Vinnige feite

  • Die eerste herlaaibare battery is in 1859 uitgevind toe die Franse fisikus Gaston Planté die loodsuursel uitgevind het, en dit word vandag nog in motors gebruik. Die loodsuursel het die weg gebaan vir die skepping van ander soorte herlaaibare batterye – wat algemeen in toestelle soos LED-flitse gebruik word – soos NiMH-, NiCd- en litiumioonbatterye. 5
  • Anders as kos soos melk en jogurt, beteken die vervaldatum op ʼn boksie batterye nie dat dit weggegooi hoef te word nie. Die batterye kan dalk effens krag verloor teen die verstryking van die vervaldatum, maar dit het nog baie skop!
  • Die stigter van die Eveready Battery Company, Conrad Hubert, het die flitslig in 1898 uitgevind. Eveready het die D-grootte battery vir die eerste handflitslig bekendgestel. Eveready se vervaardigingsfasiliteit kan 600 batteryonderdele per minuut vervaardig.
  • Die woord “battery” is die eerste keer deur Benjamin Franklin gebruik. Die woord kom van ʼn militêre term wat ʼn groep wapens is wat saamwerk. 6
  • Die beste manier waarop jy jou batterye se lewe kan verleng, is om dit op koel plekke te bêre – selfs die yskas. Die koue vertraag die batterye se interne chemiese reaksie.7
  • Jy kon net sowat 20 minute lank op die eerste selfoon gesels voordat sy battery pap geword het. 8
  • Het jy geweet dat batterye kan “onthou”? As jy batterye herlaai voordat dit heeltemal pap is, sal die battery “vergeet” dat hy baie meer krag bevat. Dit is hoekom die battery se lewensduur korter en korter word as jy nie jou selfoon of ander elektroniese toestel heeltemal pap laat word voordat jy dit herlaai nie. 9
  • In die middel van die 1800’s het Robert Walker, ʼn fisikaprofessor aan die Universiteit van Oxford, ʼn interessante instrument bekom. Dit was ʼn battery wat ontwerp is om ʼn hangende metaalbal heen en weer, tussen twee klokke, te laat swaai. Vandag lui die Oxford Electric Bell, soos dit dikwels genoem word, nog steeds! Daar word gesê dat dit al meer as 10 miljard keer gelui het. Niemand weet presies hoe dit werk nie, en wetenskaplikes wil dit nie uitmekaar haal om uit te vind nie. Ons sal eers eendag uitvind wanneer die klokke nie meer lui nie. 10

 

Foto: iStock

Dit is amper onmoontlik om jouself ʼn wêreld sonder batterye voor te stel. Dink net aan alles wat ons elke dag gebruik wat met batterye werk: flitse, radio’s, selfone, skootrekenaars, die televisie se afstandbeheerder en selfs motors. As ons nie batterye gehad het nie, sou ons alles permanent met kabels aan ʼn muurprop moes koppel!

Deur die geskiedenis

Luigi Galvani, ʼn Italiaanse wetenskaplike, het in 1792 ʼn eksperiment gedoen wat die weg vir die idee van die battery gebaan het. Galvani was besig om ʼn padda wat aan ʼn koperhaak vasgemaak was, met ʼn ysterskalpel te ontleed, en toe hy aan die padda se been raak, het die been beweeg. Hy het geglo dat dit te danke was aan “diere-elektrisiteit” waarin die energie wat die beweging veroorsaak het, van die padda se been afkomstig was.

Alessandro Volta, wat geglo het dat dié verskynsel deur die twee verskillende metale en ʼn vogtige geleier veroorsaak is, het glad nie met Galvani saamgestem nie. Volta het sy teorie gestaaf deur middel van ʼn eksperiment wat hy in 1791 gepubliseer het.

Volta het sy navorsing verder gevoer deur in 1800 die eerste natselbattery (wet cell battery) te maak. Met die samevoeging van lae koper en sink geskei deur lae karton of lap wat in soutwater geweek is, het Volta vorendag gekom met wat vandag as die voltaïese stapel bekendstaan.

Die voltaïese stapel is die eerste ware battery wat ʼn stabiele en konstante stroom gelewer het en dit is ook waar die term “volt” vandaan kom. Maar ondanks die feit dat dit in staat is om konsekwente strome te lewer, kan die voltaïese stapel nie vir baie lank elektrisiteit produseer nie. Volta se batterye bied slegs ʼn kort batterylewe – maksimum ʼn uur. Een van die foute is elektrolietlekkasies wat kortsluitings veroorsaak.

