noemenswaardige verskil tussen ʼn spotprent en ʼn strokiesprent is dat eersgenoemde gewoonlik ʼn politieke inslag het, terwyl laasgenoemde gewoonlik niepolities is, hoewel dit ook soms polities kan wees. Let wel dat ʼn strokiesverhaal (Engels: comic) verskil van ʼn strokiesprent in dié sin dat eersgenoemde ʼn hele verhaal in ʼn reeks opeenvolgende strokiesprente vertel.

Hoe het strokiesprente ontwikkel?

Deur die eeue heen is stories in verskeie grafiese vorms vertel. Die oorsprong van visuele storievertelling kan teruggevoer word na Egiptiese prehiërogliewe soos in die graftombe van Menena (1300 VHJ) en ander visuele uitbeeldings van stories soos op die tapisserie van Bayeux wat die Slag van Hastings (1066) uitbeeld. Die sogenaamde Bybel vir armes (Biblia pauperum) wat in die Laat Middeleeue verskyn het, word ook as ʼn voorloper van strokiesprente beskou. Dit is egter met die uitvinding van die drukpers deur Johannes Gutenberg in ongeveer 1440, en daarmee saam die boekdrukkuns, dat strokiesprente meer algemeen geskep en versprei kon word.

In vroeë Duitse strokiesprente, wat meestal in die vorm van houtsneëwerk geskep is, is die lewe van heiliges, wonderwerke en die bespotting van wêreldliefde uitgebeeld. In die 1600’s het strokiesprente hoofsaaklik politieke gebeure weergegee. In 1731 het die Engelse kunstenaar William Hogarth (1697-1764) ʼn prentverhaal getiteld A harlot’s progress gepubliseer. Hierdie soort strokiesprent was uiters gewild, en daar moes nuwe kopieregwette geskep word om dié nuwe kunsvorm te beskerm.

Dit is egter die Switserse kunstenaar Rudolf Töpffer (1799-1846) wat allerweë beskou word as die vader van die moderne strokiesprent. Hy het in die laat 1800’s strokiesprente geskep waarin die woorde en beelde van mekaar afhanklik was. Strokiesprente soos ons dit vandag ken, het hoofsaaklik in Amerika en Brittanje ontwikkel. Hoewel die strokiesprentkuns eers afsonderlik in Amerika en Brittanje ontwikkel het, was daar sedert 1959 wedersydse beïnvloeding omdat strokiesprente tussen die lande in- en uitgevoer is. In Brittanje het die eerste moderne strokiesprente in die laat 1800’s verskyn, en in 1950 het die eerste avontuurstrokiesprent verskyn. In Amerika is strokiesprente eers in die laat 1880’s in koerante aan die publiek bekendgestel. Die “The Yellow Kid”-strokiesreeks (1895-1898) word vandag as die heel eerste koerantstrokiesprent beskou.

In Suid-Afrika is die eerste strokiesprent in Engels, Duggie, Lemmie, Hi-Ti, deur H.E. Winder (1897-1982) op 10 Junie 1924 in die Rand Daily Mail gepubliseer. Die heel eerste humoristiese Afrikaanse strokiesreeks, Jan Rap, deur die kunstenaar J.H. Rabe (1907-?) (ook bekend as “Ebar”), het in 1937 in Die Brandwag verskyn. Twee jaar later verskyn T.O. Honiball se strokiesprent, Oom Kaspaas, in Die Burger. Honiball het tydens sy verblyf in Amerika met koerantstrokies kennis gemaak, wat daarop dui dat Suid-Afrikaanse strokiesprentkunstenaars wel deur oorsese eweknieë beïnvloed is.

Die Russies gebore Victor Ivanoff (1909-1990) het ook ʼn wesenlike bydrae tot die Afrikaanse strokiesprentkuns gelewer met strokiesprente soos Prof de Snor en Dr Van der Ploet en Kallie die Kuiken. Hierop het heelwat ander strokiesprentkunstenaars gevolg waarvan Keith en Lorna Stevens, Wim Bosman, Len Sak, Anton Kannemeyer, Conrad Botes en André Trantaal maar enkeles is. Laasgenoemde skep veral strokiesprente in Kaapse Afrikaans. Kyk gerus na Francois Verster se doktorale proefskrif (in die bronnelys) vir ʼn volledige bespreking van veral vroeëre Afrikaanse strokiesprentkunstenaars.

Kenmerke van strokiesprente

Elke strokiesprent bestaan uit ʼn aantal verskillende elemente. Die omlyning van ʼn strokiesprent word ʼn raam genoem en die raam saam met die elemente in die raam word ʼn paneel genoem. Weens die feit dat koerante en tydskrifte deesdae al minder bladspasie aan strokiesprente afstaan, bestaan dit gewoonlik uit nie meer as drie tot ses rame nie, maar in sommige gevalle kan dit wel meer wees. Die doel van strokiesprente (byvoorbeeld humor, satire of sosiale kommentaar), die liggaamstaal of liggaamshouding van die karakters, die lettertipe, lettergrootte (groot letters kan byvoorbeeld woede aandui), letterkleur (rooi simboliseer byvoorbeeld gevaar), leestekens, klanknabootsings (soos kaplaks!), tussenwerpsels (soos h’m), die agtergrond in die rame, en die verband tussen die teks en die grafika speel almal ʼn belangrike rol in ʼn strokiesprent.

