Vinnige feite

Nylrivier

  • Die Amasonerivier is die grootste in die wêreld wat volume betref.
  • In Afrika is die Nylrivier die langste rivier – hy is ongeveer 6 650 km lank.
  • Die Oranjerivier is die langste rivier in Suid-Afrika – hy is ongeveer 2 660 km lank.
Foto: iStock

Wanneer ons wil leer oor ’n rivierstelsel, kyk ons heel eerste na wat ’n rivier is.

’n Rivier is ’n waterloop of watervoor wat in ’n natuurlike bedding vanaf ’n hoër deel van ’n omgewing na ’n laer deel van die omgewing vloei. Meeste riviere vloei vanuit die binneland wat hoër geleë is na die see wat laer geleë is. Daar is ook riviere wat in mere eindig en nie see toe vloei nie. 1

Hoe werk ’n river?

Lopende water beweeg omdat dit deur swaartekrag beïnvloed word.  Water beweeg afdraand en loop waar daar die minste weerstand is – dit wil sê waar daar die minste voorwerpe of versperrings is wat dit keer. Maar water loop ook die kortste pad en die krag van water is baie groot, daarom kan dit selfs groot rotse wat in die water se pad is, laat verweer indien dit lank genoeg daaroor loop. 1

Waar kom ’n rivier se water vandaan?

Riviere kry hul water op verskillende maniere en van verskillende bronne af.

Hierdie is ’n paar van die waterbronne van riviere:

  • sneeu wat smelt
  • fonteine
  • klein stroompies wat spruite en later riviere word
  • reënwater

Sommige riviere vloei slegs nadat dit hard gereën het en dan word daar na so ’n rivier verwys as ’n niestandhoudende rivier. Wanneer die reënwater weggeloop het of in die grond ingesak het, is die rivier weer droog. 2. Riviere wat permanent vloei noem ons standhoudende riviere.

Soorte riviere in Suid-Afrika

Daar is drie soorte riviere in Suid-Afrika.

  • Riviere wat die binneland se water wegvoer na die see toe

Kleiner binnelandse riviere vloei almal in die Oranje- of die Limpoporivier en van daar af see toe. Die Vaalrivier vloei byvoorbeeld in die Oranjerivier en die Olifantsrivier vloei in die Limpoporivier. 1

  • Riviere wat op die platorand begin

Hier is die Tugelarivier die belangrikste rivier. 1

  • Riviere wat in die bergreekse van die Kaapprovinsie se suidelike deel begin

Hier is die belangrikste riviere die Breërivier, Bergrivier, Gouritsrivier, Gamtoosrivier en die Sondagsrivier. 1

Wat is ’n rivierstelsel? 

Elke rivier vorm deel van ’n rivierstelsel. ’n Rivierstelsel dreineer water uit ’n gebied uit en voer dit af na ’n groot versameling van water soos die see of ’n meer.

Die volgende vorm alles deel van ’n rivierstelsel:

Bron of oorsprong

Hier kry ’n rivier sy water. Die beginpunt is gewoonlik in berge of by ’n fontein.

Sytak
’n Kleiner stroom of spruit wat later by ’n rivier aansluit.

Hoofrivier
Die groot rivier wat gevorm word deur kleiner strome.

Vloedvlakte
Die gedeelte aan weerskante van sommige riviere waarvandaan water na die rivier vloei. Hierdie water kom van reën of van sneeu wat gesmelt het.

Rivierop
Dit verwys na die rigting waarvandaan die water in ’n rivier vloei, in die rigting van die bron of oorsprong van die rivier.

Rivieraf
Dit verwys na die rigting waarheen die water in ’n rivier vloei, in die rigting van die plek waar die rivier uitmond.

Riviermond of -monding
Dit is die plek waar die rivier ophou en die water in die see of in ’n meer inloop.

Opvangsgebied
Daardie deel van ’n land waarvandaan ’n rivier se water kom. 3

Waarom is riviere belangrik?

  • Riviere word vir besproeiing van landerye en gesaaides gebruik.
  • In sommige lande word riviere vir vervoer gebruik omdat bote en selfs skepe daarop kan vaar. In Suid-Afrika is die riviere nie groot genoeg sodat skepe daarop kan vaar om goedere te vervoer nie. Enkele riviere in die buiteland wat vir vervoer gebruik word, is die Donau (Sentraal- en Suidoos-Europa), die Wolga (Rusland), Ryn (loop deur, onder meer, Nederland, Duitsland en Oostenryk) en die Mississippi (Noord-Amerika).
  • Hidroëlektriese krag – dit is wanneer elektrisiteit met die hulp van lopende water opgewek word.
  • Water vir gebruik deur mense en diere. 1

Woordbank

uitmond Die plek waar die rivier eindig – in die see of in ’n meer.

Lees hierdie artikel om nog meer te leer

Kyk na hierdie video om nog meer te leer

Die rivierstelsel

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 20 Februarie 2022 | Bygewerk op 18 Maart 2024