Vinnige feite

  • Membranofone is slaginstrumente met ʼn styf gespanne membraan (of vel) wat klank voortbring wanneer daarop geslaan word met die hand of slaner (soos ʼn stokkie). Die slag op die membraan veroorsaak ʼn vibrasie wat dan die klank voortbring.
  • Klappers en simbale vorm deel van tradisies in Asië en word ook vir godsdienstige gebruike ingespan. Simbale word vandag ook in Indië, Japan en Tibet gebruik.
  • Marokkaanse sangers gebruik die ritmiese geklap van uitgeholde klappers, een in elke hand, terwyl die dansers iets soos vingersimbale gebruik om dieselfde ritmiese effek te verkry.
  • Die shoko is ʼn Japannese ghong wat in drie verskillende groottes beskikbaar is.
Foto: iStock

Perkussie is ʼn vorm van ritme wat deur slaginstrumente voortgebring word. 1 Die klank wat deur perkussie voortgebring word, is energiek en ritmies van aard.

Dit is gewoonlik die deel van ʼn orkes wat uit slaginstrumente bestaan, maar kan ook deur een persoon, wat byvoorbeeld op ʼn trom ritme hou, beoefen word. 2

Behalwe vir perkussie met instrumente kan mens deur handeklap en voetgestamp ook ritmiese klanke voortbring.

Hoe het perkussie ontstaan?

Simplistiese vorms van perkussie dateer uit die vroeë antieke tye waar mense twee klippe teen mekaar gekap het om ritme te hou of met klein klippies in ’n toegemaakte diervel klank voortgebring het. Hierdie eenvoudige vorm van perkussie was die voorganger van perkussiemetodes wat vandag in orkeste met moderne perkussie (of ritme-instrumente) gebruik word.

Sedert die 17de eeu verwys die term perkussie-instrumente na twee groot groepe van slaginstrumente, naamlik ideofone en membranofone. 3

Wat is ʼn slaginstrument?

ʼn Slaginstrument is ʼn musiekinstrument wat bespeel word deur daarop te slaan met die hand of ʼn slaner (Gewoonlik stokkies wat in verskillende punte eindig, na gelang van die tipe klank wat voortgebring moet word.) Die klank kan ook voortgebring word deur dit te skraap, skud, te vryf of rond te draai, ook na gelang van die tipe instrument. 2

Slaginstrumente kan in twee groepe verdeel word:

  • Ideofone is slaginstrumente wat deur middel van vibrasie klank produseer. Die klank wat gehoor word is wanneer die instrument geskud, beweeg of geslaan word. 2
    Voorbeelde: Ratels, klokke en simbale.

  • Membranofone is slaginstrumente met ʼn styf gespanne membraan (of vel) wat klank voortbring wanneer daarop geslaan word met die hand of ’n slaner (soos ʼn stokkie). Die slag op die membraan veroorsaak ʼn vibrasie wat dan die klank voortbring. 4
    Voorbeelde: Groot verskeidenheid tromme, onder meer ʼn snaartrom.

‘Singende’ slaginstrumente

Daar is party slaginstrumente wat klanke op ʼn sekere toonhoogte kan speel. Voorbeelde hiervan is die keteltrom (ook genoem pouke of timpani), alle xilofone en metallofone, asook buisklokke.

Die keteltrom word gewoonlik in ʼn stel van twee gespeel, met vasgestelde toonhoogtes wat ʼn sesde interval dek. Deur middel van ʼn pedaal of slinger, kan die keteltromspeler die spanning van die vel (en dus die toonhoogte) selfs tydens ʼn musiekstuk aanpas en die trom instel.

