Vinnige feite

  • Paton se eerste gedig, “To a picture”, is in 1920 in die Natal University College se tydskrif gepubliseer.
  • Sy artikels en manuskripte word by die Alan Paton Centre & Struggle Archives by die Universiteit van KwaZulu-Natal gehuisves.
  • Hy het in 1960 die American Freedom-toekenning ontvang.
  • Die Alan Paton Award word sedert 1989 jaarliks in Suid-Afrika vir uitnemende werk in niefiksie toegeken. 7
  • Daar is ’n saal by Paton se ou hoërskool, Maritzburg College, wat na hom vernoem is. Dit is die Alan Paton Memorial Hall.
Foto: iStock

Alan Paton (1903-1988) was ’n Suid-Afrikaanse skrywer wat veral vir sy eerste roman getiteld Cry, the beloved country onthou word. Die boek het opslae gemaak as ’n fiktiewe verhaal wat die rassediskriminasie tydens die ou apartheidsbedeling in die kollig plaas – hoewel apartheid eers later in daardie jaar as amptelike regeringsbeleid aanvaar is. Die boek het groot aandag in veral die buiteland gelok.

Grootwordjare en persoonlike lewe

Die skrywer is as Alan Stewart Paton op 11 Januarie 1903 op Pietermaritzburg in die destydse Natal-provinsie gebore. Die provinsie word vandag KwaZulu-Natal genoem. Hy was een van vier kinders, twee seuns en twee dogters. Paton se pa se naam was James, en hy was ’n Skotse immigrant en staatsdiensamptenaar wat in 1895 na Suid-Afrika gekom het. Sy pa was glo baie godsdienstig en streng. Sy ma, Eunice Warder, was die dogter van Engelse immigrante.

Paton was baie skrander op skool en het graag gelees. Hy het glo die boeke van veral Walter Scott, Charles Dickens en Rupert Brooke geniet.

Paton het in 1928 met ’n vrou genaamd Dorrie Francis Lusted getrou, en hulle het twee seuns, Jonathan en David, gehad. 1

Studies en loopbaan

Paton het by die seunskool Maritzburg College in Pietermaritzburg skoolgegaan en het al as 15-jarige gematrikuleer. Hy het daarna ’n graad in wetenskap, gevolg deur ’n onderwysdiploma, aan die Natal University College (later die Universiteit van Natal en vandag die Universiteit van KwaZulu-Natal) behaal. Hy het van 1925 tot 1935 aan die Ixopo High School skoolgegee. Ná sy troue het hy en sy vrou teruggetrek na Pietermaritzburg, waar hy skoolgegee het.

Natal University College

Hy het egter in 1935 ’n pos by die Diepkloof-verbeteringskool vir swart seuns aanvaar. Sy tyd daar het ’n groot impak op sy lewe gehad. Hy het uiteindelik 13 jaar daar gewerk en ook na Swede, Noorweë en Amerika gereis om daar verbeteringskole en tronke te besoek. Hy het baie progressiewe verbeterings aan die verbeteringskool gemaak en het daar baie bewus geword van die ongeregtigheid van apartheid. Paton was ’n diepgelowige mens en het geglo dat vergifnis en versoening die enigste pad vorentoe vir Suid-Afrika was. 2

Groot sukses en verdere skryfwerk

Paton het sy eerste en bekendste boek, Cry, the beloved country, in 1946 in Trondheim, Noorweë, begin skryf. Hy het die boek nog dieselfde jaar in San Francisco, Amerika, voltooi. Dit is in 1948 in Amerika gepubliseer en was ’n wegholsukses. Dit het teen 1988 meer as 15 miljoen eksemplare wêreldwyd verkoop. Dis in 20 tale vertaal en het tot twee films gelei: een in 1951 en een in 1995. Daar was ook in die jare veertig ’n Broadway-musiekblyspel wat op Cry, the beloved country gegrond is.

Die storie vertel die verhaal van ’n Zoeloe-predikant genaamd Stephen Kumalo wat na Johannesburg reis. Hy vind daar uit dat sy enigste seun die enigste seun van ’n wit man vermoor het. Sy seun, Absalom, word gehang, en die tragedie beïnvloed sy geloof, maar verbind hom ook met die pa wat sy seun verloor het. 1

Die sukses van die boek het Paton in staat gestel om uit sy pos by Diepkloof te bedank en hom voltyds op skryfwerk toe te spits. Hy het na die kus van KwaZulu-Natal getrek en het 19 boeke tussen 1948 en 1989 uitgegee. Sy tweede roman, Too late the phalarope, is in 1953 gepubliseer, en dit is deur niefiksieboeke oor Suid-Afrika gevolg: The land and people of South Africa (1955), South Africa in transition (1956) en Hope for South Africa (1959).  Van sy korter skryfstukke het in die boeke Debbie go home (1961), The long view (1968) en Knocking on the door (1976) gevolg.

