Vinnige feite

  • Ongeveer 70% van die planeet se oppervlak word deur oseane bedek. Trouens, die oseane bevat ongeveer 96,5% van alle water op aarde.
  • Die grootste oseaan op aarde is die Stille Oseaan, wat ongeveer 30% van die aarde se oppervlak beslaan.
  • Die naam Stille Oseaan (Pacific Ocean in Engels) kom van die Latynse naam Tepre Pacificum, wat “vreedsame see” beteken.
  • Die diepste gebied in die oseaanvloer staan bekend as die Mariana-trog. Dit is sowat 11 km diep en is in die Stille Oseaan. 6
  • Wetenskaplikes skat dat ongeveer 50% tot 80% van die suurstof wat ons inasem deur die plante in die oseane geproduseer word. 7
  • Die Stille Oseaan is die tuiste van die wêreld se grootste lewende struktuur – die Groot Koraalrif (Great Barrier Reef), aan die ooskus van Australië. Dit strek oor ongeveer 2 300 km en kan selfs vanaf die maan gesien word! 8
  • Die mens het tot dusver nog net sowat 5% van die oseane ondersoek. Daar is dus nog baie meer om te ontdek. Dit word gesê dat ons meer van die ruimte weet as van die aarde se oseane! 9
  • Die see kan beskryf word as die megamuseum van ons planeet. Daar is meer artefakte en oorblyfsels van die geskiedenis in die oseane as in al die museums ter wêreld tesame!
Foto: iStock

Het jy geweet dat oseane ongeveer 71% van die aarde se oppervlak beslaan? Suid-Afrika spog met ’n kuslyn van ongeveer 3 000 km, Namibië met ’n kuslyn van 1 570 km en nog een van ons buurlande, Mosambiek, met ’n kuslyn van 2 470 km!

Die suidelike deel van die Afrikakontinent word deur twee oseane omsoom (omring), naamlik die Atlantiese Oseaan aan die westelike kant van die kontinent en die Indiese Oseaan aan die oostelike kant.

Lande wat nie ’n kuslyn as grens het of deur ’n oseaan omring (soos die eiland Madagaskar) word nie, word kuslose lande genoem – dink byvoorbeeld aan Botswana en Zimbabwe, nog twee van ons buurlande, wat ander lande as grense het.

Die suidpunt van die Afrika-kontinent word blootgestel aan groot storms (vandaar die benaming van die Wes-Kaap as die “Kaap van Storms”), en die golwe kalwe strande weg en beïnvloed hawens en skeepsvaart op die Kaapse roete. Die Indiese en Atlantiese Oseaan ontmoet by Kaap Agulhas, die suidelikste punt van Afrika. 1

Die water van die Indiese Oseaan (aan die ooskus van Suidelike Afrika) is warmer as dié van die Atlantiese Oseaan (aan die westekant). Die Mosambiek- of Agulhas-seestroom vloei vanaf tropiese gebiede suidwaarts en bring warmer water na die Ooskus van Suid-Afrika. Aan die suide van die land vloei hierdie seestroom verder weg van die land (as gevolg van die breedte van die kontinentale plato) en die kuswater word koeler. Aan die Weskus van Suid-Afrika vloei die koue Benguela-seestroom vanaf die Suidpool (Antarktika) noordwaarts en bring koue water na die kus.

Wanneer die wind die oppervlakwater seewaarts waai, kom die dieper water, wat ryk is aan voedingstowwe, na die oppervlak om dit te vervang. Hierdie toestande is baie gunstig vir die voorkoms van groot skole visse. Die verskille in die temperatuur van die kuswater het verskillende seelewe tot gevolg. Een voorbeeld is die vrugbare kelpbosse (Ecklonia maxima) wat in die kouer, voedingryke waters van die Weskus gedy. 2

Hierdie twee oseane, die heersende winde en die topografie van Suid-Afrika, beïnvloed die reënval van die land en skep welige woude en subtropiese savannas aan die Ooskus, wat geleidelik na woestyn of semi-woestyn verander aan die Weskus van die land.

Die Atlantiese Oseaan

Die Atlantiese Oseaan is die tweede grootste oseaan ter wêreld en lê tussen die vastelande Amerika, Europa en Afrika. Die Atlantiese Oseaan is ongeveer die helfte van die Stille Oseaan se grootte en beslaan ongeveer 20% van die aarde se oppervlak.

