Vinnige feite

  • Baie helde (en skurke) in strokiesprente het hul eie oorsprongmites. In onlangse tye het rolprentstudio’s soos DC en Marvel oorsprongverhale uitgebring soos Man of Steel (2013), Spider-Man: Into the Spider-Verse (2018), Wonder-Woman (2017) en Batman Begins (2005). 6
  • Daar is verskillende maniere om Chinees na Engels te vertaal. Een manier is Pinyin, waar die naam Pan Gu is. Daar is ook Wade-Giles, wat die naam P’an Ku maak. Sy naam word ook soms Pangu gespel. 7
  • In omtrent alle oorsprongmites heers chaos voor ’n skepping. As deel van die skepping word die aarde en die hemele van mekaar geskei. Die hemele is waar die gode woon, en die aarde die mense. 8
  • In verskillende mites word mense uit verskillende materiale gevorm. Volgens die Majans van Sentraal-Amerika is daar eers klei gebruik en toe hout voor mense uiteindelik uit mielies geskep is. Die Majans is nie die enigste kultuur wat glo mense is uit klei gemaak nie: die Mongole van Asië en die antieke Sumeriërs van die Midde-Ooste vertel dit ook. 8

Alle mense wil graag weet waar hulle vandaan kom. Daarom het mense deur die eeue met stories opgekom oor hoe die wêreld en mense ontstaan het. Hierdie stories word oorsprongverhale of oorsprongmites genoem.

Die oorsprongmites van die Christelike geloof word byvoorbeeld in die skeppingsverhale in die Bybel gevind. Ander kulture en gelowe het hul eie oorsprongmites.

Inleiding

Oorsprongmites is nie noodwendig woord vir woord waar nie. Dit bevat egter kragtige simboliese waarhede wat vir die mense wat daarin glo, belangrik is.

Die meeste oorsprongmites het honderde jare voor mense kon skryf, ontwikkel. Stories wat mondelings oorvertel is, verander natuurlik met elke oorvertelling. Daarom is daar gewoonlik baie weergawes van elke storie. 1

Wat hier volg, is een weergawe van oorsprongmites uit vier verskillende kontinente en kulture.

China: Pan Gu en die eier van die wêreld

Die verhaal kom uit China uit en is neergeskryf tussen 220 en 265. Die mite is natuurlik baie ouer.

Aan die begin was daar ’n massiewe eier. Chaos was binne-in die eier vasgevang. Chaos is ’n mengsel van teenoorgesteldes (soms genoem jin-jang): man-vrou, koud-warm, donker-lig, nat-droog. Ook binne die eier was Pan Gu, die eerste lewende ding. Hy het vir 18 000 jaar binne die eier geslaap.

Pan Gu het een dag ontwaak en uit die eier uitgebreek. Hy was ’n harige reus. Pan Gu het toe die aarde begin skep. Hy het die teenoorgesteldes binne-in die chaos in twee parte in verdeel, byvoorbeeld deur die aarde en sy teenoorgestelde, die hemelruim, van mekaar te skei.

Pan Gu het toe tussen die aarde en die hemelruim gaan staan om hulle apart te hou. Sy kop het die hemelruim geraak en sy voete was op die aarde geplant.

Die hemelruim en die aarde het begin groei. Pan Gu het ook gegroei en was elke dag 10 voet langer. Nóg 18 000 jaar het verbygegaan. Die hemelruim was nou hoër en die aarde dikker. Pan Gu was nou 30 000 myl lank (bietjie meer as 48 km). Hy het steeds tussen die hemelruim en die aarde gestaan sodat hulle nooit weer aan mekaar hoef te raak nie.

Toe Pan Gu sterf, het sy reusagtige liggaam die heelal geword. Sy skedel was die kruin van die hemelruim, sy asem die wind en wolke, sy stem die donderweer. Een van sy oë het die son geword, die ander die maan. Sy liggaam het die vyf groot berge geword en sy bloed die riviere. Sy are was paaie en sy spiere vrugbare grond om in te plant. Die ontelbare sterre het vanaf sy hare en baard gekom. Blomme en bome het van sy vel gekom. Die murg in sy bene was jade en pêrels. Sy sweet was die reën.

Die menslike ras het ontwikkel uit die vlooie en luise op sy vel. 2

Efik: Abassi, die god van die heelal

Die Efik-mense woon in suidelike Nigerië.

Voor Abassi was daar niks. Abassi is die god van die heelal. Hy gee lewe, dood en geregtigheid. Hy is so magtig dat hy lewe gee en gesondes laat sterf. Abassi was die son en daarom word die son, wat elke dag opkom en ondergaan, vereer. Abassi woon saam met sy vrou, Atai, in die hemel. Sy is ’n wyse godin, wat vir Abassi met raad bystaan.

