Vinnige feite

  • Tolkien kon min van Suid-Afrika onthou. Een van die goed wat hy wel kon onthou, was ’n skrikwekkende ontmoeting met ’n harige spinnekop. 3
  • Tolkien het die karakter van Lúthien Tinúviel van The Silmarillion op sy vrou, Edith, gebaseer. 2 Op hul gesamentlike grafsteen staan die volgende: “Edith Mary Tolkien, Lúthien, 1889-1971. John Ronald Reuel Tolkien, Beren, 1892-1973”. 3
  • Tolkien het self die sketse en kaarte vir die eerste uitgawe van The Hobbit, en ook van sy ander werke, gemaak. 2
  • Een van die gewildste temas in Tolkien se boeke is sy bekommernis oor die negatiewe impak van nywerheidsontwikkeling op die natuur. 3
  • In die eerste 50 jaar het The Lord of the Rings meer as 50 miljoen kopieë verkoop en is in 30 tale vertaal. 2
  • In 2009 is Tolkien aangewys as een van die vyf mense wat reeds dood is, wat die meeste geld elke jaar verdien! 1
Foto: iStock

Aan die einde van die twintigste eeu het koerante, televisieprogramme en webtuistes meningspeilings gedoen om vas te stel wat die beste boek van die twintigste eeu was. Verreweg die meeste het dieselfde boek boaan die lys gehad: The Lord of the Rings.

Die skrywer van The Lord of the Rings is John Roland Reuel Tolkien, hoewel hy meer bekend is as J.R.R. Tolkien. En hoewel hy Brits is, is hy in Bloemfontein gebore!

Tolkien was ’n akademikus en filoloog. Hy is egter meer bekend as die vader van moderne fantasieverhale, 1 en een van die mees geliefde skrywers van die afgelope 100 jaar.

Grootwordjare

John Ronald Reuel Tolkien, bekend aan sy familie as Ronald, is op 3 Januarie 1892 in Bloemfontein gebore. 2 Sy pa was Arthur Reuel Tolkien, ’n Engelse bankklerk wat in die 1890’s Suid-Afrika toe gekom het om vir beter werk te soek. Sy ma was Mabel Suffield, ook van Engeland af. Hoewel hy dus in Suid-Afrika gebore is, was hyself en ook sy ouers deur en deur Engels. 3

Toe Tolkien vier jaar oud was, het sy pa gesterf. Dit het gebeur terwyl Tolkien saam met sy ma en jongste broer, Hilary, met vakansie in Engeland was. Sy ma het besluit om in Engeland te bly. 4

Hulle het in Sarehole, ’n klein plattelandse dorpie, gewoon. Lewe in die dorpie was rustig en eenvoudig, en dit het die inspirasie geword vir die Shire, ’n dorpie wat hy vir sy stories geskep het. 5

Tolkien se ma het in 1900 die Rooms-Katolieke geloof aangeneem. Dit was ’n vreemde besluit vir daardie plek en tyd, want meeste Engelse was Protestante. Tolkien het soos sy ma Katoliek geword en dit sy lewe lank gebly. 3

Die historiese Anglikaanse katedraal van St. Andrew en St. Michael in Bloemfontein is ingewy op 30 November 1866. J.R.R. Tolkien is hier gedoop

In 1904 het Tolkien se ma gesterf. ’n Katolieke priester, vader Francis Morgan, het die seuns se pleegouer geword. 5 Morgan het goed na hulle omgesien. Hulle het egter baie rondgetrek, en by verskillende mense, soos hul tannie, gewoon. 3

Tolkien het ’n beurs gewen om die King Edward’s School, ’n hoërskool in Birmingham, by te woon. 5 Die verskil tussen Sarehole, die skoon rustige dorpie waar hy grootgeword het, en Birmingham, ’n vuil, besige nywerheidsdorp, het hom diep geraak. Die stryd tussen die kalmte en eenvoud van die natuur en die bose impak van nywerhede het nog ’n onderwerp in sy skryfwerk geword. 4

Tolkien het van jongs af uitstekende aanleg in tale gewys. Hy het gou Latyn, Grieks, Goties en Fins geleer. Hy het ook op skool reeds begin om sy eie tale op te maak. 3

By King Edward’s het Tolkien en sy vriende, wat omtrent almal voornemende skrywers was, die Tea Club and Barrovian Society (T.C.B.S) gestig. 5 In die klub het hulle oor letterkunde gesels en vir mekaar terugvoer gegee oor hul skryfwerk. 3

Ná hoërskool het Tolkien nóg ’n beurs gekry, hierdie keer by Exeter College in Oxford. 5 Hy het klassieke letterkunde, Ou Engels (Engels wat gepraat is tussen omtrent 450 en 1150 6 ) en Germaanse tale (tale uit die noorde van Europa) studeer, 3 en sy meestersgraad in 1919 voltooi. 2

