Vinnige feite

ʼn Goeie leier beskik onder meer oor die volgende vaardighede: 6

  • Goeie kommunikasievermoë;
  • die vermoë om doelwitte vas te stel;
  • die vermoë om strategies te kan dink;
  • om mense te bestuur;
  • om spanne te kan saamstel;
  • die vermoë om verandering goed te hanteer;
  • goeie konflikhanteringsvaardighede; en
  • om mense te kan leer en op te lei deur afrigting.
Foto: iStock

Die voetspore van leiers is oral sigbaar in ons samelewing. Belangrike besluite is deurgevoer danksy dapper leiers wat bereid was om die eerste tree te gee en ook te lei deur ʼn goeie voorbeeld te wees. Oral om ons is daar leiers, baie van ons is self ook leiers. Om egter ʼn goeie leier te wees, is ʼn keuse wat die regte vaardighede en karaktereienskappe vereis.

Wat is ʼn leier?

ʼn Leier is ʼn persoon wat ander persone kan beïnvloed en lei. ʼn Leier inspireer sy of haar volgers om te presteer sodat sekere doelwitte bereik kan word. Dit is belangrik vir ʼn leier om visie te hê en dit duidelik te kommunikeer (deel) met die volgers sodat hulle gewillig sal volg om die taak of projek suksesvol uit te voer. ʼn Leier kan kreatief dink en vinnig optree in moeilike situasies.

Alle leiers is nie noodwendig goeie leiers nie. Iemand wat ʼn goeie leier is, wil graag die regte ding doen en ook ander mense help om reg op te tree. Leierskap is die term wat ons gee vir dít wat ʼn leier doen. Dit is ook die manier waarop die leier mense lei, hulle wys waarheen om te gaan en hoe om take te doen. ʼn Goeie leier poog altyd om sy of haar span suksesvol te laat wees in die take wat hulle moet aanpak en uitvoer.

Belangrike vaardighede wat ʼn goeie leier moet hê

Daar is verskillende menings oor wie nou regtig ʼn leier kan wees. Sommige mense glo dat slegs sommige mense gebore is om ware leiers te wees en dat dit ʼn spesiale roeping is, terwyl ander weer glo dat almal leiers kan wees omdat meeste van die vaardighede aangeleer kan word. 5

Die volgende vaardighede word benodig om ʼn goeie leier te wees: 6

  • Goeie kommunikasie. ʼn Leier moet duidelik en verstaanbaar kan oordra wat die rigting is wat gevolg moet word, asook die doelwitte en metodes om dit te bereik. ʼn Leier het ook goeie oorredingsvermoë en kan mense maklik beïnvloed.
  • Die vermoë om doelwitte vas te stel. Die leier moet die doelwitte bepaal wat bereik moet word, maar ook weet hoe om by dié doelwitte uit te kom. Die doelwitte moet dus spesifiek en maklik meetbaar wees. Almal wat saamwerk moet saamstem met die doelwitte en verantwoordelikheid neem om dit te bereik. Die doelwitte moet ook realisties wees (iets wat dus uitvoerbaar en moontlik is) en op ʼn gereelde grondslag gemonitor kan word.
  • Die vermoë om strategies te kan dink. Dit beteken om ʼn visie of idee te hê van waarheen hy of sy op pad is en om dan te werk om dit te bereik. 7
  • Om mense te bestuur, motiveer en geesdriftig te laat voel oor ʼn taak of projek.
  • Om spanne te kan saamstel en die spanne te begelei deur die verskillende fases van groei.
  • Die vermoë om verandering goed te hanteer en nuwe idees en inisiatiewe te implementeer. ʼn Goeie leier soek altyd nuwe geleenthede om te verbeter en nuwe maniere om take suksesvol uit te voer.
  • Goeie konflik-hantering is ʼn belangrike vaardigheid wat ʼn leier moet hê. In die meeste situasies sal daar verskille wees wat tot konflik kan lei. ʼn Leier moet dan weet hoe om die konflik te hanteer en ook hoe om oplossings daarvoor voor te stel en deur te voer.
  • Om mense te kan leer en op te lei deur afrigting sodat hulle toegerus is met die regte middele en vaardighede om die take of projekte uit te voer en sodoende die doelwitte te bereik.

Verskillende soorte leierskapstyle

Demokratiese styl

‘n Demokratiese leier laat die werknemers toe om aan die besluitnemingsproses deel te neem sodat hulle bemagtig voel (voel dat hulle die vermoë het om iets goed te doen) en weet hulle het ook insette wat waarde toevoeg. Dit laat die volgers ook gewoonlik meer positief voel.

Byvoorbeeld: Wanneer daar gestem word deur die publiek vir die leier en die persoon met die meerderheid stemme word as die leier aangewys. Soos die staatspresident (politiek) of ʼn leier by ʼn skool. George Washington, ʼn voormalige president van die Verenigde State van Amerika, is ʼn voorbeeld van ʼn demokratiese leier. 13

Outokratiese styl

Dié soort leier neem alleen besluite en laat nie die volgers se insette enige invloed op sy of haar besluite hê nie. Dit lei ook tot vinnige besluitneming omdat die volgers nie telkens geraadpleeg hoef te word voor die uitvoering van ʼn besluit nie.

