Vinnige feite

  • 75% van alles wat ons gebruik, kan herwin word. 11
  • As ons alle koerantpapier herwin, sal ons elke jaar keer dat 250 miljoen bome afgekap word.
  • Die gemiddelde gesin gebruik ses bome se papier elke jaar. 12
  • Herwinning spaar water. Deur 1 ton papier te herwin, spaar ons 26 500 liter water.
  • 21,5 miljoen ton kos word elke jaar gemors. As ons kompos van dié kos gemaak het, sou daar baie minder lugbesoedeling gewees het (gelykstaande aan 2 miljoen minder motors se uitlaatgasse).
  • As jy al die plastiekbottels wat elke jaar weggegooi word in ’n ry pak, sal dit vier keer om die aarde gaan. 13

 

Foto: iStock

Herwinning is wanneer nuwe produkte of items uit ou of gebruikte artikels gemaak word. Baie van ons rommel kan weer vir iets splinternuut gebruik word. Herwinning word al vir honderde jare gedoen. Baie jare terug het mense swaarde en messe gesmelt en potte om kos in gaar te maak en selfs muntstukke daarvan gemaak. 1

Net 9% van alle plastiek in die wêreld word deesdae herwin. Dit beteken meer as 90% van alle plastiek beland op vullishope. In Suid-Afrika herwin net 7 uit elke 100 mense (7%). 2

Daar word geraam dat ongeveer 90% van alle afval, of sowat 122 miljoen ton per jaar, op vullisterreine beland. Vullisterreine neem waardevolle grond in beslag wat eerder vir behuising of landbou gebruik kon word, en wanneer dit vol is, moet nuwe spasie geskep word. Vol, opgevulde vullisterreine kan wel omskep word in parke en op dié manier kan die omgewing herstel en habitatte hervestig word. ‘’n Mens moet egter onthou dat die vullis nie weg is nie – dit is steeds daar en neem baie jare om tot niet te gaan.

Elke mens op aarde gooi tussen 1 kg en 5 kg rommel per dag weg. As ons nie baie meer begin herwin nie, sal daar teen 2050 meer as 3,4 miljoen ton rommel op aarde wees. 3

Herwinnig is die heel maklikste manier hoe ons die omgewing kan bewaar en besoedeling kan verminder. Voordat jy volgende keer plastiek, glas, karton, metaal en rubber weggooi, vind eers uit of daar nie ’n manier of plek is 4 waar dit herwin kan word nie. 5

Hoekom moet ons herwin?

  • Dit bewaar die omgewing – Deur te herwin, beland daar minder rommel op vullishope. Dié rommel vat honderde jare om deur die aarde afgebreek te word, dit ruik sleg en stel gevaarlike gasse vry wat die lug besoedel. Herwinning veroorsaak 75% minder lugbesoedeling as om ’n nuwe produk te maak. As ons minder papier gebruik en papier herwin, hoef ons nie so baie bome af te kap nie.
  • Dit spaar geld – As ons goed meer as een keer gebruik, hoef ons nie elke keer nuwes te koop nie (byvoorbeeld inkopiesakke). Sommige mense verdien geld deur ander mense se rommel op te tel en dit na plekke toe te vat waar herwinning gedoen word. Herwinning skep dus ook vir baie mense werk.
  • Dit bespaar krag (elektrisiteit) – In Suid-Afrika het ons gereeld beurtkrag. As ons egter meer herwin, bespaar ons sommer baie krag en dit help die land se kragnetwerk.

Drie dinge kan ’n groot verskil maak

Verminder (reduce) Moenie goed koop wat ’n mens net een keer gebruik nie – plastieksakke, bruinpapiersakke, plastiekstrooitjies, plastiek-eetgerei, plastiekwaterbottels, wegneemkoffiekoppies, weggooidoeke, papierhanddoeke, servette en plastiektandeborsels. Ons gaan nog vir ’n lang tyd maskers moet dra. Koop eerder ’n materiaalmasker wat gewas kan word en wat jy weer en weer kan gebruik pleks van maskers wat ’n mens net een keer dra en dan weggooi. 6

Hergebruik (reuse) – Koop goed wat jy weer en weer kan gebruik – materiaalinkopiesakke (die meeste winkels verkoop dit, of maak jou eie sakke uit lap of ou klere); hout- of bamboeseetgery en -tandeborsels; en strooitjies, koffiebekers en waterbottels van metaal. Jy kan ook jou eie houers of mandjie vat as julle groente en vrugte by die winkel of vleis by die slaghuis gaan koop. ’n Mens kry selfs papier wat van byewas gemaak is waarin jy oorskietkos kan bêre of jou kos vir pouse kan pak (pleks van plastiekbakkies).

Herwin (recycle) – Nie net spaar ’n mens baie geld nie, maar dit is ook groot pret.

  • Begin ’n herwinningsprojek by die skool. Laat die skool ’n herwinningsprojek begin waar plastiek, glas, en papier in aparte asblikke gegooi word. Doen navorsing oor maatskappye wat herwinning doen om by die skool betrokke te raak. Jou NW-onderwyser of die logistieke bestuurder by die skool is ’n goeie persoon wat jou daarmee sal kan help. Skole gebruik baie papier en spesiale asblikke kan in elke klaskamer, kantoor en in die afrolkamer geplaas word. Dit is ook ’n manier waarop die skool fondse kan genereer aangesien baie herwinningsmaatskappye betaal vir die rommel. 7
  • Maak jou eie kompos by die huis – jy kan eierdoppe, sekere koerantpapier, groente- en vrugteskille, en selfs ou filterkoffie en teesakkies gebruik.
  • Gebruik minder water deur reënwater in ’n tenk op te vang en gebruik skottelgoed- en badwater om die tuin nat te maak.
  • Gebruik albei kante van ’n papier. Vra ander mense om papier te spaar deur nie onnodige goed by die werk uit te druk nie.

