Vinnige feite

  • Linnaeus is ook bekend vir sy studies in ekologie en was een van die eerste mense om die verhoudings tussen lewende dinge en omgewings te beskryf.
  • Die bekendste taksonomiese benaming wat Linnaeus uitgedink het, is Homo sapiens. Hy het mense in vier verskillende spesies geplaas, gegrond op velkleur en herkoms.
  • Hy het in 1758 die Hammarby-landgoed buite Uppsala gekoop, waar hy ’n museum vir sy persoonlike versamelings gebou het.
  • Linnaeus het aan meer as 12 000 plant- en dierspesies hul naam gegee.
  • Linnaeus het op ’n slag ’n wasbeertjie (’n raccoon in Engels) as geskenk gekry en hom bestudeer en as troeteldier aangehou. Die wasbeertjie se naam was Sjupp.
  • As jy jou ooit in Swede bevind, kan jy ’n paar van Linnaeus se versamelings besigtig. Daar is die Linné-herbarium by die Sweedse Museum van Natuurlike Geskiedenis wat nog van Linnaeus se oorspronklike plantversameling huisves. Toeriste kan ook sy botaniese tuin en landgoed by Hammarby besoek.
  • Weet jy hoe indekskaartjies lyk? Dit is daardie klein kaartjies wat in laaie gebêre word en waar items se besonderhede opgeskryf kan word. Die kaartjies word alfabeties gerangskik om dit makliker te maak om op te spoor. Linnaeus het ook dié stelsel uitgevind om hom te help om spesies maklik te vind. 7
Foto: iStock

Plante en diere het name nodig sodat ons kan weet presies wat hulle is en tot watter genus en spesie hulle behoort. Een slim man het lank, lank gelede ’n stelsel uitgevind om dit te klassifiseer, en ons gebruik dié stelsel vandag nog. Hy het twee wetenskaplike klassifikasiestelsels uitgevind: die een om plante en diere te klassifiseer, en die ander stelsel om vir lewende dinge name te gee. Die man wat dit uitgedink het, se naam was Carl Linnaeus.

Linnaeus was ’n Sweedse naturalis wat die vader van taksonomie genoem word. Taksonomie is die studie van die identifisering, benoeming en klassifisering van organismes (plante, diere, bakterieë, fungi, en so meer). Wanneer plante of diere geklassifiseer word, word hulle in groepe geplaas op grond van eienskappe wat hulle gemeen het.

Wanneer ons dink aan klassifikasie, is dit nodig om die klok so ’n bietjie terug te draai. Die Griekse filosoof Aristoteles (384-322 v.C.) het in sy leeftyd reeds ’n stelsel geformuleer om plante en diere te klassifiseer. Hy was die eerste persoon wat die verskille tussen gewerweldes en ongewerweldes bestudeer en gedokumenteer het. Soos wat nuwe spesies ontdek is, kon die Aristoteliaanse stelsel nie meer effektief gebruik word om plante en diere te klassifiseer nie. Baie jare later sou Carl Linnaeus in 1735 belangrike werke publiseer wat vandag nog gebruik word. 1

Wie was Linnaeus?

Carolus Linnaeus, oftewel Carl Linnaeus, is op 23 Mei 1707 op die dorp Råshult in Swede gebore. Hy was die oudste van vyf kinders, en sy pa, Nils Ingemarsson Linnaeus, was ’n pastoor en ’n entoesiastiese tuinier. 2 Sy ma se naam was Christina Brodersonia. Sy pa was baie lief vir tuinmaak en het graag sy seuntjie saam met hom in die tuin laat werskaf en hom oor plante geleer. Linnaeus was skaars vyf jaar oud toe het hy reeds sy eie tuin gehad, en dit was vir hom lekker om te sien hoe plante groei en wat hulle laat groei.

Sy pa het ook vir Linnaeus geleer dat plante name het en het vir hom die name daarvan geleer. Die plante het destyds vreeslike lang name gehad, en dit was glad nie so maklik om te leer nie. Die botaniese naam vir die tamatie, volgens die Aristoteliaanse klassifikasiestelsel, was byvoorbeeld Solanum caule inerme herbaceo, foliis pinnatis incisis, racemis simplicibus! 3 Klein Carl het egter so vinnig geleer dat mense hom teen agtjarige ouderdom die klein botanikus genoem het!