Die oseaan neem stadig in grootte toe, want dit versprei al langs die Mid-Atlantiese Rif. Het jy geweet die Mid-Atlantiese Rif is die langste bergreeks op aarde? Dit lê op die Atlantiese Oseaanvloer en strek oor 65 000 km vanaf Ysland tot in Antarktika!

Die Indiese Oseaan

Die waters van die Indiese Oseaan is die grootste broeiplek ter wêreld van bultrugwalvisse. Die noordelike Indiese Oseaan is ook die belangrikste vervoerroete van olie omdat dit die olieryke lande in die Midde-Ooste met Asië verbind. 3

Die Indiese Oseaan is die derde grootste en lê tussen Afrika en Australië. Dit beslaan ook ongeveer 20% van die aarde se oppervlak. Die Kerguelen-plato is ’n groot oseaniese kontinent (vasteland) van vulkaniese oorsprong in die suidelike Indiese Oseaan. Die Mascarene-plato is ’n 2 000 km-lange oseaniese plato wat oos van Madagaskar lê.

Die oseane en Suid-Afrika

Die meerderheid van Suid-Afrika se grense is oseaan, wat volgens die Internasionale Hidrografiese Organisasie amptelik by Kaap Agulhas, die suidelikste punt van Afrika, bymekaarkom. Die gebied sluit die Marion- en Prins Edward-eilande in, wat byna 2 000 km suid van Kaapstad in die Indiese Oseaan geleë is.

Verskeie klein riviere loop al langs die kuslyn in die see in, maar nie een van dié riviere is bevaarbaar of vorm ’n natuurlike hawe nie. Die kuslyn van Suid-Afrika is redelik eweredig en bied slegs een goeie, natuurlike hawe: by Saldanhabaai, noord van Kaapstad. Die Baai van Natal (Durban) lyk op ’n kaart soos ’n goeie natuurlike hawe, maar in sy natuurlike toestand is dit droog met laagwater.

Die land se besigste hawens is in Kaapstad, Durban, Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) en Oos-Londen. Richardsbaai word veral gebruik vir die uitvoer van steenkool, en Saldanhabaai is ’n belangrike hawe aan die einde van die Sishen-Saldanha-spoorlyn vir die uitvoer van ystererts. 4 In 2009 is ’n nuwe vragskiphawe in Ngqura naby Gqeberha geopen. 5

Vinnige feite oor die Atlantiese Oseaan

  • Beslaan ’n oppervlak van 106 400 000 km².
  • Die gemiddelde diepte is 3 310 m.
  • Dit is die tweede grootste oseaan ter wêreld.
  • Dit lê in ’n S-vorm van die Verenigde State van Amerika in die weste tot by Europa en Afrika in die ooste.
  • Die grense van die Suid-Atlantiese Oseaan is die ewenaar in die noorde, Suid-Amerika in die weste, Drake se Gang in die suidweste wat dit verbind met die Stille Oseaan, Afrika in die ooste, die 60°-breedtelyn aan die suide waar dit die Suidelike Oseaan ontmoet, en in die suidooste die 20°- oostelengtelyn wat strek van Kaap Agulhas tot by die Suidelike Oseaan-grens waar die Suid-Atlantiese Oseaan die Indiese Oseaan ontmoet.
  • Die koue Benguela-seestroom kom aan die weskus van Suidelike Afrika voor.

Vinnige feite oor die Indiese Oseaan

  • Beslaan ’n oppervlak van 74 000 000 km².
  • Die gemiddelde diepte is 3 840 m.
  • Die Indiese Oseaan is die derde grootste oseaan ter wêreld.
  • Die noordelike grens is Suid-Asië; in die weste word dit begrens deur Afrika; in die ooste vorm Indo-China, die Sunda-eilande en Australië die grens; en die suidelike grens is die Suidelike Oseaan.
  • Die warm Mosambiek-seestroom kom aan die ooskus van Suidelike Afrika voor.

Woordbank

grens Amptelike of denkbeeldige lyn wat twee lande/state/gebiede/ens. van mekaar kei, of die gebied naby hierdie lyn.
hawe Beskutte stuk water aan ‘n kus waar skepe kan anker en aanlê om goedere en passasiers op en af te laai.
kontinent Groot landmassa omring deur see; vasteland.
oseaan Wêreldsee/watermassa wat die grootste deel van die aarde se oppervlak bedek.
stroom Massa/hoeveelheid water of ander vloeistof wat in een rigting vloei/beweeg.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Hoekom die wêreld se sesde oseaan in Afrika vorm

Oseane van die wêreld

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 30 November 2021 | Bygewerk op 20 Februarie 2024