Hy het ook ’n versameling kortverhale in Tales from a troubled land in 1969 as ’n bundel gepubliseer. Verder het hy sy hand aan biografieë, soos South African tragedy: the life and times of Jan Hofmeyr en Apartheid and the Archbishop: the life and times of Geoffrey Clayton gewaag.

Hy het ook ’n outobiografie oor die eerste 45 jaar van sy lewe geskryf. Die boek, Towards the mountain, is in 1980 gepubliseer. Nog een van sy gewilde boeke was Ah, but your land is beautiful. Die fiksieboek is in 1981 gepubliseer en het weer die rassesituasie in Suid-Afrika as tema ondersoek. Die tweede aflewering van sy outobiografie Journey continued is kort ná sy dood in 1988 gepubliseer. 3

Paton wou graag iets doen om van die samelewing ’n beter plek te maak, en daarom het hy en sy vrou in 1953 by die Toc H-tuberkulosenedersetting in KwaZulu-Natal gewerk.

Politieke betrokkenheid

Paton was baie uitgesproke oor die destydse regering se apartheidsbeleid en het dit teengestaan. Hy het by politiek betrokke geraak en was in 1953 deel van die stigting van die Liberale Party van Suid-Afrika. Hy is in 1955 as leier van dié party verkies en het in die posisie gebly tot die regering die party in 1968 ontbind het. Dit was as gevolg van wetgewing wat veelrassige politieke partye verbied het. Sy aktiewe opposisie teen apartheid het ook gelei tot die konfiskering van sy paspoort. Hy kon van 1996 tot 1970 nêrens buite die land se grense gereis het nie. 4

Paton het gesê dat liberalisme in Suid-Afrika vir hom die volgende beteken het: ’n vrygewige gees, verdraagsaamheid van ander, ’n poging om andersheid te verstaan, ’n verbintenis tot die regbank, ’n hoë ideaal van die waarde en waardigheid van mense, ’n afkeur van outoritarisme en ’n liefde vir vryheid. 5

Alan Paton-straat, Durban

Later lewe en afsterwe

Paton se eerste vrou, Dorrie, is in 1969 aan emfiseem oorlede, en hy het ’n boek oor hul lewe saam geskryf. Die boek is For you, departed genoem en is in 1969 gepubliseer. Paton het later weer getrou, hierdie keer met sy sekretaresse Anne Hopkins. Paton is in April 1988 met keelkanker gediagnoseer. Hy is op 12 April 1988 in Durban oorlede. 4

Hy is in 20 April 2006 postuum met die Orde van Ikhamanga in goud vereer vir sy “groot bydrae tot letterkunde en om die onderdrukking van apartheid deur sy werk te ontbloot.” 6

Woordbank

biografie Die geskiedenis van iemand se lewe wat beskryf word; lewensbeskrywing.
emfiseem Toestand waarin die lugsakkies van die longe (weens asma, chroniese brongitis of rook) vergroot en beskadig is en kortasemheid  veroorsaak.
fiksie Literatuur, veral prosa, wat ʼn beskrywing van denkbeeldige mense, dinge en gebeure gee; denkbeeldige voorstelling; verdigsel; versinsel (het dus nie regtig gebeur nie, die mense en plekke bestaan nie werklik nie).
fiktiewe Dit wat in die verbeelding bestaan.
immigrant Iemand wat van ’n ander land in ’n land kom bly.
konfiskering Om beslag te lê op items, om items by iemand af te neem, veral wanneer dit iets is wat die persoon nie mag besit nie.
liberalisme Liberale menings en beginsels op sosiale en politieke gebied.
onderdrukking ʼn Groep mense onregverdig of wreed behandel en hulle nie dieselfde regte gun as wat ander mense in die gemeenskap het nie.
opposisie Teenkanting.
opslae  Baie aandag getrek
ongeregtigheid Onregverdigheid.
ontketen Teweegbring, loslaat.
outobiografie Storie wat iemand self oor sy/haar lewe geskryf het.
outoritarisme ’n Sisteem of ideologie waar mense vryheid het en waar onderwerping aan gesag vereis word.
progressiewe Trapsgewys toenemend; opklimmende, op vooruitgang gerig; vooruitstrewende.
postuum Wat ná die dood van iemand plaasvind of verskyn.
roman ’n Lang prosaverhaal met karakteruitbeelding en omgewingsbeskrywing.
tragedie Iets wat gebeur wat slegte gevolge vir mense inhou.
verbeteringskool ’n Inrigting waarheen jeugoortreders gestuur word.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Paton

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Paton

Wie was Paton?

Paton in 1962

Leer meer oor Paton: deel 1

Leer meer oor Paton: deel 2

Grafika: Monique Janse van VuurenFoto: iStock
Gepubliseer op: 15 April 2024 | Bygewerk op 15 April 2024