Vinnige feite

  • Formule 1 het al baie lewens geëis. In die eerste dekade van die kampioenskap is 13 renjaers in ongelukke dood.
  • In 2023 is wedrenne in 20 lande oor vyf kontinente gehou. Dit is ’n groot verandering van die beginjare van Formule 1. Daar was toe net sewe wedrenne van Mei tot September. Ses is in Europa gehou en die sewende een was die Indianapolis 500 in die VSA. Die gewone Formule 1-renjaers het dit gewoonlik misgeloop.
  • Die eerste oorsese geleentheid buiten die Indy 500, was in 1953 toe die spanne na Suid-Amerika gereis het. Daar is nou al Formule 1-wedrenne in Noord-Amerika, Asië, Australië, die Midde-Ooste en selfs in Afrika gehou. 6
  • Dis ’n groot storie om al die motors en mense van land tot land te vervoer. Formule 1 vervoer alles in samewerking met die vervoermaatskappy DHL. Elke span het vrag wat ongeveer 40-50 ton weeg. Daar is ongeveer 10 000 kg se elektronika per span en 150 000 kg uitsaaitoerusting. DHL vervoer sowat 660 ton se lugvrag en 600 ton se skeepsvrag. Dit is so swaar soos 165 olifante! 7
  • Die renjaers Lewis Hamilton van Brittanje en Michael Schumacher van Duitsland het ewe veel (sewe elk) kampioenskappe gewen. Schumacher het egter uitgetree en dus het Hamilton nog ’n kans om hom verby te vat. 8
  • Ferrari het die meeste vervaardigerskampioenskappe gewen, naamlik 16.
  • Formule 1-motors is baie vinnig. Dit kan van 0 tot 100 km per uur in 2,6 sekondes en van 0 tot 160 kilometer per uur in 4,0 sekondes versnel.
  • Formule 1-motors bestaan uit meer as 80 000 onderdele en dit neem ongeveer 150 000 uur om dit aanmekaar te sit.
  • Kuipstoppe maak Formule 1 lekker opwindend en die spanne doen dit blitsvinnig. Die rekord vir die vinnigste kuipstop ooit behoort aan die Red Bull-span. Hulle het in 2019 die bande van Max Verstappen se motor in slegs 1,82 sekondes geruil!
  • Formule 1-renjaers verloor gewig tydens ’n wedren omdat hulle aan hoë temperature, hoë stres en dik vuurbestande klere blootgestel word.
  • Formule 1-motors het ’n beraamde waarde van tussen $12 miljoen en $15 miljoen! 9
  • Kan jy glo dat dié motors slegs op een tenk brandstof die hele wedren ry? Daar was ’n tyd toe hulle tydens die wedren moes stop vir brandstof, maar weens veiligheidsredes is dit gestaak.
  • Die stuurwiele van hierdie motors lyk nie soos dié wat jy ken nie. Daar is meer as 20 knoppies op die stuurwiel met allerlei funksies.
  • Die Formule 1-spanne is baie groot – talle het meer as 600 personeellede.
  • Die renjaers maak baie geld. Lewis Hamilton het al meer as $489 miljoen verdien! 8

Alle oë is op die 20 renmotors op die baan. Vyf rooi ligte gaan aan en dan af … en daar gaan hulle! Met ʼn gefluit van bande en gebrul van enjins jaag hulle om en om die renbaan en probeer mekaar verbysteek.

Al is jy dalk nie ’n entoesias van Formule 1-wedrenne nie, het jy seker al van F1 gehoor of van renjaers soos Max Verstappen en Lewis Hamilton. Na alle waarskynlikheid het jy al jou ouers, familie of vriende dopgehou as hulle op ’n Sondagmiddag dié jaery volg.

Die woord “formule” in die naam verwys na ’n stel reëls waaraan alle bestuurders en motors moet voldoen. Die “een” kom van die gradering wat die Federation Internationale de l’Automobile (FIA) toeken. Dit is die wêreldliggaam wat die Formule 1-wedrenne reguleer. Die “een” word ook gebruik om te wys dat dit anders is as die motors wat in gewone padwedrenne gebruik word en dat dit eersteklas is! 1

Die FIA is op 20 Junie 1904 gestig. Dit is ’n organisasie sonder winsbejag en verteenwoordig die belange van die motororganisasies en motorvervaardigers.