Plastiek: die groot sondebok

Plastiek is afkomstig van ru-olie en bestaan uit ’n groot groep materiale wat bestaan uit polimere, ’n soort chemikalieë. Baie items wat ons koop, word van plastiek gemaak of word daarin verpak.

Hoewel dit taamlik goedkoop, lig en gerieflik is, hou plastiek die volgende probleme in:

  • Dit is nie bio-afbreekbaar nie, wat beteken dat dit vir honderde jare bly bestaan, selfs al gooi ons dit weg.
  • Wanneer plastiek gebrand word, word giftige gasse in die atmosfeer vrygestel.
  • Plastiek wat in die see beland, hou ’n baie groot gevaar vir seediere in – hulle kan dit eet of daarin verstrengel raak en doodgaan. ’n Seeskilpad sal byvoorbeeld verdrink as hy in ’n vissersnet vassit en nie kan asem skep bo die water nie.

Nie alle plastiek is herwinbaar nie. Daar is selfs plastiek wat nie eens hergebruik kan word nie. Die “Society of the Plastics Industry” (SPI) het in die 1980’s reeds ’n graderingstelsel opgestel wat gebruik word om plastiekverbruikers in te lig oor of die plastiek wat gebruik word, herwinbaar is of nie.

Gradering Naam Voorbeeld Herwinbaar?
poliëtileentereftalaat koeldrank-, gebotttelde water- en kookoliebottels Ja
hoë-densiteit poliëtileen koeldrank-, gebotttelde water- en kookoliebottels Ja
polivinielchloried speelgoed, pype, huishoudelike items soos tuinslange en kleefplastiek Nee, kan gifstowwe vrystel, sleg vir die omgewing
lae-densiteit poliëtileen verpakkingsmateriaal vir klere en meubels,  inkopiesakke en broodsakkies Sommige
polipropileen strooitjies, bottelproppies, jogurtbakkies Sommige
polistireen koppies, eierhouers en wegneemboksies Word selde herwin, sleg vir die omgewing – vermy indien moontlik
Mengsels van verskillende plastiek of poliuretaan motoronderdele, ou bababottels (BPA) en waterbottels Nee, vermy indien moontlik

Die volgende items is nie herwinbaar nie:

  • Spuitkannetjies (soos spuitroom, deodorant en spuitverf)
  • Polistireenskuimbakkies en -koppies (styrofoam)
  • Wegneemetes se verpakking (soos boksies, pakkies, plastiekglase en plastiekstrooitjies)
  • Pizzabokse
  • Borrelplastiek (bubble wrap)
  • Elektriese kabels [die plastiekomhulsel is gemaak van PVC (3)]
  • Plastieksakke
  • Spieëls
  • Klerehangers (metaal en plastiek)
  • Papierhanddoeke en servette
  • Plastiekspeelgoed

Herwinning spaar krag

Die hoeveelheid krag wat ons gebruik, word in kilowatt-uur (kWh) gemeet. Wat kan ons alles met 1 kWh se krag doen? Ons kan:

  • 16 borde kos in die mikrogolfoond warm maak;
  • 24 snye brood rooster;
  • 5 hemde stryk;
  • 8 kamers stofsuig;
  • 1 gloeilamp vir 10 ure laat brand; of
  • 1 koek bak.

Deur net een glasbottel te herwin, kan ons ’n gloeilamp vir vier ure laat brand. Hier is nog interessante feite oor hoe herwinning krag bespaar: 10

  • 1 ton herwinde glas bespaar 42 kWh se krag.
  • 1 ton herwinde koerantpapier bespaar 601 kWh se krag.
  • 1 ton herwinde staal bespaar 642 kWh se krag.
  • 1 ton herwinde papier (soos wit fotostaatpapier) bespaar 4 100 kWh se krag. Dit is genoeg om een huis vir vyf maande lank krag te gee.
  • 1 ton plastiek wat uit herwinde plastiek gemaak word, bespaar 7 200 kWh se krag.
  • 1 ton herwinde koeldrankblikkies bespaar 21 000 kWh se krag.

Herwin jou blikkies

  • ’n Koeldrankblikkie wat herwin word, kan binne twee maande weer vol koeldrank terug op die rak wees.
  • Aluminium wat in blikkies voorkom, kan weer en weer herwin word.
  • Dit gebruik net 5% van die krag om ’n blikkie te herwin as wat dit neem om ’n nuwe een te vervaardig.
  • As ’n koeldrankblikkie net weggegooi word, sal dit meer as 500 jaar vat om af te breek.
  • Deur een koeldrankblikkie te herwin, kan jy ’n televisie vir twee ure lank krag gee. 14

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Oulike idees vir die klaskamer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Herwinning vir kinders

Verminder, hergebruik, herwin

Wat gebeur met herwinning nadat dit bymekaargemaak is? 

 

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockGrafika: Dawid BrandGrafika: Dawid BrandGrafika: Dawid BrandGrafika: Dawid BrandGrafika: Dawid BrandGrafika: Dawid BrandGrafika: Dawid BrandFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 21 Januarie 2022 | Bygewerk op 15 Maart 2024