Carl was meer in plantname as in sy skoolwerk geïnteresseerd, en daarom het sy onderwyser, Johan Stensson Rothman, hom aangemoedig om medies te gaan studeer omdat plante en hul gebruike daardie jare ’n groot deel daarvan was. Daar was nie apteke soos wat ons vandag het nie, en dokters moes self medisyne van medisinale plante gemaak het!

Sy studies

Linnaeus het medies aan die Universiteit van Lund gaan studeer, maar het ná ’n jaar na die Universiteit van Uppsala geskuif. 4 Hy het dit baie geniet om oor die gebruike van plante, minerale en diere in medisyne te leer.

Een van sy dosente was Olof Celsius, en hy het hom op ’n keer in die universiteit se botaniese tuin gevind en kon nie glo dat Linnaeus so baie van plante weet en boonop al hul name ken nie. Celsius wou graag vir Linnaeus help en het vir hom verblyf en die gebruik van sy biblioteek aangebied omdat Linnaeus finansieel gesukkel het.

Olof Celsius

Linnaeus het in daardie tyd ’n opstel oor die klassifisering van plante geskryf, en ’n dosent Olof Rudbeck was so beïndruk daarmee dat hy Linnaeus as sy assistent in botanie aangestel het.

Linnaeus wou graag meer plantspesies ontdek en het tussen 1732 en 1735 ’n lang reis van 8 000 km in Swede, veral in Lapland, onderneem om ’n opname van die land se plante te doen. Die resultate van sy reis is in 1737 in Flora Lapponica gepubliseer. Hy het daarna nog reise onderneem om plantspesies te soek en identifiseer.

Hy het in 1735 sy mediese graad aan die Universiteit van Harderwijk in Nederland behaal en is daarna as hoof van ’n groot botaniese tuin in Nederland aangestel.

Universiteit van Harderwijk

Carl se klassifikasies

Hy het oor die volgende paar jaar ’n groot studie onderneem, wat tot sy boeke Systema Naturae (natuurstelsel) en Genera Plantarum (plantspesies) gelei het. Hy het in sy Systema Naturae klippe, plante en diere in drie klasse verdeel: ordes, genusse en spesies. Die stelsel word vandag nog gebruik, hoewel dit wel deur die jare hersien en aangepas is. In Genera Plantarum het hy ’n stelsel voorgestel waardeur plante op grond van vorm en struktuur geklassifiseer kan word. 5 Hy het sy boeke ’n paar keer gepubliseer, namate hy nog spesies bygevoeg het. Hy het sy boeke ’n paar keer gepubliseer, namate hy nog spesies bygevoeg het.

Linnaeus se bekendste klassifikasiestelsel is genaamd “binomiale nomenklatuur” (binomial nomenclature in Engels). Dit behels dat elke lewende organisme op aarde ’n naam kry, wat uit twee Latynse woorde bestaan. Die eerste woord is die genus, en die tweede naam is die spesifieke spesie. Ons as mense staan byvoorbeeld as Homo sapiens bekend, waar “homo” die genus en “sapiens” die spesie is. Die spesienaam word altyd met ’n kleinletter geskryf.

In die Linnaeuse stelsel word die beskrywing van ’n spesie van sy naam geskei. Dit maak dit makliker vir wetenskaplikes en botanici om die name te leer. Die Latynse name word wêreldwyd gebruik, sodat daar nie verwarring ontstaan wanneer spesies bestudeer word nie. So staan die Afrika-olifant byvoorbeeld wêreldwyd as Loxodonta africana bekend.

Hy word bevorder en vereer

Linnaeus het in 1738 na Stockholm teruggekeer. Hy het aanvanklik as dokter gepraktiseer, maar is in 1741 as ’n professor in die botaniedepartement by die Universiteit van Uppsala aangestel. Hy het die res van sy loopbaan daar deurgebring. Hy was ’n baie gewilde professor, en hy het dikwels studente op buitelandse togte gestuur om na nuwe plant- en dierspesies te soek.

Ongelukkig het sewe van die 17 studente tydens die reise gesterf. Die studente het as “Linnaeus se apostels” bekendgestaan. Sy bekendste student was sekerlik Daniel Solander. Hy het saam met die bekende kaptein James Cook gereis en was die eerste om plantversamelings van Australië en die suidelike Stille Oseaan na Europa te bring.

Daniel Solander.

Nog ’n student, Pehr Kalm, het vir drie jaar Amerikaanse plante bestudeer, en ’n ander, Carl Peter Thunberg, was die eerste Westerse naturalis om Japan in meer as ’n eeu te besoek. Hy het Japannese plante bestudeer.