Byvoorbeeld: Napoleon Bonaparte was ʼn militêre leier van die Franse Revolusie wat ʼn groot weermag aangevoer het sonder dat hy sy idees met enigiemand wou deel. Sy taktiek het wel goed gewerk, want sy aanhang het gegroei tot 70 miljoen mense. 8

Charismatiese styl

‘n Charismatiese leier maak op sy of haar sjarme en oorredingsvermoë staat om mense te lei. Só ʼn leier is ook gedryf deur sy of haar oortuigings en toewyding aan die taak of projek. Die charismatiese leier fokus daarop om die huidige situasie waarin sy of haar volgers verkeer, te verbeter.

Byvoorbeeld: Martin Luther King Jr. was ʼn charismatiese leier wat met sy aangename persoonlikheid kragtige toesprake gelewer het en toegewyd was daartoe om ʼn positiewe verskil in miljoene mense se lewens te maak. 9

Transformasionele styl

Dié soort leier is passievol en energiek, met ʼn duidelike visie en sterk persoonlikheid en kan sy of haar volgelinge inspireer om saam aan ʼn gemeenskaplike doelwit te werk. Só ʼn leier word gewoonlik gerespekteer en bewonder deur sy of haar volgers en is baie betrokke in die hele proses van die uitvoering van die taak. Die persoon is voorts besorg oor spanlede en gefokus daarop om elkeen te help om suksesvol te wees. Navorsers glo dat hierdie leierskapstyl ʼn positiewe uitwerking op ʼn groep kan hê en dus ook gelukkiger volgers kan meebring. 10

Byvoorbeeld: Nelson Mandela is ʼn voorbeeld van ʼn leier wat ’n transformasionele styl beoefen het. Sy doelwitte as leier het wyer gestrek as persoonlike gewin, en was gefokus daarop om met goeie etiek en moraal die land in ʼn proses van transformasie te lei. Mense oor alle kultuurgrense heen het respek vir hom en sy leierskap gehad. 11

Nog leierskapstyle

  • Burokraties
  • Laissez-faire
  • Transaksioneel.

Watter soort leier is jy?

Voltooi hierdie vraelys en vind uit!

Eienskappe van ʼn goeie leier

Daar is verskillende eienskappe wat ʼn goeie leier van ʼn gewone leier onderskei. Hoewel daar baie eienskappe is wat van iemand ʼn goeie leier kan maak, is die volgende eienskappe belangrik om te hê: 12

ʼn Goeie leier:

  • sal gerespekteer word deur ander;
  • moet ʼn doel of visie hê;
  • sal ander dien;
  • moet oor goeie kommunikasie-, luister- en beplanningsvaardighede beskik;
  • moet eerlik wees;
  • moet mense kan motiveer;
  • moet ʼn voorbeeld vir ander wees;
  • moet oor deursettingsvermoë beskik en met toewyding sy of haar taak kan voltooi;
  • stel die groep se behoefte bo sy of haar eie;
  • het integriteit;
  • het empatie met ander;
  • is ingelig en het goeie kennis;
  • is verantwoordelik en voer sy of haar pligte uit;
  • moet selfvertroue hê;
  • moet oor ’n goeie humorsin beskik; en
  • moet kreatief en positief wees.

Die hart van ʼn leier

Dalk is jy die volgende hoofleier van jou skool, die kaptein van jou netbal- of rugbyspan, of wie weet, dalk die volgende staatspresident! Of jy nou in ʼn amptelike leierskapsposisie is of nie, ons kan almal steeds leiers wees op elke gebied waar ons betrokke is deur ʼn goeie gesindheid te hê en met eerlikheid die regte ding te doen.

Hoe ons ander mense behandel, getuig reeds daarvan of ons goeie leiers is of nie. Iets wat elke leier met hom of haar kan saamdra, is die volgende wyse woorde van John C. Maxwell: “As jy elke mens wat jy ontmoet behandel asof hy of sy die belangrikste mens in die wêreld is, sal jy hom of haar laat verstaan dat hy of sy iemand is – vir jou.” 14

Woordbank

leier ʼn Persoon wat ander persone beïnvloed en lei.
leierskap Dit is die vermoë van ʼn persoon (die leier) om ander persone te lei of te beïnvloed. Dit kan ook gesien word as die proses waarin die leier die ander persone lei om die take uit te voer.
visie Die manier waarop mens dinge sien en die insig wat jy toon vir die toekoms. Dit kan ook as die prentjie gesien word (ʼn siening) wat iemand vir die pad vorentoe het.
doelwitte Dit is bepaalde dinge wat ʼn persoon graag wil bereik. Doelwitte word vasgestel en dan wil ʼn individu of groep daardie doelwitte bereik deur verskillende maniere waarop vooraf besluit word.

Lees dié om meer te wete te kom

Kyk dié video’s om meer te leer

Hoekom het ons sterk leiers nodig?

Karaktereienskappe van ‘n goeie leier

Jy kan leierskapvaardighede aanleer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 28 Julie 2021 | Bygewerk op 9 April 2024