Die woorde van karakters word gewoonlik in ronde spraakborrels of -ballonne geskryf, terwyl die gedagtes van karakters gewoonlik in gedagteborrels geskryf en met stippellyne of verbindingstrepe aan die karakter verbind word. Reghoekige borrels verskaf gewoonlik agtergrond, gee inligting en/of beskrywings. Die strokiesprentkunstenaar gebruik ook soms bewegings– of aksielyne of stofkolomme/stofwolke om beweging in die prent voor te stel. Beklemtoning in strokiesprent kan op verskillende maniere bewerkstellig word, soos byvoorbeeld verskille in raamgroottes, nabyskote of verwringing.

Dit is belangrik om te onthou dat elke raam van ʼn strokiesprent in verhouding tot die volgende en voorafgaande rame geplaas moet word ten einde samehang te bewerkstellig en die boodskap op logiese wyse oor te dra. Strokiesprente word ook van links na regs gelees. Die wit spasies tussen die rame of panele van strokiesprente word dikwels deur dubbele lyne (geute) omlyn, en dit is belangrik om te onthou dat daar ook gebeure in hierdie wit spasies kon plaasvind wat nie spesifiek deur die strokiesprentkunstenaar uitgebeeld is nie. Die kunstenaar laat dus soms ruimte vir die verbeelding van die leser om hierdie gapings self in te vul. Wanneer ʼn spesifieke toneel in ʼn strokiesprent nie omlyn word nie, word dit ʼn vinjet genoem. Die doel van ʼn vinjet is om die tempo van die storie te versnel.

ʼn Verdere belangrike kenmerk is die feit dat die karakters in strokiesprente verkieslik konsekwent moet wees. Dit beteken dat die karakter in ʼn strokiesprent sentraal is tot die sukses van daardie strokiesverhaal omdat die hoofkarakter of -karakters naderhand bekend aan die leser moet wees, en sodoende aan die leser se verwagtings voldoen. Elke afsonderlike aflewering van ʼn strokieprent word ʼn episode genoem. Die karakters in strokiesprente is gewoonlik eendimensioneel, maar dit beteken nie noodwendig dat hulle nie gekompliseerd is nie.

Karakters word ook dikwels só geskep dat lesers met hulle en die situasies waarin hulle hul bevind, kan identifiseer. Strokiesprente kan ook ingespan word om opvoedkundige inligting oor te dra, soos byvoorbeeld gesondheidsinligting tydens ʼn pandemie. Skole gebruik ook graag strokiesprente om die visuele en taalvaardighede van leerders te help ontwikkel. Vanweë die publikasie van strokiesprente in oorwegend koerante en tydskrifte, word dit voorts as ʼn vorm van massakommunikasie beskou wat baie mense op een slag kan bereik.

Hoe maak ʼn mens ʼn strokiesprent?

  1. Dink eerstens aan die boodskap wat jy met jou strokiesprent wil oordra.
  2. Besluit dan hoeveel karakters daar in jou strokiesprent gaan wees.
  3. Besluit nou hoe jy hierdie boodskap in ongeveer ses rame gaan oordra, met ander woorde, skryf ʼn kort storie met dialoog.
  4. Skep nou netjiese rame wat ewe groot is.
  5. Skryf ʼn oorspronklike titel en ʼn kenmerkende prentjie in die eerste raam.
  6. Vul nou die res van die rame met die karakters en dialoog.
  7. Maak seker dat jou strokiesprent logies van links tot regs lees en dat dit wel die boodskap effektief oordra.

Voorbeelde van Afrikaanse strokiesprente

Deur die jare het daar ʼn redelike aantal oorspronklike strokiesprente in Afrikaans verskyn. Hier volg ʼn oorsigtelike lys van bekende Afrikaanse strokiesprente:

Jan Rap (J.H. Rabe)
Oom Kaspaas (T.O. Honiball)
Jakkals en Wolf
(T.O. Honiball)
Adoons-hulle (T.O. Honiball)
Prof De Snor en Dr Van der Ploet (Victor Ivanoff)
Jors in die oorlog (Victor Ivanoff)
Kallie die kuiken
(Victor Ivanoff)
Ben, Babsie en Familie (Keith en Lorna Stevens)
Louis die Laeveldleeu (Wim Bosman)
Werfbobbejaan (Wim Bosman)
Lekkerdraai se dinge (Len Sak)
Vossie en Kieste (Len Sak)
Meester (Danie Cronjé)
Jorik en Jakkals (Daniël du Plessis)

Benewens oorspronklike Afrikaanse strokiesprente, is daar ook heelwat bekende strokiesprente uit ander lande wat in Afrikaans vertaal is. Hier volg ʼn kort lys van sodanige strokiesprente:

Andy Capp (Reg Smythe)
Hägar die Verskriklike
(Dik Browne)
Peanuts (Charles M. Schulz)
Die skim (Lee Falk)
Stoffel (Jim Davis)
Zits (Jerry Scott & Jim Borgman)
Groeipyne (Jerry Scott & Jim Borgman)

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 31 Augustus 2022 | Bygewerk op 6 Maart 2024