Persoonlike lewe

Tolkien het sy toekomstige vrou, Edith Bratt, op 16-jarige ouderdom ontmoet en onmiddelik op haar verlief geraak. 2 Vader Francis het die verhouding afgekeur en vir Tolkien verbied om haar te sien of enigsins met haar te kommunikeer. Tolkien het hom by vader Francis se besluit berus, al was dit vir hom baie swaar. 3

Die verbod is op sy 21ste verjaarsdag gelig en hy het onmiddellik vir Edith ’n brief geskryf. Hulle het ’n week later verloof geraak. 5

Hulle het op 22 Maart 1916 getrou, kort nadat hy gehoor het dat hy Frankryk toe gestuur sou word om in die Eerste Wêreldoorlog te gaan veg. 3

Hul oudste seun, John, is in 1917 gebore, gevolg deur Michael in 1920 en Christopher in 1924. Sy enigste dogter, Priscilla, is in 1929 gebore. 3

Edith Tolkien

Eerste Wêreldoorlog, 1914-1918

Gedurende die oorlog het Tolkien as vrywilliger by ’n regiment genaamd die Lancashire Fusiliers aangesluit. 3

Hy het onder meer in die berugte Slag van die Somme – een van die bloedigste veldslae van die oorlog – geveg. 2 Ná vier maande in die loopgrawe het hy loopgraafkoors gekry (in Engels: trench fever), en hy is teruggestuur Engeland toe waar hy in ’n hospitaal opgeneem is. Hy het grootliks herstel, maar vir die volgende twee jaar het hy steeds elke nou en dan siek geword. 3 Hy het vir die res van die oorlog in Engeland diens gedoen. 5

Almal behalwe twee van sy vriende van die T.C.B.S.-klub het in die oorlog gesterf. Dit was nóg iets wat hom aangemoedig het om ’n skrywer te word. 3

Beroepslewe

Ná die oorlog het Tolkien vir ’n kort rukkie as woordeboekskrywer vir die Oxford English Dictionary gewerk. 5

Daarna het hy ’n pos as dosent in taalkunde by die Universiteit van Leeds gekry. 3 In 1925 het hy ’n pos aanvaar by die Universiteit van Oxford, waar hy tot met sy aftrede in 1959 gewerk het. Sy spesialiteitsvakke, met ander woorde die vakke wat hy doseer het, was Ou Engels en Middel Engels (Engels wat gepraat is tussen omtrent 1150 en 1450). 2

J.R.R. Tolkien se voormalige huis in Leeds, Verenigde Koninkryk

As dosent het hy akademiese opstelle geskryf oor boeke soos Sir Gawain and the Green Knight en Beowulf. 2 Veral sy werk oor Beowulf was baie invloedryk. 1

20 Northmoor Road, Oxford, voormalige tuiste van J.R.R. Tolkien

Die Inklings

Tolkien was een van die stigters van ’n informele klub by Oxford genaamd die Inklings. Die bekendste ander lid was C.S. Lewis, een van Tolkien se beste vriende en die skrywer van die bekende fantasieboeke The Chronicles of Narnia. Die Inklings het gereeld ontmoet om te kuier en vir mekaar terugvoer te gee oor hul skryfwerk. 3 Die Inklings, maar veral Lewis, het baie gehelp om Tolkien aan te moedig om sy boeke klaar te maak. 5

Tolkien as fantasieskrywer en storieverteller

Tolkien was mal daaroor om stories te vertel, veral mites en legendes. In sy vrye tyd het hy ’n reeks staaltjies geskryf wat in sy eie breedvoerig opgemaakte wêreld, genaamd Arda, afspeel. 2 [Lees hier oor mites.] Die karakters in sy stories praat tale wat hy self opgemaak het – inderdaad was sommige van sy stories die opgemaakte geskiedenis van sy opgemaakte tale! 1 Tolkien het na sy stories verwys as sy legendarium. Dit is die somtotaal van ál sy stories wat in Arda afspeel. 2

Buiten die legendarium het Tolkien ook ligter stories vir sy kinders opgemaak. 2 So byvoorbeeld het hy vir hulle briewe geskryf asof hy Kersvader was. Dit is later gepubliseer as The Father Christmas Letters. 3

The Hobbit

Die langste en vernaamste van sy kinderstories was The Hobbit, ’n storie wat in 1930 begin is. Dit is ’n fantasieverhaal oor ’n kreatuur genaamd ’n hobbit, wat basies ’n klein weergawe van ’n mens is, en wat saam met ’n towenaar en ’n klomp dwerge op ’n epiese reis gaan om ’n draak se skatte te steel. 2