Formule 1 is ’n tipe motorsport met renmotors wat oop kajuite en slegs een sitplek het. Die motors word deur renspanne vervaardig en onderhou, en die enjins moet aan die FIA se regulasies voldoen.

Elke span het sy eie motor wat dan om ’n renbaan teen ander meeding. Daar was 2023 tien spanne wat elk twee motors en dus twee renjaers het. Die spanne was Red Bull Racing, Ferrari, Mercedes, Alpine, McLaren, Alfa Romeo, Aston Martin Racing, Haas F1, AlphaTauri en Williams.

Max Verstappen van Red Bull Racing het die 2023-seisoen gewen. Sy spanmaat, Sergio Perez, was in die tweede plek, met Lewis Hamilton van Mercedes in die derde plek.  

Hierdie wedrenne word die Grand Prix genoem. Die Grand Prix is ’n groot, internasionale motorwedren en die naam beteken “groot prys” in Frans. Dié wedrenne word jaarliks in lande reg oor die wêreld gehou. Formule 1 is sekerlik die bekendste motorsport ter wêreld en die kampioenskap het ’n lang en interessante geskiedenis. 2

Waar het alles begin?

Reeds in die jare dertig was mense in Europa al gek daarna om teen mekaar in motorwedrenne mee te ding en dié sport te kyk.

Daar is talle wedrenne in die jare voor en ná die Tweede Wêreldoorlog gehou. Daar was dus reeds in die 1930’s planne vir ’n motorkampioenskap bespreek, maar toe breek die Tweede Wêreldoorlog uit en ry dié planne in die wiele. 3

Die telbord by die 1913 Grand Prix de France by Le Mans.

Die idee het egter weer in 1946 lewe gekry en daar is op die regulasies van Formule 1-wedrenne besluit. In die daaropvolgende jaar is daar besluit om ’n kampioenskap van stapel te stuur, maar dit het nog drie jaar geneem voor die eerste kampioenskapswedren gehou is. Daar was egter toe reeds wedrenne ingevolge die F1-regulasies gehou.

Die reëlingskomitee by 1953 Grand Prix, Agadir. Die Franse renjaer André Guelfi staan voor met ‘n resiespak aan.

Die eerste F1-wedren is in 1950 in Pau, Frankryk, gehou en is die Franse Grand Prix genoem. Die eerste wêreldkampioenskapswedren is by Silverstone in Engeland gehou. Al meer wedrenne het gevolg. Hoewel daar toe nog wedrenne was wat nie deel van die kampioenskap was nie, is dit egter in 1983 as gevolg van stygende koste uitgefaseer.

Daar was selfs in die vroeë jare renjaers wat hul eie motors gekoop en bestuur het. Maar die Formule 1 is deur motorvervaardigers soos Alfa Romeo, Ferrari, Maserati en Mercedes-Benz oorheers.

Die groot renjaer van die 1950’s was Juan Manuel Fangio. Hy het die renjaerskampioenskappe in 1951, 1954, 1955, 1956 en 1957 vir vyf verskillende vervaardigers gewen.

Juan Manuel Fangio was die voorste renjaer in die jare vyftig.

Dit was natuurlik nie maklik om die Formule 1-renne aan die gang te kry en te hou nie. Daar was byvoorbeeld baie min deelnemers in 1952 en 1953. Die renjaer Alberto Ascari het albei jare die kampioenskap gewen.

In 1950 was daar nog 20 verskillende motorvervaardigers wat deelgeneem het, maar mettertyd het die meeste as gevolg van die hoë koste uitgeval. Van die vervaardigers is genoop om heeltemal óf vir ’n tyd lank te onttrek.

Ferrari is die enigste motorvervaardiger wat sedert die begin daar was en vandag nog sonder onderbreking deelneem.

Die motors het deur die jare aansienlik verander. Reg in die begin het vooroorlogse motors, soos Alfa se 158, deelgeneem. Die enjins was toe nog voor in die motor, soos die gewone motors wat ons ken. Daardie motors het smal bande en ’n 1,5 liter-drukaanjaerenjin (supercharged) of 4,5 liter-enjin sonder aanjaer gehad.

