Vinnige feite

  • Soms kan ’n storie tussen verskillende tye afspeel – dit is ’n soort storielyn wat kan help om spanning op te bou en die kyker of gehoor se aandag geprikkel te hou.
  • ’n Storie kan ook met ’n eindtoneel begin en dan stelselmatig terugwerk in die verlede om oor te dra hoe dinge verloop het totdat dit weer uitloop op die eindtoneel waarmee afgeskop is.
  • ’n Toneel kan selfs meer as een storielyn hê – dit hang alles af van die idees waarmee die skrywer vorendag kom en dan in ’n storie saamvat wat verwerk word tot ’n toneelstuk of drama.
Foto: iStock

Die woord toneel verwys na veel meer as net ’n konsert en sluit, onder meer, die volgende in: dit kan ’n plek wees waar iets besonders voorval of gebeur, of dit kan die voorval of gebeurtenis self wees. Die woordeboeke definieer dit ook as ’n speelplek, verhoog of die plek waar ‘n toneelstuk of drama opgevoer word. Dit kan ook ’n bedryf in ’n opvoering wees, soos die eerste bedryf (toneel) in ‘n opvoering. Dit kan selfs ’n ongelukstoneel wees. Of ’n skouspel waarna jy gaan kyk met die viering van Nuwejaar. 1

In hierdie artikel kyk ons na die konsertdeel van ’n toneel en hoe dit uiteindelik opgevoer word.

Hierdie soort toneel is die opvoering of aanbieding van toneelstukke en alles wat daarmee verband hou. Dit word ook gesien as alles wat geskryf is om as toneelstuk opgevoer te word, of dit kan ’n deel van ’n toneelstuk wees wat op ’n bepaalde tyd en plek afspeel wat jy op die verhoog voor jou sien. Dit is ook soms ’n afdeling of afgeronde gedeelte van ’n bedryf van ’n toneelstuk en word as scène beskryf.

Voorbeelde van hoe na toneel verwys word:

  • Alle akteurs moet by hierdie toneel betrokke wees.
  • Die gordyne skuif oop en die toeskouers sien die toneel.
  • Die openingstoneel se kostuums en dekor is vrolik en kleurvol.
  • Die volgende toneel stel ’n plaaswoning voor. 2

Om ’n toneel te skep, behels ’n verskeidenheid van elemente wat saam die toneel vorm. Toneelskepping word dus gesien as die saamstel van ’n toneel waarin elemente soos die storielyn en struktuur daarvan, karakterisering, kostuums en dekor bymekaarkom om as ’n geheel die toneel te skep.

Drama-elemente benodig vir toneelskepping

Toneelskepping beskryf die proses waardeur drama geskep word. Somtyds word die metode van improvisasie gebruik in toneelskepping. Improvisasie in teater, is die opvoer van tonele sonder ’n geskrewe dialoog en met minimale of geen vooraf bepaalde struktuur of voorskrif. 3

Die storie

Die storie wat in ’n toneel vertel word, het ’n storielyn met ’n begin, middel en einde. Gewoonlik sal ’n storie ’n chronologiese orde hê, waarvolgens die vertelling plaasvind, maar afhangend van die tipe toneelstuk, is dit nie ’n vereiste nie.

Soms kan ’n storie tussen verskillende tye afspeel – dit is ’n soort storielyn wat kan help om spanning op te bou en die kyker of gehoor se aandag geprikkel te hou. ’n Storie kan ook met ’n eindtoneel begin en dan stelselmatig terugwerk in die verlede om oor te dra hoe dinge verloop het totdat dit weer uitloop op die eindtoneel waarmee afgeskop is. ’n Toneel kan selfs meer as een storielyn hê – dit hang alles af van die idees waarmee die skrywer vorendag kom en dan in ’n storie saamvat wat verwerk word tot ’n toneelstuk of drama. 4

Kenmerke van ’n verhoogdrama

  • Dit handel oor iets dramaties wat met mense gebeur.
  • Daar is nie ’n verteller in ’n drama nie.
  • Die storie word in die vorm van ’n teks geskryf. Die akteurs kry die woorde wat hulle moet leer vir die toneel in teksformaat wat bestaan uit dialooggedeeltes en toneelaanwysings.

Meer oor die teks

  • Hoofteks: Dit is die dialooggedeelte wat die karakters se woorde bevat.
  • Toneelaanwysings (neweteks): Die handeling van die karakters word skuinsgedruk en tussen hakies aangedui. Dit vul die hoofteks aan, sodat die karakters meer konteks het oor die gevoel en emosie van die toneel, maar ook aanwysings ontvang oor hoe hulle moet optree, byvoorbeeld sit of staan, opgewonde of hartseer lyk, ensovoorts. Die toneelaanwysings word ook aan die begin van die teks aangebring – dit beskryf die agtergrond van die toneel en verskaf inligting oor die plek/ruimte waar die toneel afspeel.
  • Karakterlys: Die karakters word in die karakterlys aan die begin van die toneel beskryf. Dit vertel meer oor die karakters deur aan te dui wie die karakters is en wat hulle agtergrond is. 5

Die karakters

Die handeling van ’n akteur om sy of haar stem, gebare, liggaamshouding, manier van beweging, ensovoorts te verander wanneer hy of sy ’n spesifieke rol vertolk, word karakterisering genoem. Die akteur gebruik sy of haar vaardighede en toneelspel om die karakter deurlopend dieselfde te vertolk.

Wanneer karakters van ’n storie geskep word, kan die volgende in ag geneem word:

Stem

Het die karakter ’n spesifieke aksent en wat is die stemtoon van die karakter? Praat die karakter vinnig, of is dit ’n ouer persoon wat dalk stadig en sagter praat? Dalk het die karakter gewoontes wat spesifiek deel van die karakter vorm, byvoorbeeld om baie “uhm” te sê of laag te praat as hy of sy kwaad is. Dit help ook om die karakter herkenbaar en identifiseerbaar te maak.