Tolkien het self vertel dat die inspirasie vir The Hobbit hom uit die bloute getref het. Hy het een dag gesit en eksamenvraestelle merk toe hy op ’n bladsy afgekom het wat ’n student oop gelaat het. Sonder om daaroor te dink het hy op die bladsy geskryf: “In a hole in the ground there lived a hobbit.” Hy het toe besluit om te probeer uitvind wie en wat ’n hobbit was, en van daar het die storie uit sy verbeelding gegroei. 3

Tolkien het die storie van die hobbit vir sy kinders gelees, en daarna ook vir ’n paar vriende. In 1936 het ’n onvolledige kopie daarvan in die hande van Susan Dagnall, wat by die uitgewersmaatskappy George Allen and Unwin gewerk het, beland. Sy het Tolkien opgespoor en gevra dat hy die boek klaarmaak, sodat sy dit vir publikasie kan voorlê. Tolkien het dit gedoen en Dagnall het dit vir Stanley Unwin, die voorsitter van die maatskappy, gegee om te lees. Dié het op sy beurt die boek aan sy 10-jarige seun, Rayner, gegee om te lees, wat dit onmiddelik die ja-woord gegee het. The Hobbit is in 1937 gepubliseer. 2

Hy het ook sy legendarium versamel in ’n boek wat hy The Silmarillion genoem het. Hy het dit aan die uitgewer gestuur, maar hulle wou dit nie publiseer nie, omdat hulle bang was dat niemand dit sou wou lees nie. 3

Die uitgewer het wel gevra vir ’n opvolg vir The Hobbit, omdat dié boek intussen uiters gewild geword en baie goed verkoop het. 2

Wapen van J.R.R. Tolkien as bevelvoerder van die orde van die Britse Ryk

The Lord of the Rings

Die uiteinde van Tolkien se poging tot ’n opvolg was sy meesterstuk, The Lord of the Rings.

Die boek was veronderstel om vir kinders te wees – dieselfde teikenmark as The Hobbit – maar dit het nie so verloop nie. 5 Dit is wel ’n opvolg in die sin dat die ring wat in The Hobbit verskyn ’n verskyning maak in beide boeke. Hy het egter dele van sy legendarium daarby ingewerk en die boek het só gegroei dat dit meer ’n epiese fantasieverhaal as ’n kinderstorie is. 2

The Lord of the Rings is in 1954 gepubliseer, eers 16 jaar ná die uitgewer hom gevra het om dit te skryf. Tolkien en die uitgewers (onder andere Rayner Unwin, die 10-jarige seun wat The Hobbit gelees het!) het baie vasgesit, maar kon op die ou end hul verskille oplos. 3

Vandag word die boeke meestal uitgegee as ’n trilogie: The Fellowship of the Ring, The Two Towers en The Return of the King. Tolkien wou dit egter nie so gehad het nie. Die uitgewers was egter bang dat die eerste deel nie sou verkoop nie. Dan sou dit nie nodig wees om die tweede en derde boek te publiseer nie. Op die ou end was hulle natuurlik verniet bekommerd. 2

The Fellowship is in 1954 gepubliseer en was onmiddellik ’n treffer. The Two Towers en The Return of the King is die volgende jaar uitgegee. 7

Tolkien was verbaas, maar natuurlik baie ingenome, oor die sukses van sy boek. Hy het ook baie ryk geword, iets wat hy glad nie verwag het nie. Hy was só beroemd dat sy bewonderaars hom begin lastig val het. Mense het hom in die middel van die nag gebel (sommige uit Amerika!) en na sy huis kom kyk. Hy moes uiteindelik sy telefoonnommer verander en het later na ’n stiller dorpie toe getrek. 3

J.R.R. Tolkien by Gregans Castle, 1951

Ander boeke en publikasies

Buiten The Hobbit en The Lord of the Rings het Tolkien ook verskeie ander boeke geskryf, sommige waarvan eers ná sy dood verskyn het.

Dit sluit in:

  • Farmer Giles of Ham (1949)
  • The Adventures of Tom Bombadil and Other Verses from the Red Book (1962)
  • Tree and Leaf (1964)
  • Smith of Wootton Major (1967) 2

Tolkien het nooit The Silmarillion in sy leeftyd heeltemal voltooi nie. Sy seun, Christopher, het die werk ná sy dood afgerond en in 1977 laat publiseer. 2

Christopher het ook deur sy pa se dokumente gewerk en nóg werke gepubliseer wat daaruit voortgespruit het, insluitende:

  • Unfinished Tales of Númenor and Middle-Earth (1980)
  • The History of Middle-Earth, (1983-’96), wat die skryfproses van sy legendarium beskryf
  • The Children of Húrin (Narn I Chin Hurin: The Tale of the Children of Hurin [2007])
  • Beren and Lúthien (2017), wat die verhouding tussen ’n man en ’n elf-vrou beskryf, en wat deur Tolkien se verhouding met sy vrou geïnspireer is
  • The Fall of Gondolin (2018) 2

Ander boeke wat ná sy dood verskyn het is:

  • The Father Christmas Letters, ook bekend as Letters from Father Christmas (1976)
  • The Letters of J.R.R. Tolkien (1981)
  • Bliss (1982)
  • Roverandom (1998)
  • The Legend of Sigurd and Gudrún (2009)
  • The Fall of Arthur (2013) 2

Tolkien se nalatenskap

The Lord of the Rings en Tolkien is verantwoordelik daarvoor dat die epiese fantasie-genre in die twintigste eeu gewild geword het. Ná hom was dit al hoe meer moontlik vir mense om fantasieboeke te skryf as om ’n beroep te beoefen. 2

Tolkien se werke is al ’n paar keer tot rolprente verwerk. Die bekendste hiervan is Peter Jackson, die Nieu-Seelandse regisseur, se The Lord of the Rings-trilogie wat tussen 2001 en 2003 uitgereik is. Dit was ’n geweldige en wêreldwye sukses. Die laaste fliek het 11 Oscar-toekenings gewen, 2 en is van die suksesvolste rolprente van alle tye. 8

Tolkien se vrou Edith het in 1971 gesterf, en hyself op 2 September 1973. Hulle is in dieselfde graf in Oxford begrawe. 3

Edith en JRR Tolkien se graf, Wolvercote Cemetry, Oxonmoot

Woordbank

aanleg Om talent vir iets te hê.
afgekeur Om iets nie goed te keur nie; om iets as nie goed genoeg te beskou nie
bankklerk Iemand wat in ’n bank werk.
beroep Die werk wat jy doen.
beurs Geld wat iemand vir jou gee om jou studies te betaal.
breedvoerig Iets met baie besonderhede.
dwerge ’n Verkleinde persoon wat in ’n fantasiewêreld woon.
epiese ʼn Breedvoerige en baie lang storie.
fantasieverhale ’n Wêreld wat uit die verbeelding van die skrywer kom en nie werklik is nie.
filoloog Taalwetenskaplike, of iemand wat die wetenskap van taal bestudeer.
genre ’n Kategorie of styl van kuns.
Germaanse Dit wat kom uit die noordwestelike en sentrale dele van Europa.
inspirasie Wanneer jy aangevuur word om iets te doen.
invloedryk Iets wat ’n groot invloed gehad het.
klassieke Dit wat te doen het met ou Griekse of Romeinse kunstenaars en skrywers.
loopgrawe ’n Lang, smal voor waarin soldate tydens ’n oorlog kan wegkruip en waaruit hulle kan skiet.
legendes Verhale wat deur oorlewering van geslag tot geslag vertel word.
letterkunde Boeke, toneelstukke en poësie, veral daardie werke wat as goed beskou word.
meestersgraad ’n Gevorderde universiteitsgraad.
meningspeilings ʼn Ondersoek deur vir baie mense hul opinies oor iets te vra.
mites Verhale oor bonatuurlike mense of gedaantes.
nywerheidsdorp Stad waar daar baie fabrieke en besighede is.
pleegouer Iemand wat na kinders omsien indien hul ouers dood of nie in staat is nie.
Protestante Een van die takke van Christenskap wat teenoor die Rooms-Katolieke staan. Meeste Afrikaners is Protestante.
publikasie Wanneer ’n boek uitgegee word.
regiment Eenheid van ’n weermag.
regisseur Iemand wat toneelspelers afrig.
Rooms-Katolieke Een van die takke van Christenskap, waar mense onder meer glo die pous in Rome is God se verteenwoordiger op aarde.
skatte Groot hoeveelheid waardevolle goed.
staaltjies Verhaal.
teikenmark Die groep wat die meeste waarskynlik is om iets te koop.
temas Hoofgedagte.
trilogie Reeks van drie boeke.
uitgewersmaatskappy Iemand wat boeke laat druk en versprei.
veldslae Geveg tussen twee leërs in ’n oorlog.
vrywilliger Iemand wat nie gedwing word nie, maar iets uit eie vrye wil doen.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor J.R.R. Tolkien

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor J.R.R. Tolkien

Wat is fantasie?

Die lewe en boeke van Tolkien

Tolkien, die vader van die fantasieverhaal

Tolkien en die skep van Middle Earth

Alles wat jy wil weet van Tolkien

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 25 September 2023 | Bygewerk op 4 Desember 2023