Daar is in 1954 besluit dat alle enjins tot 2,5 liter beperk sou wees. Mercedes-Benz het hierna vinnig ontwikkel, maar het in 1955 – ná ’n gruongeluk by Le Mans waarin die renjaer Pierre Levegh en van die toeskouers dood is – aan motorsport onttrek en eers 33 jaar later weer begin deelneem.

Die vervaardiger Cooper het in die 1950’s ’n motor met ’n enjin agterin bekendgestel en teen 1961 was al die motorfabrikate se enjins agterin die motors. Die vervaardigerskampioenskap is in 1958 ingestel.

Die jare vyftig tot sewentig

Vanaf 1958 tot 1973 het die Britte die F1-renne oorheers. Mike Hawthorn het die kampioenskap in 1958 gewen. Jim Clark, Jackie Stewart, John Surtees, Jack Brabham, Graham Hill, en Denny Hulme het nege kampioenskappe gewen en die Britse spanne het boonop tien vervaardigerstitels tussen 1962 en 1973 gewen.

Britte soos Jackie Stewart het die F1-renne oor twee dekades oorheers.

Die Britse Green Lotus was die motor wat stof in die ander se oë gery het en die span was ook die eerste om in 1968 advertensieslagspreuke op hul motors aan te bring.

Ferrari het al hoe sterker geword en renjaers soos Niki Lauda en Clay Regazzoni het begin om wedrenne te wen. Lauda het in 1975 die eerste van sy drie kampioenskappe gewen. Hy het ses van die eerste nege renne in 1976 gewen voordat ’n groot ongeluk by die Duitse Grand Prix gevolg het. Hy het erge brandwonde opgedoen, maar het ses weke later weer gejaag.

Niki Lauda het drie kampioenskappe gewen.

Teen 1978 het die motors al meer verander en turbo-enjins het ook hul verskyning gemaak. Dit was Lotus wat tegnologies voor in die koor was en hul motors se ontwerp in so ʼn mate verander het dat dit as revolusionêr beskryf is. Hul renjaer Mario Andretti het ses van die 16 wedrenne met die nuwe motor gewen. Daar was egter ’n tragedie toe sy spanmaat in ’n wedren dood is. Dit het die begin van die einde vir die Lotus-span beteken. Die veiligheidsmaatreëls in daardie tyd was baie swak en talle renjaers is in ongelukke op die baan oorlede.

Mario Andretti van Lotus het verskeie wedrenne in dié span se revolusionêre motor gewen.

​Bernie Ecclestone, die voormalige uitvoerende hoof en president van Formule 1, het in die 1970’s die bestuur van Formule 1 se kommersiële reg verander. Hy het dit in ’n internasionale maatskappy verander wat die geld laat inrol het.

Bernie Ecclestone, voormalige F1-grootbaas, het Formule 1 in ‘n geldmasjien omskep.

Die tagtigs tot nou

Die renjaer Alan Jones van die Williams-span het Formule 1 in 1980 oorheers en die kampioenskap gewen. Nelson Piquet van die Brabham-span het in 1981 die titel met een punt by die Amerikaanse Grand Prix gewen. Die jaar 1982 was nie ’n goeie jaar vir Ferrari nie, want hul toprenjaer​ Gilles Villeneuve is tydens ’n wedren dood en Didier Pironi, hul ander renjaer, is só erg by die Duitse Grand Prix beseer, dat hy daarna nooit weer kon deelneem nie.

Nelson Piquet van die Brabham-span het in 1981 die titel met een punt by die Amerikaanse Grand Prix gewen.

Piquet het in 1983 sy tweede titel as deel van die Brabham-span gewen. Die McLaren-span het vanaf 1984 die sport oorheers deur die kampioenskap sewe keer met hul toprenjaers, soos Alain Prost en Ayrton Senna, te wen. In 1988 het hulle 15 uit die 16 wedrenne gewen, maar turbo-enjins is die daaropvolgende jaar verban. Daar is toe meer beperkinge op enjins geplaas en drukaanjaers is in 1989 verban.

McLaren en Williams was in die 1990’s die beste spanne en die renjaers Prost en Senna het ’n groot stryd op die baan gevoer. Prost het egter in 1993 uitgetree en Senna is in 1994 oorlede. Sý dood het uiteindelik tot groot verbeterings in veiligheid gelei. Sedertdien het geen renjaer in ’n F1-motor gesterf nie.