Lyftaal

Die bewegings van die karakter en die manier hoe sy of haar liggaam beweeg, sê baie van die karaktereienskappe. ’n Karakter wat baie senuagtig en gespanne moet optree, sal dalk baie vroetel aan ’n baadjie se knoop of die hande wring met opgetrekte skouers wat op gespannenheid dui.

Gesigsuitdrukkings

Watter tipe gesigsuitdrukkings het die karakter wat kenmerkend aan hom of haar is? Dalk wys die karakter baie emosie met ekspressiewe gesigsuitdrukkings of wys die karakter juis nie veel van homself nie – en kom meer bot en uitdrukkingloos voor.

Improvisasie

Vir ’n akteur om vertroud te raak met die karakter wat hy of sy vertolk, is dit goeie oefeninge om as deel van die repetisies improvisasie-oefeninge te doen vir die karakter – en sonder die teks die karakter uit te beeld. Dit help die akteur om regtig in die karakter se “skoene te klim” en te verstaan hoe die karakter sou reageer in verskillende omstandighede of situasies.

Die warmstoel

In die dramakringe, is die warmstoel ’n metode wat akteurs ook kan help om beter vertroud te raak met die karakter wat hulle moet vertolk. Dit is wanneer die karakter vrae gevra word en dan daarop moet reageer. 3

Elemente van die karakter

Daar moet ook aandag gegee word aan die fisieke (uiterlike) eienskappe van die karakter en hulpmiddele word ingespan om die karakter ’n spesifieke beeld en voorkoms te gee. Dit sluit in spesifieke kostuums, grimering en rekwisiete wat help om die karakter in te kleur en persoonlikheid en herkenbaarheid te verleen. 4

Dekor, beligting en musiek

Dekor is toerusting wat gebruik word om die agtergrond van die toneel na te boots/te skep. Dit kan dinge insluit soos muurpanele, deure, meubels, ’n TV, rekenaar en ander groot voorwerpe. Dit skep vir die akteurs ’n denkbeeldige plek waarin die toneel afspeel wat dit vergemaklik om hul karakters gepas te vertolk soos in die toneelaanwysings aangedui word. Dekor help ook om die korrekte ruimte en diepte te skep waarin die akteurs moet beweeg tydens hul toneelspel. Die gehoor wat na die toneel kyk, sal met behulp van die dekor op die verhoog, die storielyn ook makliker kan volg en denkbeeldig deel word van die “plek” wat uitgebeeld word. 4

Beligting is ’n verdere hulpmiddel wat kan help om sekere dele van ’n toneel te versterk of te beklemtoon, die karakters se gelaatstrekke beter uit te lig en tydsones (soos dag of nag) aan te dui. Die beligting word gewoonlik deur ’n beligtingsingenieur hanteer, wat in samewerking met die regisseur van die toneel die beligtingskedule en -program uitwerk. Dit is ’n tegniese skedule wat aandui hoe die beligting vir die toneel moet lyk en sluit in: die kleur, helderheid teenoor dofheid, hoeveelheid ligte gebruik moet word, ensovoorts. Beligting verleen ’n groot bydrae tot die atmosfeer wat vir ’n toneel geskep moet word. Byvoorbeeld, blou kan ’n somber, donkerder emosie opwek, terwyl geel gebruik word vir vroliker tonele. 6

Musiek word ook telkens gebruik in tonele – dit hang wel af van die tipe toneel en die effek wat die regisseur wil skep. Musiek kan daartoe bydra daartoe om ’n spesifieke emosie op te wek, of om spanning of ’n klimaks in ’n ernstige toneel te ondersteun.

Soms word bygeluide in ’n toneel gebruik, soos die sing van krieke vir ’n aandtoneel, of voetstappe wat in die verte gehoor word voordat die akteur op die verhoog verskyn. Hierdie klanke word in ’n opnameateljee deur ’n klankingenieur vervaardig en dan op spesifieke tye in die toneel gespeel waar dit benodig word.

Spesiale musiek wat geskryf word vir ’n toneel, word ’n klankbaan genoem en deur ’n komponis gekomponeer. 5

Te danke aan moderne tegnologie, het toneel/drama uitgebrei tot radioverhale en ook TV-dramas en rolprente, wat veral meer gebruikmaak van musiek en klank as aanvullende hulpmiddele tot die toneel. 4

Woordbank

drama Direkte voorstelling deur handeling, dialoog, mimiek en gebare van menslike gebeure; gewoonlik voorstelling op genoemde wyse van ’n botsing tussen persone en/of in ’n persoon se gemoed. Dit staan ook bekend as ’n toneelstuk of toneelspel. 1
dialoog Tweespraak/samespraak tussen twee of meer mense of ’n tweegesprekdeel van ’n letterkundige werk wat gesprekke van karakters bevat. 1
ekspressiewe Vol uitdrukking; veelseggend. 1
repetisies Handeling van repeteer; herhaalde oefening; herhaling. 1
chronologiese Opeenvolgende 7
rekwisiete Dit is klein voorwerpe wat in die toneel gebruik word en wat rondgedra kan word. Dit kan dinge wees soos ’n koeldrankblikkie, ’n boek, ’n tas, ’n selfoon, ensovoorts. 4
skrywer ’n Persoon wat ’n bepaalde teks geskryf het; persoon wat boeke/stories/ensovoorts vir publikasie skryf; outeur. 1
regisseur Iemand wat toneelspelers afrig; spelleier. 1

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 2 Maart 2022 | Bygewerk op 11 April 2024