Abassi het die sterre, die aarde en die diere geskep. Hy het ook twee mense, ’n man en ’n vrou, geskep. Hulle het saam met Abassi en Atai in die hemel gewoon. Hulle was onskuldig en onkundig. Abassi en Atai het na hulle omgesien, beskerm en selfs gevoer, omdat die mense nie self kon eet nie.

Eendag het die mense afgekyk aarde toe en besluit hulle wil daar woon. Toe hulle vir Abassi vra of hulle kan gaan, het hy dit verbied. Daar was te veel geheime op aarde en hulle sou te veel leer. Abassi was bang dat die mense se kennis sy kennis sou inhaal of selfs verbyvat.

Atai het ’n kompromie voorgestel. Die mense kon op die aarde woon, maar moes terugkeer hemel toe om te eet. Hulle mag nie jag of boer nie. Hulle mag nie trou of kinders hê nie. Atai was bekommerd dat hulle ’n groot nasie sou skep wat Abassi se mag sou uitdaag.

Dit was vir ’n wyle so. Die vrou het egter eendag besluit sy is moeg daarvoor om soos ’n hulpelose kind gevoer te word. Sy het begin om landerye aan te lê. Toe dit tyd word vir aandete, het sy geweier om saam met haar man terug te keer hemel toe.

Die volgende dag het die man teruggekeer, haar in die landerye gesien en besluit om haar te help. Kort voor lank het hulle verlief geraak en nie meer teruggekeer hemel toe nie. Ná baie jare het hulle baie kinders gehad. Toe daardie kinders oud genoeg was, het hulle ook begin boer. Hulle het die geheime van die aarde geleer en aan mekaar oorvertel.

Die man en vrou het hul kinders vir Abassi probeer wegsteek, maar hy het hulle raakgesien. Hy het baie kwaad geword en vir Atai blameer, omdat sy die een was wat hom oortuig het om die mense op die aarde te laat woon.

Atai het ’n plan gehad. Om te keer dat die mense té magtig word, het sy booshede, soos stryd en dood, na die aarde gestuur. Die boosheid was só magtig dat die man en vrou dadelik gesterf het. Hul kinders sou hierna met die boosheid op aarde moes saamleef, en met mekaar baklei. Omdat hul moeder die gode uitgetart het, kon hulle egter voortgaan om die geheime van die wêreld te ontdek. 3

Iroquois: Die Groot Skilpad

Die Iroquois-mense het in ooste van Noord-Amerika gewoon, rondom waar die staat New York vandag is. Hulle het nooit skrif gehad nie, en die storie is neergeskryf deur die Europeërs wat Amerika gekoloniseer het.

Die eerste mense het in ’n wêreld anderkant die hemel gewoon. Daar was nie ’n aarde nie. Die hoofman van dié mense het ’n dogter gehad. Sy het siek geword en daar was nie hoop op genesing nie. ’n Wyse man het hulle aangesê om ’n boom uit te haal en die dogter langs die gat te laat lê. Mense het begin om te grawe, maar die boom het dwarsdeur die gat geval, met die dogter agterna.

Onder was daar eindelose waters waar twee swane gedryf het. Hulle het opgekyk en gesien hoe die lug oopbreek en die boom en die meisie val. Hulle het na haar geswem en haar gered, want sy was te mooi om te verdrink. Hulle het toe na die Groot Skilpad, die meester van die diere, geswem. Hy het ’n vergadering belê.

Al die diere het rondom hom vergader. Die Groot Skilpad het hulle meegedeel dat die meisie wat geval het, ’n goeie teken was. Die boom het grond aan sy wortels gehad, en hy het hulle gevra waar dit gesink het. Hy het vir hulle gevra om van die grond by die boom te gaan haal. As hulle die grond op sy rug kon sit, kon hy ’n eiland maak vir die meisie om op te woon.

Die swane het toe na die plek gegaan waar die boom geval het. Eers die otter, toe die bisamrot en toe die bewer het in die water afgeduik om die grond te probeer kry. Hulle het sonder sukses teruggekeer en onmiddellik dood neergeslaan. Ander diere het ook probeer en gesterf.

Uiteindelik het Ou Tante Padda aangebied om te gaan. Sy was só lank onder die water dat die ander diere gedink het dat sy verdrink het. Uiteindelik het sy na die oppervlak gekom. Net voor sy dood is, het sy dit reggekry om ’n mond vol grond op die Groot Skilpad se dop uit te spoeg. 4

Grieke: Die Titane en die gode van Olimpus

Die Griekse verhale kom van antieke geskrifte wat oorleef het. Die weergawe hieronder is van die Griekse digter Hesiod, wat tussen 750 en 650 v.C. geleef het.

Die name van die Griekse gode word op allerlei maniere uit antieke Grieks na Afrikaans vertaal. Die name wat hier onder gebruik word is maar een van vele moontlike vertalings.

Aan die begin was daar slegs chaos. Uit die chaos het Gaia (die aarde), asook ander gode, soos Eros (liefde) en Tartaros (die onderwêreld) gekom. Gaia het op haar eie aan Uranos (die lug) geboorte gegee.