Gilles Villeneuve van Ferrari is in 1982 in ‘n wedren dood.

McLaren, Williams, Renault (voorheen Benetton) en Ferrari het sedert 1984 tot 2008 die botoon in kampioenskappe gevoer.

Die stygende koste van Formule 1-renne het egter die gaping tussen die vier groot vervaardigers en die kleiner spanne vergroot en tussen 1990 en 2009 het 28 spanne gekom en gegaan.

Michael Schumacher en Ferrari het tussen 1999 en 2004 vyf opeenvolgende renjaerkampioenskappe en ses opeenvolgende vervaardigerskampioenskappe gewen.

Michael Schumacher en Ferrari was die groot name in daardie tyd. Schumacher en Ferrari het tussen 1999 en 2004 vyf opeenvolgende renjaerkampioenskappe en ses opeenvolgende vervaardigerskampioenskappe gewen. Daarna was Fernando Alonso van Renault ’n groot naam, asook Sebastian Vettel wat vier kampioenskappe vir Red Bull Racing gewen het. Lewis Hamilton het daarna vir Mercedes begin ry en sewe kampioenskaptitels gewen. Max Verstappen van Red Bull Racing het egter die kroon in 2021 oorgeneem en dit in 2022 en 2023 behou.

Max Verstappen, die heersende F1-wêreldkampioen.

Die groot name in 2023 was Red Bull Racing, Mercedes-Benz en Ferrari en daar word verwag dat dit in 2024 die geval sal bly. 

Meer oor die wedren

’n Grand Prix vind oor ’n naweek plaas en skop die Vrydag met oefenrondtes af. Daar is drie kwalifiserende rondtes op die Saterdag en elke jaer moet dan ook ’n tydtoets aflê.

Die eerste rondte bepaal die volgorde waarvolgens die renjaers die tweede sessie sal ry en die derde rondte bepaal die wegspringvolgorde op die baan. Die groot wedren vind op die Sondag plaas en begin met ’n opwarmrondte.

Die renjaers moet minstens 305 km aflê en die baan se grootte bepaal die spesifieke afstand en die aantal rondtes wat afgelê word. 4

Daar is ’n tydsbeperking op wedrenne en dit moet binne twee uur afgelê word, tensy ’n rooi vlag of veiligheidsmotor die wedren laat stop. Wanneer dit gebeur, word die tyd gestop en die baan skoongemaak. Sodra die veiligheidsmotor die baan verlaat het, kan die wedren weer voortgaan.

Die motors van vandag

  • Formule 1-motors is aërodinamies ontwerp om die minste moontlike weerstand te bied terwyl hulle ry. Aërodinamika is die leer van die beweging van gasse rondom vaste stowwe in die lug. Dié ontwerp stel die motors in staat om nie net vinnig te ry nie, maar ook om minder brandstof te gebruik.
  • Die vlerke en die kleppe van die motor bied ook afwaartse druk en as dit nie vir hierdie krag was nie, sou die renjaers maar gesukkel het om die motor op die baan te hou. Die krag wat afgedwing word, is so groot dat dit vyf keer die motor se gewig is! Dit gee die bande traksie en keer dat die kar nie gly nie.
  • Sedert 2014 het alle F1-motors 1,6 liter-V6-turbo-aangedrewe enjins. Die V van V6 dui op die aantal silinders in die enjin.
  • F1-motors moet minstens 746 kg sonder die renjaer en brandstof weeg. Die omwentelings (ook genoem revolusies) per minuut word tot 15 000 beperk.
  • F1-motors kan min of meer 375 km per uur behaal.
  • Die bande van die motors speel ’n groot rol in wedrenne. Pirelli is die amptelike verskaffer van bande vir die Formule 1-wedrenne. Hierdie bande word gemaak om slegs 60 tot 120 km te hou. Dit kan dus nie vir die hele wedren hou nie en daarom moet die renjaers ’n kuipstop (“pit stop”) maak om bande te vervang. Die span moet dan blitsvinnig die bande ruil en nuwes opsit. Die bande word van C1 tot C5 gegradeer. C1 is die hardste bande en C5 is die sagste bande. Die grootte van die wielvellings is 18 duim. 1

Het jy geweet?