By die xilofoon word die houtstawe geslaan om die verskillende toonhoogtes voort te bring. By metallofone word hierdie stawe van metaal gemaak. Hulle word in verskeie groottes in popmusiek, klassieke orkesmusiek en jazz gebruik. Verskillende hamers (of slaners) word gebruik om op die stawe te slaan. In groot vorms – soos die marimbafoon of vibrafoon – is die stawe soos ʼn klawerbord gerangskik. Die vibrafoon word selfs deur ʼn elektriese motor aangedryf wat ʼn spesiale klank daaraan gee. 5

Soorte slaginstrumente

Keteltrom (timpani of pouk)

Die keteltrom is van Oosterse oorsprong. Klein Arabiese keteltromme het ongeveer in die 13de eeu in Europa blootstelling gekry. Groter tromme – tussen 61 en 67 sentimeter in deursnee – is later gedurende die 15de eeu gebruik en is ontwikkel tot die keteltromme wat vandag gebruik word.

Hierdie diep, amper komvormige tromme, is aanvanklik gebruik in pare en gespeel deur perde- of kameelruiters. Later is verbeterde weergawes in orkeste gebruik en veral saam met trompette ingespan om musiek te maak.

Komponiste soos Bach en Handel, asook Mozart en Haydn het hierdie trom saam met trompette in hul komposisies aangewend. 3

’n Moderne timpani het ʼn voetpedaal wat die membraan van die trom se spanning stywer of losser kan stel, wat dan die toonhoogte waarin die klank voortgebring word, bepaal. Daar word vandag in sekere simfonieorkeste selfs drie keteltromme gebruik. 4

Snaartrom

Die snaartrom is ʼn gewilde vorm van perkussie in simfonieorkeste en moderne musiekgroepe. Hierdie trom is ontwikkel vanaf ʼn soort trom wat eers bekendgestaan het as die tabor. Die snaartrom het draadsnare wat strek oor die onderste membraan van die trom. Wanneer die boonste membraan geslaan word, vibreer hierdie snare, wat die snaartrom sy kenmerkende helder klank gee.

Die tromme is silindries (rond), en die bo- en onderkant van die trom is bedek met ʼn membraan. Die tromstokkies vir ʼn snaartrom word van hout gemaak, is ongeveer 38 sentimeter lank en raak geleidelik dunner en eindig in ʼn ronde punt. ʼn Stokkie wat in ʼn borselpunt eindig, word ook vir hierdie tromme gebruik. Snaartromme kan as ʼn individuele instrument in ʼn orkes gebruik word of deel van ʼn volledige tromstel vorm. 3

Bastrom

Die bastrom is die grootste trom van perkussie-instrumente. Hierdie trom is afkomstig van Turkye en het saam met ander Turkse instrumente, soos die simbaal, driehoek en tamboeryn, in die 18de eeu groot aanhang onder die Europeërs gekry. Die Turkse perkussie is deur Mozart en Haydn aangewend en het vervolgens gewildheid verwerf.

Die bastrom wat vandag in gebruik is, is ʼn groot en hol instrument met membrane aan een of al twee kante van die ronde raam. In werke soos Wagner se The Ring of the Nibelung en Verdi se Requiem word die bastrom veral met ʼn groot gedruis en gedawer aangewend om ʼn spesifieke effek en musikale hoogtepunt te bereik. 3

Simbale

Simbale is dun sirkelvormige metaalplate of -skywe wat gewoonlik in pare gebruik word en ʼn klank voortbring wanneer dit teen mekaar geslaan word. Wanneer ʼn enkelsimbaal gebruik word, word klank voortgebring deur middel van ʼn tromstok wat daarop slaan. Die gebruik van simbale is opgeteken in antieke geskrifte, en in die Bybel word ook verwys na lofprysing met die gebruik van simbale.

Die meeste simbale wat vandag in gebruik is, is van Turkye afkomstig en word deur die Zildjan-familie, wat alreeds vir meer as 300 jaar hierdie instrumente vervaardig, gemaak. 3

Voorbeelde van slaginstrumente wat nie volgens toonhoogte ingestel kan word nie:

Chinese ghong

Hierdie instrument is ʼn groot ronde metaalplaat of- skyf met ʼn diep geluid (“ghong”) wat help om klem te lê wanneer die musiek crescendo of ʼn musikale hoogtepunt bereik.