Uranos het toe vir Gaia swanger gemaak, en hulle kinders was die eerste Titane.

Daar was ses manlike Titane: Koios, Kronos, Huperion, Iapetos, Krios en Okeanos, en ses vroulike Titane: Mnemosune, Foibe, Rea, Teia, Temis en Tetis.

Kronos (tyd) het sy pa se geslagsdele afgesny en dit in die see gegooi. Uit die water het Afrodite, die godin van liefde en skoonheid, gekom. Kronos het die heerser van die gode geword saam met sy suster-vrou, Rea. Die ander Titane was sy koninklike hof.

Omdat Kronos sy pa verraai het, was hy bang dat sy kinders dieselfde aan hom sou doen. Elke keer as Rea geboorte gegee het, het Kronos die kind opgeëet. Rea het dit gehaat. Sy het hom gekul deur een kind, Zeus, in ’n kombers weg te steek en vir Kronos ’n klip in plaas van sy kind gegee om te eet.

Toe Zeus grootword, het hy sy pa gif gevoer. Kronos het die ander kinders en ook die klip opgegooi. Zeus het toe vir Kronos uitgedaag vir die koningskap van die gode. Zeus en sy broers en susters, die Olimpiese gode, het gewen. Die Titane is toe in Tartaros, die onderwêreld, opgesluit.

Zeus

Zeus het dieselfde vrees as sy pa gehad. Daar is vertel dat sy eerste vrou, Metis, geboorte sou gee aan ’n god wat magtiger as hy sou wees. Hy het dus vir Metis in ’n vlieg in verander en haar ingesluk.

Maar sy was alreeds swanger met Atena. Hulle albei was binne Zeus se maag en het hom ellendig laat voel. Toe het Atena, die godin van wysheid, beskawing en geregtigheid uit sy kop gebars – volgroeid en gereed vir oorlog. Zeus kon egter alle uitdagings tot sy troon weerstaan en het die heerser van Olimpus gebly.

Een van die Titane, Prometeus, het nie saam met die ander Titane teen Zeus geveg nie. Hy is dus nie na Tartaros gestuur nie. Hy het die taak gekry om ’n man te maak. Hy het die man uit klei gevorm en Atena het lewe daarin geblaas. Prometeus het die man soos die gode laat regop staan. Prometeus het toe, teen die gode se wense, vir die mense vuur gegee.

Zeus het ook vir Pandora, die eerste vrou, geskep. Sy was beeldskoon en skatryk. Sy het egter die hart en tong van ’n leuenaar gehad. Hy het ook vir haar ’n boks gegee wat sy belet was om oop te maak. Uiteindelik was sy te nuuskierig. Sy het die boks oopgemaak en booshede, siektes en hartseer het uit die boks gestroom. Heel laaste het daar egter ook hoop vir die mensdom uitgekom. 5

Pandora

Woordbank

antieke Ou Griekse of Romeinse tyd.
belet Verbied.
bisamrot ’n Noord-Amerikaanse knaagdier, amper soos ’n rot, wat kan swem.
booshede Alles wat baie sleg is.
gekoloniseer Wanneer ’n land onder die oorheersing/besit van ’n ander land gebring word.
gekul Om iemand te bedrieg.
genesing Om gesond te word.
geregtigheid Hoedanigheid wat ʼn mens in staat stel om reg aan ʼn ander te laat geskied; billikheid; regverdigheid.
hof Die plek waar ’n koning of heerser woon en werk.
jade ’n Bleekgroen, harde edelsteen, wat baie kosbaar is.
jin-jang Dit is die idee dat daar teenoorgestelde maar aanvullende magte in die wêreld is.
kompromie Ooreenkoms waarin al die betrokkenes minder aanvaar as wat hulle oorspronklik wou hê; skikking waarby elke kant iets toegee.
kontinente Vastelande.
kulture Dit is al die lewenswyses insluitend kunste, oortuigings en instellings van ’n bevolking wat van geslag tot geslag oorgedra word.
onkundig Sonder kennis, oningelig.
oorsprongmites Oorlewering van die storie van die begin/ontstaan van die wêreld. Dit word gewoonlik as die waarheid voorgehou.
simboliese Iets wat ’n bepaalde idee verteenwoordig/uitbeeld.
Titane Titane word as die ouer gode beskou omdat hulle die eerste van die Griekse gode was.
uitgetart Om iemand te terg en uit te lok.
verraai Om nie aan iemand getrou te bly nie.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor oorsprongverhale

Kyk hierdie video’s oor oorsprongverhale

Die storie van Pan Gu

Nog ’n weergawe van die Iroquois-mense se mite

Die Storie van Abassi en Atai – oorsprongmite van Wes-Afrika

Foto: iStock
Gepubliseer op: 26 April 2024 | Bygewerk op 26 April 2024