Suid-Afrika het al ’n Formule 1-ster opgelewer! Jody Scheckter is in Suid-Afrika gebore en het as jongman na Brittanje verhuis. Slegs 18 maande nadat hy daar aangekom het, het hy agter die stuur van McLaren se F1-motor ingeklim. In 1973 het hy ’n groot ongeluk tydens die Britse Grand Prix gehad, maar dit het gelukkig nie sy loopbaan kortgeknip nie. Hy het in 1974 by die Tyrrell-span aangesluit en tot 1976 vir hulle gery. In 1977 het hy vir die Wolf-span gery en in 1979 by Ferrari aangesluit. In dieselfde jaar het hy die wêreldkampioenskap vir Ferrari gewen.

Jody Scheckte is in Suid-Afrika gebore en het in 1979 die wêreldkampioenskap vir Ferrari gewen.

Scheckter het in 1980 uitgetree en ’n onderneming in die VSA begin. 5

2023 se spanne en jaers

Span Jaer 1 Jaer 2
Red Bull Racing Max Verstappen Sergio Perez
Ferrari Charles Leclerc Carlos Sainz
Mercedes Lewis Hamilton George Russell
Alpine Esteban Ocon Pierre Gasly
McLaren Lando Norris Oscar Piastri
Alfa Romeo Valtteri Bottas Zhou Guanyu
Aston Martin Racing Lance Stroll Fernando Alonso
Haas F1 Kevin Magnussen Nico Hulkenberg
AlphaTauri Yuki Tsunoda Nyck de Vries
Williams Alex Albon Logan Sargeant

2024 se spanne en jaers 

Span Jaer 1 Jaer 2
Red Bull Racing   Max Verstappen  Sergio Perez 
Ferrari  Charles Leclerc  Carlos Sainz 
Mercedes  Lewis Hamilton  George Russell 
Alpine  Esteban Ocon  Pierre Gasly 
McLaren  Lando Norris  Oscar Piastri 
Alfa Romeo  Valtteri Bottas  Zhou Guanyu 
Aston Martin Racing  Fernando Alonso  Lance Stroll 
Haas F1  Kevin Magnussen  Nico Hulkenberg 
AlphaTauri  Yuki Tsunoda  Daniel Ricciardo  
Williams  Alex Albon  Logan Sargeant 

Woordbank

aërodinamies Dis die leer van die beweging van gasse rondom vaste stowwe in die lug. Dit word ook lugdinamika genoem.
botoon Oorheers, die belangrikste plek inneem.
drukaanjaer Iets wat ’n toestel vinnig laat brand of werk (“supercharger”).
elektronika Die toepassing van radiotegnieke by die vervaardiging van elektriese apparaat.
fabrikaat Handelsnaam, fabrieksmerk.
gek daarna Versot/mal/dol wees oor iets/iemand.
Grand Prix ’n Groot internasionale motorwedren.
ry dié planne in die wiele Belemmer, kniehalter; ongedaan maak.
kampioenskap ’n Wedstryd om die wenner (kampioen) te bepaal.
kommersiële reg ’n Gewone of eksklusiewe lisensie of ’n gewone konsessie om iets te kan doen (bv. te vervaardig) of die alleenreg om dit te kan doen; alleenbemarkingsreg.
kortgeknip Iets beëindig of stopsit.
mee te ding Wedywer, kompeteer.
motorfabrikate ’n Voertuig wat deur ’n spesifieke maatskappy gemaak is.
omwentelings Toer; die tyd wat dit iets neem om een omwenteling te maak; die aantal kere per minuut wat ’n diskus om ’n vaste sentrale as wentel.
reguleer Kontroleer.
renjaers Iemand wat ’n renmotor in ’n wedren bestuur.
revolusionêr Dit is anders as dit wat reeds bestaan. Nuut.
traksie Trekkrag.
tragedie ’n Baie ongelukkige gebeurtenis.
van stapel te stuur Iets aan die gang sit/begin.
voor in die koor Om eerste te wees.
winsbejag ʼn Ywerig strewe na wins; om geld te maak. Sonder winsbejag beteken dat ʼn organisasie nie op wins toegespits is nie.

Lees hier meer oor Formule 1

Kyk dié video’s om meer te leer

Kyk hoe het die motors van toeka tot nou verander

Die 1955-gruongeluk by Le Mans

Gepubliseer op: 8 Junie 2023 | Bygewerk op 19 Februarie 2024