Driehoek

Die driehoek bestaan uit een staalstaaf in ʼn driehoekvorm met ʼn handvatsel (lussie) van ’n nievibrerende materiaal soos leer of tou. Die een hand hou die driehoek aan die lussie vas, terwyl die ander hand met ʼn metaalstokkie ritmies op die driehoek slaan om klank voort te bring.

Tamboeryn

Die tamboeryn is ʼn hol sirkelvormige raam met membrane wat styf gespan is aan weerskante van die raam. Klein sirkelvormige metaalplaatjies of -skyfies is aan die raam van die instrument vas en gee ʼn kenmerkende ritselende metaalklank wanneer die tamboeryn beweeg word of teen die hand geslaan word. 3

Kastanjet

Hierdie instrument bestaan uit twee geronde, uitgeholde houtdoppe. Kastanjette word in orkeste gebruik, maar is veral bekend vir hul gebruik in Spaanse danse – soos die flamenco – waartydens die danser die instrument ritmies aanwend om die dans te komplementeer. Die kastanjet word met die vingers op en af geklap. 5

Windmasjien

Hierdie instrument maak die klank van wind na deur die wrywing van ʼn roterende (draaiende) silinder teen ʼn stywe stuk materiaal. 3

Tradisionele slaginstrumente

Afrika

Afrika is bekend as die ‘Vasteland van tromme’.

Die pratende trom (gleuftrom) en kalimba is veral kenmerkend van Afrika. Die pratende trom speel ʼn spesiale rol in Afrika. Dit is soos ʼn uurglas gevorm en word onder die arm vasgeknyp, terwyl die vel met ʼn stok geslaan word. Die tromspeler boots die menslike stem met die pratende trom na.

Die kalimba bestaan weer uit ʼn weerklinkende basis wat gemaak is van hout, ʼn kalbas of ʼn skilpaddop. Gemonteer op hierdie klankkas is metaaltande van verskillende lengtes wat met albei duime gepluk word. 5

Japan

Die shoko is ʼn Japannese ghong wat in drie verskillende groottes beskikbaar is. Die bronsskywe word met ʼn klopper geslaan om te vibreer.  ʼn Ander tradisionele instrument is die taikotrom wat steeds tydens godsdiensseremonies gebruik word. In Middeleeuse tye is dit ook voor ʼn aanval geslaan. Die buisvormige tromme van verskillende groottes, word met groot houtstokke gespeel.

Marokko

Marokkaanse sangers gebruik die ritmiese geklap van uitgeholde klappers, een in elke hand, terwyl die dansers iets soos vingersimbale gebruik om dieselfde ritmiese effek te verkry. 3

Asië

Klappers en simbale vorm deel van tradisies in Asië en word ook vir godsdienstige gebruike ingespan. Simbale word vandag ook in Indië, Japan en Tibet gebruik. 3

Woordbank

toonhoogte Die toonhoogte in musiek is die posisie (hoe hoog of laag) die spesifieke klank of noot in die groter omvang van die musiekstuk of lied is. 6
slaginstrumente ‘n Voorwerp of toestel waarmee ’n mens musiek kan maak. 2
orkes ‘n Groep musikante wat saam op verskillende instrumente speel, soms gelei deur ’n dirigent of groep instrumentaliste. 2
vibrasie  ‘n Vinnige heen-en-weer-beweging, skudding of trilling. 1
jazz (Dans)musiek van Afro-Amerikaanse herkoms met gesinkopeerde ritme en dele wat verskillende lede van ’n orkes alleen gespeel word. Jazzmusiek word onder meer uitgevoer deur slag- en blaasinstrumente, klavier en kitaar.
klawerbord Die toetsbord van ’n klavier of orrel. 2
komponiste Iemand wat musiek skryf. 2
kom ‘n Groterige houer sonder deksel en handvatsels, meestal rond en dieper as wat dit breed is. 2

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Voorbeelde van perkussie-instrumente

Andersoortige perkussie deur die groep “Stomp”

Liggaamsperkussie

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 14 Februarie 2023 | Bygewerk op 29 Februarie 2024