Verskeie wetenskaplikes het Volta se werk deur die jare verfyn en ontwikkel, en vandag kry ons selfs batterye wat oor en oor gebruik (herlaai) kan word.

Wat is die verskil tussen ʼn sel en ʼn battery?

Al noem ons dít wat ons in toestelle soos ons selfoon gebruik, ʼn battery, is dit in werklikheid ʼn sel – maar wat is die verskil tussen die twee? ʼn Sel is ʼn enkele kragopwekkende eenheid wat chemiese energie stoor en dit dan in elektriese energie omskakel. Dit het twee elektrodes, naamlik die katode en die anode. Die sel het ook ʼn elektroliet, wat ʼn chemiese stof is wat met die elektrodes reageer en ʼn elektriese stroom produseer. 1

ʼn Battery is ʼn toestel wat uit twee of meer van dié elektrochemiese selle bestaan. Wat ons dus as ʼn battery beskou, is in werklikheid ʼn sel. Twee of meer selle wat aan mekaar gekoppel word, word ʼn battery genoem.

ʼn Mens sit byvoorbeeld twee selle in ʼn flitslig. Omdat dit aan mekaar gekoppel word om krag en lig aan die flitslig te gee, noem ons dit ʼn battery. Net so bestaan ʼn motor se battery (al lyk dit soos een groot battery), uit ʼn klomp selle. Die plus- en minuskant van ʼn sel (of battery), kan ook die positiewe en negatiewe terminale of pole genoem word.

Dit is belangrik om daarop te let dat die elektrodes in ʼn battery altyd van twee verskillende materiale gemaak word (dus nooit albei van dieselfde metaal nie), wat uiteraard geleiers van elektrisiteit moet wees. Dit is die sleutel tot hoe en waarom ʼn battery werk: Een van die materiale “hou daarvan” om elektrone op te gee of vry te stel, en die ander hou daarvan om dit te ontvang. As albei elektrodes van dieselfde materiaal gemaak is, sou dit nie gebeur nie en sou daar geen stroom deur die battery vloei nie. 2

Twee soorte batterye

ʼn Mens kry twee basiese soorte batterye. ʼn Battery wat slegs een keer gebruik kan word, word ʼn primêre battery genoem. As die metale of elektroliete opgebruik is, kan die battery nie meer elektrisiteit lewer nie. Die batterye wat in flitse, radio’s en speelgoed gebruik word, is voorbeelde van primêre batterye.

ʼn Battery wat meer as een keer gebruik kan word, is ʼn sekondêre battery. Motorbatterye en batterye wat in selfone, skootrekenaars en mediese toerusting gebruik word, is sekondêre batterye. Sekondêre batterye kan met ʼn elektriese stroom van ʼn ander bron herlaai word. Iemand kan byvoorbeeld ʼn selfoonbattery herlaai deur die foon by die muur in te prop. 3

Batterye uit kos?!

Jy sal die bestanddele wat jy benodig om ʼn battery te maak, in die kombuis vind. Die beste kos om te gebruik, is vrugte en groente met ʼn hoë vlak positief gelaaide ione, soos kalium of natrium. Aartappels en piekels is twee goeie voorbeelde, en suurlemoene word ook dikwels vir hierdie soort eksperimente gebruik.

Klik hier om te sien hoe jy ʼn aartappelgloeilamp kan maak. 4

Woordbank

eksperiment Proefneming om iets te bevestig/weerlê na aanleiding van navorsing.
elektrodes Geleidende draad of stuk metaal deur middel waarvan ‘n elektriese stroom ‘n element/elektroliet/gas/apparaat binnegaan of verlaat.
elektroliet
Vloeistof/jel wat onder die invloed van ‘n elektriese veld in beweging kom sodat dit geleidend word.
elektrone Elementêre deeltje aangetref in alle atome, wat bestaan uit ‘n lading negatiewe elektrisiteit en in vaste stowwe optree as ‘n draer van elektrisiteit.
wetenskaplikes Iemand wat die wetenskap bedryf; navorser.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die wêreld se grootste battery lyk glad nie soos ʼn battery nie

Selle en batterye

Hoe werk batterye?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 6 Oktober 2021 | Bygewerk op 3 April 2024