Linneaus is in 1747 as die koninklike geneesheer en in 1750 as die rektor van die Universiteit van Uppsala aangestel. Hy is in 1758 deur die Sweedse koning tot ridder geslaan. Hy het toe die naam Carl von Linné aangeneem. 6

Universiteit van Uppsala

Hy het hard probeer om die Sweedse ekonomie ’n hupstoot te gee deur Sweedse plante te soek wat vir tee, koffie of meel gebruik kon word, maar was nie suksesvol nie. Hy het ook probeer om verskeie plante te kweek wat nie in Swede gevind kon word nie. Hy was met party suksesvol – hy het dit byvoorbeeld reggekry om piesangs te kweek – en met party ander minder suksesvol.

Sy klassifikasiestelsel brei uit

Moderne taksonome het die klassifikasiestelsel sedert die tyd van Linnaeus uitgebrei, sodat daar agt range is, naamlik domein, koninkryk, filum, klas, orde, familie, genus en spesie. Die tabel hier onder wys vir jou hoe die mens volgens dié klassifikasiestelsel geklassifiseer word. 1

Domein Eukarya (alle een- of meersellige lewensvorme)
Ryk Animalia (diere)
Filum Chordata (vertebrata of gewerweld)
Klas Mammalia (soogdiere)
Orde Primate
Familie Hominidae (groot aap)
Genus Homo (mens)
Spesie sapiens (die Latynse woord vir “slim” of “wys”)

Persoonlike lewe

Linnaeus was met Sara Lisa Moraea getroud, en hulle het ses kinders gehad, maar ongelukkig het ’n dogtertjie op vroeë ouderdom gesterf. Die oorlewende kinders was ’n seun, Carl, en vier dogters. Carl het ook ’n botanikus geword en ’n professor by die Universiteit van Uppsala, maar het nie dieselfde sukses as sy pa behaal nie.

Linnaeus het ’n paar matige beroertes in 1774 gehad, en sy gesondheid het nooit daarvan herstel nie. Hy het in 1778 op 70-jarige ouderdom gesterf.

Ná sy afsterwe het sy seun sy versamelings geërf, maar nadat sy seun self in 1783 sonder erfgename oorlede is, het sy vrou sy versamelings aan ’n Engelse historikus sir James Edward Smith verkoop. Smith het die Linnean Society of London gestig om dit te bewaar, en die vereniging bestaan vandag nog en sien na die oorgrote meerderheid van sy werk om. 4

Carl se huis in Uppsala, Swede

Woordbank

bakterie Dit is ’n klein organisme wat infeksie en besmetlike siektes veroorsaak.
besigtig Bekyk/sien.
botanie Die studie van plante.
botanikus Iemand wat plante bestudeer; ook genoem botanis.
dosente Iemand wat klas aan ’n universiteit (of soortgelyke instelling) gee.
ekologie Die verhouding tussen lewende organismes en hul omgewing.
fungi Swam.
genusse ’n Kategorie waarin soorte ingedeel word; in hierdie geval, die kleinste groep organismes met gemeenskaplike eienskappe.
herbarium Plek wat ’n versameling van gedroogde plante aanhou.
klassifiseer Iets in groepe/klasse opdeel om dit makliker verstaanbaar te maak.
medisinale plante Plante wat mense kan help en in medikasie gebruik kan word.
naturalis ’n Persoon wat die natuur bestudeer.
nomenklatuur ’n Stelsel van reëls waarvolgens naamgewing op ’n bepaalde wetenskap of dissipline plaasvind, byvoorbeeld die taksonomie.
ordes Afdelings van organismes.
primate Gewerwelde dier met, onder meer, groot serebrale hemisfere, vyf vingers en tone met plat naels, ‘n sleutelbeen en oë wat na voor gerig is. 1
rektor Die hoof van ’n universiteit (of soortgelyke instelling).
spesies Soort organismes; onderafdeling van organismes onder die genus.
taksonomie Wetenskap wat te make het met die identifisering, benoeming en klassifisering van lewende organismes.
tot ridder geslaan As iemand tot ridder geslaan word, beteken dit dat hy ’n eretitel kry. Hy word deel van die adelstand, wat ’n hoë stand is.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Linnaeus

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Linnaeus

Wie was Carl Linnaeus?

Carl Linnaeus: die vader van taksonomie

Linnaeus se piesangsukses

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 15 November 2023 | Bygewerk op 7 Februarie 2024